Weekly Photo Challenge: Sea
Ek hol so rond agter kerkbasare aan op die oomblik dat die DOnkie heel ongeïnspireerd is… sal seker êrens in September weer na “normaal” terugkeer as daar so iets in ‘n Donkie se lewe kan wees…
Ek hol so rond agter kerkbasare aan op die oomblik dat die DOnkie heel ongeïnspireerd is… sal seker êrens in September weer na “normaal” terugkeer as daar so iets in ‘n Donkie se lewe kan wees…
Ernstig- enige vegetariërs en Jode en Moslems gaan aanstoot neem… Traumatiese beeldmateriaal van vleisverwerking word vertoon…
Jy kyk verder op eie risiko…
Boeddiste sal ook nie hiervan hou nie, dalk is dit gereïnkarneerde familielede…
IS jy nog steeds hier? Is jy seker? Want selfs ek kry nagmerries van die beeldmateriaal…
Dit raak al hoe moeiliker vir die plattelandse gemeente om te oorleef. Al ons jongmense wat universiteit toe gegaan het, gee een kyk na Julsie Malema se EFF- OFF party, en gaan dadelik Australië en Kanada se ambassades toe op pad na die reisagentskap. Die wat nie universiteit toe gegaan het nie, gaan stede toe, polisie toe. En dié wat nie skool toe gegaan het nie, gaan word karwagte in Pretoria-Wes… Feit van die saak is- ons jongmense bly nie agter op die platteland nie.
Elke jaar raak die plattelandse gemeente se gemiddelde ouderdom ‘n bietjie ouer. Elke jaar raak die kerkgebou ‘n bietjie meer leeg…
Elke jaar raak die druk op die leraars egter ‘n bietjie groter: Dominee- jy moet meer huisbesoek doen, dat die mense meer kan gee. Dominee, jy moet mooier preek. Dominee- die basaar beter goed doen… anders is die wolf voor die deur…
Dominee voel die druk maar alte goed. Dominee probeer elke jaar ‘n bietjie harder. Maar dit gebeur in ‘n tyd wat die tradisionele kerke al hoe meer onbelangrik word vir mense. As die ANC klaar is met hulle belasting, is daar in elk geval ook maar min geldjies oor vir die kerk.
Maar daar is darem vreugdes ook. Daar is steeds ‘n klomp mense wat regtig wil help, en ‘n verskil wil maak.
Ons is so dankbaar vir elke boer in ons gemeente wat ietsie gee vir die Basaar. En so is daar vanjaar 23 varke en 10 beeste aangebied vir die Basaar. Daardie beeste stap nie net in netjiese verpakte pakkies skoon, higiëniese vleis in nie. Iemand moet hulle daar kry.
Gelukkig is daar ‘n getroue span staatmakers wat my vanjaar weer kom help het. Ons het die taak aangepak, en in ses dae in die sweet van ons aangesig die werk gedoen.
Vleisverwerking is baie afhanklik van ‘n goeie blokman. Dit is iemand wat die diere se anatomie baie goed ken, en weet hoe om bemarkbare, netjiese snitte vleis te maak. Verkieslik het die blokman nog al tien vingers wat aan hom ge-issue is oor… Ons het so ‘n deeglike ou-skool blokman, wat elke snit baie netjies doen. Dis nie so vanselfsprekend nie, ‘n paar jaar gelede het ons buite op ‘n plaas gewerk, en die manne toe het ‘n hele paar moutsappies per dag geneem, en die snitte het al hoe dikker en skewer geword soos die Boeings oorgevlieg het…
Deesdae werk ons in ‘n goed toegeruste industriële slaghuis soos op die fotos gesien kan word. Ons dra haarnette, want ek hou nie van iemand se hare in my vleis nie.
Soos die blokman die snitte sny, moet die vleis mooi skoongekrap en dan verpak word.
Daarvoor het jy gewillige hande nodig.
So langs die tafel word baie gesels oor die lewe, die herinneringe. en al derglike dinge. Maar teen die middag se kant begin die mense ook maar moeg word…
Soms wil-wil die humeure ook maar opvlam. Soms moet ‘n mens maar baie geduldig wees soos Moses, wanneer die volk in die woestyn gemurmureer het. Party mense hou van murmureer…
En dan kom die einde nader- nou moet van al die minder aangename stukke ontslae geraak word. Daar is ‘n geweldige groot mark vir die benevleis. en varkkoppe… (Nou moet sensitiewe kykers regtig aanbeweeg na Rolbos of Maankind toe…)
Al ons vleis is nou gereed in die groot vrieskamer vir 7 September.
Waar gaan jy nog supergraad maalvleis vir R40 per kilo kry?
Boerewors wat regtig net vleis en speserye in het, geen soja of broodkrummels of meel of donkietestikels nie… vir R45 per kilo?
(Dis hoekom ek dit so verloor het toe iemand op die vloer gesê het sy gaan koop eerder by die buurgemeente vleis, ons buit die mense uit wanneer ons osstert teen R75 per kilo verkoop- daar is net 5)
Diep in die Donkie se hart is daar tog maar groot liefde vir die mense in die plattelandse gemeente- soos by Rolbos is daar baie liefde en omgee, en soms vashaak en baklei.
Maar met sulke mense kan ‘n mens nog probeer om die Koninkryk vir nog ‘n jaar sigbaar te probeer maak op die platteland.
Ag, kom ek sluit maar af met ‘n stukkie hoop- daar gaan biltong wees teen R150 per kilo- en dis MOOI biltonge…
7 September in Nylstoom- dan is dit die Fees van feeste… En nou gaan ek rus…
en netnou moet ek gaan preek… “Rig julle gedagtes op die dinge daarbo…”
Daar is ‘n wit kat uit die hel wat my deesdae elke aand eenuur kom wakker skree met ‘n demoniese geknetter. En as ek eers wakker is, is dit baie moeilik om weer aan die slaap te raak.
Die kat is doof, ek het vanaand tot 3 meter van hom af gekom met ‘n skerp visstok staander, toe ruik hy seker die heerlike knoffelslakke in my asem. Ongelukkig het hy nie daarvan gevrek nie.
Ek sit nou met ‘n reuse morele dilemma. Ek is regtig baie lief vir katte. Maar ek het ook my slaap nodig.
Nou wonder ek alweer oor ‘n paar goeters:
Daar is nog baie ander gedagtes ook in my jong onskuldige gemoed, maar daar is van my gemeentelede wat volhard in die bose deur my blog te lees…
Laat ek dus eindig deur Robert Burns aan te haal en dan te gaan probeer slaap tot die helsinwoner weer opdaag:
How do I hate thee- let me count the ways…
Ek is nou vaak en moeg, lekker slaap.
Enige sinvolle voorstelle tot kateliminasie sal baie waardeer word.
Teiken A- eie tyd, eie teiken…
PS- Ek lees nou maar deur netnou se preek uit Kolossense 3 om darem iets te probeer onthou so deur die vaak. En vers 5 is so van toepassing- “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is, onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.” En die wit kat, Paulus?
Kom ek nou die dag weer in die moeilikheid by een van die hiper vromes van die Here se kindertjies.
Ek het dit gewaag om daardie persoon “Geluk met jou verjaardag” toe te wens.
Christene praat mos nie so nie! Weet julle hoe gevaarlik is die geluksgod? Hoe kan ‘n mens iemand se toekoms op “geluk” toevertrou, so asof die toeval sal voorsien in al die seëninge wat die persoon nodig het om sinvol te lewe? Om geluk met iemand se verjaardag toe te wens, is om die Here uit die pad uit te skuif, en die noodlot die laaste sê te gee…
Isit?
Wel, daar is ook ‘n ander manier om na die saak te kyk. Ons een ou probleempie in Afrikaans is dat ons as ‘n jong taal baie minder woorde het as die ou gevestigde wêreldtale soos Engels en Spaans.
“Geluk”- as jy nou regtig wil, kan jy dit bedoel met wat die Engelse “Luck” voor sê. Toevalligheid. Noodlot. ‘n Kans. Gelukkig in daardie sin is “lucky”- iets buiten die gewone het toevallig oor jou pad gekom.
Maar- “Geluk” is ook die stam van die Afrikaanse woord “Gelukkig”, dit wat die Engelse met “Happiness” sou vertaal. In die Bergrede het Jesus telkens gesê: “Gelukkig is hy… “
Geluk in hierdie konteks is ‘n diepe tevredenheid met jou lewe. ‘n Stuk dankbaarheid teenoor die Here vir al die mooi seëninge wat jy in jou lewe beleef. ‘n Stuk vrede in jou gemoed oor die verhouding met God/ jou naaste/ jouself in harmonie is. Geluk in hierdie konteks is ‘n sinvolle lewe, ‘n lewe vol betekenis.
So ek gaan nie anders praat nie. Geluk met jou verjaardag! VAt dit soos jy wil!