Die ambivalente dichotomie van teleurstelling…

Hierdie ene moet ek maar in Afrikaans skryf, en heel waarskynlik uitvee ook voor ek waag om die Publish knoppie te druk…

Ek het by een van die lewe se groot kruispaaie uitgekom. Vanoggend was Die Telefoonoproep wat alles kon verander…  En toe hou die pad net reguit aan, sonder enige verandering.

Ek weet eerlikwaar nie hoe om daaroor te voel, of wat om daarmee te maak op die oomblik nie.

2013-06-13 08.23.14

Aan die een kant:

  •  Ek is in ‘n gemeente waarvoor ek baie lief is. Ek het vandat Die Spanning op die toneel verskyn het, dikwels na die mense voor my gekyk, in die erediens, in die bybelstudie, in die gemeente ete, en geweet dat ek baie lief vir hierdie mense en gemeenskap is.
  •  Die gemeente waarin ek is, kyk baie goed na my- ek woon in ‘n fantastiese huis, met die lekkerste braaiplek wat ek ooit kon verwag…
  •  My kinders is op ‘n baie sensitiewe stadium, een in Graad 11, en een in Graad 6, albei het dalk die potensiaal om volgende jaar leiers van hulle skole te wees.  My dogter maak einde volgende jaar klaar met haar studies.
  •  Dit sou bitter moeilik wees om veral my Graad 11 seun in hierdie jaar na ‘n totaal nuwe provinsie te skuif.
  •  Ek kon nie nou enige finansieële “knocks” vat met universiteitskostes van my dogter nie.
  •  Ek is baie lief vir die Bosveld
  •  Ek geniet dit baie om by die Hoërskool betrokke te wees
  •  Daar loop nog ‘n paar rooibokke rond wat ek moet gaan adresseer, en dalk eendag ‘n koedoe ook…
  •  My lewe op die oomblik is baie gemaklik, en baie terreine daarvan is lekker uitgesorteer…

Die Spanning

  •  Ek het in 2006 saam met ‘n baie goeie vriend die erediens van die gemeente in XXX  in die Kaap bygewoon. Ek het regtig net ervaar hoe daar ‘n roepstem van hierdie plek af uitgaan, wat ek nog nie voorheen by ander gemeentes beleef het nie.
  •  Ek het geweet ek moes aansoek doen vir hulle huidige beroep in die Kerkbode, anders sou ek ongehoorsaam wees.
  •  Toe ek my motorfiets in die Kaap gaan haal het, was ek verras toe ek vir ‘n onderhoud genooi word, en “toevallig” in die Kaap was daardie tyd, ek het eerlikwaar gedink hulle het al lankal ‘n beroep op iemand anders uitgebring.
  •  Ek was nog meer verbaas toe hulle my en my vrou nooi om by hulle te gaan preek as deel van die korter lys van 4 kandidate…
  •  Vandat ek gehoor het ek is op die kortlys op ‘n plek wat ek ‘n vreemde dog aangename gevoel oor het, was daar groot spanning in my- om al die redes hier bo onder die “eenkant” lysie en nog meer- ek voel veilig in my huidige omstandighede…   Ek was heeltemal gereed om vir die Here Ja te sê as daar ‘n beroep na die vreemde en verre Kaap sou wees.   Maar ek kon ook nie sien hoe ek dit sou bekostig om daar te wees nie, dit sou ‘n geloofstap van epiese proporsies van my kant af verwag… maar ek was vreemd opgewonde oor die potensiële uitdaging.
  •  Ek is so bang my huidige gemeente interpreteer wat gebeur weer soos ‘n vorige kollega dit gedoen het: dat hulle die indruk sou hê dat ek nie meer HIER wil wees nie, nie meer vir HULLE omgee nie, want dit sou glad nie waar wees nie…

Aan die Ander kant:

  •  Ek is al 19 jaar waar ek nou is.  Ek het in ons Ring al ‘n paar voorbeelde gesien van leraars wat te lank op een plek gebly het, en later hulle dryfkrag verloor het/ uitgewerk is deur gemeentes…
  •  Ek is so bang dat ek in ‘n groef beland, en niks nuuts meer het om my gemeente te bied nie.
  •  Ek is so bang dat ek verstok raak, en nie meer oop is vir verandering en om nuut te dink nie…
  •  Daar is sekere probleme waarvoor ek nie die oplossing in ons gemeente is/ het nie… soos die Sending- ek maak dit nie daar nie, en ek weet dit…
  •  Daar is ‘n groot klomp mense wat baie naby aan my was, wat uit die gemeente oor die jare bedank het. Dit bly meer word. En elke keer maak dit ongelooflik seer. My beeld van ‘n gemeente is dat dit ‘n huisgesin is, en daarom maak gesinslede se bedanking elke keer nuwe skade… daardie las word al hoe swaarder en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie. Ek sou so graag nuut, vars en skoon  wou begin…
  •   In 19 jaar stel enige iemand mense teleur, ek het ook. Daardie mense gaan so jammer wees om te hoor ek bly…
  •  Ek was so lus om alles in my lewe te heroorweeg soos wat ek die ou lewe sou oppak, om nuut te gaan begin elders…

Daarom: die Vrae van vandag:

  •  Hoe het ek die Here se stem so verkeerd geïnterpreteer oor die plek?
  •  Wat wil die Here graag hê moet ek nog vir Hom bereik waar ek is?
  •  Ek weet ek moenie, maar ek wonder tog: wat is fout met my dat sommige van my klasmaats al by hulle 4e gemeentes trek, en ek is nog steeds in die gemeenskap waar ek begin het in die bediening?
  •  Ek weet ek moet in elk geval iets leer uit hierdie proses uit. Ek wil in elk geval ‘n klomp dinge in my lewe heroorweeg en nuut oor dink: Beginnende by my gesondheid en fiksheid, die beplanning van my werk, die beplanning van huidige bedieninge waarvoor ek verantwoordelik is. Iets moet verander, dit lyk of dit EK is.

Die Toekoms:

  • Ek IS baie lief vir my huidige gemeente. Ek is steeds geroepe om HIER te wees, en ‘n verskil te maak.  Dit sal my herverbintenis wees, om my alles te gee om ‘n verskil HIER te maak.
  • Ek sou so graag meer effektief wou raak in die uitleef van my gawes.
  •  Ek sou so graag wou ervaar dat ek ‘n verskil in mense se lewens maak.
  •  Ek kort dringend ‘n nuwe uitdaging in die lewe…

Ek gaan dit tog waag om die publish knoppie te druk, dalk meer net vir myself om êrens ‘n rekord van vandag se worsteling te hê, en iets te probeer leer uit wat gebeur… So askies dat hierdie ene in die kuberruim rondlê, die Donkie is net lekker verward en moet dit uit die sisteem uitskryf…

As enige pêrels van wysheid in jou gedagtes opskiet as jy hierdie deurmekaar gebrabbel gelees het, deel dit maar met my…

Die Donkie

35 thoughts on “Die ambivalente dichotomie van teleurstelling…

  1. “Hoe het ek die Here se stem so verkeerd geïnterpreteer oor die plek? ”

    Was Abba nie dalk besig om te kyk of jy wel luister nie Donkie?

    Antwoorde het ek nie, maar jou wroeging en vrae verstaan ek regtig

  2. Ai Oom donkie. Ek het ook nie lekker antwoorde nie. Dink aan jou.

    Ek het baie gebid dat God se wil sal geskied in hierdie ‘spanning’. Ek glo dit het.

    Eendag sal ek en jy hier in die kaap met ons motorfietse erens heen ry en n koffie gaan drink by Rooiels en die dinge diep en ernstig bespreek.

    Sterkte met die vrae en soeke na antwoorde. En die veranderinge.

    God bless. (dit klink na n cliche. Ek bedoel dit opreg. Mag jy ook in hierdie ervaring uit jou sokkies uit gebles word.)

  3. Ek het so baie wat ek vir jou kan en wil sê. Die Here dink nie jou werk is al klaar daar waar jy nou is nie – al verstaan jy dit nie nou nie. Dalk wou hy jou net eers toets met die afgelope gebeure, om te kyk of jy teen alle logika en finansiële situasies in, tog sal luister. Jy het geluister. Maar dalk is jou tyd nog nie Sy tyd nie. Ek dink nie jy moet jouself meet met die ander kollegas wat al by hulle 4de gemeentes trek nie – dis vir seker nie die beste maatstaf nie. Ek dink jy het net soveel en meer bereik in jou beroep. Jy het net HIER op die blog al meer bereik as baie ander dominees. Ek het daardie Sondag na jou gaan luister en ek is daar weg met ‘n nuwe gevoel van vrede in my hart. Hoe sal jy weet waar jy al lewens en harte aangeraak het? Jy doen wat jy moet en jy doen dit goed, glo my maar. Nou moet jy verder vorentoe in geloof en weet vir nou is dit waar jy nog moet vertoef. Hou vir eers op vra en leef in die oomblik.

  4. Wat Vlooi sê het by my ook opgekom…. gehoorsaamheid aan Sy Stem; waar Hy lei sal jy gaan. Daar is meer in my hart, maar ek het genoeg gesê. Ek bid vir jou…. en daarmee bedoel ek… ek bid vir jou.

  5. Hy toets jou, Ewald! Jou antwoorde sal jy nog kry! En dit sal skielik, sonder voorbereiding, onverwags wees!! Jy sal sien!!

    • Dankie Marelize, maar dis nie dat ek wil WEG nie, dit was hierdie PLEK waar ek ‘n roepstem gehoor het, en dit verwar my so bietjie. Ek is nou heel gelukkig dat B en S hulle skoolloopbane klaarmaak in hulle twee skole waar hulle nou is…

  6. Mmmmmmm, ek ken hierdie ding. Nou nie die ding soos wanneer jy ‘n ds is en beroep word nie, maar daai ding wat jy vooraf “weet” maar wanneer jy daarmee konfronteer word jy amper die teenoorgestelde doen. Want ons mense is mos emosionele wesens op tye.

    As vereenvoudiging:

    Die Here het met jou gepraat oor daai plek en wat daar moet gebeur. En nou het Hy harder gepraat (beroep). Wil mens werklik hê Hy moet nog harder praat? Die ander dinge, soos met Sy dissipels toe Hy hulle geroep het, is dinge wat nie mens se besluit moet beinvloed nie. Daai dinge sorteer hulself uit.

    Ek het al te veel keer in my lewe probeer stry met God. Selde het dit vir my uitgewerk. En met selde bedoel ek nog nooit.

  7. God toets ons gehoorsaamheid op baie maniere,hy wil sien of ons bereid sal wees om die pad te stap wat voor ons op die tafel is.Wanneer dit dan nie gebeur nie moet ons weet dat Hy iets beters vir ons in gedagte het . Woon en werk rustig voort is sy opdrag ,Hy sal ons skuif wanner Hy dit nodig vind. Niks gaan oor ons nie .ALLES gaan oor Hom.

  8. Soms moet ‘n mens wroeg.

    Aan die een kant is ek jammer dat jy nie die geleentheid gekry het nie. Aan die ander kant is ek bly vir jou dat jy kan bly waar jy is.
    Miskien was die hele “proses” om vir jou te wys “Ou donkie, jou werk is nog nie klaar nie, en ten spyte van wat jy dink, is daar nog soveel aan (in) jou wat jou “begeerlik” maak vir ander gemeentes, anders het jy nooit daardie kortlys gehaal nie”….

    Soos vlooi hierbo se, ek het nie antwoorde nie…
    Ek het ook netnou so ‘n oproep ontvang, aan die begin van ‘n proses…
    Nou moet ek weeg, vat ek die kans en plaas ek my droom in iemand anders se hande, of se ek prontuit NEE en wonder of sou ek die paal gehaal het….

    Proverbs 3:5-6
    Trust in the LORD with all your heart and lean not on your own understanding; in all your ways acknowledge him, and he will make your paths straight.

    • Nou sou ek darem graag daardie Rooi-Els paadjie wou ry en oor ‘n koppie koffie hoor wat jy daarmee bedoel… 🙂
      Twee groot vrese: Die vrees vir verandering, en die vrees dat alles presies dieselfde gaan bly wat ek aan dink…

      • Daar is nog ‘n paar vrese wat ek sou hê in daardie posisie… ‘n vreesgedrewe besluit, wat spyt tot gevolg kan hê.
        Dan ook. Watter gevoel is in jou hart in elke omgewing? Waar voel jy ‘tuis’? (Onthou ek vra VOEL, nie beredeneerd nie…)

  9. Vergeet alles wat jy hierbo geskryf het. Daar is net een ding wat saakmaak. Jou verhouding met God. Connect met Hom, bly naby Hom en maak alles binne skoon en stil. Simplicity, solitude, silence en surrender. Dit moet stil genoeg wees om te hoor wanneer Hy vir jou sê; “My kind, Ek weet wat die beste is vir jou, wees stil en wag, ek weet wanneer die tyd reg is.”

  10. Jou werk is nog nie voltooi waar jy nou is nie. God het sy tyd en doel met alles. Ons moet dit aanvaar.

    En ja, dis ok, ons mag maar wroeg en wonder. Ons God verstaan presies ons gevoelens en het heeltemal begrip daarvoor, glo ek. Ek dink hy het ‘n goeie humorsin en smile baie vir ons…

  11. Donkie ek weet hoe jy voel want ek het net oor die 2 jaar terug ook voor n kruispad gestaan. Daar wes wonderlike geleenthede wat gewink het in 2 verskillende stede en ek het al klaar besluit waarheen. Toe maak die Here al 2 daardie deure toe en ek moes my 3de en, volgens my my slegste keuse maak en na hierdie dorpie kom. Ek het regtig nie geweet wat ek hier maak nie, maar die Here het my gelei, gewys, gehelp en ek is so dankbaar om hier te wees en Hy is besig om die ongelooflikste deure oop te maak. Al verstaan jy nie al wat ek kan se is vertrou op Hom want Hy weet wat nog hier gedoen moet word. Maar een ding moet jy baie mooi verstaan – jy maak n wonderlike verskil in baie mense se lewens. Jou liefde vir jou medemens straal uit jou uit. Ek bid vir jou vir berusting en weet jy is naby genoeg aan jou Vader om Sy teenwoordigheid en krag te ervaar.

  12. ai man, ons harte is mos saam met jou, jy weet. jammer om te hoor man. ons is ook natuurlik vir selfsugtige redes nog meer teleurgesteld.

    ai ai – hierdie is seker maar ‘n gesprek wat ‘n mens face to face moet he. ons gaan ook deur so baie goed en dis vrek vrek moeilik om nie vrae te vra nie – basically wtf?? 😉 en ja, ‘n mens raak ook moeg vir die Here toets jou en al die mooi geykte woorde (sorry, ek trap dalk nou op tone) – ek glo in al hierdie goed, weet hoe dit werk, ken al die “regte” antwoorde, maar partykeer is ‘n mens op ‘n plek wat mens nou nie lus is vir ‘n prekie nie – en ook nie cliches nie.

    ek weet nie donkie – ek dink gaan maar deur die proses van vrae vra en worstel en soms so effe vloek ook en so – ek dink dis ook okay. ‘n mens kom ook weer daaroor – die seisoene jy weet, bleh.

    sterkte – dink aan jou.

  13. Ek het eenkeer so n kruispad bereik na 20 jaar by n skool Ek besluit toe verandering kan net goed wees. Ek was een week by die nuwe skool toe gaan ek terug na my ou skool toe. Die week weg het my nuwe perspektief oor my lewe gegee . Ek het het met nuwe ywer my werk voortgesit by my ou skool en gesien die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. Jy sal maar self moet besluit . Sterkte!!

  14. Dis dood natuurlik dat jy deur al hierdie worsteling gaan. Jy is net so mens soos enige van ons!Ek is nogal spyt dat jy nie Kaap toe kom nie. Maar nou ja! Uit my oogpunt………….die Here het groter dinge vir jou. Jou werk is nog nie klaar nie. Mettertyd sal jy dit beleefe en dan sal jy weet. Sterkte vir jou en ook jou gesin. Ek dink aan jou! Erna

  15. Ewald, jy het GEEN idee hoe bly is ek dat jy nog met ons gaan wees nie! Ek dink jy onderskat heeltemal HOE belangrik jy vir ons is en watse GROOT rol jy in ons tieners se lewens speel nie! Hoop jy kry rustigheid en weet net ons is baie lief vir jou!

  16. Pingback: Die familie se antwoord- ons keuse… | Bileam se Donkie

  17. Liewe Donkie…
    Ons ken mekaar nie, ek weet nie by watter gemeente jy is nie en ons bly nie eers in dieselfde land nie, maar ek lees gereeld jou blad.
    Toe ek die post lees het ek net gevoel ek moes iets se… Noem dit seker maar die Heilige Gees se stem…
    Maar Abraham moes vir Isak gaan offer. Hy het alles reg gehad, teen ‘n berg uitgeklim en alles mooi gereel in plek gehad. En (seker tot Isak se verligting) toe gebeur dit nie.

  18. Ek is nie seker van die antwoorde nie.
    Ek dink egter jou vrae is baie goed verwoord.
    Miskien is dit die eerste stap, dalk die tweede.
    Maar moenie die vrae laat ontsnap nie.
    Ek vertrou nie diegene met maklike / vinnige antwoorde nie.
    Ek bevind myself meer in Prediker se geledere as dit by die soort goed kom!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s