So baie mense, so baie stories…

Ek is op die oomblik weer besig met ‘n woeste vlaag van huisbesoek.  Nee, ongelukkig nie Huisbesoek nie (my motorfiets se naam- vir nuwe lesers… dan kan my vrou eerlik sê “Hy is uit op Huisbesoek…”)

Ek is seker nie ‘n goeie huisbesoekende dominee nie. Ek kom nie met elke besoek uit by daardie diep gesprekke oor die gereddenheid van mense se siele nie. Ek kry dit nie goed reg om die broer en suster aan te spreek oor gebrekkige kerkbywoning nie. Om die waarheid te sê, ek kry dit nie eers reg om meestal diep dinge te sê wat mense se lewens radikaal verander nie.

Dis nie vir my lekker om huisbesoek te doen om huisbesoek te doen nie. Kom ek verduidelik daardie ene- ek stel regtig nie belang in hoeveel huise ek besoek het wat op die lidmaatregister van die gemeente is nie. Dit gaan nie oor regmerkies op ‘n prestasie rapport nie.

Maar ek is baie lief daarvoor om by mense te gaan kuier. Ek is seker maar baie introvert van geaardheid- ek wil nie met mense gaan praat nie. Ek wil hulle aan die praat kry. Ek wil luister. Want ek hoor die wonderlikste stories oor mense se lewens. Ek kry dinge wat my diep laat dink. Ek kry verhale wat my diep skok. Mense se verhale van seer, en die hartseer is dat die kerk, en medegelowiges, dikwels aandeel aan daardie seer het.

In onse plattelandse dorpie skinder die mense mos graag, nie almal kan DSTV bekostig nie en dit lyk vir my asof skinder dan beter vermaak  as Peasant TV (1, 2, 3 en e) is. Daardie lekker wat mense het om iets te weet van iemand anders, wat jou darem beter laat lyk as hulle. En loop die stories nie rond nie! Die veeartse is besig om renosters te poach. Ander gesiene sakemanne is nie te vertrou op ‘n Vrydagaand op die plaaspaaie in hulle Land-Cruiser bakkies nie. Het jy gehoor- daardie enetjie wat in matriek was verlede jaar is op die paal!  Daardie dame se naam het uitgeglip as deel van ‘n groot Swingers-netwerk, baie hush-hush. Daardie makelaar is vasgetrap vir bedrog, daardie onderwyser syp te veel…  Haai oe, ons moet vir hulle bid!

Intussen is die vertellers van die stories nie aldag self so heeltemal onskuldig nie. Wie van ons is regtig? Wie van ons kan regtig ‘n vinger na ander wys?

So het ek die afgelope paar weke by ‘n hele paar van die gemeenskap se verdagte karakters gaan kuier. En ek het dit baie geniet. Ek het eerlike verhale gehoor van seerkry. Ek het al ‘n paar keer gewonder, as ek in daardie omstandighede was, of ek regtig anders sou gekies het as die beskinderde ene…

Skinder is karaktermoord.  Tog is dit so eie soos boeresport in ons gemeenskap.

Ek sê mos nou nie ons hoef misdaad goed te praat of mense se selfsug en slegte maniere net te aanvaar as dit teen ons gerig is nie. Maar waaragtag, soms gun mense mekaar nie ‘n plekkie in die son nie. Ek voel nie altyd tuis by die baie heiliges nie… en soms verras die uitgeworpenes se verstaan van genade  my baie. Genade vind ‘n mens soms op die vreemdste plekke…

Ek het dit baie geniet om Sondag weer die wonderlike verhaal van Johannes 8:1-11 met my gemeente te deel:

Advertisements

7 thoughts on “So baie mense, so baie stories…

  1. “Skinder is boeresport.” Dis baie waar. Ek wonder of dit ook skinder is oor te vertel en te praat oor bekendes wat in die nuus is en wat hulle gedoen het. Somehow voel dit nie so nie, want almal doen dit en as dit in die koerant is moet dit mos waar wees, dink ons. Maar as dit onwaar is, kan dit mense se lewens net soveel vernietig.

    Is soms maar moeilik om mens(lik) te wees. Voorspoed met jou werk. Ek hou van jou eerlikheid.

  2. die ou mensdom is maar ‘n vreemde verskynsel, doom donkie
    ek glo nie daar is iemand op aarde wat almal gelukkig sal kan maak nie, want daar sal altyd een wees wat dwars trek, en hou jy die een gelukkig is dit teen die ander een se beginsels……
    jou werk doom donkie, is seker een van die ondankbaarste werke wat daar is, maar gelukkig het jy die Groot oor om by te kla, en die Groot hand wat jou leiding en genade gee, want daarsonder sal jy nooit kan uithou nie…….

    dis so lekker om weer te kan inloer en te lees van almal se manewallese en te kan kom snuffel en my mening te laat, of dit nou goed of sleg is, ek dink tog dit maak die siel heel en skoon om te snuffel en te kan gesels!!!
    sterkte hoor en gelukkig weet ek mos waar jou krag vandaan kom so ek sê met ‘n geruste hart, laat wees wat moet, more sorg vir homself…………
    laat dit juig doom donkie

  3. Jy is uitgeknip vir jou werk, want jy is ‘n mens-mens. Nie ‘n verhewe dominee wat van daar bo op jou troontjie preek nie. En ja, ek beny jou nie jou werk nie, maar ek is dankbaar dat daar wel dominees soos jy is.

    Oor skinder – ek probeer maar altyd onthou van “huise van glas”. En wie van ons kan die eerste klip gooi. Maar ons bly maar mens 😉

  4. Ek het die ‘voorreg’ gehad om in ‘n gemeenskap groot te word wat hulle klippe mildelik laat reën het. Genadeloos. Eindloos. Hierdie was en is steeds my gunsteling vers in die Bybel. Ek maak my skuldig aan oneindig baie, maar ‘n klip sal jy nie in my hand vind nie.

    Genade vind jy altyd op die einaardigste plekke oompie Doom. Dit is die wondergawe van genade.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s