Hoekom…?

Ek het nou wakker geword met ‘n droom wat ek glad nie verstaan nie. Ek skryf dit maar neer voor ek more oggend wakker word en glad nie meer kan onthou nie. Ek wens ek het die gawe gehad om drome te interpreteer, maar helaas, dit ontbreek.

Miskien net as agtergrond: My ma het vir my vir Kersfees ‘n R200 geskenkbewys gegee by Exlusi1ve Books. Ek het gister eers kans gekry om iets daarmee te koop. Die een boek wat ek al lankal dophou, is “Boereverraaier” van Albert Blake.   Net voor ek gaan slaap het, het ek die verhaal daarin gelees van die Brits broers van Wakkerstroom, waarvan vier broers op een dag as Boereverraaiers doodgeskiet (gefussileer) is. Ek het baie naby aan Wakkerstroom grootgeword, en hierdie storie ontstel my!  Hierdie is natuurlik ‘n geskiedenisboek oor die onderwerp van broers wat broers as verraaiers doodskiet in oorlog. As VERRAAIERS.

‘n Ander ding in my onderbewussyn is die graf van die Ridder in John Knox se kerk in Edinburgh, wat ek en my vrou in 2006 gesien het. Dit was so ironies- die ridder lê in ‘n pragtige kis binne- in die kerk begrawe, en die ou Kerkvader lê… onder parkeerplek nommer 23…  In elk geval: hier is die ridder se graf:

Een van my eie fotos van 2006.

Nou- die droom:

Daar is twee ridders in hierdie storie. ‘n Baie sterk ridder. En ‘n baie swakker ridder met ‘n pragtige swaard. Vir jare lank het die sterk ridder die swakker ridder verkleineer, getart, en gereeld in die grond in gedruk.  Tot op ‘n dag dat die swakker ridder dit nie meer kon vat nie. Hy het die sterker ridder tot ‘n tweegeveg uitgedaag.  En sommer redelik gou die geveg, en sy lewe verloor. Uit respek vir sy poging het hulle die swakker ridder in sy wapenrusting, met sy swaard in sy hand begrawe. Nou nie in so ‘n pragtige marmerkis soos hier bo nie. Nee, in ‘n graf in die grond.  Nat koue grond, op ‘n nat, mislike dag…

Die swakker ridder het soos daardie een karakter in Douglas Adams se boek: Dirk Gently’s Holistic Detective Agency daar in sy graf gelê, en gewonder wat hy nou veronderstel was om te doen as pas afgestorwene…  Dan kom daar die liefde van sy jeug aangedraf om die hoek van die begraafplaas se geroeste doringdraad, seker ook maar ‘n spook, met ‘n deurskynende wit rok aan- ‘n pragtige spook…

En waaragtig, die temalied in hierdie droom, as die meisie so nader hardloop,  is  Annie Lennox: Why

Toe skrik ek wakker… Die ding wat my die meeste bekommer van hierdie droom- daardie dooie ridder was ek!

(Amos van der Merwe, jy moet tog vir my vertel hoe laai jy die liedere so in Rolbos se blogs in van Youtube af!

10 thoughts on “Hoekom…?

  1. Die wat weet sê om oor dood te droom is eintlik positief, maar ons konnektasie aan die konsep van dood is die einde maak dat ons die essence mis.

    Fokus op die wapenrusting eerder as wat jy op die ridder fokus Oom Doom

  2. Het ook Vlooi se storie oor die positiewe betekenis van dooie drome gehoor- myne was net iemand gaan trou. Nou met jou beroep in aggeneem, kan dit dalk net verskuif familietroues toe of kind wat gaan trou of in familie en die Ridder gaan die diens lei (?)…

  3. “Hoekom” is die hoeksteen van vooruitgang, hetsy in jou eie persoonlike sfeer of in die breër konteks van ons (beperkte) heelal. “Hoekom” is die swaard in die hand van nuuskieriges, die entrepeneurs wat vanmiddag en more se ontdekkings moet definieer… “Hoekom” is die titel van ons (ongeskrewe) lewensboek, die bron van alle ontdekbare kennis… Hoekom dit so is gaan my verstand te bowe!

  4. Is ook nie n ekspert op droom uitle nie, maar het ook al gehoor van n troue of iets goeds wat gaan gebeur. So, kom ons is positief. Die feit dat jy die ridder is kan miskien beteken dat die positiewe direk aan jou gekoppel word. Laat weet as jy skielik n paar miljoen uit die bloute erf!!!

  5. Die twee ridders laat my toe aan ‘n Goliat en Dawid scenario dink. Dalk ‘n groot uitdaging wat jou onderbewussyn wakker hou.

    ‘n Ridder staan vir eer en ‘n verraaier natuurlik die teenoorgestelde. Die geliefde se goedkeuring bevestig jou keuse om die bul by die horings te pak. Dalk moet jy maar die pad vat op jou ysterperd om die spinnerakke bietjie weg te waai. Of dalk is dit nodig om daardie kettie bietjie uit te haal en te gaan blikke skiet. Jong, soos jy kan sien weet ek niks van drome af nie, maar dit was pret, en my metafore het nou heeltemal opgemieks. Lekker droom vannag ;¬)

  6. Baie Baie lank gelede 😉 toe ons nog droom uitlegging in Sielkunde 1 gedoen het (weet nie of dit nog so is nie) het ons die volgende geleer:
    Drome oor ons eie dood is net ‘n by-produk van veranderinge in ons eie lewe.
    Een ander oorsaak van drome oor ons eie dood is skuldgevoelens. Die skuldgevoelens kan oorweldigend wees en ons behoort alles in ons vermoë te doen om verskoning te vra en dit reg te maak.
    As jy drome het oor jou eie dood, wees gerus, hulle is nie profeties nie – hulle is bloot ‘n aanduiding van stres, verandering, en ‘n oorgangsfase, of selfs angs.
    Drome vertel nie die toekoms nie – hulle vertel die hede.

    Net u sal weet of dit so is of nie….maar sterkte 🙂

  7. Die paar keer wat ek my eie drome probeer uitlê het, was ek TOTAAL VERKEERD! So, jammer, ek kan nie help nie. Maar ek is bly jy het nog in die “hede” wakker geword. As ek kan raad gee: Moenie iemand vir ‘n tweegeveg uitdaag nie. Dit mag gevaarlik wees.

Lewer kommentaar op Dirkie Kanselleer antwoord