Die nuwe pad Vaalwater toe…

Een van my goeie vriende raas nou met my en vra waar het my blog heen verdwyn… so hier is bietjie weer ‘n update…

Ons het gisteraand van die see af teruggekom. En vanoggend was ek nog op verlof terwyl my jongkollega en baie ander vriende op kansels reg oor Suid Afrika en die wêreld heen verskyn het. Maar ek- ek het bietjie laat geslaap… en toe ek wakker word hier net voor kerktyd, toe is dit ‘n pragtige sonnige dag, met die mooiste blou lug. Die kleur van die blou lug het my herinner aan die pragtige blou kleur van my nuwe ou BMW motorfiets…

Vir twee jaar lank was die pad tussen Nylstroom en Vaalwater ‘n baie groot ergenis vir al die Bosveldinwoners na Ellisras se kant toe. Die pad is heeltemal oorgebou om die groot lading verkeer te dra wat materiaal na die nuwe Medupi kragstasie toe vervoer. Die 60 km het in ‘n nagmerrie van 2 ure ontaard, met ses padverleggings wat enige tyd ‘n 30 minute wag kon oplewer. Die afgelope twee jaar het ek net daar gesit en mor oor die ongerief en die ure van my lewe wat nutteloos verspeel word…

Maar na al die lang wag is die pad byna klaar. Die pad is ook oopgestel vir verkeer oor die Kersseisoen. Ek en ‘n vriend het daardie nuwe pad met ons motorfietse gaan aandurf.  Dis so bitterlik lekker om op ‘n splinternuwe pad sonder enige pothole te ry! Op die motorfiets kon ‘n mens ook weer die vars lug van die Bosveld inasem, en die natuur geniet. Vir die motorfietsryers,  dis regtig ‘n pad wat ek nou kan aanbeveel as ‘n baie lekker rit!

As jy uit Nylstroom uit wegtrek, is daar eers die bultjie uit die dorp uit, verby die Gholflandgoed, en dan die aftreeoord wat entoesiasties Luilekkerland genoem is. Oppas maar daar net voor jy uit die dorp uitry, wees maar versigtig by die groot boom net voor die riviertjie, die geliefde verkeersmense rus graag daar met  allerhande apparate… Die spoedgrens is amptelik 80 tot verby Weesgerus, die Polisieoord. Nog so twee kilometer en jy kom in ‘n heerlike opwaartse S-draai. Baie pret met die nuwe teer, maar wees maar ook versigtig, in hierdie S-draai is al baie mense deur die Jordaan, omdat taxis en lorries en ander bejaardes die draaie onderskat en oor die middel jaag. Deur die S draai is daar ‘n lekker lang geleidelike opdraande, let op vir die swart rooibokke op regterhand, en ook swart blesbokke, die goed gaan nogal groot pryse op die veilings haal deesdae.

Nog ‘n slap draaitjie na regs, dan  lekker lang geleidelike af en op. Nou nader jy een van die mooi valleie in die Waterberge. So teen 35 km uit die dorp uit is die Geluksfontein Bokmelkplaas op regterkant. Dis een van die plekke waar jy vir iets soos R10 ‘n hele bord vol proestukkies kaas kan kry- bekroonde Bokmelkkaas. Hulle kaaskoek is vir my baie lekker. En hulle was op ‘n stadium besig om damme vir forelle aan te lê vir “catch & release”- ek was lanklaas daar, weet nie hoe ver die planne gevorder het nie.

Nog so entjie aan dan is daar weerskante van die pad groot perskeboorde. Die berge hier is baie mooi, ek wens iemand wil daar ‘n plek oopmaak waar ons kan tent opslaan! Die nuwe padoppervlakte maak dit ‘n baie lekker rit hier deur. So op 45 km kry jy die Swaershoek berge op linkerkant, een van die plekke waar Eugene Marais legendariese werk gedoen het oor die bestudering van bobbejane se gedrag. My vriend het hier ‘n episode gesien wat ek gemis het om een of ander onverklaarbare rede. Iemand het ‘n baba bobbejaantjie vroeg vanoggend daar doodgery. Die trop bobbejane was baie verbouereerd, en het oor die pad gekrioel, om daardie baba van die pad af te kry.  Hulle gee regtig vir hulle kleintjies om, soms soveel beter as mense!  Maar ek het dit nie gesien nie, want ek is op ‘n BMW, en my vriend op ‘n Truimph, hy was ver agter…

Daar is ‘n baie gevaarlike draai na regs soos jy die berge nader. Baie mense het hom ook al onderskat en die lewe verlaat, wees versigtig. Die plek word Sandrivierspoort genoem, moenie dat dit die poorte na die hemel te gou vir jou laat oopgaan nie. Dan begin jy klim, ‘n lang opdraende, wat effens afdraande word. Dan is daar ‘n baie steil opdraande, wat genadiglik nou dubbelbaan weerskante toe is. In die verlede het ons lelik met ons karre en bakkies agter lorries vasgehaak hier, dis ‘n reuse verbetering. Bo-op die pad draai die pad weer na links, darem nie te skerp nie. Nou is dit nog so 7 km tot in Vaalwater. Die sinkplaat padstalletjie was toe vir die duur van die padbou, ek sien die bordjie sê hulle het 15 Desember weer oopgemaak. Daar is nogal baie padstalle langs die pad. So hou die pad reguit maar op en af aan tot in Vaalwater. Die oomblik as jy in die dorp inry word die pad weer baie sleg, soos hy eens was, vol lelike slaggate. MEt die baie reën die afgelope ruk is daar ook baie sand oor die pad. Daar is verskeie plekke om iets te eet in Vaalwater, maar ons keuse vanoggend was die Big 5 Restaurant op regterkant in die dorp se deurpad.

Ons het goeie diens daar gekry vanoggend. Ek het ‘n omelet met kaas, bacon en mushrooms gehad, wat saam met roosterbrood of chips bedien word, en ‘n glas vrugtesap vir R48. My vriend het die maalvleis op mieliepap met ‘n eier geëet, vir dieselfde prys.

Dit was nou ‘n heerlike oggend uit op die motorfiets! Jammer, my selfoon het pap geword, en ek het nie my ander kameratjie saamgery nie. Fotos sou nou so mooi wees, maar ek wou ook nie elke paar meter stop nie, net ry en geniet!

Oukersaand vir ‘n kind- Koos du Plessis

Oukersaand vir ‘n  kind‑

vir jou my meisie‑

is ‘n grafie en ‘n besempie

in kleurpapier gebind

met stukkies reënbooglint;

‘n blokkie sjokelade

en ‘n wêreld sonder wind

waarin kersies vroom en vier

brand op kaartjies teen ‘n muur

en liggies aan ‘n boompie blom

solank die donker duur

Maar Oukersaand is ou kerse

in die aand, en in die wind;

ou, flikkerende kerse

en, my kind:

kersboompies wat nie blom nie,

‘n Kersvader wat nie kom nie…

Mag hierdie Kersfees vir jou en jou geliefdes baie meer wees as die bling van die malls!

Die einde van die wêreld was toe groot pret…

Gisteroggend sit ek en kyk Sky News. En in die koerante vertel hulle hoe die einde van die wêreld teen 12 minute oor 11 verwag kan word volgens die koerante in Engeland.

Ek weet- die einde van die wêreld kom net ‘n paar keer in ‘n mens se lewe. ‘n Mens moenie daarmee mors nie, anders moet jy dalk 5125 jaar wag om die volgende een op die Maya kalender te beleef. So- verskuldigde eerbied is verskuldig vir die aard van die geleentheid. Jy moet jou kleredrag reg ken, en soos die eiendomsmark is die drie belangrikste dinge om te onthou “Location, location, location…”

Vir die geleentheid het ek maar vir my ‘n blou swembroek gaan koop, my rooie is in die brand vernietig. Ek en die gesin het op Pennington se strand gaan sit en wag op die einde. Ek het gewonder hoe dit gaan wees. Een verblindende straal lig wat die aarde net uitwis, dat ons die volgende oomblik in die hemel is? Die aarde wat oopskeur en kontinentale plate wat omdop in die lawa in, dat ons almal soos op ‘n rollercoaster gaan sit en gil?  ‘n Reuse Tsunami waarmee ek tot in Newcastle kan body surf?  Ek het nie geweet wat om te verwag nie.

Ek het selfs, soos Douglas Adams dit so mooi beskryf het, by die Restaurant aan die einde van die wêreld beland. Hier is hy…

Die Mpithi  Beach Kiosk daar aan die bokant van die trappe. Ek wou so graag daar gaan koffie drink en appeltert eet om vir oulaas iets in my maag te hê, ek dink nie ‘n mens moet met ‘n leë maag die aarde verlaat nie. Ek het eers baie lank op die bankie gesit en wag vir ‘n leë tafel. Die gesin was solank op die strand, hulle wou eerder swem as appeltert eet. Na baie lang gewag het daar uitdeindelik ‘n tafel oopgegaan. ‘n Sespersoon tafel. Ek het daar gaan plaasneem. Na sowat tien minute het die jonge Zoeloe dame die tafel kom skoonmaak van die vorige kliente se reste…  Sy het gesê sy sal nou die Menu bring… sy het verdwyn, ek dink Zoeloes is eerste weggeraap, sal iemand kyk of ons geagte President nog met ons is?  (die Bybel sê mos dieé wat eerste is sal laaste wees, en die laastes eerste- dit maak sin- Zoeloes gaan voor Afrikaners weggeraap word…)+

Twintig minute later sit ek nog steeds daar met waterende mond en wag vir my menu… Twee tafels verder het mense moedeloos geword en opgestaan en geloop. So tien minute later kom die ander Zoeloe dame by die leë tafel en sit hulle borde kos neer. Niemand bring steeds vir my ‘n menu nie. ‘n Bejaarde Engelse heer sit en kyk die storie so, hy roep die bestuurder en sê ek het nog geen diens ontvang nie. Die bestuurder mompel iets van hy sal nou iemand stuur.  Na nog tien minute staan ek op, en gaan vertel die bestuurder ek wil nie daar bly sit en wag op die einde van die wêreld nie, hy kan maar sy menu vat en…  nee, gewoonlik is ek te polite en dink dit net… Maar vir die mense gesê veertig minute se wag vir die menu is totaal onaanvaarbaar. Ek kan  net dink wat sou Gordon Ramsay hier gesê het. En dis jammer, hierdie mense se kos lyk lekker wanneeer dit wel eendag opdaag.  Hulle het een van die mooiste uitsigte wat ‘n mens voor kan vra.  Nee wat, ek gaan nie weer my tyd daar mors nie.,., Die aarde sal vergaan voor hierdie Teagarden jou goeie diens sal gee…

In elk geval, ek gaan neem toe maar plaas op die strand, en kyk op ‘n afstand hoe my nageslag in die see baljaar. Hier kort voor my kom sit twee susters van so in die 20 jaar, die een is ‘n jong moeder… Ag, te pragtig, uiteindelik het die vroulike vorm perfeksie bereik, dankie tog vir die donkerbril. Dis darem so mooi om te sien so kort voor die einde- d ie prag en skoonheid van die kroon van die skepping…

Die minute het afgetik. Uiteindelik het die tyd aangebreek. Ek het dit op my horlosie afgeneem as bewys vir die nageslag: ek was ook daar toe die wêreld geeindig het. Ek het my gemaklik neergevlei op my handdoek en my hoed oor my oë getrek- as die einde kom wil ek dit nie sien as dit erg is nie. Ek het die posisie aangeneem  vir einde van die wêreld reise…

Eers het dit begin met die selfone wat nie meer sein het nie. Die see het skielik teruggetrek, dit staan mos daar in Openbaring 21 dat die see nie meer daar sal wees nie. Die dolfyne was inderdaad nie meer op die laneet nie, nes Douglas Adams dit in die historiese akkurate skrywe- “Hitchhikers Guide to the Galaxy” beskryf het.  Ek het nie die intergalaktiese stootskrapers van die Gorgons gesien nie, net die aaklige geluid waarmee die aarde ontplof het. Jy kon net bikini’s sien spat die hele leë strand vol… Die aarde het in verskeie kaleidoskopiese kleure ontbind in verskillende chemiese elemente.  Dit het die reuk van Durban Poison gehad, en ons mense het teen die spoed van lig die duister ingetrek. En nee, dit maak toe nie seer as jy deur ‘n Black Hole trek nie, moet dit net nie in Afrikaans vertaal nie… Die ANC se nuwe leierskap het Noordwaarts in die ruimte ingetrek, en die goeie mense suidwaarts…   Daar was ‘n tonnel met ‘n helder wit lig, en ek kon harpe saggies hoor speel aan die ander kant- “Brothers in Arms” van Dire Straits was van 1976 af die nommer 1 op hulle top 40 ook daar aan die anderkant…

En net voor ek by Petrus by die Pêrelpoorte aankom, het Noag se sondvloed my getref. Ek wou nog sê: “Petrus- die Goeie Boek het dan gesê nooit weer met water nie…”  toe hoor ek my jongste se stem : “Pa beter nog sonbrandroom aansit, anders gaan pa se pens brand…”

Die klein bliks… kottel staan daar met sy geel emmertjie met Indiese OSeaan Durban Rioolwater wat hy liefderyk oor my uitgegiet het. En so het die wêreld toe geeindig, want kort daarna moes ons terug om uit die warm son uit te kom en middagete te gaan maak.

Hierdie einde van die wêreld het ek gemis.  Ek het gehoor al die goeie mense is weg. Hoekom is jy nog hier?

Goeie genugtig- my vrou dreig my!

My vrou gaan vir die volgende 10 dae my selfoon konfiskeer.

Daarom, as julle my nie hier rond sien nie, ek is wel in goeie hande!

As die wêreld nou nie Vrydag eindig nie, is my wens vir elkeen van julle vrede en liefde in oorvloed in hierdie Kersfeesseisoen.

Baie dankie vir so baie goeie vriende wat ek hier in die blogwêreld gemaak het, en so baie van julle wat meer as blogvriende geword het- mag julle almal baie geseënd wees!

Tot heelwat later,

julle vriendelike Donkie!

Waar mot en roes verniel hier kort voor die einde…

Die Goeie Meester het in die Goeie Boek gesê ons moenie skatte op aarde bymekaar maak nie, want hier gaan mot en roes dit verniel. Of ons geliefde naastes gaan dit steel.  Vandag is ek sommer weer ekstra die hel in vir die sondeval. As ons nog in die volmaakte wêreld gelewe het, het ek glad nie vandag se moeilikheid gehad nie. Inteendeel, dan het ons nog kaalbas in die tuin baljaar…

Ek het die voorreg om verskeie ou voertuie te besit, wat op verskillende tye verskillende gesinslede na verskillende plekke toe moet vervoer. Onlangs het my geliefde naaste my dogter se motor probeer deel maak van die herverdeling van welvaart transformasie program. Ek sukkel nog steeds om al die regte pirate parte op te spoor (Toyota genuine Parts- R2800 vir die ignition barrell, en enkele sente onder R1000 vir die deurlslot…)

My Mazda Drifter bakkie het ook net een bestaande sleutel gehad. Ek weet Newton se eerste wet sê materie kan nie geskep of vernietig word nie. Erens op hierdie planeet, of een of ander paralelle heelal, is ‘n heel Mazda Drifter sleutel, met ‘n ekstra sleutel vir my Carryboy Canopy, asook ‘n Santam botteloopmakertjie vir daardie Windhoekies wat nie kan oopdraai nie, alles aan een carabiner. Daardie sleutel pas op my Drifter, en werk baie mooi. Behalwe dat hy totaal en al  weg is. R300 beloning vir die een wat hom in my hande plaas!

Die tweede sleutel van my bakkie was vandat ek hom gekoop het, al stukkend. Die “casing” was met superglue vasgeplak. Raai watter sleutel kies om nie weg te raak nie? Die stukkende een. En toe ek op die Rally was, toe gee hy die gees, in my vrou se hande…

Ek het my bakkie nodig om op vakansie te gaan Dinsdag.  Ek het ‘n werkende sleutel nodig. Die ou ene werk so effens, as jy die swart plastiek vashou aan die los metaalpunt, en dan so in die ignition druk. Maar dis groot werk vir elke staart!

Eers vra ek die Mazda agente in ons dorp- ek soek net graag ‘n werkende sleutel vir my bakkie. Nee, sê hulle- ‘n mens het albei nodig om ‘n nuwe een te programmeer. Of die hele stelsel moet vervang word! Nee, sê my baie goed opgeleide Ford mekêniek in my gemeente, dis nonsens. Tzaneen se tak kan dit met een sleutel doen. Maar Tzaneen is 320 km weg, met erge padwerke.

Ek skakel Lazarus Ford in Centurion. Hier volg die pret: Die sleutel kos R576, die chip nog so R560. Dan moet dit in die werkswinkel geherprogrammeer word- nog so R500 arbeid. Ja, hulle het die sleutel en die chip in voorraad. Maar hulle kan my eers Woensdag help. Maar ek ry Dinsdag see toe! Jou probleem, nie ons s’n nie!

Ek begin op die internet rondspeel. Silverton Locksmiths sê ek kan maar stad toe kom, hulle kan help. Gister is ons Pretoria toe, met die sleepwa om ons dogter se trek te gaan haal. Ma en die seuns bly by ousus se woonstel om te help pak. Ek jaag Silverton toe. “Jammer meneer, net die agente…” Julle het dan oor die foon gesê… Ag focacia pizza!

So ry ek vir ure rond in die stad, op soek na antwoorde. Aurina Ford in Silverton boek hom selfs in die werkswinkel in- hulle het die parte. Jammer meneer, ons het albei sleutels nodig…  Ag foxterrier!

Na ure se rondjaag sê ‘n sleutelplek in die Waterglen sentrum- die enigste ouens wat jou kan help, is Gateway Locksmiths daar in Esselenstraat in Sunnyside. Ek skakel hulle: ja, hulle kan help… Ek ry weer al die pad Sunnyside toe. Die ou wat so pas gesê het hy kan my help, is nie meer daar nie. Die ander probeer kyk.  Daar is sulke no-name brand sleutels teen die muur. Ek verduidelik- ek wil NOG ‘n werkende sleutel hê, ek kan hierdie een sommer weer met superglue plak, hy werk al 4 jaar so vir my. Die ouens sê hulle sal kyk wat hulle kan doen. Na so ruk kom hulle uit- hulle het vir my een van die generiese sleutels gesny. Hulle het my ou sleutel oopgesny en sy chip uitgehaal en in die generiese sleutel ingesit.  Ek was op hulle perseel, hulle het niks geprogrammeer nie. Wat skuld ek hulle? R650!!!!  Vir iets wat ek self kon doen met R20 se Super Glue, want ek het nog steeds net EEN werkende sleutel!!!

Gateway LOcksmiths mag dalk die beste in die kontrei wees, maar ek voel ordentlik deur die ore ge… werk…!!! Hoe op aarde kos ‘n no-name brand sleutel sonder enige inherente elektronika meer as ‘n nuwe karbattery, of ‘n Perfecto Motorfietsbaadjie???

My gevolgtrekking liewe vriende, as jy ‘n MAzzda sleutel verloor, steek maar die kar aan die brand en eis hom  by jou versekering. Want daar is GEEN manier waarop jy in hierdie lewe ‘n sleutel kan verloor, en weer een in die hande vir daardie voertuig kan kry nie.

GElukkig eindig die wêreld mos Vrydag, dan hoef ons nooit weer met slotte hoef te sukkel nie, dan kan ek speel met my Bugatti Veyron wat in die hemel vir my wag… .

As dit nie so uitwerk nie- ek is die ou by die see wat oral loop met sy bakkiesleutel met slot en ketting om sy gewrig vasgebind. Want as daardie generiese stuk plestiek eers gebreek het- dan gooi jy ‘n Ford produk weg…

‘n Bietjie respek vir die boer aan die ander kant…

Ek het vanaand so langs my Weber gesit. Ek het eers vanmiddag weer by Lodie de Jager gaan kuier, en ‘n mens kom altyd ‘n baie beter mens daar by hom weg…  Een van my goeie vriende se familie was ook in ‘n lelike motorongeluk eergister, en alhoewel almal lewendig uit die wrak uitgeklim het, het sy vrou haar arm op vyf plekke sleg gebreek, sy is gisteraand in Gomorrah geopereer…  Dit het my diep laat dink vanaand…

Niks in die lewe is meer vanselfsprekend nie. Ook nie die mense in ons lewe wat ons dink altyd daar sal wees nie… ons het geen waarborge nie.

So terwyl ek by die Weber gesit het, het my gedagtes weer wyd gaan loop.

Op pad terug van Naboomspruit af het ek vyf sakke sekelbos langs die pad gekoop. Sekelbos is ‘n indringerplant in die Bosveld, wat hele landerye kan oorneem en baie, baie rof op motorbande kan wees met daardie dorings. As hulle jou steek, dan weet jy dit, dit brand soos ‘n perdebysteek…   Maar dit maak ‘n uitstekende braaivleisvuur, baie beter as die Kaapse Port Jacksons of Natal se simpel wattelhout! Iemand het die moed gehad om daardie sekelbosse te gaan afsaag, en in sewe netjiese stukke te saag, en in ‘n plastieksak te sit vir R8. Ek weet- by Hartenbos hardloop die prys teen R25- aai, dis lekker in die Bosveld! Die hout was net so bietjie nat, dis hoekom ‘n mens altyd ‘n gaspyp byderhand het om die vuur aan te steek.  Ek was dankbaar vir goeie braaihout. Die hout van die sekelbos het mettertyd die hitte van drie duisend dae se son vir my gegee, om my vleisie op te braai.

Ons het ook in Naboomspruit by Spif hoenders se padstal twee lekker hoender espetadas gekoop. Dit is so sewe hoenderdytjies op ‘n sosatiestokkie, met ‘n marinade soos barbeque of sweet and sour op. Iemand het daardie reuse boerdery met groot ambisie en baie harde werk gebring tot ‘n suksesvolle boerdery. Die vleis was baie netjies verpak en van die hoogste kwaliteit. Ek was dankbaar vir die vleisie op die kole, en die boer wat dit geproduseer het.

Saam met die vuurtjie het ek ‘n bottel Mount Rozier Merlot oopgemaak, wat ek by Food Lovers Market teen ‘n baie billike prys gekry het. Ek het nie ‘n idee waar is hierdie kelder nie. Maar iemand het jare gelede die regte kultivar druiwe met groot geloof geplant, op grond wat seker ten duurste by die Landbank afbetaal moet word- ek weet nie van iemand deesdae wat ‘n plaas sommer net verniet gekry het nie.  Dit het jare geneem om die wingerd te vestig, met jare se bemesting, en sorgvuldige snoei, en die regte hoeveelheid water en plaagpeheer. Jare en jare se werk het ‘n oes opgelewer, en in 2008 is ‘n oes ingebring wat gepers is, in vate geplaas is, en uiteindelik gebottel is. Dankie vir daardie onbekende boer en sy werkers vir vanaand se botteltjie rooi.

Daar was mieliepap op die spyskaart. Dis ‘n bekende gereg noord van die Oranjerivier waar snoek maar skaaars is!  ‘n Boer in die Vrystaat het met groot geloof sy John Deeres opgestaart, die landerye bewerk, en gewag vir die reën. Toe die voggehalte van die grond  reg was, is die pitte van Sensako ten duurste geplant. Daarna is met groter geloof gewag op nog reën op die regte tye. Plaagbeheer is toegepas. soms teen honderdduisende rande om die peste en plae in toom te hou. Uiteindelik was dit oesdag, en die stropers het deur die nag gery om die oeste in te bring, en die goudgeel pitte in die trekker se wa te spoeg. Dis aangery na die koöperasie toe, terwyl internasionale mieliepryse angstig dopgehou is. Met die reuse pryse van diesel en kunsmis was dit ‘n wonderwerk as die mielieboer darem gelyk gebreek het of klein, klein bietjie vooruit gegaan het. Daardie boer se harde werk op sy plaas by Viljoenskroon het vir my vanaand mieliepap op my tafel gesit.

Daar was sous op die mieliepap. Iemand het gedurende Februarie of Maart die uie geplant, was dit dalk die Wildeklawer ouens wat so vir Griekwas borg in die rugby? Die tamaties was dalk daar van wyle Bertie van Zyk se ZZ2  plase by Letsitele af. Dit was nog nie my tamaties nie, myne word opgevreet deur klein wit wurmpies- die klein **^%$###$%^^&!!!!

Soveel verskillende boerderye het hard deur die jaar gewerk sodat ek vanaand hoenderdytjies, pap en sous, slaai en rooiwyn kon geniet. Nee, Pick ‘n Pay het dit nie gemaak nie, net tot in ons dorp gebring dat ek dit gou vanmiddag kon koop.

Daarom dink ek dat elke ete met groot respek aangepak moet word. Dis nie vanselfsprekend dat daar kos is nie. Hoe kan jy dan voor die televisie gaan neerplak en 7e Laan kyk, en die kos sommer net in jou mond instop? Nee, ek dink elke ete moet ‘n blyk van respek wees, vir die kos, vir die liefde waarmee dit voorberei is vanaand, en vir die harde werk van die boer wat dit in die eerste plek moontlik gemaak het. Ek dink ons moet elke ete gebruik as ‘n viering van die lewe- “celebration of life!” Soms sê Engels dit so effens beter- Sorry Riaan Cruywagen!

Baie dankie, elke boer van Suid Afrika! Ek het lekker geëet vanaand! En nog lekkerder geniet aan my glasie rooi!

Avontuur in die woestyn, Episode 7

Natasha het die fakkel vir my aangegee, en Donkies mag geduldig, gedienstig en gedweë wees. Maar ons is ook party- animals in die woestyn wanneer ons op vakansie is. Ons is net effens langdradig, wat mense soms kan irriteer, so sorry heehaah (sorry Riaan Cruywagen) .  Hoe het ons in die woestyn beland? Seegogga het ons saamgenooi op vakansie in die woestyn…

In die woestyn het ons saam om die kouevuur gesit, wat so warm soos die son gebrand het.  Die Maankind het oor die duine gedans.  In die woestyn vind jy vrede en rus vir jou siel, soos ons vriende in Rolbos gereeld laat weet.

Kamele is natuurlik die beste geskik vir hierdie harde wêreld, en veral hulle kan in die aand langs die kampvuur diep dinge begin gesels.  Selfs wanneer Jan sy Pyp volgestop het, kan jy maar luister, daar kom baie meer as twak tussen die lyne deur. Rissiepit Ru het vir ons baie lekker kos gemaak, ons bekers loop oor!

Kind van Afrika kon dit regkry om spookasem in die stiller wordende nag op te tower. Maar die wolk spookasem het al hoe groter geword en al meer dreigend nader gekom.  Newsferret het dadelik sy kamera gegryp, want niemand het nog ooit so ‘n vreemde verskynsel gesien nie. Murphy het ook dadelik die notaboek gegryp om die scoop vir die Volksblad neer te skryf:  Die Apokaliptiese bedreiging van Spookasem vir onskuldige woestynbewoners…

Dirkie sê: Vriende, ek kan in my wildste drome nie dink dat spookasem ‘n mens kan seermaak nie. Dalk is die vrees vir die dinge baie erger as die dinge wat ons vrees! Slakkelak beaam en sê: Daar is niks in hierdie wêreld wat ons regtig seer kan maak nie. Lekkerjeuk sê: al kom hier ‘n pienk fluffy storm nader, is dit nog steeds interessant om te sien hoe julle almal daaroor dink. Sê nou maar net die spookasem is ‘n metafoor vir die einde van die wêreld op 21 Desember. Kan dit nie ons kollektiewe bewussyn wees wat hersenskimme vir ons optower nie?

Die Donkie vra: Is ons vrese nou eg, of nie? Hoe groot is die gevaar wat ons werklik bedreig? Dis nou ‘n stekelrige vraag, sê Turksvy Toorts sê: ek is gewoond daaraan om mense teen gevaar te waarsku. Ek dink nie die Spookasem is enigsens meer gevaarlik as die hart van ‘n mens nie. Gaan vra MnrNel, hy het al baie oor hierdie dinge gedink! MnrNel sê:  Spookasem kan dalk net ‘n optiese illusie wees. Dit het iets te doen met die verbuiging van die son se strale, soos gerefrakteer teen die besondere kwaliteit van die lug in die woestyn, wat die pienk golflengtes van lig helderder laat vertoon.  Ek sê: ons hoef nie bang te wees daarvoor nie! Vir die inherente volume is die gepaardgaande gewig te lig om enige skade aan ‘n mens te doen.

Merrie wil ons breine losbrand, en gooi die vraag op die tafel: Nou waarvoor is julle dan so bang soos ‘n klomp ou hekse met nat broeke? Olga brand die brein los en sê: Ja, wat is daar nou eintlik om voor bang te wees so kort voor 21 Desember? Hier in die woestyn vat alle goeie dinge in elk geval langer om te arriveer! Boer in Ballingskap herinner ons daar uit sy hoekie uit: More teen 12 minute en 12 sekondes oor 12 sal die datum en tyd 12:12:12 12/12/12 wees en dan is dit 12 dae voor Kersfees…

Wanneer die groepie om die vuur uiteindelik bedaar het, sê Donkie hy wil graag ‘n fabel vertel wat al vir hom baie beteken het. Hy hoop net nie sy sensitiewe gemeentelede neem aanstoot nie. Donkies is nie altyd sulke goeie storievertellers nie, en soms baie langdradig… en kan nog soms te veel herhaal ook. Maar dié tipe stories is vir hom baie moeilik om uit te dink… so daarom hierdie pêrel van wysheid, dalk kan dit net vir iemand iets beteken…

Eendag, lank lank gelede, was daar in ‘n baie koue land se winter ‘n klein voëltjie, wat op ‘n tak gesit en skree het terwyl alles rondom hom wit toegesneeu was. Hy val toe uit die boom uit, en lê en skree in die sneeu onder die boom. Die koei het die storie so op ‘n afstand gestaan en kyk, en die voëltjie intens, uit sy hart uit jammer gekry. Daarom het koei nader gestap, en op die voëltjie gemis. Toe skree die voëltjie eers erg. Die kat het dit gehoor, ook nader gestap, en toe die voëltjie skoon gelek. Daarna het die kat die voëltjie opgevreet… Wat wil hierdie ou stukkie antieke wysheid graag vir ons sê, vriende?

Die fabel van die voël, die koei en die kat wil dit vir ons leer:

  1.  Nie almal wat op jou kop skyt is jou vyande nie.
  2.  Nie almal wat jou gat lek is jou vriende nie…
  3.  as jy in die stront is, hou jou bek!

‘n Baie dapper, stiller een in die vuurkring, die Veilige Reisiger sê: Donkie, nou praat jy stront!  Maar ek dink een ding wat vanaand om die vuur uitgekom het, is baie waar. Die vrees wat ons het vir sekere dinge, is dikwels baie erger as die dinge wat ons vrees. Ek gaan nie meer bang wees vir spookasem nie!  Ek wil net liefhê, en lewe! Rosige Maryn beaam dit heelhartig en sê: Vrees se boudjies moet brand! Vrees is ons vyand, nie spookasem nie!

Dit is hoekom dit goed is om saam met vriende in die woestyn om die vuur te gaan sit. Partykeer is dit baie goed om in die groot ooptes van die natuur te gaan sit en klein word. Te kyk hoe die sterre stadig in die hemelruim draai. Om die verskietende meteoriete dop te hou, en weer behoorlik klein te voel, soos dit hoort. Want in die stilte kan ons soms nonsens praat, maar soms groot waarhede by iemand anders hoor wat ons weer bybly as ons terug moet gaan na die “beskawing”, waar ons soos lemoene leeggesuig word in die korporatiewe wêreld.

Ons is nie net in die woestyn om ons vrese in die oë te kyk nie, ons is ook hier om ons drome te ontdek.

En daarom tag ek graag vir Vlooi om die storie van drome verder te vat, as jy kans sien…

Mapstieks, dis moeilik om julle almal in te skryf! Groot ekskuus vir almal wat per ongeluk uitgelaat is in hierdie sêd sêd storie!

Poison Rally 2012 fotos

Ek is veilig terug by die huis, ek het niks verder aan die brand gesteek nie en nie in die tronk beland nie…

Dag twee van die rally het rustig vir my verloop. Ek het eers ‘n ontbytjie gaan eet by die Spur, en toe uitgery na Bossiespruit toe, waar ek as dienspligkapelaan ‘n jaar van my lewe deurgebring het.

Die res van Saterdag het ek maar mooi motorfietse gekyk, en die mense se vreemde doen en lates op ‘n afstand gesit en kyk.

So dis hoe ‘n mens in die kinderpoel speel?

Party ouens maak mooi met motorfietse…

Ander nie so mooi nie, maar geniet hulle steeds!

Ja, dis waarvoor ek rallys bywoon- Its all about the bike… (nie soos Lance nie…)

Hierdie Captain Morgan fiets het ‘n hele paar pryse by die Concourse gewen:

Dan is daar ook die ouens wat baie ernstig is oor motorfietsry! Hierdie ou Honda Goldwing is dalk nie meer so mooi nie, maar volgens sy eienaar het hy al oor die 1230000 km gedoen- een punt twee miljoen kilometer!

 

Ek het net baie hartseer dinge ook gesien. Manne wat uitpass daar in die kosarea, in die bloedige son. Ek dink dit kan lewensgevaarlik wees, weens ontwatering.  Ek het na familierusies geluister in die bure se tent, want dit was maar so 4 meter van myne af. Ek het gehoor hoe mense met mekaar praat na ‘n paar doppe, en ek dink nie daardie verhouding het eers ‘n medium termyn kans op oorlewing nie. Hoe kan mense mekaar so slegsê- weer woorde gehoor wat ek laas by Yskor se nagskof gehoor het as die hoogoond moeilik raak…

Hierdie keer wil ek graag dankie sê vir Danville se CMA- die koffie was lekker en die diens was uitstekend, baie dankie vir julle ouens se manier van operate!

Dankie vir die Alstom manne wat my genooi het vir ‘n dop en ‘n burger gisteraand, en die saamry vanoggend, ek was nogal eensaam op die rally tot julle my ingetrek het!  Maar ek dink ernstig ek gaan nie weer alleen na ‘n rally toe ry nie, as daar nie volgende keer ‘n paar vriende saamgaan nie, gaan ek ook nie. Ek is net nie so ekstrovert om vinnig nuwe pelle te maak nie!

Ek is jammer oor die twee manne wat reeds oorlede is teen Saterdagaand, en in Johannesburg vanoggend onder die een brug het dit na nog ‘n ernstige motorfietsongeluk gelyk.  Jammer vir al die families betrokke oor hierdie stuk seer!

Baie dankbaar om weer veilig by die huis te wees!

Poıson Rally 2012 dag 1

Ek en my De Graaff vrıend was gısteroggend alreeds om 06h00 by sy wınkel. Ons moes nog dıe Topbox brackets versterk. Ek het so net na 8 ın dıe pad geval, en eers my skoonma gaan skrıkmaak waar sy vır haar gemeente pannekoek gebak het. Daarna op dıe Vıljoenskroon pad na Kroonstad gery.

Met dıe ınry het ek al dadelık gesıen: Kroonstad se burgemeester kan lekker lıeg. Dıe dude het vır ons verlede jaar verseker ons gaan hıerdıe jaar dıe paaıe nıe herken nıe, so mooı gaan hulle reggemaak wees. Hoe weet ‘n mens ‘n polıtıkus praat str*nt? Sy lıppe beweeg. Gıster het hulle so drıe pıenk sandgrafıes vol teer probeer ın een pothool gooı voor dıe ıngang van Kroonpark. Net om seker weer vanaand vır ons te vertel hulle het darem IETS probeer doen… Dıe pothole ın Kroonstad ıs lewensgevaarlık vır motorfıetse…

Ek was half 11 reeds op dıe terreın. En al klaar ıs staanplek ‘n probleem. Ek staan tussen dıe duwelltjıes drıe dagreıse van dıe naaste poepketel af. Toe ek daar aankom: nog ‘n lıgte rampıe. Ek ıs nog nıe gewoond aan dıe Boxer enjın nıe. En soos al dıe vorıge jare trek ek dadelık dıe veılıgheıdsbaadjıe uıt en hang dıt oor dıe “handlebar”. Soos met ou Huısbesoek. Reg bo-op dıe warm uıtlaatpyp! Nou ıs my baadjıe se zıp fubar. En dıe ou wat ons badges opwerk het net voor ek daar aangekom het sy laaste lang zıp op ıemand anders se baadjıe vasgewerk…

Daar ıs weer baıe mooı motorfıetse, ek sal fotos oplaaı as ek by dıe huıs kom. Daar ıs weer jong meısıes met mın kleertjıes wat shooters ın ınspuıtıngs verkoop (Jâgermeıster). Ek raak oud- dıe kınders lyk so mınderjarıg!

Lıttle Annıe het weer gısteraand gedans. Haar routıne het ın 2 jaar nıks verander nıe… Daar was ‘n ou wat net met sy mond ‘n hele dısko namaak dat jy nıe dıe verskıl kan hoor nıe- Boomboxıng ıs dıe verskynsel se naam glo. Daar was ‘n man enm ‘n vrou wat met vuur gespeel het op dıe verhoog, hulle was ınteressant maar het 20 mınute te lank met dıeselfde truuks aangehou.

Na 2 vroeë oggende en laat aande was ek ernstıg moeg. Ek het net na 10 gaan stort en ‘n slaappıl gedrınk. Dıe slaappıl was nıe genoeg om dıe ıdıote wat hulle motorfıetse vır ure aaneen ın dıe rooı Rev heeltemal uıt te sny nıe, veral nıe dıe een 10 meter van my tent af nıe. Hoe hou dıe enjıns dıt? En wanneer mag ‘n valveslap leı tot ‘n faceslap?

Dıe moeê en grumpy Donkıe uıt Kroonstad Spur- Vıva Unreal breakfast!