Van skandaal tot skandpaal- ‘n tweede kans?

Daar is sekere nuusberigte wat nou maar elke Donkie se aandag elke keer sal vang. Hierdie week was dit toe nooit anders nie. As daar in die  hoofstroom nuus iets van ‘n Pornstar gesê word, dan is ons spesie mos maar nuuskierig.

Ek het die eerste keer hiervan gehoor op die Huffington Post se tweet.  Ons sal dit maar gebruik as die teks vir vandag se preek…

1. Die Skandaal

 In Oxnard, Kalifornië, was die kinders van die  Haydock Intermediate skool so bevoorreg om ‘n pragtige biologie juffrou te hê. Juffrou Stacie Halas. Sy met die lang blonde hare… 

ab miss Halas

Foto: dailymail.co.uk

So sit die seuns toe eendag in die Biologie klas.  Die les het seker oor die menslike voortplanting gegaan, met daardie sketse in die Biologie boek wat ‘n mens so laat bloos voor die meisies.   ‘n Man wil mos graag meer ook weet, aangesien jy nou 16 is, en as jy net die biologieboek sien, dan gebeur daar allerhande fisiologiese gebeurlikhede. My dogter het onbewus vir my die regte naam daarvoor gegee- dit kom glo uit die manier waarop ‘n mens in Graphic Design kaarte plat maak van die ronde aardbol af… “Vertikale Ekspansie…”  Nou ja, elke hoërskoolseun ken Vertikale Ekspansie baie goed, maar dit het gewoonlik niks met die wêreldkaart te doen nie…

Nou ja, so sit die jong lustige menere in Juffrou Halas se klas. Weens die wonder van die moderne tegnologie het elkeen van hulle ook ‘n slimfoon, wat aan die internet gekoppel is. Hierdie internet word dan gebruik vir opvoedkundige doeleindes, sien… Soos om daardie biologie ‘n bietjie beter te verstaan.  Die skets in die biologieboek is oud, en hulle het juis in die biologie kort tevore van evolusie geleer. Nou wonner daardie seuns- heel akademies natuurlik- het dinge nie dalk verander in die anatomie weens die evolusie nie?  Kom ons gaan google DIT.   EN so, in juffrou Halas se klas, kom hulle toe heel onverwags op ‘n reuse skok af.  Oulike juffrou Halas het so bietjie vakansiewerk gedoen na universiteit. Studielenings moet terugbetaal word, rentekoerse is hoog, die Amerikaanse droom is duur. En nee, sy was nie ‘n kelnerin by die Spur nie.  Daardie seuns het selfs agtergekom waar kom hulle pedagoog se naam vandaan: “Juffrou, Hal as sseblief nou die res van jou klere ook af, ons wil begin… kamera gereed, aksie…”

Ek wil nou nie weer in die Kilo Alfa… kom nie asseblief mense, hierdie is ‘n biologieklas van die hoogste pieke…

Juffrou Halas is toe ook, volgens die seuns se slimfone, op ‘n dag lank lank gelede Tiffany 6 gewees…  Sy is ‘n aktrise, van daardie tipe waar daar nie ‘n groot begroting vir kostuums is nie.

aamiss tiffany 6

foto:dailypost.co.uk

In die biologieklas het die seuns weens hulle indringende navorsing bevind dat: a. Die antieke sketse in die biologie boek is inderdaad anatomies korrek. b.  die evolusie het nog nie intussen veel daaraan verander nie. c. hulle juffrou is ‘n kenner op die gebied- ‘n mens kan sê sy is uitstekend in biologie prakties.

Opgewonde oor hulle so baie by die skool leer, haas hulle hul na die skoolhoof toe om hom die goeie nuus van hulle akademiese vordering te gaan meedeel.  Hulle het seker maar gestamel en gestotter oor die akademiese bronne wat hulle gebruik het, toe sex.com was en nie wikipedia nie.. Die skoolhoof  sê toe: “Menere, kom tot die punt…”  en toe het hulle. Die skoolhoof was ook heel verbaas, hy het nie geweet dat sy biologie juffrou so goed gekwalifiseerd is vir haar Vak (Afrikaans asseblief!) nie.  Hy deel dit toe met sy Voorsitter van die Beheerraad, en dié oom het ook die DVD in sy versameling, maar sê niks. OP die volgende Beheerraadsvergadering, die buitengewone ene wat ‘n uur later plaasgevind het, stel hy voor: Hal asseblief vir Juffrou Stacie van die personeel af…    Daar is ‘n lelike slang in die gras by haar..

En so het Juffrou Stacie toe haar werk verloor by die Rolling-in-the-HAy skool van Osknaters in Kalifornië. Sy was oorgekwalifiseerd vir haar Vakgebied…

Dit het die Donkie diep laat nadink, aangesien ek ook op ‘n skool se Beheerliggaam ‘n stoel gevind het.

2. Die Skandpaal

O liewe hemel, daar is stoute lesers by hierdie onskuldige jong Donkie se blog vanoggend. Julle het weer die Pornstar raakgesien en niks anders nie!  Die Donkie kan ook nie eers weg wees vir ‘n ruk nie, dan ruk julle hande uit!  Julle dink al weer Lolly Jackson en Teazers se paal… Nee liewe mense, dis nie wat die skandpaal in hierdie konteks beteken nie.

In Grieks is daar die woord Stauros- die skandpaal, beter bekend as die Kruis….

Aan ‘n kruis, 2000 jaar gelede, is daar betaal vir alle stukkende mense.  As ‘n mens die lewensverhaal van Jesus lees, dan sien ‘n mens dat die goeie mense van destyds baie kwaad vir Hom was. Hy het nie saam met die heiliges uitgehang nie. Sy vriende was die slegte mense. Die straatvrouens en die skelm tollenaars.  Hy het hulle geselskap baie meer geniet, want Hy het gekom om herstel vir stukkende mense te bring. ‘n Tweede kans, ‘n nuwe lewe…

Ek weet nie hoe gelowig die Beheerliggaam van Hoërskool Osbal in Kalifornië is nie. VAn die wêreld se indrukwekkendste kerke is daar- Saddleback van RIck Warren, die Chrystal Cathedral van die Schullers…  die oorspronklike Mosaiek gemeente, en Rob Bell sluip ook daar rond. Daar is baie godsdiens in Kalifornië.

Juffrou Halas het probeer verduidelik: dis lankal nie meer wat sy doen nie. Sy het verander. Sy wou op ‘n eerbare manier in die sweet van haar aangesig haar brood verdien.  Maar sy is weggegooi. En die hof het ook beslis- solank daar 1 enkele kopie van haar vryskutwerk in die wêreld is, gaan ‘n akademiese reus van ‘n hormoongedrewe tienerseun daarop afkom en nie meer oplet in die klas nie. Daarom- haar verlede diskwalifiseer haar om ‘n toekoms te mag hê…

Dis wat my nou so aan die dink het.  Ja, sy het ‘n verlede. Maar magtag man, sy probeer haar bes om ‘n verskil in ‘n gemeenskap te maak.   Ek dink sy is baie verkeerd behandel in die proses.  Ek is in die Genadebedryf. Ek glo aan tweede kanse. EK glo aan nuwe lewe.  Ook vir Juffrou Halas…

3. Om die Paal te haal… 

Nee, man julle dink alweer verkeerd. Ek het nie gesê “op die paal” nie, alhoewel die loon van die sonde gewoonlik êrens lastige gevolge kan inhou!

Paulus het dit so mooi vir my gesê: “Ek maak my los van wat agter is, ek strek my uit na voor om eerste die wenpaal te bereik… ”

Ek persoonlik dink: elke mens het ‘n agterkant. Agter elke mens lê stukke geskiedenis waarop ons nie trots is nie. Elke mens maak foute. Maar ek glo ook aan die vryheid wat die Here vir elke mens wil bring van jou verlede. Die heelword van jou seer.  Ek glo vas aan genade en ‘n nuwe begin vir elke mens.  SOdat ons elkeen voluit kan leef, en die wenpaal kan behaal… ????????????????????

Dis wat ek vir juffrou Stacie Halas gun… ‘n tweede kans, en ‘n nuwe lewe…

Ek dink die skool en die hof was verkeerd in hulle optrede…

Om te ês, of nie te ês nie, vra die Wikkelspies…

Ek en kollega gaan kuier vanmiddag by ‘n legendariese biker/blogger. En die twee vat my toe sommer net daar aan oor ek so Ingels geword het deesdae, en nie meer die Afrikaans gooi nie. Hulle wil graag sien dat die Donkie soos Lasarus maak, en uit die dood opstaan…

Die Donkie weet nog nie of dit so goeie idee is nie.  Dis wat die laaste keer in die Donkie se lewe gebeur het…

OL-Donkey-CartSo hierdie is nog nie ‘n lewendige Donkie nie. Hierdie is ‘n Dooie Donkie wat gewonner het of dit darem lekker sal wees om vir ‘n slag te lewe…

Dooie Donkies kan nie dink nie.  Mense skop nie dooie Donkies nie…    Maar dalk het die Donkie gevoel hoe voel dit om ‘n Perd te wees, en skop hy nou terug waar nodig, sou daar wel ‘n ressureksie  van ‘n aard plaasvind…

Laat ‘n mens Dooie Donkies lê? Of moet lui Donkies opstaan?  Wat dink jy?