Die Parmantige Samaritaan…

In die lewe het ons ander mense nodig. ‘n Mens kom regtig net nie altyd alleen reg nie.

Dit was alweer my ervaring. Ons is nog so 7 weke weg van die Argus af. My kilometers geoefen vir die wedren is nog skrikwekkend laag. En so beplan ek mos toe om nou vanoggend lekker ver te gaan ry- sê maar my eerste 40 km rit.

En so ongeveer 5.86 km in die rit in gebeur dit.  Die agterwiel begin eers so bietjie sponserig voel. En dan begin hy liggies deurstamp tot op die “rim”. En dan begin die fiets al hoe meer rondhardloop. ‘n Pap wiel. ‘n Alledaagse gebeurtenis as ‘n mens fietsry.

Maar daarvoor is daar mos raad. Draai die fiets om op sy saal en handvatsels.

In die saalsakkie het ek ‘n ekstra binneband, twee “tyre-levers”, en ‘n gasbommetjie vol CO2 om die band weer vol te maak. Onthou om die waterbottels af te haal anders drup al die water uit. Die agterwiel word afgehaal, nou nie met die bekwame spoed van die Ferrari span nie. Buiteband afgerem met die tyrelevers. Ja, daar sit die probleem- ‘n reuse duwweltjie. Maak seker daar steek nie nog dorings in die buiteband nie. Voeg splinternuwe binneband in, sit versigtig die buiteband weer op, maak seker hy knyp nie die binneband stukkend nie.

Draai die CO2 apparaatjie vas aan die kleppie van die binneband. Draai met groot verwagting die rooi kraantjie…

Dadelik word die hele apparaat yskoud, en niks gas gaan in die binneband in nie! Maak toe, maak los, maak weer vas. Presies dieselfde resultaat. En so ‘n CO2 bommetjie hou net enkele sekondes.  Daar staan ek. Hoekom ry ek nie maar een van daardie baievloek handpompies saam nie?  Hier is ek nou 5.86 km van die huis af, met ‘n fiets wat nie op die voorwiel kan ry nie. Met fietsryskoene stap ‘n mens dit ook nie so lekker nie. Nou begin die pret.

  • Bel my dogter om my met my kar te kom oplaai. Geen antwoord.
  •  Bel ons proponent wat baie ernstig fietsry, en permanent ‘n fietshaak op sy karretjie het. Geen antwoord.
  • Bel my vrou by die skool. Nee, sê sy, daar is nou ‘n nuwe Departementsbeleid- as onderwysers die skoolterrein gedurende werksure verlaat, word dit van hulle verlof afgetrek.  Sy kan, maar wil ek dit regtig hê? Nee, later in die jaar kan ons iets baie lekkerder met ‘n dag verlof doen.
  •  Kry onse peppermintjie met die fietshaak karretjie in die hande- hy kom dadelik om my te help…
  •  Intussen ry baie, baie boere verby my met hulle bakkies in dorp toe. So 1 uit 3 probeer vasstel of ek reg is.  Een besigheidsman het gestop, toe ek nog gedink het ek kan die band self omruil, en so 10 minute later weer uitgery om te kyk of ek regkom- baie dankie daarvoor!!
  • PArty mense het netanderkant gekyk, dis mos nie hulle probleem nie.
  • Gelukkig woon ons nie in Gauteng waar ek beroof sou wees van my selfoon en fiets nie!
  •  Na so rukkie het onse peppermentjie my baie mooi kom oplaai, die fiets behendig vasgemaak, en my by die huis kom aflewer.

Dit is so lekker dat daar mense is wat bereid is om ander te help. Soms het ‘n mens ander se hulp so nodig. Maar dit vra dan dat ons ook soms bereid moet wees om uit ons pad te gaan om iemand anders te help.  Dankie vir al ons dorp se Parmantige Samaritane wat my vanoggend wou help!  En die res- hoop julle het in elk geval ook ‘n lekker dag!

Maar o gedoriewaar, ek het moeilikheid met die min kilometers wat ek oefen!  Hier kom groot moeilikgeit!