Ou Brêg- gat!

My eie foto vir ‘n slag!

Ons het die naweek bietjie gemeentekamp gehou by Klein Paradys net buite Nylstroom.  Hierdie Pou het ons gegroet toe ons Sondagoggend ons aanbiddingsdiens gehou het.

Baie lekker gekamp, maar dit het BAIE gereën. Dit was ‘n goeie ding, want toe het die gemeentemense nodig gehad om by mekaar in die karavane en tente te kuier. Nuwe vriendskappe is gebou, in enkele gevalle het buurmanne mekaar vir die eerste keer leer ken.

Ek het net tot my skok agtergekom dat my ou Jurgens Manjefiek B karavaan deesdae ‘n binneshuise stort het. Net langs die bed.

In die baie reën het my laptop se kragkabel ook in diep water beland. Die rook het uit die transformertjie gekom. In ons dorp is ‘n nuwe een onverkrygbaar. Gelukkig het Ellies ‘n baie oulike Universal Laptop Power Adaptor. Ongelukkig maak hulle hom nie meer nie. Gelukkig leen gemeentelede toe vir my een, en nou werk my laptoppie weer. Ongelukkig moet ek hierdie adaptor weer teruggee…

Die kamp was baie lekker. Nou is dit weer voluit aan die gang om die jaar se werk klaar te maak. Baie, baie besige tye soos julle kan sien aan die frekwensie van my blog…

 

So baie mense, so baie stories…

Ek is op die oomblik weer besig met ‘n woeste vlaag van huisbesoek.  Nee, ongelukkig nie Huisbesoek nie (my motorfiets se naam- vir nuwe lesers… dan kan my vrou eerlik sê “Hy is uit op Huisbesoek…”)

Ek is seker nie ‘n goeie huisbesoekende dominee nie. Ek kom nie met elke besoek uit by daardie diep gesprekke oor die gereddenheid van mense se siele nie. Ek kry dit nie goed reg om die broer en suster aan te spreek oor gebrekkige kerkbywoning nie. Om die waarheid te sê, ek kry dit nie eers reg om meestal diep dinge te sê wat mense se lewens radikaal verander nie.

Dis nie vir my lekker om huisbesoek te doen om huisbesoek te doen nie. Kom ek verduidelik daardie ene- ek stel regtig nie belang in hoeveel huise ek besoek het wat op die lidmaatregister van die gemeente is nie. Dit gaan nie oor regmerkies op ‘n prestasie rapport nie.

Maar ek is baie lief daarvoor om by mense te gaan kuier. Ek is seker maar baie introvert van geaardheid- ek wil nie met mense gaan praat nie. Ek wil hulle aan die praat kry. Ek wil luister. Want ek hoor die wonderlikste stories oor mense se lewens. Ek kry dinge wat my diep laat dink. Ek kry verhale wat my diep skok. Mense se verhale van seer, en die hartseer is dat die kerk, en medegelowiges, dikwels aandeel aan daardie seer het.

In onse plattelandse dorpie skinder die mense mos graag, nie almal kan DSTV bekostig nie en dit lyk vir my asof skinder dan beter vermaak  as Peasant TV (1, 2, 3 en e) is. Daardie lekker wat mense het om iets te weet van iemand anders, wat jou darem beter laat lyk as hulle. En loop die stories nie rond nie! Die veeartse is besig om renosters te poach. Ander gesiene sakemanne is nie te vertrou op ‘n Vrydagaand op die plaaspaaie in hulle Land-Cruiser bakkies nie. Het jy gehoor- daardie enetjie wat in matriek was verlede jaar is op die paal!  Daardie dame se naam het uitgeglip as deel van ‘n groot Swingers-netwerk, baie hush-hush. Daardie makelaar is vasgetrap vir bedrog, daardie onderwyser syp te veel…  Haai oe, ons moet vir hulle bid!

Intussen is die vertellers van die stories nie aldag self so heeltemal onskuldig nie. Wie van ons is regtig? Wie van ons kan regtig ‘n vinger na ander wys?

So het ek die afgelope paar weke by ‘n hele paar van die gemeenskap se verdagte karakters gaan kuier. En ek het dit baie geniet. Ek het eerlike verhale gehoor van seerkry. Ek het al ‘n paar keer gewonder, as ek in daardie omstandighede was, of ek regtig anders sou gekies het as die beskinderde ene…

Skinder is karaktermoord.  Tog is dit so eie soos boeresport in ons gemeenskap.

Ek sê mos nou nie ons hoef misdaad goed te praat of mense se selfsug en slegte maniere net te aanvaar as dit teen ons gerig is nie. Maar waaragtag, soms gun mense mekaar nie ‘n plekkie in die son nie. Ek voel nie altyd tuis by die baie heiliges nie… en soms verras die uitgeworpenes se verstaan van genade  my baie. Genade vind ‘n mens soms op die vreemdste plekke…

Ek het dit baie geniet om Sondag weer die wonderlike verhaal van Johannes 8:1-11 met my gemeente te deel:

Oktober, die mooiste mooiste maand…

Ja, ek is maar nog steeds stil.  Steeds besig om die rasende koppie te probeer uitsorteer.

Ek was ook stomgeslaan deur:

  •  Felix BAumgartner se Valskermsprong- WoW!
  •  Lance Armstrong se grootste val
  • Die verlaging van Suid Afrika se kredietgradering met ons wêreldwye vryval in gewildheid as beleggingsbestemming
  • Die eerste lentereën in Nylstroom wat alles van baie stowwerig na baie groen toe geneem het…
  •  Die wonderlike musiek van Arvo Pärt- soos https://www.youtube.com/watch?v=B8qg_0P9L6c
  • Die kultuuraand van ons Hoërskool, met die kinders se gewoonte om dié wat sukkel maar probeer het, die hardste te “cheer”… dit was aangrypend mooi!
  • Gisteraand se prysuitdeling, met soveel talent. Nie net die twee jonge dames in Graad 9 en 10 wat byna al die pryse gewen het nie, ook die outjies wat daar was vir ‘n brons sertifikaat vir rugbypogings… Daar is ‘n wonderlike potensiaal in ons land se jongmense. En dit was so lekker om swart leerlinge net so te sien presteer- ons sportman van die jaar is swart, hy was 3e in die SA’s in die 800 m. Daar was baie swart leerlinge onder die top 10 van elke graad- op meriete! Vir sulke mense moet die regstellende aksiebeleid ‘n belediging wees- hulle het dit deur harde werk self verdien. Mag sulke leiers eendag hierdie land oorvat van die regstelendes…
  • Die boek “Kite Runner” van Khaled Hosseini het my absoluut weggeblaas. Wat ‘n ongelooflike boek van skuld en skaamte, verhoudings en restitusie…  Om te dink hoe wonderlike plek Afghanistan kon gewees het,  en watse aashole die Taliban eintik in werklikheid is! ‘n 18 jarige met wattewolletjiesbaardjie en ‘n stok wat enige dame op straat slaan as sy nie na sy sin reg optree of toe genoeg aangetrek is nie… watter tipe wêreld is dit???!!!
  •  Van die Taliban aashole gepraat (nou gaan Ahmed seker die Midde-Ooste afbrand!) wat ‘n verskriklike skande vir Pakistan dat die Taliban vir Malala Yousafzai kon skiet. ‘n 14 Jarige meisie wat die guts gehad het om op te staan vir die regte van dogters om ook skool toe te gaan.  Sy is ‘n ware heldin, en ek bid sy word mooi gesond daar in Engeland. Maar mag die vlooie van ‘n duisend kamele die Taliban besoek…
  • Die wonder van Stationripper om lekker musiek af te laai!
  • Die wonder dat iemand ‘n trein kan afbrand omdat hy wil staak, en dan die volgende dag moan dat daar nie vervoer vir hom werk toe is nie- so iemand verdien die Nobelprys vir briljantheid…
  • Ek hoor Renosterpoacher horing fyn gemaal is glo baie goed vir allerlei onnoselhede se kuur…
  • My moedertjie word vandag 72 en werk nog steeds as matrone van ‘n aftreeoord siekeboeg in Gomorrah, sal na skool maar deurry en gaan koek eet…
  • Ek het vanoggend my fietsryklere vir die eerste keer van die Argus af aangetrek. Net om te ontdek albei my fietse se wiele “buckle”.
  • Tullian Tchividjian is Billy Graham se kleinseun. Hy het vanoggend so ‘n mooi ding vir my getwitter:
    “Living faith involves two confessions: “I can’t” and “God can.”
    Ek het dalk vir ‘n ruk te diep vasgeval geraak in die “I can’t…” Dit geniet tans aandag…

  • Standbeeld in die ruines van die katedraal by die Hill of Slane in Ierland. Geleen by die Roomse gevaar, saam met hierdie pragtige gebed:
    We beseech Thee, O Lord
    that our fragility may be upheld
    by the remedies of Thy mercy,
    so that what of itself is falling into ruin
    may, by Thy clemency, be restored.”
    Soos opgesit deur Father Mark Kirby

So ek leef nog, en die gedagtes vlieg teen die spoed van wit lig deur my jong onskuldige gemoed.

Hê ‘n fantastiese naweek!

Maandag se inspirerende woorde…

Nee, dis te moeilik…

Ek is al weer in ‘n maalkolk in my kop die afgelope ruk.  Daar kom nie op die oomblik enige iets op om oor te skryf nie. Ek voel weer so “blank”- (lees in Engels… ) soos daardie ongelukkige gebeurtenis tydens die Ou Testament mondeling by Prof Fanie Snyman toe ek uitgejaag is om weer te gaan leer…

Daar is wel enkele dinge waaroor ek dankbaar is vandag:

  • My dogter is vir die week tuis- hulle vakansies is so week na gewone universiteite s’n. Ek en sy het vanoggend 6 km gaan stap en lekker gesels…
  • My swembad is amper weer blou, dit lyk nie meer soos ‘n baberdam nie…
  • Ek het Saterdag ‘n pragtige paartjie op ‘n Lodge getrou met die mooiste uitsig…
  •  Ek het gister ‘n doopdiens gehad, waar ek oor die seën van die Here uit 2 Korintiers 13:13 kon preek… Genade bly die mooiste woord in die Bybel vir my.
  • Ek was verlede week by Skoonma. Gelukkig is myne nie ‘n heks nie…
  • Dit is verskriklik warm in die Bosveld, en ons het nou dringend reën nodig. Die weervoorspelling sê dit lyk belowend vir die naweek…
  •  Vanoggend by die Ouetehuis gaan kuier, by ‘n dame van amper 97 en ‘n oom van 95.  Ek is dankbaar ek is nog nie daar nie!  Maar hulle twee hanteer dit met baie grasie, en dankbaarheid- ek voel altyd beter as ek daarvandaan wegstap. Wens alle ouer mense was so gewees!
  • More se Bybelstudie oor Johannes 7 se 2e helfte is klaar- dis eintlik baie fassinerend as ‘n mens die Loofhuttefees ken, en dan hierdie stuk in daardie konteks lees… Water wat lewe gee…

Dankie vir al die ander wat sulke inspirernde blogs op die oomblik skryf…

 

O ja- die GROOTSTE rede tot dankbaarheid: Ek is so bly ek hoef nie in ‘n Roomyskarretjie te werk nie… Dit is my naaste idee van wat die hel moet wees:

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

 

Die hele. hele dag lank…

 

Loftus o Loftus!

Eendag lank lank gelede, seker so verlede Woensdag, kom die Skoolhoof met ‘n fantastiese gedagte. Die saak staan so: met sy invloed by die provinsie se rugby is daar sekere kaartjies op Loftus aan hom toegeken. Toevallig geld dit ook vir die Toets saterdag. Sou ek dalk belang stel om saam met hulle die Toets by te woon? My vrou en sy vrou is vriendinne, sy kan saamkom dan gaan eet ons uit na die tyd. O ja, en daar is ook drie kaartjies vir die seuns, hulle sit net elders…

Gemengde gevoelens… Daardie laaste All Black wedstryd wat Dean Greyling en Morné Steyn so vuisgeslaan het vir Man of the Match spook nog in my gedagtes… Maar dalk net… Ons sê Ja, Groot Asseblief!

Ons moes nou wel drie dagreise te kameel ver van Loftus af stop, en ver loop. Op soek na Hek 1 kry ons toe ‘n lekker verrassing. Hier stop ‘n mooi bus voor ons, en hier pop die Aussies span uit, twee meter voor ons… Ons wag toe ook maar vir die Bokke. Wat maak die ander Pieter de Villiers (Frankryk stut) in die Bokbus?

Wel ons het ons sitplekke gevind, op die doodlyn aan die noordekant van die veld. My middelste het die kamera gegryp en die opdraf gaan afneem.

Die volkslied was aangrypend, veral die trane in die oë vam die nuwelinge. Wat se ou heks kla so daaroor in die briewekolom van Beeld? Dit was baie mooi!

Habana was duidelik weer sy ou self op Loftus- pragtige driekuns. Dit lyk wel nie of die Bokke meer mag oorskop nie, maar as hulle so drieë druk dan vergewe ek hulle.

Die wedstryd het so ongelooflik vinnig verby gegaan. Die atmosfeer met die ver terugstap kar toe was fantasties!

Na die tyd het ons toe op facebook vriende se aanbeveling by Crawdaddy’s in Brooklyn gaan eet. Die res se kos was fantasties- my hoender was gebrand en droog…

Maar dit was ‘n UITSTEKENDE dag in die eensame Donkie se lewe!