Drome en Nagmerries…

Kom ons begin eers met die positiewe- een van my groot drome in die lewe het hierdie week waar geword. Baie gaan lag daarvoor, en op litnet sou ‘n sekere “dame” nou weer baie te sê gehad het daaroor. Dominees wat die gemeente se geld so mors en al derglike dinge…

Ek het uiteindelik vir my ‘n BMW motorfiets aangeskaf. Ek droom al jare en jare en jare daaroor. Myne is nou wel ‘n ou een- 2000 model, maar dis al wat ek wou gehad het- ‘n BMW met ‘n Boxer enjin waarmee ek lang pad kan ry.

So lyk die nuwe Duitse Madchen in my lewe: ‘n R 850 R

Ek sien baie uit na vanjaar se Poison Rally, dat ek en sy die pad kan vat!

Maar saam met elke droom kry ek ongelukkig ‘n nagmerrie by. Hoekom moet die lewe altyd so uitwerk? Maandag koop ek die Motorfiets. Woensdag probeer skelms my dogter se kar in Brooklyn steel. Gelukkig het hulle dit nie reggekry nie. Maar hulle het die deurslot gebreek. En die hele ignition gebreek. En die paneelkassie. In elke nagmerrie is daar seker ook hoop- ek is so dankbaar vir Plaasjapie wat al die pad soontoe gery het om my te help terwyl ek nie kon stad toe ry nie- ek moes ‘n kerkraadsvergadering lei.

Die bevinding is: daar is meer as net ‘n “universal ignition” nodig- en die betrokke Toyota part is R2800…  Ek het die kar vanoggend hier gekry, nou sal ek in die week moet kyk hoe op aarde maak ‘n mens hom reg…

Vrydag is ek en Pastoriemoeder deur stad toe om die motorfiets te gaan haal. Vir die eerste keer in jare kry ons kans om te gaan fliek sonder die kinders. En ons het die fliek baie geniet- Hope Springs of so iets- van Meryl Streep en Tommy Lee Jones as ou getroudes met ‘n vervelige huwelik. Die twee is darem net uitstekende akteurs, en ons het die fliek baie geniet.

Maar in die fliek kry ons ‘n BBM van ons oudste seun (16) af. Hy was by ‘n vriend se 16e verjaardagpartytjie by ‘n skool se lapa.  Een van die 19 jariges het ook daar aangekom. Hy het in die swembad ingeduik, in die vlak kant. Hy het sy nek gebreek op die swembad se bodem, en verdrink voor hulle oë.  Hulle het eers gedink hy maak ‘n grap, en toe ingeduik om hom uit te haal.  Hulle het noodhulp probeer, en die ambulans was redelik vinnig op die toneel.  Maar die nuus het later deurgekom dat die jong man oorlede is.  Wat ‘n aaklige ervaring vir die seun se ouers, en vir ons gemeenskap!  Dis so sleg as jongmense so skielik doodgaan!

Die lewe is tans so baie op en af, dat ek sukkel om al die varkies op hok te kry.  Ek sal maar more die nuwe motorfiets gaan ry, en kyk of ek hom deur die toets kan kry sonder te veel trane. Daarna gaan ek net ry en ry en ry tot die son sak in die weste…

9 thoughts on “Drome en Nagmerries…

  1. Wraggies, as ou smella hierdie moet uitsnuffel is jy weer kniediep in die modder.
    Ek is bly vir jou oor jou se fietsie – duisende gelukkige myle word julle albei toegewens.
    Jy toe al reggekom met die parte vir die kar?

    Ag jinne, dis verskriklik sleg dat jou seun nou so ‘n traumatiese gebeurtenis moes beleef. Regtig jammer daaroor.
    xxx

    • Dankie Natasha, hy het vandag deur die Toets gegaan en is nou amptelik op my naam. Ek is baie lus vir die langpad!
      KArparte- Toyota vra R2800 vir die barrel van die ignition. Autozone vra R280! Party waarsku dat hulle nie so lank soos die egte part hou nie. Ek kan 10 van hulle koop vir daardie prys! Maar nou sukkel ek nog met die deur se slot- nog nie daar ‘n antwoord gekry nie- een van die nadele van die lewe op die platteland.

      Ons probeer maar met die kinders gesels wat by die braai was en kyk of ons kan help met die ontlonting. Maar daar is baie hartseer in ons gemeenskappie hierdie week! Sterkte daar by jou en dankie vir die inloer…

  2. Ek is bly vir jou oor jou motorfiets…. en ja, kilos, en kilos se “son sak in die weste,” ritte vir jou. Kon die storie nie maar net daar opgehou het nie!!!

  3. ai doom donkie, dit is goeie en slegte nuus, geluk met die bim-bike!!! en sterkte met die gemeenskap….
    klonki kind was ook so paar jaar terug een van die ongelukkige statestieke wat soveel vriende in een jaar verloor het dat ek gedog het dit gaan my pragtige kind se siel knak, want in sy matriek jaar het hy vyf vriende aan die dood moes afstaan, ek het heeldag vir hom die liedjie van Juanita duPlessis gespeel, ” ek sit jou voor Jesus se voete neer” dit het my getroos, en ek glo en vertrou dit het hom tog ook gehelp….
    wat maak mens as die bang te veel word doom donkie???? van gister af het ek net hiedier bang gevoel en ek weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie

    • Hallo kindvanafrrika, altyd lekker as jy kom kuier! Wat maak ‘n mens met die bang gevoel? Ek ken dit self so goed met alles wat ons al deurgemaak het, En daar is mos maar nie maklike antwoorde nie. Ek dink die mees gepaste een is Fil 4:6, om ons begeertes met smeking, gebed en danksegging aan God bekend te maak. Ons self kan nie altyd beskerm nie. Daarom moet ons maar aanhou bid- dit kan ons doen. Sterkte daar, die jong mannetjies maak ons klaar tot hulle eendag anderkant 25 verstand gekry het!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s