Dis eenuur in die more…

en netnou moet ek gaan preek… “Rig julle gedagtes op die dinge daarbo…”

Daar is ‘n wit kat uit die hel wat my deesdae elke aand eenuur kom wakker skree met ‘n demoniese geknetter.  En as ek eers wakker is, is dit baie moeilik om weer aan die slaap te raak.

Die kat is doof, ek het vanaand tot 3 meter van hom af gekom met ‘n skerp visstok staander, toe ruik hy seker die heerlike knoffelslakke in my asem. Ongelukkig het hy nie daarvan gevrek nie.

Ek sit nou met ‘n reuse morele dilemma. Ek is regtig baie lief vir katte. Maar ek het ook my slaap nodig.

Nou wonder ek alweer oor ‘n paar goeters:

  •  Afvuur van vuurwapens in die dorpsgebied is glo verkeerd, behalwe vir kriminele soos rowers en moordenaars.  As ek myself tot moordenaar laat verklaar, mag ek die kat skiet?
  •  Die bure sal dalk moan, behalwe hierdie kat pla hulle seker ook- moet ek eers almal se toestemming vra om die kat te skiet?
  •  Toe ek nog ‘n student was, het hulle gewaarsku- baie drank lei tot katte skiet. Hoeveel is genoeg drank?
  •  Ek ken heelwat smouse van landbougif, maar ek hoor Temic is onwettig om op diere te gebruik, glo net vir aalwurms. Is hierdie kat nie dalk ‘n aalwurm nie?
  •  Kan ek die kat met ‘n petrolbom gooi, en wat vra die brandweer om die vuur te kom blus?
  •  Kan ek nie die muur tussen ons huis en die kerk boobie trap dat hy op die kat omval as hy weer oorspring nie? My slaap is meer werd as die herstelkoste aan die muur… het een van die outobank opblasers nie dalk vir my ook so bietjie van daardie boomboom van die myne af nie?
  • Hoe ver kan een mens ‘n kat gooi?
  • Is daar nie dalk kindertjies wat gaan huil oor hulle vermiste demoon nie? Waar kan ek ‘n Tamagotchi vir hulle koop, dié goed het nooit rondgeloop na die bure se erf toe nie.
  •  Kan ek die kat saggies met my bakkie bekruip en oor hom jaag?
  •  Kan dit nie as selfverdediging beskou word om die kat te skiet nie, hy hou ‘n wesentlike gevaar vir my geestesgesondheid in.
  •  Weet Julius Malema en sy maatjies dat hier ‘n WIT kat is wat hom baie sleg sê- die kat het iets te sê oor sy IK en sy ouers… elke nag!
  •  Kan ek die kat met my ou weermagbajonet kastreer, net hier onder sy nek?

Daar is nog baie ander gedagtes ook in my jong onskuldige gemoed, maar daar is van my gemeentelede wat volhard in die bose deur my blog te lees…

Laat ek dus eindig deur Robert Burns aan te haal en  dan te gaan probeer slaap tot die helsinwoner weer opdaag:

How do I hate thee- let me count the ways…

Ek is nou vaak en moeg, lekker slaap.

Enige sinvolle voorstelle tot kateliminasie sal baie waardeer word.

Teiken A- eie tyd, eie teiken…

PS- Ek lees nou maar deur netnou se preek uit Kolossense 3 om darem iets te probeer onthou so deur die vaak. En vers 5 is so van toepassing- “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is,  onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”  En die wit kat, Paulus?

10 thoughts on “Dis eenuur in die more…

  1. Ewald, jammer vir jou min slaap, maar skitterend geskryf! Ek het gelag dat die trane loop. Vanghok, vis binne, en dan kom laai jy hom by ‘n goeie vriend in Naboom af. Hy haat sy bure se 11 blaffende honde.

  2. Wat van Dawid se idee? Gooi die kat met ‘n klippie in ‘n slinger of skiet hom met ‘n kettie? Dit het al by ons gehelp………..

  3. My boetie het ook eenkeer so n rondloper kat in n hok gevang.

    Hy het hom toe mooi in n boks agter op sy KLR vasgemaak en vir n lekker lang rit geneem om tussen die plase te gaan aflaai.

    Toe hy egter 15km buite die dorp stop en die boks ooppluk dat kietsie kan vlug is daar geen kietsie in die boks nie. Dit blyk toe dat kietsie nie hou van motorfiets ry nie. Seker veral nie met die KLR se harde kezors wat so in sy ore blaf nie.

    Boetie verlekker hom nog gereeld aan die idee van kietsie wat erens op n grondpad van die fiets afgeklim het. Veral as hy ingedagte hou dat hy nooit minder as 100km/h op daai grond pad gedoen het nie.

  4. Ai tog dit kan mens teen die mure dryf en allerhande bose gedagtes na bo bring. Het nie n oplossing nie maar die min slaap het nie jou preek beinvloed nie – dit was skitterend en ek hoop n hele paar mense het regop gesit.

  5. ja nee kyk – ek simpatiseer met jou – sulke goed kan my ook teen ‘n muur uitdryf. ons bure agter het ‘n groot hond in ‘n baie klein spasie wat die hele tyd huil en te kere gaan. ek is jammer, mense wat hulle diere net los sodat hulle net maak wat hulle wil is nie regte diereliefhebbers nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s