Waar mot en roes verniel hier kort voor die einde…

Die Goeie Meester het in die Goeie Boek gesê ons moenie skatte op aarde bymekaar maak nie, want hier gaan mot en roes dit verniel. Of ons geliefde naastes gaan dit steel.  Vandag is ek sommer weer ekstra die hel in vir die sondeval. As ons nog in die volmaakte wêreld gelewe het, het ek glad nie vandag se moeilikheid gehad nie. Inteendeel, dan het ons nog kaalbas in die tuin baljaar…

Ek het die voorreg om verskeie ou voertuie te besit, wat op verskillende tye verskillende gesinslede na verskillende plekke toe moet vervoer. Onlangs het my geliefde naaste my dogter se motor probeer deel maak van die herverdeling van welvaart transformasie program. Ek sukkel nog steeds om al die regte pirate parte op te spoor (Toyota genuine Parts- R2800 vir die ignition barrell, en enkele sente onder R1000 vir die deurlslot…)

My Mazda Drifter bakkie het ook net een bestaande sleutel gehad. Ek weet Newton se eerste wet sê materie kan nie geskep of vernietig word nie. Erens op hierdie planeet, of een of ander paralelle heelal, is ‘n heel Mazda Drifter sleutel, met ‘n ekstra sleutel vir my Carryboy Canopy, asook ‘n Santam botteloopmakertjie vir daardie Windhoekies wat nie kan oopdraai nie, alles aan een carabiner. Daardie sleutel pas op my Drifter, en werk baie mooi. Behalwe dat hy totaal en al  weg is. R300 beloning vir die een wat hom in my hande plaas!

Die tweede sleutel van my bakkie was vandat ek hom gekoop het, al stukkend. Die “casing” was met superglue vasgeplak. Raai watter sleutel kies om nie weg te raak nie? Die stukkende een. En toe ek op die Rally was, toe gee hy die gees, in my vrou se hande…

Ek het my bakkie nodig om op vakansie te gaan Dinsdag.  Ek het ‘n werkende sleutel nodig. Die ou ene werk so effens, as jy die swart plastiek vashou aan die los metaalpunt, en dan so in die ignition druk. Maar dis groot werk vir elke staart!

Eers vra ek die Mazda agente in ons dorp- ek soek net graag ‘n werkende sleutel vir my bakkie. Nee, sê hulle- ‘n mens het albei nodig om ‘n nuwe een te programmeer. Of die hele stelsel moet vervang word! Nee, sê my baie goed opgeleide Ford mekêniek in my gemeente, dis nonsens. Tzaneen se tak kan dit met een sleutel doen. Maar Tzaneen is 320 km weg, met erge padwerke.

Ek skakel Lazarus Ford in Centurion. Hier volg die pret: Die sleutel kos R576, die chip nog so R560. Dan moet dit in die werkswinkel geherprogrammeer word- nog so R500 arbeid. Ja, hulle het die sleutel en die chip in voorraad. Maar hulle kan my eers Woensdag help. Maar ek ry Dinsdag see toe! Jou probleem, nie ons s’n nie!

Ek begin op die internet rondspeel. Silverton Locksmiths sê ek kan maar stad toe kom, hulle kan help. Gister is ons Pretoria toe, met die sleepwa om ons dogter se trek te gaan haal. Ma en die seuns bly by ousus se woonstel om te help pak. Ek jaag Silverton toe. “Jammer meneer, net die agente…” Julle het dan oor die foon gesê… Ag focacia pizza!

So ry ek vir ure rond in die stad, op soek na antwoorde. Aurina Ford in Silverton boek hom selfs in die werkswinkel in- hulle het die parte. Jammer meneer, ons het albei sleutels nodig…  Ag foxterrier!

Na ure se rondjaag sê ‘n sleutelplek in die Waterglen sentrum- die enigste ouens wat jou kan help, is Gateway Locksmiths daar in Esselenstraat in Sunnyside. Ek skakel hulle: ja, hulle kan help… Ek ry weer al die pad Sunnyside toe. Die ou wat so pas gesê het hy kan my help, is nie meer daar nie. Die ander probeer kyk.  Daar is sulke no-name brand sleutels teen die muur. Ek verduidelik- ek wil NOG ‘n werkende sleutel hê, ek kan hierdie een sommer weer met superglue plak, hy werk al 4 jaar so vir my. Die ouens sê hulle sal kyk wat hulle kan doen. Na so ruk kom hulle uit- hulle het vir my een van die generiese sleutels gesny. Hulle het my ou sleutel oopgesny en sy chip uitgehaal en in die generiese sleutel ingesit.  Ek was op hulle perseel, hulle het niks geprogrammeer nie. Wat skuld ek hulle? R650!!!!  Vir iets wat ek self kon doen met R20 se Super Glue, want ek het nog steeds net EEN werkende sleutel!!!

Gateway LOcksmiths mag dalk die beste in die kontrei wees, maar ek voel ordentlik deur die ore ge… werk…!!! Hoe op aarde kos ‘n no-name brand sleutel sonder enige inherente elektronika meer as ‘n nuwe karbattery, of ‘n Perfecto Motorfietsbaadjie???

My gevolgtrekking liewe vriende, as jy ‘n MAzzda sleutel verloor, steek maar die kar aan die brand en eis hom  by jou versekering. Want daar is GEEN manier waarop jy in hierdie lewe ‘n sleutel kan verloor, en weer een in die hande vir daardie voertuig kan kry nie.

GElukkig eindig die wêreld mos Vrydag, dan hoef ons nooit weer met slotte hoef te sukkel nie, dan kan ek speel met my Bugatti Veyron wat in die hemel vir my wag… .

As dit nie so uitwerk nie- ek is die ou by die see wat oral loop met sy bakkiesleutel met slot en ketting om sy gewrig vasgebind. Want as daardie generiese stuk plestiek eers gebreek het- dan gooi jy ‘n Ford produk weg…

11 thoughts on “Waar mot en roes verniel hier kort voor die einde…

  1. Miskien moes jy tronk toe gegaan het…daar waar motordiewe toegesluit is en huisbesoek gaan doen het – hulle kon jou moontlik al die tricks of the trade geleer het, om iets te start wat nie ‘n sleutel het nie …sommer so gratis!!

  2. Ja dominees en kar moeilikheid. Ek en jy kan kopstukke daaroor gesels. Ek is nuwe maatjie op werf. Jy kan my kry by fluistering. Ek leer nog hoe werk die blogding.

  3. ‘n Chev het daardie selfde probleem … Nou onlangs moes ek in my vroue onkunde die trauma beleef van ‘n R2 280 altenator.

    Geen generesie oplossings is tans beskikbaar daarvoor nie. Slegs by die handelaar kon dit aangekoop word maar iemand wat iemand ken het dit vir my ingesit vir R150 in plaas van die handelaars se ek-wil-eerder-nie-weet-hoeveel-rand se arbeid nie.

    Gister was dit die aircon gas teen ‘n vernaamlike R480, maar oor ek die man wat ek gestuur het se verlore suster geword het wat alleen Nambia toe moes ry is dit kontant vir sonder papierwerk vir R300 gedoen.

    Een iets wat hierdie Vlooi geleer het al is as daar iets verkeerd gaan by my Gloria stuur ek ‘n man met haar vir navraag en parte. Vir een of ander rede is parte dan skielik paar honderd rand minder.

  4. Jinne, ek haat dit as als so verkeerd gaan en mense worrie boggerol oor jou probleem. En vra jou ‘n fortuin! Bly jy kan darem nou met vakansie gaan. Mag daar baie vreugde en vrede tydens die Donkiefamilie se Kersgety ervaar word en alles voorspoedig loop van nou af.

  5. Wat ‘n gesukkel. Toe besluit die laaste ouens sommer namens jou om die probleem gou-gou (teen ‘n prys) op te los! Vreugde ens, anyway. Ek glo die vakansie gaan baie voorspoedig verloop.

  6. Nee dit is nou tyd dat jy pad vat! Dra die sleutel aan n ketting om jou nek – jy kan n hele nuwe mode begin. Lekker vakansie hou en veilig ry.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s