‘n Harde week van grondpad ry… Gatvol blog, moenie lees nie…

Hierdie week is hopelik nou amper verby. Ek het lanklaas in my lewe so ‘n uiters moeilike week beleef soos hierdie een.

Dit het begin met die begrafnis van ‘n man in ons gemeente verlede Saterdag oggend. Ek en hierdie man het mekaar verstaan- ons albei het van motorfietse gehou, ons het dieselfde smaak in boeke en musiek gehad.  Dit is nie lekker om mense te begrawe nie.

Nog ‘n man in ons gemeente het die nuus gehoor dat sy kanker nou na sy longe en lewer toe versprei het, en die dokters praat van 6 weke lewe wat oor is.

Ek het gisteroggend ‘n jong moeder op ‘n plaas in die Bosveld begrawe.   En al is dit die mooiste setting waar ‘n mens begrawe kan lê, sou ek haar soveel eerder in haar kinders se arms lewendig tuis wou sien! 2013-06-21 12.28.01

Al bogenoemde dinge was erg om te beleef in dieselfde week. Maar in al daardie gevalle kon ek voel ek help mense, dat ek daar was vir iemand in nood, en net die seer van mense so klein bietjie kon help dra…

Maar waar ek dit verloor het hierdie week, was by die Ringsitting.  Ons het Dinsdag as leraars informeel bymekaar gekom. Dit was lekker. Maar Woensdag saam met die kerkraadslede in die formele vergadering…   Dit het vir my ‘n baie slegte ervaring geword. Ek wil nie baie oor die inhoud van my ongemak uitbrei nie. Ek dink net die kerk se hantering van proponente stink. en ek is jammer dat hulle dit moet beleef in die “meerdere vergaderings”.  Ek is so moeg vir die institusionele kant van die kerk, waar alles so ordelik en netjies volgens vergaderingsprosedure moet geskied. En goeie dinge wat ‘n reuse verskil kan maak, sommer met ‘n ordemosie van die tafel af gevee kan word, of uitgestel word na volgende jaar se ringsitting toe… Ja, die ringskommissie gaan intussen daarna kyk, die betrokkenes gaan saam vergader (en ek is nie een van die betrokkenes hier nie…) Die boodskap wat uitgedra is teenoor die jongste lid van die vergadering is: Ons gee eintlik nie ‘n hel om nie.   Al kan ons dit met sulke mooi woorde probeer sê. Dan wonder ons hoekom  die tradisionele kerk op pad uit is…  Die klokke lui al lankal, die pasiënt is in ICU, maar ons gaan rustig voort, die Kerkorde sal ons mos beskerm teen die Chaos…

En toe ek terugkom van die RIngsitting, kry ek die epos van die verslag van die Emosionele Intelligensietoets wat ek moes aflê voor my prekie in die Kaap. En dié toets het ek duidelik gedop. Ek het vroeër die week dit vir ‘n aand op die blog gehad, maar weer uitgevee. Die toets het net ‘n klomp ou wonde in my hart weer kom oopkrap.  Daar is ‘n hele paar dinge wat ek weet waarmee ek sukkel in die bediening. Ek het oor jare baie werk daarvan gemaak.  Nou kom ‘n EI toets, en vra 104 vragies- watter een is die meeste jy, watter een is die minste jy?  Daar is nog steeds dinge wat ek meer van hou as ander dinge. Daar is sekere vrae wat glad nie ek is nie, maar ek moet kies en een meeste en een minste werk. Die uitslae kom genadeloos- as ek na die resultate kyk, sou ek myself nie eers wou huur nie.  Geen leierskap potensiaal nie. Druk nie deur met projekte nie. Kan nie aanpas nie. Luister wel goed na mense…  My interpretasie: ‘n regte slapgat…   Ek beleef dat daardie toets my finaal sou gesink het in die beroepingsproses.  Maar ek het gebid dat die regte ding sou gebeur- ek weet nou dat hierdie beroep nie vir my beskore was nie. Maar daardie verslaggie sink my hierdie week in die donker dieptes in.  Ek hou nie van leiding neem nie, dit is waar. Maar ek dink ek kan.  Ek voel nie altyd daarna om deur te druk met iets nie. Maar ek dink my track record sê anders…  Ek was nog nooit goed met Emosionele Intelligensie toetse nie…

Die een ding wat ek weer baie oor wonder, is die aanhaling wat Stephan Joubert eendag gemaak het, en ek kan nie onthou wie dit oorspronklik geskryf het nie- ‘n Man het in die verre Ooste die verskillende godsdienste gaan bestudeer. En dié persoon het die opmerking gemaak: “Every time I see a Buddist priest, I see a holy man. But every time I see a Christian pastor, I see a manager…”

Dit, liewe vriende, is die punt van hierdie gerammel wat ek net van my bors af wil kry, en more dalk weer ‘n keer gaan uitvee. Ek is nie ‘n goeie bestuurder nie. Ek hoef ook nie te wees nie. Paulus het gesê die Ouderlinge is immers die bestuurders van die huishouding van God.  Ek doen my werk omdat ek graag vir mense wil omgee, en saam met hulle ‘n pad wil stap.  My verstaan van die kerk is dalk anders as wat al die gemeentes wat beroepe in die Kerkbode adverteer, wil hê.  Ek wil vir die Here lief wees, en vir mense lief wees. Soos die oorspronklike roeping wat die Here my mee geroep het om in sy diens te staan.  Dis wie ek is- ek het jare lank daarteen baklei, maar ek is nou moeg vir die stryd in myself. Ek gaan nou maar aanvaar wie ek is, en myself ten volle uitleef in dit wat die Here wel vir my gegee het om mee te werk.

Ek hoop volgende week lyk beter!

Ek hoop nie jy het toe hierdie gemors gelees nie!

Die Gatvol Donkie…

17 thoughts on “‘n Harde week van grondpad ry… Gatvol blog, moenie lees nie…

  1. Bly ek kon lees voor dit uitgevee word… EI !!! Liewe vaderland … Ek kan nie glo dat dit deesdae ‘n vereiste is om die Woord te verkondig nie… of wag miskien weet ek ook niks van dinge en doendinge en vereistes in Binnekringe nie.

  2. jy weet wat wat ek van hierdie tipe goed dink … ai jong, my hart gaan uit na jou toe. manlief stuur ook groete … hy sou nou vir jou message, hoop jy kry dit.

    ai jong, die belangrikste is dat jy jouself is – al is die “resultate” nie altyd lekker nie – ek het ook my hele lewe daarmee gesukkel. ten minste is jy ‘real’, want glo my, ek sien baie vinnig deur ‘fake’.

    jy bereik baie mense ‘daar buite’ – dit belowe ek vir jou !!

  3. Ja. Ek het gelees. En ek verstaan. Want ek dop ook die toetse.
    Weet jy, Donkie, al wat ek dink God van Sy kinders vra, is dat hulle ‘n passie vir Hom en vir Sy mense moet hê. Ons hoef nie goeie bestuurders te wees nie (daar is ook vir hulle werk). Ons hoef nie noodwendig als wat ons begin, klaar te maak nie. Want dalk besef ons dat ons ons tyd met ‘n ding mors, so waarom klaarmaak?
    Ek glo, as God nou ‘n vraelys sou uitstuur, jy dit met vlieënde vaandels sou slaag. net oor een ding. Jy het Hom lief. en jy het Sy Seun lief. En jy Het jou naaste lief.
    Wat is die grootste gebod? “Jy moet die Here jou God met jou hele hart liefhê, en jou naaste soos jyself.”
    Jy doen. 🙂
    Sterkte ou maat.

  4. Mag ek maar nog ietsie sê? Ek het so 5 jaar terug besluit om “ek” te wees. Dit beteken dat ek bont by bont by bont sit, beslis nie soos dit behoort gedoen te word nie. Ek is weer mal en vreugdevol, nie so netjies en ordelik nie. Ek sê verkeerde goed op verkeerde plekke.
    Maar raai, skielik gaan dit baie beter met my! Want die “hulle” wat die reëls maak, weet ook maar nie.
    Geniet dit om JY te wees! Dis hoe God wil hê jy moet wees. Die beste Jy wat daar kan wees.
    Groetnis

  5. Ewald, those tests are there to put you in a box, the right box.And God NEVER ordained boxes,no it is the devils work. So I conclude you are a very good pastor.The institution will die, but the church , the body of Christ will live.Jy gaan wel naar die Kaap jong.

    • Dankie Marjolijin! Dit wil blyk of die Here my vir eers wil hou waar ek nou in die Bosveld is, hierdie mense het my aanvaar soos wat ek is, en ek is ook baie gelukkig hier. Maar baie dankie vir die bemoediging!

  6. Ewald, ek voel jou innerlike en uiterlike stryd aan. Jy is ‘n baie bevoorregte man dat die LEWE (én sekere INSTELLINGS) jou as waardig genoeg beskou om vir jou die lewe moeilik te maak. Dit gebeur nie met slap kousies nie, net met besondere mense. Dus,

    “Dear Lord,
    give me clear vision
    that I may know
    where to stand
    and what to stand for,
    because unless
    I stand for something,
    I shall fall for anything.”. Peter Marshall

    Wees rustig want jy weet waarvoor jy staan.

  7. My wantroue in boksies waarin mense so netjies moet pas, neem toe hoe ouer ek word. Die probleem met ‘n boksie is dat hy die persepsie by ‘n mens self skep dat wat in die boksie is die enigste begeerlike kenmerke is. Ek het myself al bevind in situasies waar almal leiers is wat daar net mooi niks gebeur het nie omdat die spul leiers elk in sy eie rigting in voeter. Of waar ‘n taak ten alle koste deurgevoer moet word al is die ding uit die staanspoor ‘n vrot idee. Jammer dat jy ‘n slegte week gehad het. Hoop die volgende ene is baie beter.

  8. You told of your soulful struggles in such a heartfelt way. It carried the hearts and minds of many of us who battle uphill through refined dismissiveness and bashing cruelty. A true shepherd is in the field with his sheep – herding, guiding and stopping with the halting and the lame. His own struggles and tears are transparent and are an encouragement for sinners and saints alike. There’s no “circle” or “lock” that can justifiably favour or demean those who deserve the blessing of God and his Universe. Those called to spiritual service come in the image that we need so we can recognise them beneath the burden of our own struggles; and so we can share our joys freely with them. Have courage on your path ahead! You have carried many and lifted us on your shoulders. Thank you and God bless you.

  9. Ek en Wyseman het as studente ons kerk se vergaderings bygewoon en die manier hoe hulle besluite geneem het, was een van die oorsake dat ons later uit die kerk as instelling is. Die kerk (as institusie) se grootste probleem bly ‘judgement’. Vandat ek Philip Yancy se boek “What’s so amazing about Grace” gelees het en ons self baie ‘judgement’ ervaar het in ‘n Christelike omgewing, leer ek so baie oor God se liefde en genade. Daar is basies 5 skill sets nodig vir ‘n organisasie om sukses te behaal, Manager, Entrepeneur, Luminary, Organiser en Networker. En dit sal NOOIT alles in een persoon voorkom nie, daarom is ‘n span nodig. Die sterk manager word aangestel vir sy management skills en gefire agv sy persoonlikheid wat nie goeie people skills insluit nie. Die netwerker (mensemens) word aangestel agv sy goeie menseverhoudings en gefire omdat hy ‘n slegte manager is. Catch-22

  10. Julle gemeente het die Lemon Leadership aanbieding nodig wat organisasies leer om die beste te maak van elke persoon se sterk en swakpunte.

  11. The only advise I want to give is a quote frome a song by a former Dutch satirical duo, Vam Kooten & De Bie. But in this case the form may have been (slightly) satirical, the message certainly wasn’t:
    “Zoek jezelf, Broeder. Vind jezelf. Wees en blijf alleen jezelf”
    ( http://www.youtube.com/watch?v=xHHlTv5l2I8 )
    (PS: With little imagination and phantasy I can read and understand Afrikaans. Can’t write it though 🙂 .)

  12. Maar die grootste hiervan bly die Liefde, en daarvan het jy genoeg, Oom Donkie. Vir gee, maar ek wil ook glo vir kry. Daardie proponentjie het waarskynlik ook jou omgee ervaar. Iets wat hom moontlik (hopelik!) in sy eie bediening sal bybly. Baie sterkte. (En neem uit daardie verslaggie wat jy as positief ervaar, laat die res verbygaan. Jy beteken baie vir baie mense net soos jy is.)

  13. Ek wil niemand se bestuurder wees nie, ek kan soms nie eers myself bestuur nie. MAAR ek weet my hart sit op die regte plek. Vir my medemens. Nes joune. Jou hart sit waar hy moet wees as dominee, en as mens, en as vriend. Enige kerk kan hul ou skoene agterna gooi om jou as dominee te kry. En eendag, as ek dood is, hoop ek jy sal my diens ook doen. Maar onthou, ek gaan veras word. En onthou, julle mag nie huil nie 🙂

Lewer kommentaar op Marjolijn Joosten Kanselleer antwoord