Die nuwe dagboek vreet die ink…

Net nou die dag nog, lank lank gelede, was dit Kersfees… Verlede jaar…

Dit is nou Dinsdag, die 8e Januarie. Ek dog ek sit gou vanoggend, met my splinternuwe dagboek, en begin net my afsprakies so bietjie orden.  Eers skryf ‘n mens al die weeklikse afsprake in- Sondag oggend en aanddiens. Belydenisklas. Bybelstudie Dinsdag. Afspraak met my kollegas Woensdagoggend. Siekebesoektye. Blokke tyd vir opvolg van krisisgevalle. Bloktye om sinvolle preke en Bybelstudies saam te stel: mense kan baie vinnig agterkom as jy nie jou huiswerk gedoen het nie. Hoe beter jy voorbereid is, hoe minder kom hulle dit agter…

Dan kom die kerkalmanak by. Die kwartaal se vergaderings: die ergste een: Kerkraadsvergadering. Tweede ergste een: Sendingkommissie (niemand daag op nie…) Wyksbediening. Omgeegroepe. Finansiële kommissie. Erediens kommissie. Jeugkommissie. Gasvryheidsbediening. Nog ‘n moeilike ene lê voor: Diensverhoudingekommissie- die riglyne van die Sinode vir die salaris van 2013/14 het aangekom- dalk word ek daar verskoon, dan kan almal makliker praat…

Na dit kom die weeklikse afkondigingsblaadjie- huisbesoeke. Bejaarde – aksie. Kosgeeprojek. Hulpverlening.

Na dit kom die Hoërskool se afkondigings: Kenmekaar braai Vrydagaand. Beheerliggaamsvergaderings. Atletiekbyeenkomste. Saalopeninge.  Die INTERHOëR wat ons aanbied…

Dan die Laerskool se afkondigings: Oueraande. Saalopeninge.

Al hierdie goeters word in die dagboek geskribbel. Op al hierdie plekke MOET ek uitkom.

Die een BAIE groot komponent is glad nie opskryfbaar nie: krisisgevalle. Ek was Sondagaand tussen 23h00 en 01h00 besig om ‘n huwelik te probeer red. Nie my skerpste tyd van die week nie! Ek weet nie hoeveel kere gaan my telefoon nog skielik lui nie. Begrawe asb vir Oupa. Tannie Sus is baie siek. Dominie- my man slaan my… Gaan vertel asb vir X sy broer is dood in ‘n rooftog. Dominie, my seun suip vreeslik, gaan praat met hom, maar moenie sê dit was ek wat jou gesê het nie…

Al hierdie dinge kom op die dagboek- sommiges net as “krisisgeval- huwelik” want eendag wil die Diensverhoudinge kommissie weet wat het ek tussen twee Sondae se oggenddienste gedoen vir my paycheck…

IS dit hoekom ou Huisbesoek na 12 jaar steeds net 40 000 km op die klok het? Gaan die BMW ook net 5000 km per jaar ry? Word dit nou in twee gedeel? Is dit hoekom ek huiwerig is om enige ander fietswedren as die Argus te dagboek?  Is dit hoekom my vriende so dikwels vra hoekom ek hulle afskeep en so lanklaas by hulle was?

En: Gaan al die baie afsprake wat ek vanoggend ‘n nuwe pen leeggeskryf het, enige verskil maak in die gang van die geskiedenis?

13 thoughts on “Die nuwe dagboek vreet die ink…

  1. Ek het nogal oor die algemeen erg respek vir oom dome. Nie vir die preek op ‘n Sondag nie. Daardie is ‘n bonus.

    Vir hierdie dagboek wat ons nie sien nie. Vir die daar wees as niemand meer weet nie – DAN word die dominee mos gebel. Vir die omgee. Vir die klippe wat mildelik gegooi word na die preekstoel. Vir die – het dominee tyd – en die gedienstige ja ek het – en wonderbaarlik word nog tyd ingeruim. Vir al daardie dinge wat ons as banksitters in die kerk nie sien nie.

    Ek is betrokke by ons Jeug en as ek my oom doom so luister en ek lees jou dagboek is daar nie werklik genoeg kollekte bordjies vir julle nie.

    Vir iemand wat net Sondae werk, verdien julle mos te veel😉

    Geskiedenis gaan dit dalk nie verander nie, maar iewers gaan jy ‘n enkele mens se lewe bes moontlik aanraak en daardie persoon se geskiedenis verander.

  2. Jy gaan nie die geskiedenis verander nie. Jy gaan waarskynlik nie eers veel verander aan meeste van die huwelike at jy probeer red nie, ook geen vordering maak om die liefde van ‘n man vir sy bottel elders te kanaliseer nie.
    Wat jy wel gaan doen is om ‘n indruk te laat by enkelinge wat jou pad kruis (die uwe staan as voorbeeld) en sodoende hulle werklikheid te verander. Daarna gaan jy huis toe en jy kan jou gesin alles gee wat hulle nodig het en party dinge wat hulle graag wil hê. Dit in my boekie is no mean feat.

  3. Net die feit dat jy altyd blymoedig is en altyd bereid is om te luister, maak van jou n baie onmisbare persoon. Ja ek glo jy wil graag die wereld omdop en al die slegte goed na die ewige donkerte toe stuur, maar ongelukkig is dit nie moontlik nie. Maar weet net die verskil wat jy maak is tasbaar en word raakgesien.
    Ek wens ook so baie dat ek die stukkende mens voor my kan heelmaak maar ek weet ook dat hy somtyds net n oor nodig het om te luister en dat ons Hemelse Koning alleen genesing kan bring. Sterkte vir die jaar wat voorle want dit is gewis-die oes le geil op die lande en die werkers is min.

  4. Liewe kollega. Mens word maklik deur mense ingesluk. Ek het die keuse gemaak om my werk so goed te doen as wat ek kan en daar te wees as mense my nodig het maar ek het ook besluit dat my gesin eerste kom. Nie altyd maklik nie. Dit beteken ek staan meeste oggende 04h00 om aan my preek te werk. Middae is opsy gesit vir my kinders en ek laat my nie in ‘n hoek druk oor huisbesoek nie een aand in die week daarvoor is goed genoeg. Gelukkig het ek ook baie vroeg in my bediening die vel van ‘n renoster en die konstitusie van ‘n kameel ontwikkel as gevolg van ‘n sekere insident toe ek baie jonk in die bediening was. Those that matter won’t mind and those that mind won’t matter.

  5. Ons is altyd te geneig om die dominee se tyd te vra, sy raad te vra en te verwag hy moet alles wat ons stukkend gemaak het, kom regmaak, en hy moet altyd bereid wees om te luister, enige tyd!!! Maar ons vergeet om te vra: Wie moet die dominee help, vir hom ‘n oor gee om te luister en vir hom tyd vir homself en sy gesin te gee?

    Oom Donkie, moenie vergeet om daai tyd vir jouself te eien nie! Julle verdien dit, want those that matter……….!!!

    Sterkte vir 2013.

  6. Dankie vir als wat jul ongesiens doen. Verlede Sondagogg half 10 was dit al ons ds se 2e preek van die dag. Ek glo dat daar baie saad gesaai en natgegooi word in daardie baie afsprake. Sterkte!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s