‘n Bietjie respek vir die boer aan die ander kant…

Ek het vanaand so langs my Weber gesit. Ek het eers vanmiddag weer by Lodie de Jager gaan kuier, en ‘n mens kom altyd ‘n baie beter mens daar by hom weg…  Een van my goeie vriende se familie was ook in ‘n lelike motorongeluk eergister, en alhoewel almal lewendig uit die wrak uitgeklim het, het sy vrou haar arm op vyf plekke sleg gebreek, sy is gisteraand in Gomorrah geopereer…  Dit het my diep laat dink vanaand…

Niks in die lewe is meer vanselfsprekend nie. Ook nie die mense in ons lewe wat ons dink altyd daar sal wees nie… ons het geen waarborge nie.

So terwyl ek by die Weber gesit het, het my gedagtes weer wyd gaan loop.

Op pad terug van Naboomspruit af het ek vyf sakke sekelbos langs die pad gekoop. Sekelbos is ‘n indringerplant in die Bosveld, wat hele landerye kan oorneem en baie, baie rof op motorbande kan wees met daardie dorings. As hulle jou steek, dan weet jy dit, dit brand soos ‘n perdebysteek…   Maar dit maak ‘n uitstekende braaivleisvuur, baie beter as die Kaapse Port Jacksons of Natal se simpel wattelhout! Iemand het die moed gehad om daardie sekelbosse te gaan afsaag, en in sewe netjiese stukke te saag, en in ‘n plastieksak te sit vir R8. Ek weet- by Hartenbos hardloop die prys teen R25- aai, dis lekker in die Bosveld! Die hout was net so bietjie nat, dis hoekom ‘n mens altyd ‘n gaspyp byderhand het om die vuur aan te steek.  Ek was dankbaar vir goeie braaihout. Die hout van die sekelbos het mettertyd die hitte van drie duisend dae se son vir my gegee, om my vleisie op te braai.

Ons het ook in Naboomspruit by Spif hoenders se padstal twee lekker hoender espetadas gekoop. Dit is so sewe hoenderdytjies op ‘n sosatiestokkie, met ‘n marinade soos barbeque of sweet and sour op. Iemand het daardie reuse boerdery met groot ambisie en baie harde werk gebring tot ‘n suksesvolle boerdery. Die vleis was baie netjies verpak en van die hoogste kwaliteit. Ek was dankbaar vir die vleisie op die kole, en die boer wat dit geproduseer het.

Saam met die vuurtjie het ek ‘n bottel Mount Rozier Merlot oopgemaak, wat ek by Food Lovers Market teen ‘n baie billike prys gekry het. Ek het nie ‘n idee waar is hierdie kelder nie. Maar iemand het jare gelede die regte kultivar druiwe met groot geloof geplant, op grond wat seker ten duurste by die Landbank afbetaal moet word- ek weet nie van iemand deesdae wat ‘n plaas sommer net verniet gekry het nie.  Dit het jare geneem om die wingerd te vestig, met jare se bemesting, en sorgvuldige snoei, en die regte hoeveelheid water en plaagpeheer. Jare en jare se werk het ‘n oes opgelewer, en in 2008 is ‘n oes ingebring wat gepers is, in vate geplaas is, en uiteindelik gebottel is. Dankie vir daardie onbekende boer en sy werkers vir vanaand se botteltjie rooi.

Daar was mieliepap op die spyskaart. Dis ‘n bekende gereg noord van die Oranjerivier waar snoek maar skaaars is!  ‘n Boer in die Vrystaat het met groot geloof sy John Deeres opgestaart, die landerye bewerk, en gewag vir die reën. Toe die voggehalte van die grond  reg was, is die pitte van Sensako ten duurste geplant. Daarna is met groter geloof gewag op nog reën op die regte tye. Plaagbeheer is toegepas. soms teen honderdduisende rande om die peste en plae in toom te hou. Uiteindelik was dit oesdag, en die stropers het deur die nag gery om die oeste in te bring, en die goudgeel pitte in die trekker se wa te spoeg. Dis aangery na die koöperasie toe, terwyl internasionale mieliepryse angstig dopgehou is. Met die reuse pryse van diesel en kunsmis was dit ‘n wonderwerk as die mielieboer darem gelyk gebreek het of klein, klein bietjie vooruit gegaan het. Daardie boer se harde werk op sy plaas by Viljoenskroon het vir my vanaand mieliepap op my tafel gesit.

Daar was sous op die mieliepap. Iemand het gedurende Februarie of Maart die uie geplant, was dit dalk die Wildeklawer ouens wat so vir Griekwas borg in die rugby? Die tamaties was dalk daar van wyle Bertie van Zyk se ZZ2  plase by Letsitele af. Dit was nog nie my tamaties nie, myne word opgevreet deur klein wit wurmpies- die klein **^%$###$%^^&!!!!

Soveel verskillende boerderye het hard deur die jaar gewerk sodat ek vanaand hoenderdytjies, pap en sous, slaai en rooiwyn kon geniet. Nee, Pick ‘n Pay het dit nie gemaak nie, net tot in ons dorp gebring dat ek dit gou vanmiddag kon koop.

Daarom dink ek dat elke ete met groot respek aangepak moet word. Dis nie vanselfsprekend dat daar kos is nie. Hoe kan jy dan voor die televisie gaan neerplak en 7e Laan kyk, en die kos sommer net in jou mond instop? Nee, ek dink elke ete moet ‘n blyk van respek wees, vir die kos, vir die liefde waarmee dit voorberei is vanaand, en vir die harde werk van die boer wat dit in die eerste plek moontlik gemaak het. Ek dink ons moet elke ete gebruik as ‘n viering van die lewe- “celebration of life!” Soms sê Engels dit so effens beter- Sorry Riaan Cruywagen!

Baie dankie, elke boer van Suid Afrika! Ek het lekker geëet vanaand! En nog lekkerder geniet aan my glasie rooi!

7 thoughts on “‘n Bietjie respek vir die boer aan die ander kant…

  1. Dankie hiervoor ek dink lankal dat dit tyd is om in ons huise en ook in ons gemeenskappe weer iets geestelik van eet te maak. Jou post laat my weer daaraan dink.

  2. Die boere verdien elke bietjie respek wat ek en jy kan gee. En as ons aan die einde van die afgerammelde tafelgebedjie tog maar ‘n woordjie kan insit vir hulle ook kan dit nie skade doen nie.

    Wyl jy nou praat van wyn…jy onthou nog van die klompie manne van die Slanghoek vallei wat ‘n lift soek pastorie toe? Intussentyd het daar ook ‘n band van broeders vars terug uit WW2 by hulle aangesluit, bring tog ‘n ietse saam om hulle ook in te vervoer.

  3. Ai Bileam hoe nader ons aan 21 Des kom hoe dieper raak jy! Dankie vir hierdie pragtige “Ode to a Farmer!” Dit laat mens weer twee keer kyk na die kos in jou bord en ja elke maaltyd behoort n “celebration of life” te wees want hoe weet ons vir seker dat dit nie miskien ons laaste maaltyd op aarde gaan wees nie.

  4. Jy bloginskrywings bied altyd vir my stof tot nadenke, Bileam. Ek is seker jy skryf jou preke ook sommer tjop-tjop🙂

    In my hart se ek altyd dankie vir die bees/skaap/hoender wie se lewe beindig is sodat hy op my bord kan beland. Maar ek koop darem ook net hoenders wat ‘n vrolike lewe gehad het deur al skoppende goggas te soek. Soms voel ek steeds sleg.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s