Matriekafskeid

Cobra Starship kreun dit oor die dilapidated kegelspeakers uit:  “You make me feel… la la la la la…”

Oom Kallie se geleende, blinkgepoetsde Mercedes E 55 AMG brul met sy V8 kompressor enjin oor die rugbyveld, en kom tot stilstand voor die rooi tapyt.

Die effens verwarde graad 11 meisietjie met die mikrofoon roep hulle name uit, en vertel hoe hulle die rooi tapyt besit vanaand.

Hy klim uit met die Truworths Man broek, die Brooks Brothers hemp en Armani das. Die hare is netjies gejel, die Oakley Sonbril stewig op die neus vas.  Hy hardloop om die voertuig, om die deur vir Haar oop te maak. Die eerste span Hokkie kaptein. Lang, lenige sportiewe bene skuif eerste tot binne sig van die versamelde skare. Die fynste silwer sandale, tone wat die graad 8′ seuns in verwondering het. Die wynrooi rok, wat soveel maande lank sorgvuldig beplan is, word vir die eerste keer in die openbaar gesien.  Dit komplimenteer die blonde hare, wat vanoggend die hele salon in rep en roer gehad het.  Dis die tweede mooiste wat sy in haar lewe gaan lyk, daar wag eendag, in die toekoms, ‘n wit rok wat haar nog mooier gaan laat lyk…

Hy bied haar sy arm aan, en dan stap hulle op die rooi tapyt verby die pawiljoen, daardie sestig meter stappie wat gesamentlik R200 per meter gekos het…

Oor twee weke begin die matriek eindeksamen.  Die keuring vir Veeartseny is nog nie bekend gemaak nie. Maar met 8 potensiële onderskeidings sal daar waarskynlik weer ‘n briefie van Onderstepoort af kom: Jammer, as gevolg van akademiese redes het u aansoek nie geslaag nie.  Ook sy aansoek by die Vloot lê en wag tevergeefs- die Vloot neem net elke 2e jaar deesdae rekrute in- en dan moet jy reeds in besit wees van jou fisiese matrieksertifikaat, niks gaan dus voor Augustus 2013 besluit word deur die Militêre Hoofkantoor in Thaba Tswane nie…

Twaalf jaar se skoolopleiding is byna verby. Die pad van die toekoms, met al sy uitdagings en afdraaipaaie, sy hindernisse en slaggate lê voor die deur. Maar dit is nog ver…

Vanaand is wat saak maak! Hierdie 60 meter voor die kameras op die rooi tapyt. LMFAO featuring Natalia Kills trek los met “Champagne Showers…” Tree vir tree, terwyl die kameras flits… More is nog ver, vanaand is ons jonk en mooi. Vanaand gaan ons paartie, en dis al wat nou saak maak…

Ag dalk is dit nie die regte prentjie nie, dit was net vir my baie mooi! Kuns van Norman Engel.