Hospitale is nie lekker plekke nie!

Van kleins af ken ek hospitale. Ek is selfs in een gebore! Ek onthou dit nog soos gister… Donkerte, en toe lig. ‘N gemaskerde persoon wat my alie aan die brand slaam sonder dat ek iets verkeerd gedoen het…

My eie moeder was ‘n teatersuster, my ouma was ‘n suster. En ek kom baie gereeld in hospitale- ek doen siekebesoek as daar van my gemeentemense daar in nood is.

Self was ek na geboorte nog redelik geseënd om hospitale te vermy. Ek het nog alles waarmee ek ge-issue is- die enigste keer wat ek nog daar beland het, was toe my verstand in die vorm van tande uitgehaal is daar by die nonne in Groenkloof. Behalwe nou vir die ongelukkige voorval waar ek ‘n polisiewa met my 50 cc gekamikazi het in my 1e jaar op universiteit. Maar dis ‘n ander dag se storie…

Soos gesê- ek ken hospitale. Ek besoek dikwels mense daar. Ek kan dit baie goed doen, dink ek.

Behalwe as dit ‘n mens se eie kind is. My dogter het gisteraand in die Wilgers hospitaal geslaap. Haar bloeddruk hardloop skielik weg met haar. Dan word die rooikop BAIE bedonnerd! Ons weet nog nie wat fout is nie- ons sal netnou weer gaan hoor.

Dis nie lekker om nie te weet nie…