Die Gemaskerde Wonder…

Toe ek klein was, was ek baie bang vir Dominees. Hulle het altyd in pakke klere rondgeloop, en Sondag het hulle so ‘n onheilspellende Batman- pakkie aangehad. Hulle kon ook in baie vreemde stemtone praat, maar darem “Jerusalem” so mooi in ronde letters sê. Hulle het altyd baie kwaai gelyk, seker maar oor al die sonde van die gemeentelede. Dit het ook nie gelyk of hulle vir ‘n grappie kan lag nie- dié wat hulle wel voor lag is heel simpel, soos die een van die wielspênner hy es nie…  Of dominees wat hel toe gaan en tacxibestuurders wat dadelik hemel toe gaan.

Groot was my skok en verbasing toe ek in Standerd 9 begin ervaar het dat die Here my ook roep vir diens as Dominee.  Wanneer ek die Bybel gelees het (en nog steeds vandag!) sien ek niks van titels en togas nie. Ek sien niks van Dominus- (Heerser in Latyn!) in die rol van ‘n predikant nie. Ek sien Jesus en ‘n groepie vissermanne wat saam om ‘n vuurtjie sit, en beplan om die wêreld met liefde te verander.  Dis die prentjie wat ek in my kop het van waarmee ek veronderstel was om besig te wees.

Toe ek op Universiteit kom, het ons dadelik met die groot Teologiese vakke begin worstel- Ou Testament en Nuwe Testament Teologie. Nog later sou goeters soos Dogmatiek en Kerkreg op die toneel verskyn.  Baie ingewikkelde goeters, ‘n mens het ses jaar nodig gehad op universiteit om slim genoeg te raak om in ‘n gemeente losgelaat te word…

So gedurende Universiteit het ek ‘n vreemde ding begin raaksien in die predikantekorps van die kerk. IEts wat my baie gepla het destyds. Wanneer daar gemeentelede naby is, het die manne (toe nog nie dames nie…) skielik ‘n masker opgehad. Stemtone het verander. Liggaamshouding was skielik meer dinamies, regop rug, glimlag om die mond want die lewe is mos altyd mooi, hande uit die sak uit, hemp mooi netjies ingesteek. Want sien- jy is immers ‘n pilaar waarop die gemeenskap gebou is. Mense kyk op na jou.  Hulle praat in ander stemtone as jy verbystap. Die goeie grappies droog op as jy by die skool se braaivleisvuur nader stap met jou stukkie chuck. En almal vertel die grappie van die wielspenner hy ês nie. En jy glimlag beleef, al het jy die grappie al 3000 keer gehoor…

Die punt is: baie dominees ontwikkel ‘n masker- die beeld wat hy voorhou vir die gemeente. Dit gaan altyd goed met hom. Alles lo0p altyd reg in sy huwelik en met sy kinders. Hy het al die antwoorde vir al die vrae- hoekom gaan kinders dood, hoekom verloor goeie mense hulle werk, hoekom werk die meeste huwelikke nie uit nie… Altyd met ‘n vriendelike glimlag op sy gesig-  “Ek is in beheer, volg my…”

Ek sien dieselfde broers en susters op die predikante wegbreke. En in die aande rondom die vure by die Sinodeas ons daar in ons karavane kamp. Ek sien die seer van wat mense aan pastoriegesinne doen. Die onrealistiese verwagtinge. Die eis dat Dominee altyd perfek moet wees. Dat sy vrou altyd goed geklee sal wees, en sal lei wat die Vrouediens aanbetref. Sy kinders kry dit van voor by die skool, hulle moet altyd soet wees want hulle pa is mos die dominee…

Ek het my voorgeneem om nie eendag met maskers in die bediening rond te loop nie. Ek het probeer eg wees in my menswees- soos ek by die braaivleisvuur Vrydagaand met ‘n glasie Camerca in die hand is, net so wou ek graag op die kansel wees, net so wou ek wees as mense my op straat raakloop.  Ek weet ek kom uit ‘n industriële dorp uit, ek weet my Afrikaanse gebruik is soms effens grof met stoute en donker woordjies in. Ek sê soms poepol en bliksem op my blog- en vir sommige mense is dit ‘n duidelike teken dat ek van die wa af is. Ek weet ek lag saam vir die stoute grappie langs die braaivleisvuur.  En ek is lief vir motorfietse en motorfietsryers, al suip hulle soms en al gaan dit soms woes op die rallies. Ek wou so graag daar wees, sout vir die wêreld wees en lig vir die aarde waar dit nodig is. As ekself. As kind van God. Nie as die een met die titel en die toga nie.  Net ‘n dissipel van Jesus soos elke ander gelowige veronderstel is om te wees, niks meer as dit nie.

Na 19 jaar op die platteland moet ek dit vir myself begin erken: ek het ook maar ‘n masker begin ontwikkel. Ek glimlag ook maar liefies en probeer doen wat almal graag wil hê ek moet doen. Ek probeer ook maar almal tevrede hou, netnou raak die ou kwaad en betaal nie meer sy dankoffer nie, dan is my salaris in gedrang, hoe sorg ek dan vir my gesin?

Die probleem met die masker is: verskillende mense hou van verskillende maskers. Die jongmense hou van die masker van ‘n nar, wat hulle entertain. Die ou mense hou van die masker van ‘n wyse man, wat diep en innig saamstem met hulle lewensfilosofie. Die armes hou van die masker van iemand wat saam met hulle sukkel, die rykes soek die masker van iemand vir wie hulle darem nie te skaam hoef te wees as die grênd mense groot funksies hou nie.   Jy moet darem lyk asof die Here jou seën met al die voorspoed wat daardie manne op TBN se kanaal verkondig, die mooi boodskappe van rykdom en seën wat reeds oormatig geseëndes so graag na luister.

Toe ek jonger was het ek naiewelik geglo die Here roep my tot die bediening net soos ek is.  Dat ek maar net myself mag wees, wat van nature graag vir mense omgee en hulle wil help.

Waar kom hierdie skrywe vandaan?

Ek het ‘n Admin bedieningsvergadering gemis, omdat ek verpligtinge by die skool gehad het- ek dien op die Beheerliggaam in die portefeulje: kultuur. Dit was groentjiekonsert, en dit gee my altyd geleentheid om bietjie met die ouers te gesels en verhoudinge te bou.

Na die tyd het die terugvoer van die vergadering gekom.

1. My facebookgebruik is kommerwekkend.  Dalk hierdie blog wat ek soms na my facebook toe link, waar ek wel al ‘n donker woord of twee gesê het.  MAar ek weet regtig nie- die persoon wat gekla het het niks vir my ooit gesê nie. Dit word net op kommissievergaderings bespreek.

2. Ek het op oujaarsdag saam met ‘n kerkraadslid na ‘n dorp in ons ringsgebied gery, en terwyl hy met sy besigheid besig was, het ek vir twee ure by die dominee daar gaan kuier. En ek het nie verlof ingesit daarvoor nie. My verlofbestuur is onder verdenking. Wel, die situasie was dat die vriend se vrou ernstig seergekry het in ‘n motorongeluk, net voor ons op vakansie weg was. Hierdie was die eerste geleentheid om hulle te gaan besoek en te bemoedig.  Die feit dat ek saam met ‘n kerkraadslid gery het, het my ‘n rit gespaar, en geleentheid gegee om lekker met die kerkraadslid te gesels langs die pad.  Ek het gedog dit is koninkryksake. Lyk my ek was verkeerd, ek sal maar ‘n verlofvorm gaan voltooi.

3. Ek het fiets gery tussen 11 en 1 een dag, en iemand kon my nie op die telefoon in die hande kry nie.  Wel, dié betrokke oggend moes ek iemand voor die 09h00 Bybelstudie sien, ek het Bybelstudie gehad tussen 09h00 en 10h00, daarna in die kerkkantoor gaan draai, en toe 11 uur gou 30 km gaan fietsry.  Ja, miskien het gemeentelede my “in werkstyd” op my fiets gesien. Daardie gemeentelid sou 16h00 lekker huis toe gaan vir die res van die dag. Ek het daardie dag van 15h00-21h30 huisbesoek gedoen.   Bestuurders moet altyd beskikbaar wees op hulle fone. Wel- as ek huisbesoek doen is my foon af. As ek siekebesoek doen, of iemand met seer sien, is my foon af. Ek bel altyd terug so gou ek kan.

4. As ‘n mens stad toe gaan om siekebesoek te gaan doen, dan sê ek op facebook ek het ook gaan boeke koop, en iets geëet daar, en soms gaan fliek ook. Hoe regverdig ‘n mens ‘n 15 minute siekebesoek in die stad  dan as werkstyd?

As iemand siek genoeg is om voor stad toe te ry, dan doen ek dit.  Dit kos my 300 km se ry en 6 tolhekke. Ongeveer R500 se koste aan petrol, tolgeld en slytasie.  Ek kry nie ekstra vervoertoelaag om stad toe te gaan nie. Een stadstrippie is dadelik 1/5 van my maandelikse kilometers daarmee heen. Ek vra niks ekstra daarvoor nie, as iemand my nodig het, ry ek. Maar as ek stad toe gaan, moet ek die geleentheid gebruik ook. Ek kry nie al die klere/parte vir voertuie/ boeke vir my werk in ons dorp nie.  Gewoonlik is daar meer as een persoon êrens in verskillende hospitale- om van Montana na Pretoria-Oos na Unitas toe te gaan, neem baie tyd in beslag. EN ja, ek raak soms honger ook- en dan is Food Lovers Market se R45 hamburger darem baie lekker.  Fliek? EK kry nie meer tyd daarvoor op ‘n dag in die stad nie. DIe enigste kere wat ek in die fliek was verlede jaar was toe ek Skyfall saam met my vrou gekyk het toe ons kind in die hospitaal was, buite besoekure.

Ek weet nie meer hoe om op te tree nie. Ek weet nie meer wanneer ek verlof moet insit vir wat nie. Ek weet nie meer wanneer mag ek fietsry dat iemand êrens nie dalk dan vir my gaan nodig hê vir wie my kollega nie net so goed sou kon help nie.  Ek weet nie meer wat ek op my blog mag skryf nie, dalk is hierdie nog ‘n spyker in my eie kis. Sela.

Ek weet nie meer watter masker om op te sit vandag nie. My masker het gisteraand geval. Ek gaan nou in werkstyd fietsry. Dan gaan ek my verlofvorm vir vandag voltooi. Dan gaan ek soek na ‘n geskikte nuwe masker om aan te sit, om te lyk of ek werklik uitermatig gelukkig voel.

Erens, eendag lank lank gelede, het ‘n Man saam met ‘n klomp vissermanne om ‘n vuurtjie gesit en droom van ‘n wêreld wat met liefde verander word… ‘n wêreld sonder maskers. Maranatha.

 

20 thoughts on “Die Gemaskerde Wonder…

  1. Bileam se Donkie. Mens. Dominee by beroep.
    Bileam se Donkie. Dominee. Deeltyds mens.

    Ek weet watter weergawe ek verkies, waarskynlik heelwat ander ook.

    Daar is egter diegene wat so teleurgesteld is in hoe vêr verwyderd hulle weergawe van die wêreld is van die werklikheid, dat hulle ander seermaak. Sulkes het al die liefde nodig wat jy kan gee, sodat hulle nie nog mense seermaak nie. Dit is ‘n groot taak, dat jy enigsins kans sien daarvoor is getuigskrif van jou karakter.

    Moenie die taak nog moeiliker maak deur dit van agter ‘n masker te doen nie.

  2. Ek het al so baie keer gesê dat ‘n predikant gelyktydig die beste en slegste werk onder die son het. Beste oor die aard van mens se werk en die geleentheid om mens werklik te kan verdiep in die Here se wil. Maar die slegste oor wat ander mense van jou verwag en oor jou voel en besluit. En soos altyd is dit die wat veronderstel is om jou te beskerm (en te verstaan) die wat dit vir jou die moeilikste maak.

    Ek is lankal op ‘n punt in my lewe waar ek mense direk en openlik aanvat wat dominees kritiseer oor kleinlike dinge; selfs weer nou die dag met my ma hieroor gestry.

    Die Duiwel kruip orals weg, maar hy is die liefste vir, en kruip die maklikste weg in, die bekende dinge.

    Sterkte met die stryd ds.

  3. Kan jy diegene blok wat sit en spioen speel op jou faceboek en blogs?
    Dit klink my daar is ‘n vergelyking te trek tussen sommige gemeentlede en deesdae se regeringmanne…moeilik verstaanbaar!!

  4. Wie besoek die dominee as hy in die hospitaal le weens swak gesondheid en ‘n hart se are wat oppak omdat hy nooit ‘n dag se oefening inkry nie, …wie gee die dominee ‘n dag af van al die seer van die mense om hom vir wie hy altyd daar moet wees…., wie vat sy gedagtes en meegevoel vir almal om hom in alle terreine van hul lewens , vir een dag op hul skouers sodat hy kan rus, sodat hy weer homself kan laat mens word en saam met sy medemens die lewe kan ervaar om beter van al die pyn te verstaan, want hy is ook mens en voel en deel ook die seer en blydskap, net soos gewone mense. Selfsugtige mense kritiseer goeie opregte mense wat alles van hulself gee, my mening, omdat hulle te min het om te doen bedags en ander mense dophou om foute te maak. Los die dominee bedags uit en sorg eerder dat jy Sondag in die kerk sit en na die boodskap wat God deur sy dissipel na jou stuur. Met God aan jou sy, hoef jy geen mens te vrees nie. Liefde E.

  5. Ek weet nie hoekom doen jy soveel moeite om aan hulle te probeer verduidelik nie, want ek weet hulle lees hier. DIT is vir my kommerwekkend, dat sulke opmerking enige energie kry.

  6. Dis ‘n belangrike stukkie skryf, hierdie. Dit word verwag dat die dominee se masker nie afval as hy die 3001e keer na die spênner grap moet luister nie. En ja, daar is die regte gesig en stemtoon by die begrafnis of die huwelik. MAAR – die probleem is die skyn-beeld van die heiliges. Kyk, enige ou wat hom so heilig hou dat hy oor siekbesoek en fietsry kibbel, het ‘n geweldige probleem (ek wou die regte woord hier gebruik, maar uit respek vir sy spioenwerk, sal ek dit liewers sagkens stel). As daar Liefde van die dominee verwag word, word daar insgelyks liefde van sy gemeente verwag. En alhoewel ons almal soms ‘n glipsie het, is dit onverskoonbaar om sulke sake agter iemand se rug te beskinder. Die Bybel leer ons mooi: as jy ‘n probleem met iemand het, gaan praat met hom. As hy nie wil hoor nie, neem dan ‘n heilige of twee saam…ens. Ek dink die probleem is nie die masker wat die predikant moet dra nie – die probleem is die masker wat die heiliges WIL dra. En wie bluf (of beïndruk) hulle nou eintlik? Die Man by die vuurtjie? Dink hulle Hy is sò dom?

  7. Bileam. Never explain. Your friends don’t need it and your enemies won’t believe it. Bileam byt vas moenie dat een ou met ‘n seer toon al jou energie gebruik en jou lewensvreugde steel nie. Ek weet kritiek maak seer al probeer ons hoe hard dat dit ons nie raak nie. Ek voel saam met jou!

  8. Dis kleinlik – om die minste te sê. Al 4 die “netelige sake” hierbo, waaroor jy aangespreek is, is verdomp net pleinweg KLEINLIK. Klink vir my meer of iemand jaloers is op jou. Ek sal my geboortereg kon verkoop het as ek vroeër in my lewe so ‘n dominee soos jy kon gehad het. Nee wat, ek soek sommer vir jou ‘n gemeente hier in die Kaap.

  9. Ai tog. Ek maar net ai tog sê! Ek het as kind geleer dat domineers ook net mense was. Ek en my jonger sussies en boetie was maats met ons dominee se kroos. Kan jy jou die konsternasie voorstel in ‘n propperse Doppertjie se gemoed toe haar tjoppie tydens die eerste middagete wat sy daar eet tydens die tafelgebed spoorloos uit haar bord verdwyn? En toe die Dominee wat langs haar sit kamstig gekrenk vra of die vleis dan vir haar sleg lyk, hoekom sit sy dit tydens gebed in sy bord? Ek het amper begin huil…

    Hoop jy kry jou verlof uitgesorteer. Sulke inhalige wurmpoep.

  10. Ai Bikeam my hart bloei vir jou-jy verdien nie sulke bekrompenheid nie. Moet net asb nooit n masker opsit nie-jy is wie jy is en basta! Ek is baie dankbaar om deel van n gemeente te wees waar jy ds. is. Sterkte en moenie dat verkrampte, verbitterde, onvergenoegde mense jou vrede steel nie, want as hulle me jou klaar is gaan hulle na die volgende. Ek geniet jou blog en die ‘donker’ woorde en ‘stout’ gedagtes-dit bewys jy is mens nes die res van ons!!!

  11. Onthou: dis die mense (nie die duiwel of die Romeine of die Skrifgeleerdes nie) wat Jesus gekruisig het en van sy eie dissipels wat hom verraai en verloen het…eintlik ka jy nie beter verwag nie. Maar as nie-dominee (en uiters dankbaar daaroor) lyk en klink meer meer lidmate, soos ek ouer word, soos die skrifgeleerde wat op sy bors slaan in die tempel en God dank dat hy nie is soos die tollenaar aan die ander kant van die tempel is nie.

  12. Ai oom Donkie, wat gaan aan in ons vandag se mense se harte? Lyk my hulle het in elk geval niks beter om te doen as om klein jakkalsies te soek wat hulle jou mee kan frustreer nie. Ek noem dit plein “poppe-stront”! Dis poef wat nie bestaan nie.
    Doen wat jy wil doen waarvoor God jou geroep het, sonder jou masker, en ons sal saam na jou luister en volg, en in liefde die ander deur die moeilike tye dra. Moet net nooit ophou bid vir hulle ook nie, want ons is mos almal Koningskinders, dalk het hulle dit net vergeet.
    Sterkte uit Mookgopong!!

  13. ek het nou amper begin tjank so mooi het jy hier geskryf – jy is so flippen real … en ja, ek stem saam met die ander, weet regtig nie hoekom jy so moet verduidelik nie. of nee wag – ek weet eintlik, want ek het mos self hierdeur gegaan.

    i am so flippen over it – soos ek op jou ander entry gecomment het, dit wil my laat kots. g’n wonder soveel mense los net christenskap nie en/of dink “ons christene” is ‘n klomp freaks nie. wanneer gaan hulle wakker word en besef dat daar ‘n sekere persoonlikheid is wat sooooo afgesit word deur hierdie tipe goed, dat mense NOOIT by die Here sal uitkom as gevolg hiervan nie. ek is moeg vir die reseppies – ek vat maar eerder Sy love & grace, want so waar as wragtig – by mense gaan jy dit nie kry nie.

    ek weet sooooo waarvan jy praat … al wat ek kan se is dat ek regtig aan jou dink – ek gaan nie eers se ek bid vir jou nie, want dis ook weer een van daai cliches wat deel van die reseppies is – die “regte ding” om te se.

    ek weet – hierdie tipe goed is ‘n ontnugtering … dis nie lekker nie – inteendeel dit suck. ja, hierdie tipe goed maak my vies, want ek het self daardeur gegaan, maar dankie Vader dat ek 100% vrede is oor waar ek is vandag met hierdie tipe van goed. ek voel vir die eerste keer heeltemal vry. mag dit jy ook beleef … He came to set us FREE. mense wil ‘n mens weer in bondage en onder die wet sit … nah, i’m over it – die Here moet maar met hulle deel.

  14. Ek weet nie waar my blackberry kommentaar heer verdwyn het nie, maat hou jou kop hoog en moenie dat die brommers en morrers jou vruegde steel nie. Sommige mense is net gelukkig as hulle ongelukkig is en ander kan afkraak. Die probleem le by ongelukkigheid en afgunstigheid in hulleself, nie in jou nie. Solank jy ‘n rein gewete het hoef jy aan niemand veranwwording te doen, behalwe aan die Here self nie

  15. As die leierskap mature genoeg was, sou die persoon wat die vergadering gelei het, gesê het; ” Kom ons stop nou die pratery agter Bileam se rug. Jy wat kla is welkom om more saam met Bileam en myself rustig oor ‘n biertjie die sakie te bespreek. Dan kan jy vir hom sê wat presies jou pla en ons kan dit soos volwasse ‘godly people’ bespreek.” Maar ongelukkig gebeur dit nie. Wyseman het ‘n beginsel as bestuurder dat as iemand oor ‘n ander kla, roep hy onmiddellik die betrokke partye in, en bespreek die saak openlik.

  16. flip, ek kan dit nie glo nie…….nee wag, ek KAN. Ek is al as ds voor die kerkraad gedaag omdat ek dit waag om saam met die jeug (ek was die jeugleraar) in ‘n jean kerk toe te gaan. Jammer om te sê, maar dis juis DIT wat verhoed dat ek teruggaan gemeentebediening toe. Ek bedien nog, miskien selfs beter!, in die sekulêre. Ai, ai, ai, Brian McClaren vra in Generous Orthodoxy of Jesus in vandag se VSA (Suid-Afrika) ‘n christen (NG Lidmaat) sou (wou?) wees?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s