Nou, na die Sinode…

Die vergadering van die Noordelike Sinode van die NG Kerk het gekom, en gegaan. Ek het daarheen opgeruk, vas van plan om ‘n verskil te maak. Was ek suksesvol in my ambisie? Ek weet nie.

Ek is so dankbaar oor die trant van Sinodes wat so wyd verander het. Neels Jackson van Beeld het dit baie mooi op Twitter raakgesien- hoe die NG Kerk die afgelope ruk geskuif het. Toe ek in 1994 my eerste Sinode as nat agter die ore domineetjie bygewoon het, het ek nie ervaar dat ek die reg het om iets te sê in die Ooms se geselskap nie. Daardie stywe formele setting van die Sinodale Sentrum was baie intimiderend. Die kerk het mag gehad in die samelewing. Ons het gedink ons weet alles, ons het al die antwoorde. Ons kan vir mense presies vertel hoe hulle hul lewens behoort te lewe. Magtag, ONS was baie slim en sterk destyds!

Hierdie week was toe baie meer ontspanne. Die jongste dominee wat verlede Sondag bevestig is, het met sy nat swembroek ingehardloop toe die oudste dienende dominee vir hom verwelkom by die sinode…

Die atmosfeer van die sinode het heeltemal verander. Van mag het ons baie ver geskuif terug na waar ons hoort- as dienskneg van die Here en die gemeenskap. Die drie kernwoorde op die verhoog op baniere was: Gebroke, Vrygespreek, Diensbaar…  Daarmee voel ek gemaklik. Want die Here weet- ek voel bitter selde heel, ek worstel ook maar woes met nie net die gebrokenheid van die wêreld nie, maar die gebrokenheid in myself.  Ek hou baie meer van die teologie van voete was deesdae, as die outydse teologie van koppewas.

Ek het die daaglikse wydingsgeleenthede baie geniet. Almal het uit die Knegliedere daar uit Jesaja 40-55 gekom. Kosbare beelde is weer onthou- van die Here wat geknakte riete nie breek nie en rokende lamppitte nie uitdoof nie. Dankie VAder tog daarvoor, anders was daar nie vir my plek nie… Selfs Leonard Cohen se Anthem was een aand deel van die wyding- “There is a crack in everything… that’s where the light shines in…”

Die een ding wat ek opreg beleef het by die Sinode, is die wens om wel ‘n verskil te maak in Afrika, waar ons nou is. Ons wil hier ‘n verskil maak. Nie met woorde wat vir ander verdoem nie, maar met dade wat help en hoop gee.

Ek het ook by die Sinode die begeerte beleef om eenheid te bevorder in die Here se kerk. Maar wanneer die Belhar belydenis ter sprake kom, is daar duidelike vrees teenwoordig. Iemand het dit baie mooi opgesom. Daar is drie geslagte saam in die Sinode. Daar is dié anderkant 60, wat daar was toe die land gebrand het, wat die Belhar belydenis sien as duidelike bevrydingsteologie, en dit beleef as ‘n aanval teen dié wat destyds wel die mag gehad het… Daar is die mense soos ek, wat na 1994 in die kerk begin het- in die nuwe Suid-Afrika. Van die begin af moes ons rekening hou met uiters veranderende omstandighede, en in die chaos die Here se waarheid probeer soek.  Ons geslag het baie gemengde gevoelens oor Belhar. Dan is daar die jongetjies wat nou begin het. Hulle het nie die bagasie van Belhar nie- hulle lees die dokument net op sigwaarde, en sien geen dwalinge daarin nie…  Belhar maak mense bang, en die een saak wat verwoord is, is die saak van ‘n gemeenskap wat treur oor wat hulle alles prysgegee het in die Nuwe Suid-Afrika.  Al die ou argumente wat weer vir en teen Belhar opgehaal is, is nie lekker nie. Mense, veral die ouer ouderlinge, wat dieselfde dinge langdradig vertel asof ons dit nie die afgelope 20 jaar oor en oor en oor gehoor het nie…
Ek het nog steeds nie genoeg op die hart gehad om my nooienstoespraak op hierdie sinode te lewer nie. Dis hoekom ek wonder of ek wel ‘n verskil gemaak het. Ek het wel in die tafelgesprekke gesê wat op my gemoed rus.

Die kuier in die aande om die kampvuur was die groter waarde van die sinode vir my. Daar kon ‘n mens ander kollegas beter leer ken, en regtig oop en eerlik gesels oor die stormagtige tye wat ons almal in die bediening beleef, en hoe ons hier deur kan kom…

Ek is baie moeg na die Sinode. Maar ek dink tog daar het iets gebeur, al is dit net die kollekte van R15000 wat opgeneem is om in Marikana te help waar sekere gesinne baie honger lei met al die politici se genadelose puntemakery vir Mangaung…

Net so ten slotte- wat ‘n vreemde wêreld leef ons nie in nie? Die Arabiese wêreld brand oor ‘n swak gemaakte fliek wat glo Mohammed sou negatief uitbeeld. Die VSA ambassadeur in Libië is vermoor.  JApan en China raak lus om mekaar te blik…slaan oor onbenullige eilandjies…  Die ekonomie sukkel om aan die gang te kom wêreldwyd… en dan is dit steeds hoofnuus dat iemand vir William en Kate afgeloer het by ‘n privaat chateau se swembad, waar Kate dit gewaag het om haar boobies vir haar man te wys…  Wat ‘n vreemde, vreemde wêreld Master Jack!

 

12 thoughts on “Nou, na die Sinode…

  1. Welkom terug!!

    Lekker om weer jou mens wees te lees! Wens jy was my dominee toe ek as jong lat self met my binneste geworstel het.

    Groete uit Kroondal.

  2. Ja my Ds! Wat sal n mens nou se oor al die dinge? Dat Jesus se koms naby is……….DIS N GEGEWE! Alles in die wereld dui daarop! Net soos Bileam so pas ook tereg opgemerk het!

  3. Inderdaan “a strange strange world master Jack”. Welkom terug – my e-mail was nie dieselfde gewees nie. Weet net dat jy n verskil maak waar jy ookal kom. Sterkte.

  4. Ek het al dié Leonard Cohen quote as a tattoo the cry.
    Dit of “Love is not some kind of victory march, No it’s a cold and it’s a very broken Hallelujah”
    Ek wonder net waar dit sal in pas of waarop dit sal pas?

  5. Pingback: “ja” vir Belhar, want ons het mos nie baggage nie « die ander kant

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s