O Bliksem…

Die mens het darem geweldige vrees vir die natuurkragte. Daar waar ek in Noord-Natal grootgeword het, is een van die gebiede in die wêreld wat die hoogste weerlig tot grond slaansyfers het. Ek onthou die donderstorms drie uur in die oggend as kind, met die weerlig wat rondom die huis slaan en die reuk van swael.  Ek het maar ‘n heilige respek vir die donders en bliksems.

Ek het ook groot respek vir die oumense. Maar magtag, soms kan hulle lekker lieg met hulle spreekwoorde! Soos hierdie ene: Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie! Twak man!

Ek het die twyfelagtige eer te beurt geval- die afgelope drie jaar het ek nou drie rekenaars deur weerlig verloor in my studeerkamer.

Die eerste keer was dit ‘n ouerige rekenaar. Nie te veel trane gestort nie. Die tweede ene was ‘n jaar oud. Ek het gedog dit gaan nie weer gebeur nie. Die derde ene was die beste een wat ek nog ooit gekoop het, en die duurste- dit was die desktop vir my dogter vir universiteit, met groot RAM en ‘n stewige grafiese kaart. Voor sy drie maande later my hart gebreek het en gesê het nou het sy ‘n laptop nodig, nadat sy aan die begin AANGEDRING het op ‘n desktop… Rooikop vroumense…

Ek het hierdie rekenaar soos ‘n babatjie probeer oppas. Die wolke is nog ver weg dan word alles al uitgeplug. Ek het ook ‘n UPS  (Uninterrupted Power Supply vir my ma se onthalwe as sy dalk hier lees…) gekoop en ingesit, want ek dog dié goed keer weerlig ook. Selfs die telefoonkabel hardloop deur die UPS.  Altyd uitgeplug as daar lyk na weerlig.

So vertrek ons op vakansie in Desember. En alles werk nog fine.  Dit is verseker uitgeplug. Ons kom terug. Skielik wil die monitor nie aankom nie. Vat hom in, hy is in sy laaste dae onder waarborg.  Na twee weke kom die uitslag met ‘n foto- die LAN kabel het ‘n spike gevat- weerligskade. Nog ‘n rekenaar deur die Jordaan.

Nou is daar nog ‘n nuwe ene op pad met komplimente van my versekering.  Ek het maar ‘n Wifi kaart laat inbou in hierdie een (snaaks dat die modem nog heeltemal reg is…)

Maar ek wil graag weet- wat is die beste maniere om die donders en bliksems uit rekenaar nommer 4 uit te hou? Want hierdie is nou nie meer lekker nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

8 thoughts on “O Bliksem…

  1. Lekker lag die ouman slagoffer nou. Ja, ek is deur die selle en onthou die aand toe die blou bliksem voor my, in my aangesig nogal, in PTA die UPS en die rekenaar uitgehaal het, die hifi in die sitkamer as bonus geneem het en ‘n swael reuk as “after shave” aroma agter gelaat het. Daar is net een raad en dit is ontkoppel alle “plugs” – die telefoonlyn en die muurproppe en dan hou styf duim vas. Sterkte vanuit die goeie ou Kaap waar weerlig skaarser is as prys dalings in die supermark.

  2. Daar was eergisternag ‘n elektriese donderstorm oor Skelmbos van epidermiese proporsies. Ek is mal oor donderweer en het opgestaan en buite gaan staan om te kyk. Nie gedink aan goeters wat uitgeslaan kan word nie, nie eers gedink ekself kan dalk uitgeslaan word nie. Dis about die enigste ding wat ek mis van Sodom en Gomorra – die donderstorms. Sorry oor jou rekenaar, maar soos Newsie sê – plug uit, plug uit🙂

  3. Om die donders en bliksems uit die rekenaar uit te hou is heel maklik reken ek, jy stuur hulle om by maats te gaan speel of iets. Weerlig is ‘n vonkie van ‘n heel ander kaliber, hy is soos ‘n gedetermineerde skelm:As hy wil inkom, dan sal hy.

    So terwyl jy nou tyd op hande het terwyl sagteware weer installeer en backups restore, hier is ‘n paar aweregse idees om die tyd om te kry.
    1. Skryf ‘n brief aan die Grootbaas van jou organisasie waarin jy beleefd versoek vir jou kontrak om te stipuleer dat weerlig asseblief moet ophou om jou te boelie.
    2. Skryf ‘n brief aan eerwaarde kerkraad waarin jy versoek dat die pastorie asseblief moet verskuif na ‘n gebied minder geneig tot weerlig…soos Bettiesbaai byvoorbeeld.
    3. Breek die kerktoring af. Daai ding moet soos ‘n magneet wees vir ‘n stukkie weerlig opsoek na ‘n plek om aan te jaag.
    4. Koop daai tablet wat alles kan doen wat die rekenaar doen, sonder ‘n draad wat weerlig kan gelei.

  4. Bly jy in ‘n ouerige huis, waarvan die hoofskakelaar nog van die outydse soort is, wat nie geaard is nie? Dit (die nie-geaarde hoofskakelaar en -boks) is waarskynlik jou probleem, wat die oorsaak is dat weerlig gedurig op jou huis se elektriese bedrading slaan. Daardie ou boks met hoofskakelaar sal met die nuwe goedgekeurde soort vervang moet word. Die wet skryf dit deesdae vir huise voor, veral as die huis verkoop word. Ook moet elke muurprop in die huis geaard word (dis net ‘n draadjie wat by elk aangesit word en word gou-gou gedoen). Na die installering van die nuwe hoofbord, ens. gee die elektrisiën vir jou ‘n sertifikaat dat die huis se elektrisiteit nou aan daardie wet voldoen.

    Ek is nie ‘n elektrisiën nie, maar kan uit ondervinding praat. Ek bly in die Vrystaat, wat soos jyself weet, ook woeste donderstorms en weerlig kry. My huis is ‘n ouerige een van ± 55 jaar oud. Weerlig was voortdurend ‘n probleem, wat al die TV, ens. uitgeslaan het. Het al tydens donderstorms ‘n vuurstreep deur die huis sien hardloop, soos wat die weerlig op die huis se bedrading geslaan het. Dit kos geld om die hele boks met hoofskakelaar, ens. te vervang, wat ek eers nie gehad het nie.

    As ‘n noodplan het ‘n elektrisiën op drie verskillende plekke vanaf die dak koperdraad vasgemaak. Dié draad het hy al langs die geute afgelei en elke draad om ‘n dik metaalpen en bout vasgedraai. Daarna het hy elke pen in die grond vasgeslaan. Dit het dadelik daardie vuurstreep tydens storms weggeneem. My TV, geiser, ens. is daarna ook nie weer uitgeslaan nie. Dit kos ook nie so baie om so ‘n tuisgemaakte weerligafleier te laat aanbring nie.

    Tog is ek aangeraai om een of ander tyd die huis se outydse hoofskakelaar en die hele hoofbord te laat vervang met ‘n nuwe, ge-aarde bord en skakelaars. Dit het ek verlede November laat doen teen R5740, wat glo ‘n baie redelike prys is. Iemand anders het ± ses jaar gelede sowat R8000 vir dieselfde werk vir min of meer dieselfde grote huis betaal.

    Jy sal die kerkraad maar moet oortuig om ook vir die pastorie so ‘n nuwe hoofskakelaar en -bord te laat installeer en al die muurproppe te laat aard. Teen hierdie tyd kos al die rekenaarskade jou seker ook al ‘n aansienlike bedrag. Uit veiligheidsoogpunt is dit ook sterk aan te bevele dat dit so gou moontlik gedoen word. Geld is seker ook skraps by die kerk, maar as ‘n noodplan kan die kerkraad ook solank vir die pastorie soortgelyke weerligafleiers laat aansit, soos by my huis. As ek geweet het hoe om foto’s by hierdie kommentaar te laai, sou ek vir jou foto’s van die weerligafleiers asook van die hoofboks met nuwe skakelaars vir jou opgelaai het. Hoop jy kom reg met die kerkraad. Alle voorspoed!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s