Die Engel word gesoek vir Die Burg…

So nou en dan wonder ek of die Here my nie vergeet het waar ek nou is nie…

Dan slaan ek my oë op na die Heilige Bode, om soms maar weer moedeloos toe te maak.

Soos hierdie merkwaardige advertensie wat in die jongste Kerkbode geplaas is. Wat maak my moedeloos daarvan? Ek kan nie aan ‘n enkele gawe dink wat in die kerk teenwoordig is, wat nie deur hierdie gemeente in een mens vir een salaris gesoek word in biddende afhanklikheid nie…

Net so uit die Kerkbode gehaal, net adres en dorp verswyg… Kyk bietjie wat moet hierdie een mens alles kan doen…

NG GEMEENTE DIe BURG

Christus in my en ons in die wêreld

VAKATURE: MEDELERAAR

Gemeenteprofiel:

Fokusareas: Skrifgegronde liggaamsmodel gemeentewees, dissipelskap, diensleierskap.

Gemeenskapsgeöriënteerde kerkwees.

Verdere vars uitdrukkings van kerkwees.

Om God se konkrete familie vir mense te wees.

Die hele evangelie vir die hele mens, vir die hele wêreld.

Fokusareas: Alle fassette van gemeentewerk (Artikel 9 van die Kerkorde).

Spesifiek verantwoordelik (en aanspreeklik) vir die oorhoofse bestuur en Skrifgegronde bediening van kinders/kleuters, die jeug, jong werkendes en ongetroude/getroude lidmate jonger as dertig (30) jaar (insluitend kategese).

Fokus op die bemagtiging van families.

Begeleiding van uitreikgroepe.

Leraarsprofiel: Dinamiese gelegitimeerde, hoogstens 45 jaar oud, wat oor bedieningservaring beskik.

’n Persoon van deurleefde spiritualiteit.

Talentvolle prediker – fokus op eredienste en suiwer Woordverkondiging.

Sterk pastorale ingesteldheid – fokus op persoonlike kontak met alle gemeentelede.

Sterk leierseienskappe, kreatief, georganiseerd, goeie kommunikasievermoë, goeie verhoudingsvaardighede, entoesiastiese

motiveerder, energieke werker, vermoë om mense bymekaar te bring, probleemoplossing, kan multi-taak, selfdissipline,

deursettingsvermoë, aanpasbaar en onbesproke integriteit.

Roepingsbewustheid vir bediening van ’n jonger geloofsgemeenskap

’n Mens-mens met kennis van en aanvoeling vir die behoeftes van lidmate van alle ouderdomsgroepe.

Vermoë om onafhanklik en binne spanverband effektief te werk.

Bewese rekenaargeletterdheid.

Insig/vaardig in praktiese gebruik van sosiale media-platforms netwerke.

Sterk administratiewe en multi-media vaardighede.

Musikale vaardigheid dien as sterk aanbeveling.

Vergoeding: Volgens Wes-en-Suid-Kaap Sinodale riglyne, insluitend huisvesting.

Aansoeke: Aansoeke moet vergesel wees van ’n omvattende CV asook die volledige name en kontaknommers van minstens twee (2)

resente referente.

Aansoeke moet vertroulik gemerk en gerig word aan: Voorsitter: Kerkraad

Kortlys-kandidate sal aan ’n professionele/gestruktureerde keuringsproses onderwerp word. Sodanige kandidate moet vir

onderhoude beskikbaar wees op ’n datum, tyd en plek soos deur die keuringspaneel bepaal. Die proses kan psigometriese

toetsing en praktiese evaluering insluit.

Sluitingsdatum: 26 Februarie 2015 om middernag.

Diensaanvaarding: So spoedig moontlik in oorleg met die suksesvolle kandidaat.

Die kerkraad behou hom die reg voor om geen aanstelling te maak nie.

Nou ja, liewe gemeente van Die Burg, ek sal maar liewer nie aansoek doen nie… Ek sou die meeste van daardie dinge kon doen, maar nie alles nie.
Een mens, wat met almal in die gemeente persoonlike verhoudinge het- van die wieg tot aan die graf met almal oor die weg kom en bedien. Jeugbediening tot bejaardesorg. Sterk admin, sterk musiek, sterk sendinghart, sterk rekenaarvaardig… watter gawe is daar in die kerk wat julle nie van hierdie een mens verwag nie?

En… ek is ouer as 45, die nuwe ouderdom in die Kerkbode se advertensies waar dominees asb weggeraap moet word. DIe ouderdom wat ‘n dominee geen nut meer het vir ‘n gemeente nie.

Maar ek bid regtig vir die arme mens wat dalk wel daardie aanstelling sou kry…

Ek dink ek gaan so Desember rond soos ‘n boemelaar aantrek, en aan hierdie broer/ suster se voordeur kom klop. Ek wil regtig daardie persoon ontmoet wat presies inpas by hierdie advertensie. Dalk by die medeleraar ook, hy/ sy kan seker nie minder superGabriël wees nie…

Die Aartsengel Gabriël soos gevind by http://www.devinemiracles.com/How-To-Meet-Angels.html

Die Aartsengel Gabriël soos gevind by http://www.devinemiracles.com/How-To-Meet-Angels.html

Soms, net soms wonder ek of daar nog ‘n gemeente is wat dalk net ‘n leraar soek wat lief vir die Here, en vir mense is…

Advertisements

15 thoughts on “Die Engel word gesoek vir Die Burg…

  1. ‘n Dominee is darem nog beter-af as ‘n jeugwerker. Ons afsnyouderdom is 28 jaar. Op 33 het ek lank reeds aanvaar dat ek nooit weer die werk sal doen waarvoor ek geswot het en waarvoor God my geroep het nie. Gemors is, ek weet nie wat anders om te doen nie.

    • Ai Kokkie, dis baie jammer! En die hartseer is dat daar niks van hierdie dinge tydens ‘n mens se opleiding gesê word nie. En die opleiding is ook nie van so ‘n aard dat jy enige ander werk daarmee kan gaan doen nie…

  2. OMW! Miskien soek hul ‘n Superwese! Hou ons tog asb op hoogte as jy as die boemelaar terugkeer, wat ook ‘n wonderwerk sal wees, want so ‘n persoon sal seker jou in ‘n engel laat verander!

    • Ongelukkig geen grappie nie, net so gecopy en paste van die Kerkbode af. En byna al die advertensies lyk deesdae so. Ek wens iemand hier wil ook ‘n studie doen oor die verband tussen die verwagtinge van kerkrade en die uitbranding van leraars. Dis skrikwekkend hoeveel leraars in Amerika weekliks die bediening verlaat, wonder wat die syfer hier is….

      • Ek dink dis ongelukkig die hele ‘kerk’-dinamiek het so verander. Die mense verwag soveel meer, maar is nie bereid om daarvoor te betaal nie. Hulle vergeet dat selfs leraars se tyd betaal moet word en dit selfs meer werd is as die dr wat jou gesond moet maak.

  3. Sjoe – die mens wil die kerk ‘n instansie of ‘n besigheid maak. Ek sien nie een woord omtrent die “Heilige Gees” nie. Vir my is daar net EEN kwalifikasie vir ‘n Herder : “Kan hy by God hoor waarnatoe die gemeente moet beweeg?” Die kerk word verteer deur dinge wat nie werklik iets met die koninkryk te doen het nie. Die kollig is net op strukture en tradisies en Jesus Christus bly in die skadu van sy kerk staan.

    Eks is nou besig om ‘n kursus “Ontdek jou GAwes” by ‘n gemeente aan te bied. Volgens hierdie lering is die skape verantwoordelik om met hul GAwes die bogenoemde dinge in stand te hou. Nie die Herder/Leraar nie. Wesenlike kerkgroei kom net as die skapies/lidmate hul deel doen en aan die Herder sy ware bediening/roeping teruggee.

    Sterkte met jou gemeente. Ek glo God het jou gesalf en geroep vir groter dinge.

  4. Interessant, maar nie skokkend nie. N jaar of wat gelede het ons gemeente self opsoek gewees na n leraar. die arme man. met respek gese, n lidmaat het gese, hy wonder of Jesus self sou kwalifiseer vir wat die stomme mense alles wou he…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s