Die Boemelaar

Vanaand wil ek nou eers weer ietsie van my hart afkry, in Afrikaans, onder ons mense wat verstaan… 

Dit is skemer. By my palisade hek voor in die tuin het ek ‘n koeiklok opgehang. Gewoonlik as daardie klok lui, is daar… moeilikheid in Kanaän. Daardie klok lui gewoonlik Vrydagaande, maar dan hoor ek hom nie by my braaiplek nie. Njannies Koepêla. 

Vandag het ek so ‘n klompie besoeke afgelê. Ietsie is besig om te broei in my liggaam. Ek voel pap en moeg. Sal maar nie al die simptome beskryf nie, daar mag dalk net sensitiewe kykers wees onder ons… 

In elk geval, die klok word meteens woes heen en weer gepluk. Dit klink soos wanneer ‘n hondsdol hyena ‘n kalf aan die agterpoot beet het, en die kalf woes spartel en spook… 

Ek slaan my oë op na die voorhekkie toe, terwyl die son se laaste strale saggies speel oor die winterblare, en die koue nader sluip.  My moed sak in my skoene… dit is weer… ‘n boemelaar… 

Foto geleen by toquoteamockingbird.wordpress.com

Daar is iets geheimsinnigs aan die N1 roete, van Messina tot by Kaapstad. Ek hoor dit by al my predikant en pastoor maatjies langs die pad.  Die manne is weer aan die trêwwel.  Dis koud in die aande. 

Vanaand s’n stel hom plegtig voor, met ‘n handdruk. Soos al die ander sê hy dadelik: Dominee, ek is nie ‘n boemelaar nie… Hoe het hy geweet ek is ‘n dominee… o ja- rocket science, ek bly op die kerkterrein…

Dan volg Die Storie.  En Die Storie het ek al hoeveel keer in al sy gedaantes gehoor… 

Hierdie hartseer individu was êrens naby Messina in ‘n motorongeluk gewees. Sy kar is afgeskryf, en sy dogtertjie is dood in die ongeluk. Toe los sy meisie hom. Toe haaik hy maar Suidwaarts. In Pietersburg is hy aangeval deur Zimbabwiers, hulle het hom met ‘n baksteen oor die kop geslaan en met ‘n mes in sy arm gesteek.  Dit het hom vyf dae in die hospitaal besorg.  En nou het hy sy werk in Upington verloor, want hy is al ‘n week laat om aan te meld daar… 

Maar Dominee, het jy nie vir my iets om te eet nie… Weet jy broer, vanaand is daar op my spyskaart bruinbrood en weense worsies. Dis wat ons ook gehad het. Payday is nog ver, en ons was self die slagoffers van misdaad (my dogter se kar wat gesmash en grab is)… Ek kan net vir jou gee wat ons ook het. Brood en weense worsies. 

Dominee, maar dit is baie koud, het jy nie vir my ‘n kombers nie… Nee, almal is uitgedeel wat ek hier gehad het, daar is net dié oor wat op my kinders se bed is. As ek vir jou gee, slaap my kind koud vanaand. 

Dominee, het jy nie dalk vir my ‘n baadjie nie… 

En so word die eise al hoe groter en groter… 

Dominee, kan jy nie dalk help met geld tot in Upington nie…  

Ek het vir die broer van die langpad kos gegee vanaand. Dieselfde as wat ek geëet het.  Ek het vanaand niks meer om vir hom te gee nie. 

Maar ek sit nou en wonder oor ‘n paar dinge soos altyd. Jesus het in Matteus 25 gesê dit wat ons vir die minstes gedoen het, het ons vir Hom gedoen.  Hy was honger, en ons het Hom nie kos gegee nie, Hy was naak en ons het Hom nie klere gegee nie…   Sommiges het al engele gehuisves deurdat hulle gasvry was teenoor die vreemdeling in hulle poorte… 

Maar die broers van die langpad weet dit ook… Ons kerk is van die hoofpad af.  Hy is nie opsigtelik van die paaie deur ons dorp nie.  Hy stap langs drie kerke langs die pad verby na my huis toe. 

Ek het regtig nie meer geld oor tot betaaldag nie.  Dis nie eers einde van die maand Salticrax hier in ons huis nie.  Ek het regtig nie meer ou klere oor om weg te gee nie. Ek het niks meer ekstra komberse oor nie.   En daar kom letterlik tientalle van hierdie soort van my naaste na my huis toe… 

Die broer is baie ontevrede by my huis weg. Hy sê smalend mag die Here my en my gemeente seën…  Hy dink hy moet homself nou maar gaan ophang, want hy het nie meer ‘n mammie en ‘n pappie nie, sy kindjie is dood, sy beursie is weg, sy ID is weg, hy het sy werk verloor, alles wat hy besit is in die geel Shoprite sakkie by hom, en niemand gee meer om nie… 

Ek kan ook vir julle vertel van die florerende besigheid by die taxi rank in komberse en tweedehandse baadjies. en die ridders van die langpad wat baie graag by Tamsen se Bottelstoor opdaag… 

Maar… Koos Kombuis was ook ‘n boemelaar… 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

16 thoughts on “Die Boemelaar

  1. Daar is ‘n magdom broers wat ewers en oral rondswerwe wat ook al vir my moerig was oor ek so ‘n oënskynlike, en opreggeteelde, vrek is. My vrou soms ook, want christene (spesinjaal met ‘n kleinletter geskryf) maak mos’ie so nie… Die bedelbroers weet alte goed wat die Goeie Mense veronderstel is om te doen en nie te doen nie. Ek, verteenwoordigend van die onnoseles van onse wêreld, issie genoegsaam toegerus om die “opregte” bedelbroers van die “slinkse” bedelbroers te onderskei nie, en beskou alle bedelbroers as slinks. Ai, onse Hemelse Vader se gena’re is onophoubaar genaariglik – ook vir suinige (dom) donners soos ek en ook vir toornige bedelskollies. Ek hoop nie ek hang te veel aan daardie groot koeiklok van jou nie…

  2. Donkie, my persoonlike opinie is dat daardie boems wat op mens se gevoel speel, nie in Mat 25 genoem word nie, want Jesus sal Hom nie aan daardie hoon skuldig maak nie.

    Dat daar sad stories is, is verseker waar. Dat ek iemand wat so maklik derms uitryg met die Rooi See se sout vat, is ook waar.

    Ekself sukkel verseker ook oor sulke mense. Keuses. My keuse is om nie vir bedelaars te gee nie. My keuse is om te sorg dat ‘n kind wat in bibberweer sonder ‘n trui by die skool opdaag iets warms kry. My keuse, my verantwoording.

    • Daar is ook die ou teksversie wat sê die mense van Kreta is lui, vrate en wynsuipers, en wie nie werk nie moenie eet nie… dis seker hoekom die broers eers teen sononder by my aankom. Ek het juis weer so lekker lantana wat opkom en kort arbeid…

  3. Ken daai een van my kinderdae af. Hulle het op strepe by ons huis ook aangekom en ons het nie eens op die kerkgronde gebly nie. En soms is die toebroodjies met grondboonbotter en konfyt by die buite asblik weggegooi

  4. Ek is nou teleurgesteld. Baie. Nie oor die Donks niks meer as Weense worsies gegee het nie. Ek het op ‘n punt in my lewe gekom dat ek baie van my goed sommer net weggee. Verlede week het ook so broer by my aangekom in Naboom. Dieselfde storie. Vanaf die dogtertjie tot Upington. Hy is by my weg met ‘n kombers en kontantgeld. Nou is my skuldgevoel minder omdat die man my belieg het. Ek wens hom egter nog steeds ‘n veilige en vinnige reis Upington toe.

  5. Nee kyk.

    Ek het ook vir ‘n paar jaar van my lewe in ‘n pastorie gebly. En hy was nie eers naby die kerk nie. Maar hulle het presies geweet waar hy is. En die stories !

    Nee wag , kom ons los die ondewerp. Ek gaan net van voor af bemoerd raak.

  6. Ek wil die horriepiep kry as mense met Die Storie by my bakhandstaan.

    Sowaar ek gee waar ek kan, maar ek het ook net soveel dan is dit op. Dan die vermetelheid om mens skeef aan te kyk as jy durf waag om te sê : jammer, maar ek het regtig nie om te gee nie. Dit maak my metertjie diep in die rooi druk sonder terughou

    Nee wat DonkieDoom – as jou hart vrede het glo ek regtig ‘n mens kan en moet somstyds nee ook sê.

  7. Dis ‘n moeilike een hierdie, een met baie fasette wat mens van verskillende kante kan benader. Aan die een kant glo ek dis nie vir ons om te oordeel of besluit hoe waar die stories is nie. ‘n Storie is dit dalk wel, maar mens sal nie weet wat die persoon se geskiedenis is of wat gelei het daartoe dat die storie gebruik word nie? Ek glo ook die Here kyk nie of die persoon vir wie jy gegee het eerlik is of nie, maar eerder of jy bereid was om jou medemens te help. As daardie persoon oneerlik was sal hy/sy moet rekenskap gee, ons sal moet rekenskap gee oor ons bereidwilligheid om te help. Dis dan een van die kante. Dan is daar ‘n ander benadering. Met soveel van hierdie mense weet jy vir ‘n feit dis net ‘n storie. Hoekom dan vir hulle gee as mens eerder vir soveel ander mense kan gee wie nie noodwendig vra nie, maar wie jy kan sien regtig in die nood is en hulp nodig het? Die vraag is net, gee mens dan regtig vir daardie mense of is dit makliker om dit een kant toe te skuif en te ignoreer omdat daardie mense nie so in jou gesig kom vra nie? Dis maar ‘n taai een!

  8. eish ja, moeilik. ek kom mos uit ‘n sendeling huis uit, so ek ken van. ek is nog ‘n sensitiewe mens ook en wou my hele lewe deur almal rescue. maar dan kom jy op ‘n punt wat jy besef – nee, jy kan nie, en ek moet se, manipulasie werk ook lankal nie meer met my nie. ek moes maar leer om myself af te sluit, al is dit hoe moeilik. ‘n mens gee en help maar wanneer jy kan en wanneer jy gelei voel – that’s it.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s