Alweer by die Engeltjiefabriek

Ons Dominees moet mos ook deesdae lisensies hê om te mag praktiseer as Dominee. Ek het dit nog nie in die Bybel gelees nie, ek het in my kop die prentjie gehad van Jesus wat vir eenvoudige vissermanne roep en sê: “kom saam met My, en ons gaan verander die wêreld”… Nou moet ons R500 per jaar lisensiegeld betaal vir die voorreg om agter Jesus aan te loop om die wêreld te verander. Maar dan is ons nog nie OK nie- ons moet elke jaar ‘n sekere aantal VBO punte verwerf om ons lisensie te behou…

Daarom, vir 15 VBO punte, sit ek by die Excelsus sentrum vir Voortgesette TEologiese Opleiding in Gomorra. Ons doen werkwinkels en kry openbare lesings. Ons bou netwerke en drink lekker koffie. Soms leer ons ietsie mooi. En soms skrik jy jou alie af.

Soos gister. Ek kies om ‘n drie dae werkswinkel oor die verband tussen OT en NT by te woon. Die eerste ding wat ek raaksien toe ek instap, is hierdie verskriklike gesig.

 

Die Biblia Hebraica Stuttgartensia, in leketaal beter bekend as die Ou Testament in Hebreeus, die grondtaal van byna die hele Ou Testament. Nee, charismatiese vriende, die Ou Testament is nie in Aramees geskryf nie- net enkele hoofstukke van Daniël. Dit was die taal van die Babeloniërs, en eers na die Ballingskap van 586 v.C ‘n faktor in Israel.

Hebreeus was een van die groot slagvelde in my lewe. Ek dink daaroor soos die Engelse oor Amajuba, of die Skotse Black Watch regiment oor Magersfontein… ‘N plek waar ek my alie sonder ‘n spieël gesien het… Na 4 jaar op Universiteit het ek uiteindelik die verlangde Hebreeus II deurgekom, nie volgens verdienste nie, maar enkel uit genade…

Hier het die boek Rut vir ons gelê en wag, en ek is nie Boas nie. Toe ons dit moes vertaal toe sê ek maar: “Rut onder die bed, Rut op die bed, Obed…”
Die wat hulle Bybels nie ken nie, sal tog nie verstaan nie… 😦

In elk geval, dit was eintlik baie lekker om by ‘n kenner soos Fanie Cronje weer die teologie van Rut te hoor. Magtelose mense. Uitbuiting. Versorging. Medemenslikheid. Groter planne, dieper boodskappe. Die name beteken elkeen iets in die boek- Elimeleg- my God is koning- en daar gaan hy dood! Waar is God?
Naomi- die aangename een.
Maglon en Giljon- “siek” en “gedaan”
Orpa- die Wederstrewige een
Rut- die Vriendin
Mara- die Here het my bitter gemaak
Boas- “in hom is sterkte”
En die familie kom van Betlehem af- die Huis van Brood- maar die brood raak op…

Ag, dis lekker om soms by diep mense se voete te sit en leer.
So ja, ons drink diep uit die fontein van die wysheid hierdie week…

Wat ‘n wonderlike ontdekking was dit weer om te sien die Dok ini Kaap sit die pot so mis! Hier is regtig wonderlike gelowiges by Pretoria se engeltjiefabriek, (al is dit moeilik vir Kovsies om dit raak te sien!)

Vanoggend se Opening, gelei deur ds Ronel Mylandt (spelling?) van Universiteitsoord was een van die mees aangrypendes in my lewe! Halleluja oor die vrou in die amp vam leraar- hulle bring ‘n ander kyk na die evangelie wat die manne so nodig het!

Dankie vir julle mooi blogs, vriende, ek lees dit op die BB maar kan nie antwoord daarop nie!

3 thoughts on “Alweer by die Engeltjiefabriek

  1. Ja dit soms jammer van die regulering maar ok seker nodig – daar is (selfs in SA) geskiedenis van ds/pastore/geestelike leiers was groepe mense ompraat om gevaarlike dinge te doen of hulle uitbuit. tye verander ook maar – ek het by geleentheid ‘n egskeiding vir ‘n ouerige dame gedoen (tweede huwelik, kinders was daarteen, baie moeilik maar ons almal maak foute) en wat doen haar kerk in die uur van nood? Plaas haar onder sensuur – geen nagmaal vir haar nie! My hart het vir haar gebloei. Dink jy die “updates” kan van die ou fosiele bietjie nuwe barmhartigheid leer? Ek sluk maar swaar aan sulke “tug” ek is seker Jesus het gese as daar geen salf aan hulle te smeer is nie behandel hulle soos sondaars en tollenaars. Jesus het saam met sondaars en tollenaars gestap, gepraat, geeet en hulle genees.

    Oor die kwalifikasies – dit dien ook seker maar as beskerming maar ek sien so in my geestesoog Jesus wat na johannes die Doper toe stap en se, Voor jy my doop, wys my jou papiere – ek hoop nie jys ‘n proponenet nie! Hulle mag nie doop nie!

  2. 🙂 Rut onder die bed, Rut op die bed – prysloos

    Onlangs het ek bietjie meer gaan oplees oor name en die betekenis daarvan in die Woord. Mara was nog altyd ‘n naam wat ek so bietjie te veel aan my eie bas gevoel het wat my gevat het op die spoor van Mirre.

    Nou daaroor alleen kan ‘n mens 300woorde vlot skryf in Hebreeus of Aramees, maar wat ek wel behou het vir myself – en al die Mara’s wat lees – is :

    MIrre is bitter – gal hond bitter (ek het al geproe) – tog is dit een van die duurste olies op hierdie groen aarde van ons. Give or take is dit so $85.20 per liter. Neem egter ‘n bietjie Mirre en smeer dit op jou pols en vryf dit warm. Die aroma is onbeskryflik heerlik en effens soet.

    Bitter is somtyds nodig dat die soet van die lewe deur jou kan verheerlik word.

    Sommer so brokkie chappie-papiertjie inligting 🙂

    Geniet die leerproses by die voete van die wyses Bileam. Is altyd lekker om so bietjie meer te weet.

  3. 10 jaar sou te min vir my wees om daardie bladsy te kan lees! Dankie tog vir mense wat jare gelede die insig gehad het om die Bybel te vertaal sodat selfs ek dit kan lees… in AL die vertalings!! ou vertaling,nuwe vertaling, nuwe lewende vertaling, kinderbybel… noem maar op! Vroue bybel, Bybel in praktyk! Sjoe! Ek kan hulle sowaar almal lees! 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s