Vandag was anders as bepland…

Spreuke 16: 9 verkondig die groot waarheid: “Die mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy  loop...”

  • Vandag sou ek vroeg opgestaan het, en 30 km gaan fietsry het.

  •  Vandag sou ek by ‘n hele paar mense gaan huisbesoek doen het.
  •  Vandag wou ek by ‘n paar siek mense uitgekom het.
  •  Vandag wou ek saam met my vrou gaan koffie drink het by ‘n koffieshop.
  •  Vandag wou ek tyd saam met ‘n vriend deurbring.
  •  Vandag wou ek ‘n goeie boek lees.

Daar was baie dinge op my dagboek en wenslys vir vandag.

Gister wou ek my vrou die moeite spaar om kos te maak. Ek het vir ons borde kos by die Supermark gekoop. En ons het meer gekry as wat ons gebargain het voor. Gisteraand het die hele gesin, uitsluitend die jongste wat weer nie wou eet nie, lekker rondgehol met omgekrapte mage.

  • Vandag kon ek dit nie verder as 20 meter van die badkamer af waag nie. Verseker nie op ‘n fiets nie.
  •  Vandag het ek duiselig gevoel, en lekker pap.
  •  Vandag het ek nie my erf verlaat nie.
  •  Vandag kon ek en my vrou net tuis koffie drink.
  •  Maar vandag het ek ook ‘n lekker boek gelê en lees in my bed.

Vandag was so totaal anders as wat ek beplan het.  Maar dit is OK. Want vanaand voel ek beter, en more is ‘n nuwe dag.

  • Vandag het nie almal lewendig tuis gekom in ons land nie.
  •  Nie almal wat vandag by dokters was, het goeie nuus gekry nie.
  •  Nie almal wat werkaansoeke ingestuur het, was vandag suksesvol nie.
  • Nie almal slaap vanaand langs die persoon vir wie hulle regtig uit hulle harte uit lief is nie…

Ek het steeds vandag baie om voor dankbaar te wees.

  • Ek het een daggie siekteverlof minder, was in elk geval baie naby aan die maksimum dae beskikbaar- dit is ook rede vir dankbaarheid.
  • Ek het kos beskikbaar gehad vandag, al wou ek nie eet nie.
  •  Ek het al my kinders vanaand onder my dak, al kompeteer hulle  ook vir die toilet… 🙂
  • Ek het more baie werk wat wag, en dis ‘n voorreg om werk te hê in ons land.
  •  Ek slaap vanaand langs die liefde van my jeug, al gaan ons dalk net weer lê en kreun.

Vandag se pad het glad nie geloop soos ek hom wou hê nie. Maar ek is tevrede. Ek was in my Herder se hande. En dit is genoeg…

 

 

Hoekom…?

Ek het nou wakker geword met ‘n droom wat ek glad nie verstaan nie. Ek skryf dit maar neer voor ek more oggend wakker word en glad nie meer kan onthou nie. Ek wens ek het die gawe gehad om drome te interpreteer, maar helaas, dit ontbreek.

Miskien net as agtergrond: My ma het vir my vir Kersfees ‘n R200 geskenkbewys gegee by Exlusi1ve Books. Ek het gister eers kans gekry om iets daarmee te koop. Die een boek wat ek al lankal dophou, is “Boereverraaier” van Albert Blake.   Net voor ek gaan slaap het, het ek die verhaal daarin gelees van die Brits broers van Wakkerstroom, waarvan vier broers op een dag as Boereverraaiers doodgeskiet (gefussileer) is. Ek het baie naby aan Wakkerstroom grootgeword, en hierdie storie ontstel my!  Hierdie is natuurlik ‘n geskiedenisboek oor die onderwerp van broers wat broers as verraaiers doodskiet in oorlog. As VERRAAIERS.

‘n Ander ding in my onderbewussyn is die graf van die Ridder in John Knox se kerk in Edinburgh, wat ek en my vrou in 2006 gesien het. Dit was so ironies- die ridder lê in ‘n pragtige kis binne- in die kerk begrawe, en die ou Kerkvader lê… onder parkeerplek nommer 23…  In elk geval: hier is die ridder se graf:

Een van my eie fotos van 2006.

Nou- die droom:

Daar is twee ridders in hierdie storie. ‘n Baie sterk ridder. En ‘n baie swakker ridder met ‘n pragtige swaard. Vir jare lank het die sterk ridder die swakker ridder verkleineer, getart, en gereeld in die grond in gedruk.  Tot op ‘n dag dat die swakker ridder dit nie meer kon vat nie. Hy het die sterker ridder tot ‘n tweegeveg uitgedaag.  En sommer redelik gou die geveg, en sy lewe verloor. Uit respek vir sy poging het hulle die swakker ridder in sy wapenrusting, met sy swaard in sy hand begrawe. Nou nie in so ‘n pragtige marmerkis soos hier bo nie. Nee, in ‘n graf in die grond.  Nat koue grond, op ‘n nat, mislike dag…

Die swakker ridder het soos daardie een karakter in Douglas Adams se boek: Dirk Gently’s Holistic Detective Agency daar in sy graf gelê, en gewonder wat hy nou veronderstel was om te doen as pas afgestorwene…  Dan kom daar die liefde van sy jeug aangedraf om die hoek van die begraafplaas se geroeste doringdraad, seker ook maar ‘n spook, met ‘n deurskynende wit rok aan- ‘n pragtige spook…

En waaragtig, die temalied in hierdie droom, as die meisie so nader hardloop,  is  Annie Lennox: Why

Toe skrik ek wakker… Die ding wat my die meeste bekommer van hierdie droom- daardie dooie ridder was ek!

(Amos van der Merwe, jy moet tog vir my vertel hoe laai jy die liedere so in Rolbos se blogs in van Youtube af!

Gaan na die mier en word wys…

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys.”  So het die Spreukedigter dit 3000 jaar gelede al genoem. (Spreuke 6:6)

My seun, luister na die verordeninge en insette van jou wyse vader.  Soos ek en jou moeder dit vanmiddag in die pastorie se agterplaas weer geobserveer het.

PAsop, my liewe seun, vir dinge in die lewe wat te goed lyk om waar te wees…

So het die grastermiete vanmiddag baie opgewonde geraak. Hulle hoef nie meer die hele grasperk te gaan opdon… foeter nie… Kyk net, halleluja, die kos het tot by die voordeur gekom!  VAt net en eet, soveel as wat jy graag wil hê. Magie dik, ogies toe. Vir altyd…

Maar die BB Toorts kan nog mooi fotos neem!

  •  Niks in die lewe kom sommer net vanself nie.
  •  Gratis geskenke is nie altyd goed vir jou nie.
  •  Pasop vir die vriendelikheid van sekere mense…
  •  Moenie sommer enige gemors huis toe bring nie.
  •   As jy nie versigtig is nie kan jy jou gat sien…

Enige ander wyse raad wat julle graag met my seun wil deel?

Die lewe in die Bosveld…

Ek en Kollega het vanoggend ons kerkraad na ‘n pragtige Lodge in ons direkte omgewing geneem, vir ‘n spanbou.

Ons het bietjie saam gedroom oor wie ons is, en waarheen ons graag in 2013 op pad wil wees.  Dit is regtig lekker om ‘n kerkraad te hê wat saam droom en dink hoe ons ‘n verskil kan maak in mense se lewens.

Ons het ook heerlik wors gebraai onder die afdak, want dit reën op die oomblik woes  in die Bosveld. Ons is gewaarsku om swaar neerslae te verwag, met vloede. Dit het gelukkig nog nie so gerealiseer in ons dorp nie.

Maar die hoogtepunt van die dag vir my het gebeur op die pad huis toe. My Canon 350D was ongelukkig nie saam nie, net die baie kleiner Powershot SX 150 IS.  Die lig was swak met die baie bewolktheid, en ek moes baie ver inzoom…

Maar kyk net hierdie pragtige toneel- dit is die Bosveld!  En dit is mooi vir my! Ek is dankbaar…

My eie foto vir ‘n slag…

O Bliksem…

Die mens het darem geweldige vrees vir die natuurkragte. Daar waar ek in Noord-Natal grootgeword het, is een van die gebiede in die wêreld wat die hoogste weerlig tot grond slaansyfers het. Ek onthou die donderstorms drie uur in die oggend as kind, met die weerlig wat rondom die huis slaan en die reuk van swael.  Ek het maar ‘n heilige respek vir die donders en bliksems.

Ek het ook groot respek vir die oumense. Maar magtag, soms kan hulle lekker lieg met hulle spreekwoorde! Soos hierdie ene: Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie! Twak man!

Ek het die twyfelagtige eer te beurt geval- die afgelope drie jaar het ek nou drie rekenaars deur weerlig verloor in my studeerkamer.

Die eerste keer was dit ‘n ouerige rekenaar. Nie te veel trane gestort nie. Die tweede ene was ‘n jaar oud. Ek het gedog dit gaan nie weer gebeur nie. Die derde ene was die beste een wat ek nog ooit gekoop het, en die duurste- dit was die desktop vir my dogter vir universiteit, met groot RAM en ‘n stewige grafiese kaart. Voor sy drie maande later my hart gebreek het en gesê het nou het sy ‘n laptop nodig, nadat sy aan die begin AANGEDRING het op ‘n desktop… Rooikop vroumense…

Ek het hierdie rekenaar soos ‘n babatjie probeer oppas. Die wolke is nog ver weg dan word alles al uitgeplug. Ek het ook ‘n UPS  (Uninterrupted Power Supply vir my ma se onthalwe as sy dalk hier lees…) gekoop en ingesit, want ek dog dié goed keer weerlig ook. Selfs die telefoonkabel hardloop deur die UPS.  Altyd uitgeplug as daar lyk na weerlig.

So vertrek ons op vakansie in Desember. En alles werk nog fine.  Dit is verseker uitgeplug. Ons kom terug. Skielik wil die monitor nie aankom nie. Vat hom in, hy is in sy laaste dae onder waarborg.  Na twee weke kom die uitslag met ‘n foto- die LAN kabel het ‘n spike gevat- weerligskade. Nog ‘n rekenaar deur die Jordaan.

Nou is daar nog ‘n nuwe ene op pad met komplimente van my versekering.  Ek het maar ‘n Wifi kaart laat inbou in hierdie een (snaaks dat die modem nog heeltemal reg is…)

Maar ek wil graag weet- wat is die beste maniere om die donders en bliksems uit rekenaar nommer 4 uit te hou? Want hierdie is nou nie meer lekker nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die grootste stryd is die een in myself…

Dis alweer belydenistyd. Ek sukkel. En daar is niemand anders te blameer nie.

Oor ses weke is dit die Argus 2013. Ek het hierdie droom om 21 Argusse in ‘n ry te doen, dan kry ‘n mens ‘n blou nommer en word sommer soos ‘n eregas oorlaai met hartlikheid- die afsetter groet jou sommer op die naam as jy wegspring. Ek is mooi op pad, hierdie jaar is nommer 19.

Maar die oefenry! Ek sukkel om hierdie jaar aan die gang te kom! Ek het op hierdie oomblik 187 km vir Januarie gery, en my doelwit is ten minste 1000 km vir Januarie en Februarie.  Maar aai. Vrydagoggend was daar ‘n elektriese storm. Saterdag was ek na ‘n troue toe in Gomorrah, en ek moes vroeg ry om van my dogter se goetertjies terug te vat vir nog ‘n jaar op Universiteit. Sondag was ek nie lus nie. Maandag was die pap wiel episode. Gister was dit reënerig. Vanoggend is dit bewolk. .

Daar is mense wat in die hael en sneeu en Suidooster op fietse klim, en gaan oefen. Selfs al sou die wêreld op 21 Desember geëindig het, sou sommiges nog steeds gou ‘n laaste oefensessie wou gaan inwerk! Ek kry dit net nie meer reg nie. Ek is bang vir weerlig op ‘n fiets, iets te doen met die hoeveelheid mense wat doodgeslaan is deur weerlig waar ek in Noord-Natal grootgeword het.  Ek hou nie van natreën op die fiets nie. Dan koel ‘n mens verskriklik vinnig af, en kry krampe, en kry verkoue. Jy sien ook nie die pothole raak as dit baie gereën het nie. En magtag, julle moet sien hoe loop die slange rond in die Bosveld op die oomblik, daar lê juis weer ‘n moerse pofadder doodgery net hier buite die dorp. Hulle is nog vriendelik, die mambas is nie so lekker nie… En so sit ek en praat myself uit vanoggend se oefensessie uit, vanmiddag gaan dit weer erger reën. Ja, daar is so baie goeie verskonings… maar Suikerbossie wag…

Dis waaroor ek vanoggend sit en wonder. Hoekom het party mense daardie dryfkrag om groot suksesse te maak van alles wat hulle aanpak? Is deursettingsvermoë geneties, is dit persoonlikheid, is dit houding in die lewe?

Ander kere dink ek oor daardie stryd wat maar alewig in my gedagtes is. Hoekom kan party mense so gemaklik met hulleself saamleef, en ander, soos ek, voel die hele tyd of iets jou jaag? Ek sien dit ook in my kinders. Twee van hulle het totale rustigheid en vrede, met donderbuie plek-plek, net soos hulle ma. En twee is sommer die hele tyd van die prêm af, en altyd bedonnerd, soos hulle pa.

Wat kan ‘n mens self kies om te verander?  Wat is net ‘n houdingsaanpassing? Ek kan amper net dink wat sou Karen Brynard dit genoem het…  En waarmee moet ‘n mens maar rustig vrede maak, en weet jy gaan nou maar hierdie omie in die ouetehuis wees wat eendag nog steeds wonder: “What happened?”

Miskien is dit so eenvoudig soos hou op nonsens skryf op jou blog, en gaan ry 30 km fiets, reën nat as dit dan moet… sonder om te veel te tob daaroor…

Die Parmantige Samaritaan…

In die lewe het ons ander mense nodig. ‘n Mens kom regtig net nie altyd alleen reg nie.

Dit was alweer my ervaring. Ons is nog so 7 weke weg van die Argus af. My kilometers geoefen vir die wedren is nog skrikwekkend laag. En so beplan ek mos toe om nou vanoggend lekker ver te gaan ry- sê maar my eerste 40 km rit.

En so ongeveer 5.86 km in die rit in gebeur dit.  Die agterwiel begin eers so bietjie sponserig voel. En dan begin hy liggies deurstamp tot op die “rim”. En dan begin die fiets al hoe meer rondhardloop. ‘n Pap wiel. ‘n Alledaagse gebeurtenis as ‘n mens fietsry.

Maar daarvoor is daar mos raad. Draai die fiets om op sy saal en handvatsels.

In die saalsakkie het ek ‘n ekstra binneband, twee “tyre-levers”, en ‘n gasbommetjie vol CO2 om die band weer vol te maak. Onthou om die waterbottels af te haal anders drup al die water uit. Die agterwiel word afgehaal, nou nie met die bekwame spoed van die Ferrari span nie. Buiteband afgerem met die tyrelevers. Ja, daar sit die probleem- ‘n reuse duwweltjie. Maak seker daar steek nie nog dorings in die buiteband nie. Voeg splinternuwe binneband in, sit versigtig die buiteband weer op, maak seker hy knyp nie die binneband stukkend nie.

Draai die CO2 apparaatjie vas aan die kleppie van die binneband. Draai met groot verwagting die rooi kraantjie…

Dadelik word die hele apparaat yskoud, en niks gas gaan in die binneband in nie! Maak toe, maak los, maak weer vas. Presies dieselfde resultaat. En so ‘n CO2 bommetjie hou net enkele sekondes.  Daar staan ek. Hoekom ry ek nie maar een van daardie baievloek handpompies saam nie?  Hier is ek nou 5.86 km van die huis af, met ‘n fiets wat nie op die voorwiel kan ry nie. Met fietsryskoene stap ‘n mens dit ook nie so lekker nie. Nou begin die pret.

  • Bel my dogter om my met my kar te kom oplaai. Geen antwoord.
  •  Bel ons proponent wat baie ernstig fietsry, en permanent ‘n fietshaak op sy karretjie het. Geen antwoord.
  • Bel my vrou by die skool. Nee, sê sy, daar is nou ‘n nuwe Departementsbeleid- as onderwysers die skoolterrein gedurende werksure verlaat, word dit van hulle verlof afgetrek.  Sy kan, maar wil ek dit regtig hê? Nee, later in die jaar kan ons iets baie lekkerder met ‘n dag verlof doen.
  •  Kry onse peppermintjie met die fietshaak karretjie in die hande- hy kom dadelik om my te help…
  •  Intussen ry baie, baie boere verby my met hulle bakkies in dorp toe. So 1 uit 3 probeer vasstel of ek reg is.  Een besigheidsman het gestop, toe ek nog gedink het ek kan die band self omruil, en so 10 minute later weer uitgery om te kyk of ek regkom- baie dankie daarvoor!!
  • PArty mense het netanderkant gekyk, dis mos nie hulle probleem nie.
  • Gelukkig woon ons nie in Gauteng waar ek beroof sou wees van my selfoon en fiets nie!
  •  Na so rukkie het onse peppermentjie my baie mooi kom oplaai, die fiets behendig vasgemaak, en my by die huis kom aflewer.

Dit is so lekker dat daar mense is wat bereid is om ander te help. Soms het ‘n mens ander se hulp so nodig. Maar dit vra dan dat ons ook soms bereid moet wees om uit ons pad te gaan om iemand anders te help.  Dankie vir al ons dorp se Parmantige Samaritane wat my vanoggend wou help!  En die res- hoop julle het in elk geval ook ‘n lekker dag!

Maar o gedoriewaar, ek het moeilikheid met die min kilometers wat ek oefen!  Hier kom groot moeilikgeit!

Die nuwe dagboek vreet die ink…

Net nou die dag nog, lank lank gelede, was dit Kersfees… Verlede jaar…

Dit is nou Dinsdag, die 8e Januarie. Ek dog ek sit gou vanoggend, met my splinternuwe dagboek, en begin net my afsprakies so bietjie orden.  Eers skryf ‘n mens al die weeklikse afsprake in- Sondag oggend en aanddiens. Belydenisklas. Bybelstudie Dinsdag. Afspraak met my kollegas Woensdagoggend. Siekebesoektye. Blokke tyd vir opvolg van krisisgevalle. Bloktye om sinvolle preke en Bybelstudies saam te stel: mense kan baie vinnig agterkom as jy nie jou huiswerk gedoen het nie. Hoe beter jy voorbereid is, hoe minder kom hulle dit agter…

Dan kom die kerkalmanak by. Die kwartaal se vergaderings: die ergste een: Kerkraadsvergadering. Tweede ergste een: Sendingkommissie (niemand daag op nie…) Wyksbediening. Omgeegroepe. Finansiële kommissie. Erediens kommissie. Jeugkommissie. Gasvryheidsbediening. Nog ‘n moeilike ene lê voor: Diensverhoudingekommissie- die riglyne van die Sinode vir die salaris van 2013/14 het aangekom- dalk word ek daar verskoon, dan kan almal makliker praat…

Na dit kom die weeklikse afkondigingsblaadjie- huisbesoeke. Bejaarde – aksie. Kosgeeprojek. Hulpverlening.

Na dit kom die Hoërskool se afkondigings: Kenmekaar braai Vrydagaand. Beheerliggaamsvergaderings. Atletiekbyeenkomste. Saalopeninge.  Die INTERHOëR wat ons aanbied…

Dan die Laerskool se afkondigings: Oueraande. Saalopeninge.

Al hierdie goeters word in die dagboek geskribbel. Op al hierdie plekke MOET ek uitkom.

Die een BAIE groot komponent is glad nie opskryfbaar nie: krisisgevalle. Ek was Sondagaand tussen 23h00 en 01h00 besig om ‘n huwelik te probeer red. Nie my skerpste tyd van die week nie! Ek weet nie hoeveel kere gaan my telefoon nog skielik lui nie. Begrawe asb vir Oupa. Tannie Sus is baie siek. Dominie- my man slaan my… Gaan vertel asb vir X sy broer is dood in ‘n rooftog. Dominie, my seun suip vreeslik, gaan praat met hom, maar moenie sê dit was ek wat jou gesê het nie…

Al hierdie dinge kom op die dagboek- sommiges net as “krisisgeval- huwelik” want eendag wil die Diensverhoudinge kommissie weet wat het ek tussen twee Sondae se oggenddienste gedoen vir my paycheck…

IS dit hoekom ou Huisbesoek na 12 jaar steeds net 40 000 km op die klok het? Gaan die BMW ook net 5000 km per jaar ry? Word dit nou in twee gedeel? Is dit hoekom ek huiwerig is om enige ander fietswedren as die Argus te dagboek?  Is dit hoekom my vriende so dikwels vra hoekom ek hulle afskeep en so lanklaas by hulle was?

En: Gaan al die baie afsprake wat ek vanoggend ‘n nuwe pen leeggeskryf het, enige verskil maak in die gang van die geskiedenis?

Burry Stander… aai!

Fietsry het so min helde deesdae. Veral na my groot held Lance geval het.  En byna elke Tour de France wenner wat onder verdenking is vir “doping”.

Ek het soveel respek gekry vir Burry Stander- wat ons land in London se Olimpiese Spele verteenwoordig het en baie, baie goed gery het in die Bergfietsitem. Burry wat al wêreldkampioen was in sy dissipline, Burry wat al die Cape Epic gewen het…

En gister die nuus, eers op twitter, toe begin dit op faceboek. En nou in die Beeld…

Burry is doodgery…  deur ‘n taxi…

Foto: Beeld vanoggend

‘n Mens mag nie mense haat nie. Daarom wil ek net dit van my hart afkry- ek HAAT minibus taxis in Suid-Afrika!  Ek haat die manier waarop hulle bestuur word. Ek HAAt die totaal kannieworry houding waarmee my lewe al soveel keer deur hulle bedreig is.  En die glimlag wanneer hulle reg voor jou inry van die verkeerde kant af.

Ek bid vir Burry se familie…  Suid Afrika het ‘n groot held verloor!