Jeremia vat die pad…

Vanoggend was ‘n heel historiese dag in my motorgeskiedenis.  Jeremia het vir die eerste keer in 18 jaar verder as 12 km gery!

Nie almal is ewe lief vir Jeremia nie. My een goeie vriend, wat ‘n uitstekende werktuigkundige is, sê sommer reguit vir my om daardie stuk kilo alfa kilo van sy perseel te verwyder, hy raak nie met ‘n tang aan een nie… Top Gear haat Jeremia en al sy broers ook baie. Hier is die grootste nagmerrie vir enige een wat vir Beetles lief is: The Beetle Drop… episode van Top Gear…

Jeremia het egter ‘n besondere plek in my hart. Want ek ken Jeremia al my hele bewuste lewe lank.

Toe ek 1 jaar oud was, het my Ouma Jeremia splinternuut, uit die boks uit gekoop. Jeremia is ‘n Volkswagen Beetle, 1968 model 1500. Daardie tyd was die prys R1/ cc. DWS nuwe prys was R1500 gewees!

VAndat ek my verstand het, ken ek al hierdie karretjie. Toe ek klein was, het ek agter in die dogbox gesit… kan dit nie meer dink dat EK daar sou inpas nie…  Ouma het vir Jeremia al een keer gerol ook soos alle goeie Beetles glo maar moet doen. Sy het met hom geleer bestuur en het een keer ‘n 90 grade draai volspoed probeer vat…  Die tegniese skool het hom glo as ‘n projek probeer regmaak. Vandaar die DIK lae body putty op hom.

Ouma het al ouer geword, en het in elk geval net een werkende oog gehad. Sy het die ander een verloor in ‘n ongelukkige voorval as ‘n suster tydens ‘n operasie. Sy het diabetes gehad en later het die werkende oog ook begin ingee. Daarom, toe ek in matriek kom, het sy besluit om nie meer Carletonville se onskuldige publiek te terroriseer nie, en het sy die Beetletjie vir my gegee.  Op daardie stadium het die Beetle net 34000 myl opgehad. My pa het ‘n km/u spoedmeter gekry, en die myle na km omgewerk en die odometer dienooreenkomstig aangepas. My pa was ‘n wyse man om dit te doen, anders het ek seker teen 60 myl/u oor elke spoedlokval in die dorp gery.

In my eerste jaar het ek Kovsies toe gery met hierdie Beetle. Dis waar sy naam Jeremia geword het- hy was ‘n Klaaglied om te  ry!

In my 2e jaar het moeder bekommerd geraak oor Beetles wat maklik rol en windgat studente (wie, ekke?? Ek studeer dan vir dominee…) Sy het vir my haar Passat Stasiewa gegee, en self net tussen die huis en die hospitaal gependel met Jeremia.

Toe my pa in 1993 oorlede is, het my ma weer die Beetle vir my teruggegee. Ek het k0rt daarna my eerste beroep gekry. Vir jare het Jeremia gestaan. Hpoekom? Daar was vir jare net nie geld om ‘n nuwe battery te koop nie. Vir baie jare het Jeremia buite in son en wind en weer gestaan, van sy eerste dag af. Vyf jaar gelede het ons na die ander pastorie van die kerk toe getrek. Vir die eerste keer was daar ‘n afdak vir Jeremia.

NA my dogter se kar amper gesteel is, het ek begin bekommerd raak oor die veiligheid van ‘n Corolla- niks fout met die kar nie, maar elke (paar vieslike vloekwoorde…) dief wil hom ook hê. En vir wat die versekering aanbied vir die Corolla kan ‘n mens niks koop nie. Maar daar is nog ou Jeremia.

Die ontvanger van Inkomste was ook vir ‘n slag so effens vriendeliker met sy terugbetaling van my reistoelaag belasting.

Nou wil ek graag by jou weet- watter ander kar wat vir jare staan, sit jy ‘n nuwe battery in, gooi ‘n koppie petrol in sy carborettor (sorry Riaan Cruywagen!) en staart hom?

Ek moes die seëls op die enjin laat vervang, hulle was klaar van die staan. Die voorste wielbearings was klaar, en kingpins en linkpins wat nooit olie gekry het nie, was ook nie lekker nie…

Ek het die talle roeskolle met daardie Rustop produk geverf wat so verbind met die roes om ‘n swart onderlaag te maak. Ek het op die internet iets opgelees oor glasvesel werk om die gat in die bestuurdersdeur reg te maak.

VAnoggend was die groot oggend. Ek het kerk gebank, want ek het ‘n GROOT bekommernis in my gesin, wat ek dalk eendag iets oor sal sê… Ek het toe besluit om ‘n roadtrip te vat om my kop skoon te kry.

Soos gesê: VAnoggend was die eerste keer wat Jeremia in 18 jaar verder as 18 km gery het- ek het 90 km gery sonder voorval.

Hier is Jeremia in al sy glorie vanoggend:

https://lh4.googleusercontent.com/-Rx7k3nYhKao/ULsfbp5KayI/AAAAAAAABmM/IyXVsT_TNok/s640/IMG_0264.JPG

Peet se PAdstal is net so 10 km buite Warmbad op die Thabazimbi pad…

https://lh6.googleusercontent.com/-449ygIm4fZ8/ULsfh-37s6I/AAAAAAAABmU/iNCz8cj7XR0/s640/IMG_0265.JPG

Die bande is nog ‘n probleempie- ‘n mens kry nie meer 155/15 bande nie…  Ek het vroeër in die jaar 4 14duim Rostyle rims gekoop, maar het nie nou al geld vir die buitebande wat nodig is nie.

Ek wil nie die kar te mooi maak nie, vir ingeval my dogter met hom sal moet in Pretoria rondry. Ek wil hom net meganies 100% hê, maar buite kan hy maar so lelik bly lyk, solank die roes gestop is…

Om mee af te sluit: Ek het darem vanoggend ‘n baie interessante “special” op ‘n taxi raakgesien! Ek het ongelukkig nie ‘n nommer as een van julle dalk graag wil gebruik maak van die aanbod nie!

https://lh4.googleusercontent.com/-WBzvCmFyf50/ULsfmh4yGCI/AAAAAAAABmc/vndGls3slig/s640/IMG_0263.JPG

15 thoughts on “Jeremia vat die pad…

  1. My oudste dogter het in Matriek vir haar ‘n Beetle by ‘n vriend van ons vir R2500 gekoop. Sy’t hom 3 jaar gery en toe verkoop vir R6000🙂 Ons het niks aan hom gedoen nie, hy was amazing. Sy’t hom verkoop toe sy moeg was daarvoor dat haar voete koud en nat geword het want die vloer was deurgeroes en daar was ‘n gat in. Nooit ‘n dag se probleme gehad daar op Tuks nie.

    • ‘n Mens is baie lief vir hulle of jy haat hulle, dit lyk nie asot daar enige emosie tussen die twee is nie! Myne se vloer was ook deurgeroes, ek het gister dit met veselglas herstel… hoop dit hou. Ek het baie respek vir hierdie karretjies!

  2. elke jongmens MOET ‘n volla hê … ek onthou “paar” jaar terug het ek ‘n Suzuki jeepie bakwerk “gekoop” vir R50.00 en ‘n sixpack bier … ek het gereken ek gaan die bakwerk op ‘n volla onderstel sit – soos ‘n beach buggie amper – en het toe ‘n Beetle gesoek wat meganies goed is – die bakwerk sou ek in elk geval weg gooi word – en die “regte” een gekoop vir R3,5k. toe ek ounag – die ding was ongelisensieer en alles behalwe padvaardig – by die huis aangery kom het my dogter – toe in St 8 (gr 10) die ding so bekyk – rondom geloop en net daar besluit “dit is myne – nê dedda” – ek wou eers protesteer – die volgende dag het sy en paar vriendinne blommetjies en goete met die hand oor al die roesplekke geverf – die ding het naderhand gelyk soos Namakwaland in blomtyd …

  3. Nou toe nou, ek het met ‘n 1500 cc 1969 model bottelgroen beetle geleer bestuur en uitbepasseer. Dit was my eerste studentekar. Die karretjie was vir baie jare in ons familie. Was ook my eerste vrykar…

  4. Eks mal oor Jemeria – wel gedaan! Kyk bietjie rond – watter ander model van die 1960 – 1970s sien jy nog daagliks op die pad? I rest my case!

  5. Stunning kar, naas my Tazz my ‘favourite’. Ek stem saam alke student MOET n Beetle he – daar is net so n charisma daaraan. Mag Jeremia nod duisende veilige, lekker kilos ry

  6. Pingback: Jeremiah « Somtyds

  7. Hallo Bileam (sedonkie) – ek kom te min op WordPress (enmyblog – hangkopinskaamte) en gaan glad nie probeer explain nie. Ek drentel gou op ‘n paar blogs vir inspirasie – wie weet – dalk waai die suid-oos die grysstof bietjie los. In elkgeval – ek bieg – ek is verlief op jou ….. Jeremia. Dit laat my sommer huil oor my 1956 modelletjie wat my man destyds uit die goedheid van sy hart vir my gegee het toe ek skaars 18 is, en weer, uit die goedheid van sy hart, verkoop het en vir my ‘n upgrade gekoop het. Ai! had ek tog maar toe geweet wat ek nou weet! Ek kon 7 pelle met gemak in haar pas (gelykpad) – ek was in matriek en ek was die gekste oor haar reserwetenkie – daardie tottetjie langs die clutch – het my menige maal gered omdat die petrol aanwysertjie kapoets was – dalk is dit ‘n storietjie ….In elk geval – ek skryf min, ek kom te min hier – maar terwyl ek hier is – dis ‘n lekker plek hier by jou. ps mooi kyk na jou donkie en koop vir haar ekstra wortels tog vir Krismis!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s