Na groot sukses… die Besembos…

Ons het toe die naweek ‘n baie suksesvolle Fees gehad- lees: Kerkbasaar… Ons het ons teiken bereik. EN daar is nog ‘n hele klomp vleis oor, amper ‘n halwe lorrievrag vol. Die mense wat dit graag wil koop, begin ook opdaag. Dit lyk al hoe meer suksesvol..

En ek? Ek voel soos Elia nadat hy die Baälpriesters verower het met die vuur uit die hemel. Die volgende dag tref ‘n mens hom aan in die woestyn, onder ‘n besembos, besig om te wens die engel wil hom maar kom haal…  (1 Konings 18 as jy dit graag self wil gaan lees. Ek google dit en kom toe af op: https://bileamsedonkie.wordpress.com/2012/05/28/elia-en-die-besembos/) Lyk my ek was al voorheen hier…

Na groot suksesse, waarvoor jy maande lank gewerk het, is dit seker maar natuurlik om ‘n dip te vat in jou hêppiness…  Maar toe ek Saterdag tot stilstand kom, toe tref die peste en plae wat ek die hele tyd probeer ignoreer het, my behoorlik.  Verlede Saterdag (week terug) het ‘n tand gebreek wat al lankal tot sy uiterste toe gestop is. Verlede Maandag het ek dit laat trek. En binne enkele dae die ding getref wat hulle van praat as “Dry Socket“- die bindweefsel val uit, en die gat in jou kakebeen bly nie toegroei nie. Met dieselfde simptome as ‘n tandabses. Ek lewe nou al van verlede Maandag af- 9 dae- op baie sterk  pynpille. Wat my kop verskriklik dof maak.  Ek was verlede Donderdag weer by die tandarts, dat sy die Droë Sokkit minder Fo….it kan maak… Maar ek weet nie of ek weer iets verkeerd gedoen het nie, die gat voel presies dieselfde, en nog steeds vreet ek pynpille soos smarties om te leef.  En Wikipedia sê: “The pain may last for seven to forty days.” Oor 40 dae is ek totaal van my trollie af… !  Saam met dit, totaal onverwant, het ek nog ‘n klap griep ook gekry, met ‘n baie seer keel, en duiseligheid daarmee saam.

Met al hierdie pret het ek en my oudste seun verlede Vrydagmiddag in die vrieskamer (minus 18 grade) gehelp om die vleis in die lorrie te pak. En Saterdag middag al die onverkoopte vleis weer terug in die koeltrok, wat ook maar fullblast op my was… ek voel die hele tyd uit op my voete.

Maar die ergste was vir my in die suksesvolle Fees, om vleis aan mense te verkoop.  EK is baie dankbaar vir al die skenkers, en die mense wat so getrou gehelp het om die vleis te verwerk en verpak, en die span wat help verkoop het- dis alles staatmakers wat ‘n mens op kan reken en saam oorlog toe kan vat.

Maar die kliënte!!!  Veral die groot aftreeoord op die bult se inwoners!!!

Ons het ‘n skenking Wildswors gekry, wat in 750 gram pakke verpak is.  Die skenkers het besluit op ‘n baie billike prys-  en dis so in in die advertensies aangedui. R35 per pakkie. Vrydagoggend kry ons nog ‘n skenking van fantastiese wildswors, baie hoë kwaliteit, en dis uiters netjies vakuumverpak en weeg 1.1 kg gemiddeld.  Natuurlik het ons dit so bietjie hoër gemerk.  Die een omie van Luilekkerland kom baie ongeskik daar aan en vra wat kos die wildswors- hy het een van die duurder pakkies wors in die hande. Ek sê vir hom die prys.  Hy betaal dit met ‘n groot gebrom. En binne ‘n minuut voel ek skielik hoe iemand se vinger in my sy pomp van agter af… “Hoekom het jy so vir my gelieg? Jou advertensie sê dan R 35 per pakkie…” Baie ongeskik. Ek probeer verduidelik, maar die belangrike oom wil niks weet nie. Ek strip my moer net daar maar soos altyd kan niemand dit sien nie. Ek sê net baie kalm vir die mense wat die geld werk om vir die oom sy geld terug te gee. Ek sê niks van vierkoffieshierso nie…  Nadat die oom sy geld gekry het, glimlag hy liefies soos iemand wat die lotto gewen het, en sê “Dankie dat jy my gehelp het, Meneer…”   Ek het weggestap en gaan koeldrank koop…

En toe ek terugkom, staan daar nog ‘n egpaartjie van Luilekkerland daar, en betas die varksnitte onbetaamlik.  Hulle het by die eerste moontlike krat vleis vasgesteek, wat toe  die varkrashers is wat oorgebly het nadat ons die drie worsvarke bewerk het. Party mense hou daarvan so… Die antie het niks verder na ons vleis gekyk toe sy afhaak en kliphard teenoor haar man sê: “Kyk hoe vet is hulle vleis, en kyk hoe lelik is dit gesny… ”  Dit het maar net my hele Augustus in beslag geneem, en die res van die vleis is Supergraad Bees en topgehalte vleisvarke teen maklik 30% onder slaghuispryse…  Hoekom mag Dominees nie vir mense met enkele kragwoorde van die terrein af verjaag soos sleg honde nie?

Daar was ‘n paar sulke episodes by die vleis. Die een oom wil weet of daar vark in die boerewors is. Die ander of daar vet in die boerewors is. Die derde of daar genoeg Koljander by die wors is…  Ag liewe blou forklift…

My liefde vir die mensdom het ‘n laagtepunt bereik. Ek is gatvol vir die mensdom. Daarom het ek my kerkkantoor in kennis gestel dat ek nou vir vier dae in die bos gaan wegkruip, waar ek geen mense hoef te sien of mee te praat nie.

Ek het my kamera by my, en wil vir die volgende vier dae net die bome en plante en diere sien en afneem.  Die mens WAS die kroon van die skepping voor die sondeval.

Mense is hel… Jean Paul Sartre

Baie meer die kroon van die skepping...

Baie meer die kroon van die skepping…

Volgende week sal ek weer beter voel en liefies glimlag vir al die mense met hulle pragtige idees.  Ek gaan volgende week weer die oorgrote meerderheid kliënte onthou wat die dag eintlik ‘n groot plesier gemaak het. Ek gaan die oorgrote meerderheid mense onthou wat ordentlike, opgevoede mense is, en dat dit baie lekker is om hulle te ken…

Maar intussen- hoop ek daar beland Donkieknaters in jou Shoprite boerewors, oom Luilekkerland…

Advertisements

11 thoughts on “Na groot sukses… die Besembos…

  1. Mooi gesê ,man ek waardeer jou kalmte in sulke oomblikke. Moer strip is een ding .Hulle met die krat vleis gooi ! dit is wat jy eintlik moes gedoen het. . Ondankbaarheid en snobisme is maak my naar!

  2. ” Ag liewe blou forklift…” Bwhaaaaaaaaahaha!!! Dis so funny.

    Mense, aan die andwer kant, is nie. Mense is ongeskik en ongedurig en bemoerd en gun niemand anders niks nie. Ek hou nie van “mense” nie.

    Maar ons like julle baie, Donkie en kie. Moet jou nie steur aan “mense” nie. Hoop jy geniet jou wegbreek. En dat jy gou beter voel!

  3. En, oom Luilekkerland, ek hoop daai donkieknaters is taai!! 😦 Mors WEER met onse donkie, dan is die hele blogland op jou, en DIT wil jy nie hê nie, ek belowe jou dit!! 😦
    Lekker rus…
    en onthou om vir ons volgende week van die lekker ook te kom vertel as jy lus het. 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s