Die einde van die Donkie.

Dit is nou vanmiddag mooi duidelik vir my gemaak dat ek mense te na kom met my blog. Sekere mense sal sekere van my blogs kan interpreteer dat dit skadelik vir my beeld as NG Dominee is. Sekere kere het ek woorde gebruik wat nie by my amp pas nie.

Vir al die seer wat my blog vir mense veroorsaak het, vra ek onvoorwaardelik om verskoning.

Vir die kere wat dit my werkgewer benadeel het, vra ek om verskoning.

Aangesien ek nie die professionele beeld kan handhaaf wat van my verwag word nie, is dit die einde van die pad.  Ek kan nie net ‘n masker opsit en praat presies soos die broers en susters dit wil hê nie.

Ek wil baie dankie sê vir baie goeie vriende wat ek gemaak het langs die pad. Dit voel vir my soos dood in die familie.

Vergewe my, maar ek kan net nie meer nie…

Vir oulaas

Die Donkie

 

Advertisements

Nee!!!!

Elke vier minute word ‘n vrou in Suid-Afrika verkrag. Met elke verkragting word ‘n vrou se lewe verwoes!

ELKE vrou wat verkrag word, is een te veel!!!  Elke Anene Booysen en die ander 1/3 vroue van Suid-Afrika wat verkrag word, is ‘n skande- wat sê dit van die manne van Suid-Afrika???

Ek voel so magteloos- wat kan ‘n mens doen om dit te verander? Ek kan net self elke vrou met respek behandel. Ek maak my seuns groot om respek vir vroue te hê. Ek verkondig respek vir vroue in my gemeente…

Ek en my seuns- ons sal vroue respekteer. En deel wees van die oplossing sodat elke vrou in ons lewe veilig sal wees, en gelukkig kan wees as mens.  Ek wil deel wees van die War Against Rape, op watter maniere ook al ‘n mens ‘n verskil kan maak vir die vroue van Suid-Afrika!

 

 

So waarom hou ek aan blog as dit soveel pyn veroorsaak?

Ek word meegedeel daar is gemeentelede wat van mening is dat ek te veel tyd op my blog spandeer. En op facebook.

Hoeveel tyd spandeer ek op my blog? Hoeveel op facebook? Wel, netnou gaan ek verder moet werk aan Sondag se preek. Facebook is oop op die agtergrond, daar onder MS Word versteek. Elke nou en dan rus ek ‘n bietjie om my gedagtes te orden. Ek minimise my preek, en lees wat my vriende te sê het. So nou en dan is daar ‘n private message van iemand wat iets wil weet. Ek antwoord hulle.  Op ons kerk se lentekonferensies die afgelope paar jaar was daar telkens werkswinkels oor die sinvolle gebruik van facebook in jou bediening. Dit gee maniere om met meer mense te netwerk. Ek het kontak met mense wat aan geen kerk behoort nie, dalk beteken ek ook soms net iets vir hulle- sien dit as ‘n stukkie bediening van my kant af, as jy wil.

Ja, ek spandeer baie tyd op die internet ook, waarvoor ek self betaal. EK lees baie. Ek lees die nuus. Ek lees teologiese artikels. Dit gee my soms bietjie meer diepte in wat ek preek, om dit meer by vandag se omstandighede toe te pas. En soms soek ek snaakse prentjies om in Powerpoints te gebruik vir die kere wat ek iets moet aanbied.

Hoekom is my blog vir my so belangrik? Dit is die een plek waar ek kon reflekteer en dink oor my lewe, my bediening, en die goeters wat vir my belangrik is. Dit is die een plek waar ek myself kon wees sonder maskers, dit was so lekker toe dit nog anoniem was voor ‘n sekere ateïs my by my kerkraad gaan verkla het. Daar is wel mense wat daarvan hou om my blog te lees.

Die bewering word gemaak dat ek my werkgewer se goeie naam in gedrang bring in my blog. Ek dog dan juis dat mense my kritiese solidariteit daarin sou raaksien- ek is baie lief vir my gemeente en my kerk, maar dink soms ons maak droog.

Son het op facebook ‘n artikel geplaas wat my net baie diep aanspreek, en dit is juis die redes waarom hierdie blog vir my so kosbaar is/ was?

 

 

http://m.guardian.co.uk/lifeandstyle/2012/feb/01/top-five-regrets-of-the-dying

In ‘n ondersoek na die dinge wat mense op hulle sterfbed graag sou wou verander, sê hierdie artikel:

  1.  Ek wens ek het die moed gehad om die ware EK uit te leef, en nie te probeer wees wat ander mense wou gehad het ek moes wees nie. 
  2.  Ek wens ek het nie so hard gewerk nie (manne)- meer tyd by die huis saam met gesin deurgebring
  3.  Ek wens ek het die moed gehad om my gevoelens uit te spreek.
  4.  Ek wens ek het in kontak gebly met my vriende.
  5.  Ek wens ek het myself toegelaat om meer gelukkig te wees.

Hierdie blog het my baie gelukkig gemaak.  Hier het ek dit gewaag om gevoelens uit te spreek. Hier het ek dit gewaag om ek te wees.  EK het baie nuwe vriende gemaak, en ek glo sommiges sal lewenslank dit bly.

Maar: eers het die Ateïste, en toe die Hipervromes by my kerkraad gaan kla oor my blog. Die vrees bestaan glo vir ‘n derde soortgelyke aanklag, daarom beland dit by my Diensverhoudinge voorsitter.

Ek weet totaal en al nie hoe om hierdie saak te hanteer nie.  Dit wat op die tafel is, is baie meer as net wat ek in my blog sou sê. Dit gaan uiteindelik oor wie ek IS. Ek wil nie met maskers leef soos gister se blog sê nie.

Maar ek het nou in ‘n situasie begin beland wat vir my baie seer is. Ek begin ernstig wonder of ek die Donkie nie maar moet verlos uit sy lyding, en totaal anoniem weer oor begin nie. Die ou bloggers gaan my in elk geval dadelik raaksien.

Die Donkie is ernstig siek…

Hierdie inskrywing het 7 minute van my tyd gevat…

Die Gemaskerde Wonder…

Toe ek klein was, was ek baie bang vir Dominees. Hulle het altyd in pakke klere rondgeloop, en Sondag het hulle so ‘n onheilspellende Batman- pakkie aangehad. Hulle kon ook in baie vreemde stemtone praat, maar darem “Jerusalem” so mooi in ronde letters sê. Hulle het altyd baie kwaai gelyk, seker maar oor al die sonde van die gemeentelede. Dit het ook nie gelyk of hulle vir ‘n grappie kan lag nie- dié wat hulle wel voor lag is heel simpel, soos die een van die wielspênner hy es nie…  Of dominees wat hel toe gaan en tacxibestuurders wat dadelik hemel toe gaan.

Groot was my skok en verbasing toe ek in Standerd 9 begin ervaar het dat die Here my ook roep vir diens as Dominee.  Wanneer ek die Bybel gelees het (en nog steeds vandag!) sien ek niks van titels en togas nie. Ek sien niks van Dominus- (Heerser in Latyn!) in die rol van ‘n predikant nie. Ek sien Jesus en ‘n groepie vissermanne wat saam om ‘n vuurtjie sit, en beplan om die wêreld met liefde te verander.  Dis die prentjie wat ek in my kop het van waarmee ek veronderstel was om besig te wees.

Toe ek op Universiteit kom, het ons dadelik met die groot Teologiese vakke begin worstel- Ou Testament en Nuwe Testament Teologie. Nog later sou goeters soos Dogmatiek en Kerkreg op die toneel verskyn.  Baie ingewikkelde goeters, ‘n mens het ses jaar nodig gehad op universiteit om slim genoeg te raak om in ‘n gemeente losgelaat te word…

So gedurende Universiteit het ek ‘n vreemde ding begin raaksien in die predikantekorps van die kerk. IEts wat my baie gepla het destyds. Wanneer daar gemeentelede naby is, het die manne (toe nog nie dames nie…) skielik ‘n masker opgehad. Stemtone het verander. Liggaamshouding was skielik meer dinamies, regop rug, glimlag om die mond want die lewe is mos altyd mooi, hande uit die sak uit, hemp mooi netjies ingesteek. Want sien- jy is immers ‘n pilaar waarop die gemeenskap gebou is. Mense kyk op na jou.  Hulle praat in ander stemtone as jy verbystap. Die goeie grappies droog op as jy by die skool se braaivleisvuur nader stap met jou stukkie chuck. En almal vertel die grappie van die wielspenner hy ês nie. En jy glimlag beleef, al het jy die grappie al 3000 keer gehoor…

Die punt is: baie dominees ontwikkel ‘n masker- die beeld wat hy voorhou vir die gemeente. Dit gaan altyd goed met hom. Alles lo0p altyd reg in sy huwelik en met sy kinders. Hy het al die antwoorde vir al die vrae- hoekom gaan kinders dood, hoekom verloor goeie mense hulle werk, hoekom werk die meeste huwelikke nie uit nie… Altyd met ‘n vriendelike glimlag op sy gesig-  “Ek is in beheer, volg my…”

Ek sien dieselfde broers en susters op die predikante wegbreke. En in die aande rondom die vure by die Sinodeas ons daar in ons karavane kamp. Ek sien die seer van wat mense aan pastoriegesinne doen. Die onrealistiese verwagtinge. Die eis dat Dominee altyd perfek moet wees. Dat sy vrou altyd goed geklee sal wees, en sal lei wat die Vrouediens aanbetref. Sy kinders kry dit van voor by die skool, hulle moet altyd soet wees want hulle pa is mos die dominee…

Ek het my voorgeneem om nie eendag met maskers in die bediening rond te loop nie. Ek het probeer eg wees in my menswees- soos ek by die braaivleisvuur Vrydagaand met ‘n glasie Camerca in die hand is, net so wou ek graag op die kansel wees, net so wou ek wees as mense my op straat raakloop.  Ek weet ek kom uit ‘n industriële dorp uit, ek weet my Afrikaanse gebruik is soms effens grof met stoute en donker woordjies in. Ek sê soms poepol en bliksem op my blog- en vir sommige mense is dit ‘n duidelike teken dat ek van die wa af is. Ek weet ek lag saam vir die stoute grappie langs die braaivleisvuur.  En ek is lief vir motorfietse en motorfietsryers, al suip hulle soms en al gaan dit soms woes op die rallies. Ek wou so graag daar wees, sout vir die wêreld wees en lig vir die aarde waar dit nodig is. As ekself. As kind van God. Nie as die een met die titel en die toga nie.  Net ‘n dissipel van Jesus soos elke ander gelowige veronderstel is om te wees, niks meer as dit nie.

Na 19 jaar op die platteland moet ek dit vir myself begin erken: ek het ook maar ‘n masker begin ontwikkel. Ek glimlag ook maar liefies en probeer doen wat almal graag wil hê ek moet doen. Ek probeer ook maar almal tevrede hou, netnou raak die ou kwaad en betaal nie meer sy dankoffer nie, dan is my salaris in gedrang, hoe sorg ek dan vir my gesin?

Die probleem met die masker is: verskillende mense hou van verskillende maskers. Die jongmense hou van die masker van ‘n nar, wat hulle entertain. Die ou mense hou van die masker van ‘n wyse man, wat diep en innig saamstem met hulle lewensfilosofie. Die armes hou van die masker van iemand wat saam met hulle sukkel, die rykes soek die masker van iemand vir wie hulle darem nie te skaam hoef te wees as die grênd mense groot funksies hou nie.   Jy moet darem lyk asof die Here jou seën met al die voorspoed wat daardie manne op TBN se kanaal verkondig, die mooi boodskappe van rykdom en seën wat reeds oormatig geseëndes so graag na luister.

Toe ek jonger was het ek naiewelik geglo die Here roep my tot die bediening net soos ek is.  Dat ek maar net myself mag wees, wat van nature graag vir mense omgee en hulle wil help.

Waar kom hierdie skrywe vandaan?

Ek het ‘n Admin bedieningsvergadering gemis, omdat ek verpligtinge by die skool gehad het- ek dien op die Beheerliggaam in die portefeulje: kultuur. Dit was groentjiekonsert, en dit gee my altyd geleentheid om bietjie met die ouers te gesels en verhoudinge te bou.

Na die tyd het die terugvoer van die vergadering gekom.

1. My facebookgebruik is kommerwekkend.  Dalk hierdie blog wat ek soms na my facebook toe link, waar ek wel al ‘n donker woord of twee gesê het.  MAar ek weet regtig nie- die persoon wat gekla het het niks vir my ooit gesê nie. Dit word net op kommissievergaderings bespreek.

2. Ek het op oujaarsdag saam met ‘n kerkraadslid na ‘n dorp in ons ringsgebied gery, en terwyl hy met sy besigheid besig was, het ek vir twee ure by die dominee daar gaan kuier. En ek het nie verlof ingesit daarvoor nie. My verlofbestuur is onder verdenking. Wel, die situasie was dat die vriend se vrou ernstig seergekry het in ‘n motorongeluk, net voor ons op vakansie weg was. Hierdie was die eerste geleentheid om hulle te gaan besoek en te bemoedig.  Die feit dat ek saam met ‘n kerkraadslid gery het, het my ‘n rit gespaar, en geleentheid gegee om lekker met die kerkraadslid te gesels langs die pad.  Ek het gedog dit is koninkryksake. Lyk my ek was verkeerd, ek sal maar ‘n verlofvorm gaan voltooi.

3. Ek het fiets gery tussen 11 en 1 een dag, en iemand kon my nie op die telefoon in die hande kry nie.  Wel, dié betrokke oggend moes ek iemand voor die 09h00 Bybelstudie sien, ek het Bybelstudie gehad tussen 09h00 en 10h00, daarna in die kerkkantoor gaan draai, en toe 11 uur gou 30 km gaan fietsry.  Ja, miskien het gemeentelede my “in werkstyd” op my fiets gesien. Daardie gemeentelid sou 16h00 lekker huis toe gaan vir die res van die dag. Ek het daardie dag van 15h00-21h30 huisbesoek gedoen.   Bestuurders moet altyd beskikbaar wees op hulle fone. Wel- as ek huisbesoek doen is my foon af. As ek siekebesoek doen, of iemand met seer sien, is my foon af. Ek bel altyd terug so gou ek kan.

4. As ‘n mens stad toe gaan om siekebesoek te gaan doen, dan sê ek op facebook ek het ook gaan boeke koop, en iets geëet daar, en soms gaan fliek ook. Hoe regverdig ‘n mens ‘n 15 minute siekebesoek in die stad  dan as werkstyd?

As iemand siek genoeg is om voor stad toe te ry, dan doen ek dit.  Dit kos my 300 km se ry en 6 tolhekke. Ongeveer R500 se koste aan petrol, tolgeld en slytasie.  Ek kry nie ekstra vervoertoelaag om stad toe te gaan nie. Een stadstrippie is dadelik 1/5 van my maandelikse kilometers daarmee heen. Ek vra niks ekstra daarvoor nie, as iemand my nodig het, ry ek. Maar as ek stad toe gaan, moet ek die geleentheid gebruik ook. Ek kry nie al die klere/parte vir voertuie/ boeke vir my werk in ons dorp nie.  Gewoonlik is daar meer as een persoon êrens in verskillende hospitale- om van Montana na Pretoria-Oos na Unitas toe te gaan, neem baie tyd in beslag. EN ja, ek raak soms honger ook- en dan is Food Lovers Market se R45 hamburger darem baie lekker.  Fliek? EK kry nie meer tyd daarvoor op ‘n dag in die stad nie. DIe enigste kere wat ek in die fliek was verlede jaar was toe ek Skyfall saam met my vrou gekyk het toe ons kind in die hospitaal was, buite besoekure.

Ek weet nie meer hoe om op te tree nie. Ek weet nie meer wanneer ek verlof moet insit vir wat nie. Ek weet nie meer wanneer mag ek fietsry dat iemand êrens nie dalk dan vir my gaan nodig hê vir wie my kollega nie net so goed sou kon help nie.  Ek weet nie meer wat ek op my blog mag skryf nie, dalk is hierdie nog ‘n spyker in my eie kis. Sela.

Ek weet nie meer watter masker om op te sit vandag nie. My masker het gisteraand geval. Ek gaan nou in werkstyd fietsry. Dan gaan ek my verlofvorm vir vandag voltooi. Dan gaan ek soek na ‘n geskikte nuwe masker om aan te sit, om te lyk of ek werklik uitermatig gelukkig voel.

Erens, eendag lank lank gelede, het ‘n Man saam met ‘n klomp vissermanne om ‘n vuurtjie gesit en droom van ‘n wêreld wat met liefde verander word… ‘n wêreld sonder maskers. Maranatha.

 

Dinsdag se dankbaarheid…

Sekere dae in ‘n mens se lewe is mos net totaal anders as alle ander dae…

Vanoggend het begin met ‘n baie lekker Bybelstudie saam met my gemeentelede oor Johannes 13- Jesus wat voete was, en sê as jy belangrik wil wees in sy koninkryk, sal jy jou naaste dien.

Daarna was ek en kollega by die dame wat more 100 jaar oud word. Dit was aangrypend- die eerste persoon in beide die ouetehuis en ons gemeente wat 100 jaar oud word. Daar is in haar hart soveel dankbaarheid vir soveel mooi tye.

Ek het huisbesoek gedoen by ‘n paar uiteenlopende gesinne deur die dag. Verskillende stories gehoor van hoop en hartseer, van drome en nagmerries- ervarings van menslike bestaan oor die hele spektrum.

Vanaand was die groentjiekonsert van hierdie jaar se nuwe Graad 8’ ies in die Hoërskool, ‘n klug gebasseer op Romeo en Juliette, wat plaasvind in ‘n groentetuin. Talent was daar dalk nie so baie nie, maar entoesiasme in emmers vol.

En toe… die hoogtepunt- ek lees al hoe lank in boeke verwysings na die fliek “Il Postino”- die Posman. OM beslis nie te verwar met Kevin Costner se gelyknamige poging nie. Ek het baie lank gesoek na “Il Postino”. Ek kry hom nie in een van die DVD winkels nie. Ook op ebay ontglip hy my elke keer.

UIteindelik het ek dit maar op die Internet opgespoor, en op my laptop gekyk.  Ek is seker besig om oud te word, of my kind se kunstenaarsgene het my seker teruggeklap. Deesdae is ek baie meer lus vir vreemde taal kunsflieks met Engelse onderskrifte- dis dalk net ‘n fase. Op die oomblik doen flieke soos Trois Coleurs Blue (Three Colors Blue) met Juliette Binoche dit vir my. Ek het al drie in die reeks op ebay gekoop. Ek het uiteindelik ook Babette’s Feast in die hande gekry verlede jaar.

Maar hierdie Italiaanse fliek is voorwaar ‘n meesterstuk. ‘n Mens wil omtrent ‘n afdruk hê van elke raampie, so mooi is die fotografie. Die menslike interaksie, die plotontwikkeling, die emosie, die musiek, die danse- dit het sommer net dadelik diep in my hart gekruip.

Toe praat ek met my vriend in Melkbosstrand. Nou het ek heimweë vir die Kaap! Vir die vriende, vir die berg, vir die yskoue water, vir die bier op Blue Peter se stoep as die son sak agter Robbeneiland, vir Ons Huisie se snoek en patatkoekies, vir die rum en coke by Moyo’s, vir die wyn daar by Villiera, vir die koffie by Oom Samie saam met Son, vir die boekefees, vir die Suidooster wat my op my motorfiets rondpluk. Ek verlang nou Kaap toe…

Sondagaand tuis

Wat ‘n naweek!

Ek het Vrydag verjaar, en baie van julle het vir my pragtige boodskappe op facebook gesit- baie dankie! Kollega het my ook vroegoggend kom haal, en daarna is ons met die motorfietse na die buurdorp, waar ons in die Groen Weivelde gaan sit en koffie drink het, ekke met ‘n heerlike wafel, hy met ‘n ontbyt… (ek is in die bed verras deur my gesin met ‘n heerlike ontbyt, sien…)

Ons het lekker deur die Bosveld se kronkelpaaie gery met ons motorfietse, en die BMW purr tog te lekker met daardie lieflike Boxerenjin van haar, hierdie Duitste skelmpie begin net so diep in my hart kruip soos my Italiaanse skelmpie, ou Huisbesoek… Die BMW kort nog steeds ‘n wonderlike bynaam…

Net so rondom middagete het nog twee van my baie goeie vriende, kollegas van buurdorpe, by my opgedaag. Ons het lekker saam geëet, die een bly oor vir die nag, die ander een is op pad huis toe. So hartseer, albei van hulle se vroue was in baie ernstige ongelukke oor die Desember vakanse- die een was in ‘n rollende bakkie en het ‘n arm sleg gebreek, die ander het van ‘n krans afgeval, en haar been baie sleg seergemaak.

Ons het Vrydagaand ‘n heerlike braai by my huis gehad. Die rumpsteak was perfek gebraai, almal se slaai was mooi, en ons het die Hugenote Kollege se verslag in diepte hanteer…  Wat ‘n verjaardag! Ek is so dankbaar dat ek sulke fantastiese vriende in my lewe het!  Ek dink as ek volgende maand in die Kaap kom moet ons maar weer ‘n Paartie êrens gooi, ek het julle mal Stormers ondersteuners (en goeie Bloubulle van Brakkevel!) ook baie intens gemis!

Ek is so dankbaar vir my liewe vrou wat soveel moeite gedoen het om my verjaardag baie spesiaal te maak. En veral vir my dogter wat dit nie hierdie jaar soos verlede jaar opgedonder het deur haar kar om ‘n Jetta te vou nie- dit was ook baie spesiaal, dankie Ousus!

Saterdagoggend moes ons toe na Gomorrah vertrek. Skoonsussie uit Ierland verjaar vandag, en word 40. As ‘n geskenk het haar man vir haar ‘n vliegkaartjie saam met die Maagdelike redery gekoop, en sy het gisteroggend in Suid Afrika aangekom. Vandag was daar ‘n baie groot familiesaamtrek daar naby die Wilgers hospitaal.  Een van die nefies se meisies was verstom om my skoonfamilie in aksie te sien- my skoonma was daar, al vyf haar kinders, vier van die skoonkinders, vyftien van die 20 kleinkinders, en albei agterkleinkinders…  wat ‘n geseënde gesig om so baie gelukkige mense saam te sien op een rustige paartie… In my gesin is dit net my ma, my sussie en ekke- met natuurlik vroulief en my vier monstertjies.

Ons het vanaand veilig tuis gekom, na ‘n naweek van groot feesvier. Familie is baie kosbaar, en baie belangrik!

Net ‘n laaste opmerkingtjie: ek het toe my doelwit in die fietsry gehaal, met 505 km vir Januarie gery. Donderdag was dit nogal rof- ek het tussen 12 en 14h00 44 km gery in 34 grade Celsius. Daarna het ek gaan bloed skenk. Die bloedskenk personeel het die naald nie mooi ingehad nie, en die sakkie wou nie vol nie. Toe karring die suster die naald maar tot daar weer bloed vloei terwyl ek deur die dak klim. Daarna het ek nog nooit weer heeltemal reg gevoel nie!   My oë brand vreeslik die hele naweek al, en ek sal seker maar erens net die tyd moet vind om my oë ordentlik te laat toets- bril hier kom ek!

Ek is nou verby halfpad 90 toe…

Maar ek is diep dankbaar, vir die mense in my lewe, vir die wonderlike seëninge wat ek daagliks ervaar, en vir al die slegte dinge wat ek vrees, wat nooit gebeur nie.

En nou is ek vaakenmoeg- lekker slaap!