Death by Koeksister… sorry Riaan Cruywagen…

As daar nou een “professional hazard” (sorry Riaan Cruywagen) in my lewe is, is dit melktert. En koeksisters.  En kondensmelkhorintjies. En klein vleispastytjies.

Toe ek by Yskor gewerk het, was dit gesmelte staal wat in die hoogoond kan rondvlieg. Toe ek bus bestuur het, was dit minibus-taxis (noudat ek daaraan dink, dis nog steeds onder die top 3 euwels van alle tye, naby Hitler en Malema rond…) Golfspelers kry golfelmboog. Fietsryers breek sleutelbene. Rugbyspelers kry blomkoolore. Sokkerspelers kry “grassburns” (sorry Riaan Cruywagen…) op hulle onderlip.  Elke beroep het maar sy beserings.

Ek het nog net 101 dae voor die Argus van 2013. Soos my ex-held, die ex-legende (sorry Riaan Cruywagen…) Spuitnaald Armstrong gesê het by soveel onderhoude en oefensessies, en in sy fiksie- “It’ s not about the Bike’- as jy vinniger wil ry, spuit EPO. Of nee, hy het iets gesê soos: verloor gewig. My wetenskap onderwyser het iets gesê soos: Momentum= massa X snelheid. Dit maak dat ek BAIE vinnig op afdraandes is, maar nie so vinnig op opdraandes nie, dan is die momentum agtertoe. Ek wil so graag 20 kg verloor en kyk watter verskil dit maak aan my tyd op die Argus.

Maar nee, die gemeentetannies het besluit ek moet soos die vetgemaakte kalf lyk hier voor Kersfees. Ek kry net nie vrede in my jong onskuldige gemoed nie. Ek droom al daarvan dat daar ‘n reuse koeksister is wat my in ‘n koeksistergreep vasvang, en die lewe uit my uitwurg.

Kom ons neem net die afgelope 24 uur as voorbeeld. Gister het ek en my geliefde Bybelstudiegroep ons weeklikse Bybelstudiesessie vir die jaar afgesluit. Ons werk lekker saam, vers vir vers, deur die Johannes evangelie. Nadat ons saam vir Lasarus opgewek het in hoofstuk 11, het die dames die kombuis se luike oopgegooi. Almal wat in die 2e helfte van die jaar verjaar, het ‘n bordjie eetgoed saamgebring. Melkterte. Tjoklitkoeke (sorry Riaan Cruywagen…!) Kondensmelk horingkies. Koeksisters. Aspersieterte. En verskillende vleispastytjies. Al daardie goed wat Tannie Marie Rooihol van Weighless so woes teen waarsku…  Hoe kan die dominee nou die tannies se hart breek en nee sê? Hulle het dan met soveel moeite en liefde die heerlike eetgoedjies gemaak.

Gistermiddag bring die een baasbakster vir my ‘n fantastiese tjoklitkoek (sorry Riaan Cruywagen…!) om met my kinders te deel. Pragtige kleur, regte voggehalte. En karamel kondensmelk vir versiering bo-op… hoe sê dominee nou nee vir so ‘n wonderlike geskenk?

Vanoggend bid ek en Kollega en jongkollega saam, soos elke Woensdagoggend. VAnoggend is dit by my huis. Ongelukkig is daar net Ricoffy om aan te bied. Gelukkig is daar ‘n stukkie tjoklitkoek (ag deal with it, Riaan Cruywagen, ek het in ‘n industriele dorp grootgeword waar ons gedonder is as ons ons taal suiwer hou, en ek is aandagafleibaar.) Waar was ons nou weer? O ja, vanoggend se koek en tee. Om agt.

Nege uur het ons ons voedingskema afgesluit vir die jaar. Die dames nooi al die dominees om ook daar te wees. Gevleuelde woorde van dank word uitgespreek. Daarna word die kombuis se luike oopgegooi: Melktert en tjoklitkoek… Met soveel liefde gebak vir die Dominees- hoe sê ‘n man dan nee?

Daarna ry ek en kollega op ons motorfietse na die buurdorp toe om ‘n mikrofoon vir ons gemeente te gaan haal wat herstel is. Ons val by ‘n kollega se huis in vir koffie. Hy het so pas sy Bybelstudie afsluiting gehad. Die koffie kom. Met ‘n bordjie van: een skon met room en konfyt, een stuk melktert, een stuk tjoklitkoek, en een kolwyntjie. Hoe sê ‘n mens nee as kollega dit saam met sulke wonderlike moerkoffie opdis?

Dis net die afgelope 24 uur se werksverwante beserings…

Dink nou aan ‘n normale week se huisbesoek op die platteland, waar die dames kompeteer om te kyk wie kan die mooiste koeksisters bak vir Dominee se koms…

Hoe op aarde gaan ek 20 kilogram ooit verloor voor die Argus?  En ons het nog nie eers begin met die Kersseisoen nie…

Foto: thecoocoocook.blogspot.com

6 thoughts on “Death by Koeksister… sorry Riaan Cruywagen…

  1. Ag krisis Oompie Doom sommer so sonder dat ek wou het ek nou kliphard gelag vir die prentjie wat jy skets met die herhalende apologie aan sy waardige Riaan.

    Gisteraand het ek hoeka soos ‘n pap vadoek op die bank gehang met ‘n stuk mint-tjoklit in die hand en so met die soet in die kies vir my suskind gevra hoe sy dink ek my lastige 20kg gou-gou kan afskud voor ons die Weskusmense in die oë moet kyk.

    Die geligde wenkbrou en die kop wat so skuins na my volgestopte kies gedraai was het nogal boekdele gespreek🙂

    Ek berus my daarin dat ek hierdie weskus-sielsvakansie die volroom figuur met grasie gaan verteenwoordig.

  2. Daar is twwe maniere hoe jy die saak kan benader reken ek.
    1. Jy sê vir elkeen van die susters waar jy huisbesoek aflê die vorige suster se gebak was lekkerder. Op daardie manier is almal lateraan so vies vir jou dat jy nie weer in versoeking gestel sal word met die lekker eetgoedjies nie.

    of

    2. Jy kan jouself oorgee aan die saligheid en opdaag by die Argus met genoeg carboloading vir ‘n hele fietsryspan en hoop vir ‘n stewige wind van agter. O ja, as jy daai ou draadkameel van jou “verloor” is jy reeds ontslae van 19kg. Dus net een om te gaan voor Maart

  3. Ag ja dit is n stryd maar gelukkig is jy nie alleen in hierdie stryd nie. Jy kan darem Des by die see elke oggend so 10 gaan draf-of hoe? Spot sommer. Geniet jou lewe en doen wat vir jou lekker is. Geniet die ruskans.

  4. Pingback: Avontuur in die woestyn (3) | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s