Rooies se Briefie: Ewald Schmidt antwoord.

voorblad

Op Woensdag 19 Oktober is ek wakker geskud met die nuus dat ek op die voorblad van die Beeld is. Die storie- Ek het ‘n bier gekoop op die Wanderers. Wat dit nuuswaardig maak, was die geveg wat ‘n klompie mense wat ek glad nie ken nie, op my facebook profiel verlede week begin het.  Ek het gewonder waar kom hierdie aanval vandaan . Soos die meeste mense wat die berig gesien het, ook maar gewonder het waarom.

Die volgende brief wat wyd op die Internet versprei word, het uiteindelik ook by my uitgekom.

DOMINEE EWALD SCHMIDT – KRY JOU LEWE IN ORDE MET GOD!!

Ek reageer na aanleiding van die Ds wat met bier spog by Krieket en nadat hy aangespreek is – gou die sonde beskerm deur te sê, sy Uroloog het gesê hy moet bier drink. Die koerant berig dat Hansie Swanepoel, Johan Nel en Suzaan Goosen hom daaroor op Facebook geroskam het. Vandag staan ek trots en wil God prys. Dominee die drie Studeer vir leraars by School of fire en ek is tans die Hoof van School of fire. Kom ek gee gou hul agtergrond:

Hansie was ‘n daggaroker, hy het gesuip, sy pa het hom dood gedrink – toe bekeer Hansie en Dominee waar jy nou ‘n voorbeeld as godsman vir hom moet wees, is hy teleurgesteld.

Johan was aan cat verslaaf en het besighede verloor daardeur, sy pa was ook ‘n alkoholis en het homself doodgedrink. Hy het nou bekeer en hy verwag van ander bekeerdes om heilig te lewe.

Suzaane is op 10 jarige ouderdom deur ‘n dronklap verkrag, en het a.g.v drank slagoffer geword van gesinsgeweld. Suzaane het op volwasse ouderdom self haar vergryp aan drank en het nou Jesus gekies,

Dominee en ander christene daar is niks goeds in drank nie, draai na Jesus toe. Spog met Jesus nie met iets wat al baie hartseer vir ander veroorsaak het nie.

Nou gaan baie weer sê: Jesus het water in wyn verander. Vlg skrifte was dit TIROS- alkoholvrye wyn.

Ek self wou my seun van 2 weke doodskiet en my vrou, alles oor drank. Gesels gerus verder by my page daaroor.

Ons het ‘n bediening gestig Christian Front om Drank by Kerke, Aborsie, Human Trafficking en pornografie verspreiders te evangeliseer.

Rooies Strauss

School of fire

Christian Front

0827….

SHARE SOVÊR MOONTLIK

Dis mos net goeie maniere om ‘n brief te beantwoord, is dit nie?

Liewe Rooies Strauss

Ek het jou brief met opgewondenheid ontvang. Ek ken jou glad nie. Om die waarheid te sê, ek het nog nooit voorheen van jou gehoor nie. Tot nou.

Jy sien, ek het skielik op die voorblad van die Beeld beland en in die Burger en in die Volksblad. Selfs op Jacaranda het hulle oor my gesels.  Ek het glad nie geweet waar hierdie belangstelling vandaan kom nie. Tot iemand hierdie briwf van jou uiteindelik aan my ook gestuur het. Toe verstaan ek.

Ek het nou maar soos jy gemaak, en bietjie op jou facebook bladsye gaan kuier. Ek sien jy was by Koevoet. Heel toevallig het ek die afgelope ruk weer Arn Durand se boeke oor Koevoet gelees. Hy sê daar party van die seksies was nogal rof. Daar was van hulle wat nogal heel Bossies geraak het, en berug was vir Friendly Fire insidente. Was dit Zulu Zulu Mike wat so rof was? Was jy dalk in Zuku Zulu Mike gewees?  In elk geval, Koevoet het mos die meeste kills op die Grens gehad. Julle ouens het mos graag met die lyke van julle vyande op die modderskerms van julle Casspirs deur Oshakati se strate gejaag. En dan in die Oshakati International Guest House maar gaan kuier om die spoke te verjaag. Baie van julle ouens het erge Post Traumatiese Stress oorgehou. Julle was in die meeste kontakte van almal, ek sien Frans Conradie het 100 confirmed kills gehad.  Ek het sommer baie respek vir julle ouens. Julle almal het gevolunteer vir Koevoet. Dit was julle keuse. Dit verklaar insidente waarin julle later vanweë Post Traumatieae Stress regtig slegte dinge beleef het, ook in julle gesinne.

Maar dit lyk of jy met die genade van die Here weer jou lewe bymekaar gekry het. Jy het die spoke oorwin, en jy beteken baie vir ander wat ook deur slegte tye gegaan het. Ek respekteer dit baie. En ek is dankbaar dat die Here deur jou bediening vir mense soos Suzanne en Hansie en Johan en die res van jou span nuwe lewe gegee het. ‘n Kans om heel te word. Die genade van die Heee is darem net wondeelik, is dit nie?

Nou my vraag. Waarom stel jy hulle dan so bloot deur na die koerante toe te hardloop?  Ek sien van jou volgelinge sê ek het dit daar aangegee. Waarom sou ek dit doen? Wat het ek om te baat deue sulke negatiewe publisiteit?  Moet sê, jou aanval het my onberekenbare skade gedoen. Dit het my gesin baie seer gemaak. Dis nogal regtig nie lekker dat ‘n mens se ma op haar verjaardag haar seun op ‘n paal voor die ouetehuis sien nie. Daar op die Beeld se plakkate in Pretoria se strate. Tot in Kaapstad in die Burger! Rooies, dis nie nregverdig nie. Net soos wat jou Friendly Fire briefie op al jou baie faceboek profiele laag en gemeen is.

JY is tog baie beter as dit? Jy het dan so ‘n groot getal volgelinge, waarom kies jy om so vuil te speel?

Om jou te antwoord op jou brief: Baie dankie dat jy en jou volgelinge bid dat ek my saak met die Here regmaak. Ek aanvaar julle gebede met liefde. Ek wil graag so naby as moontlik aan die Here lewe.

Oor die volgelinge by name: jammer Hansie en Suzanne en Johan- julle het seergekry deur julle leier se slegte raad. Dis nie my styl om mense seer te maak nie. Julle het op my facebook profiel kom inmeng en my voor my gesin kom aanval.  Het julle die reaksie gesien van die mense wat my wel persoonlik ken? Het jule gesien hoe die publiek reageer nadat julle hierdie saak pers toe gevat het? Ek wil julle aanmoedig: dien die Here voluit. Moenie dat hierdie julle afsit nie- julle het al so ver met die Here se genade gekom. Volhard op die goeie pad. Ek is regtig jammer oor die seer wat julle beleef het.

Maar Rooies- jy aanvaar verantwoordelikheid in hierdie brief. Jy vorm mense met jou leierskap. Jy het ‘n groot invloed. Doen dan ten minste die moeite om erns met die Woord van die Here te maak. Jy mag nie die Here se Woord so buig soos dit jou pas nie. Daai storie van Tinos vir wyn: waar kom jy daaraan? Watter geskrifte lees jy? Die erkende Griekse teks waarmee omtrent  al die kerke van die wêreld werk met die Nuwe Testament, is die Nestle Alland teks. Ek ken hom goed. EK het dan vier jaar gevat om Grieks 1 deur te kom.. net bv Johannes 2: 9 en 10- die woord wat daar gebruik word is “oinos”. Wyn.

Kyk net hier Rooies ὡς δὲ ἐγεύσατο ὁ ἀρχιτρίκλινος τὸ ὕδωρ οἶνον γεγενημένον, καὶ οὐκ ᾔδει πόθεν ἐστίν, οἱ δὲ διάκονοι ᾔδεισαν οἱ ἠντληκότες τὸ ὕδωρ, φωνεῖ τὸν νυμφίον ὁ ἀρχιτρίκλινος καὶ λέγει αὐτῷ Πᾶς ἄνθρωπος πρῶτον τὸν καλὸν οἶνον τίθησιν, καὶ ὅταν μεθυσθῶσιν τὸν ἐλάσσω· σὺ τετήρηκας τὸν καλὸν οἶνον ἕως ἄρτι.

Dis wat daar staan. Sien: οἶνον. Gaan kyk gerus vir ‘n vertaling by http://biblehub.com/text/john/2-9.htm  En die Oinos (wyn) se Strongs nommer is 3631, as jy weet wat dit beteken. http://biblehub.com/greek/3631.htm
My ou vragie aan jou: dis antieke Israel in die Midde Ooste. Die druiwe word terselfdertyd ryp. Dit word in die parskuip  getrap tot druiwesap. Daar is nie stainless steel houers en moderne verkoelingsgeriewe nie. Dit word in klipkanne of kleipotte gestoor. Na 3 dae begin dit vanself gis. Wat woed van gegiste druiwesap? Oinos, broer. Wyn.

Ek gaan nie met jou in twisgesprekke gaan oor al hierdie teksverse wat jy en jou volgelinge na my kant toe gegooi het nie. Ek verstaan waar julle vandaan kom, en ek kry dit dat julle nooit weer iets met drank te doen wil hê nie. Die Here lei julle anders, en ek respekteer dit. Ek gaan nie verder oor hierdie punt iets sê nie, net vra hoekom julle ander se hantering van die Bybel so bevraagteken, as julle self vat en los en bysit en weglaat soos dit julle storie pas?

Maar om my op grond van ‘n bier so uit te haal, is nie regverdig nie. Julle het hierdie ‘n openbare twis gemaak. En ek haat dit. Lees bietjie mooi al die reaksies op die facebook groepe van bv Beeld en Jacaranda Mense kan nie glo dat julle so optree nie. Julle byt en verskeur. My gesin het baie seer gekry hierdeur.

Gaan lees gerus weer Romeine 14. Daar is baie ruimte om oor eties- morele kwessies te verskil. Maar moenie die liefdesgebod oortree nie. Jesus het gesê deur ons liefde vir mekaar as medegelowiges sal die wêreld weet dat Hy die Here is. Niemand word in die hemel in geoordeel nie. Rooies, jou manier van doen in hierdie geval was leifdeloos en agterbaks. En die mense het dit raakgesien.

Ten slotte: ek gaan nie eers begin redeneer oor bier en nierstene nie. Jy het geen mediese opleiding nie, behalwe as jy dalk ‘n opsmedic was. Weet jy hoe voel ‘n niersteen? Ek was ‘n maand terug in die Wilgers hospitaal met ene. Rooies, dis seerder as kraam. So: as my urine weer donker word, en dit begin bloederig raak, raai vir wie gaan ek luister as ek moet kies tussen jou en my uroloog se raad?

So ten slotte: ek het sover ek weet almal op my facebook delete wat jou as vriend het. Dit maak seer, ek moes selfs ‘n klasmaat delete. Maar jou mense het kom spioeneer en aanval, en my gesin seergemaak. My gesin pleit eintlik dat ek facebook heeltemal delete.

Ek het nie kwade gevoelens nie- gaan julle in vrede julle gang. Maar los my uit asseblief. Ek het my plek in die Koninkryk van  die Here, en julle het die reaksies gesien van die mense wat my ken. As julle wil aanhou bid vir my, doen dit gerus. Ek wil baie graag nader aan die Here lewe.  As julle wil aanhou oordeel, kla my voor die Here aan in julle gebede. Maar weet dat ek ook daagliks vir die Here vra om my in al my besluite te lei. Onthou Romeine 14 se vraag: Wie is jy om oor ‘n ander se dienskneg te oordeel?

Ek wil baie dankie sê vir die honderde mense wat my en my gesin hierdie week ondersteun en gedra het. Ek het ernstig vir die Here die afgelope ruk voor hierdie insident gevra of ek ooit iets regkry in  sy Koninkryk. Op ‘n baie vreemde manier het die Here geantwoord.

Ek is net spyt dat ek die voorblad van die koerant gehaal het oor ‘n bier, en nie oor ‘n wonderlike getuienis van hoe Jesus stukkende mense heel maak nie. Dalk kry Rooies dit beter reg as ek, en ek gun hom dit van harte. .

O ja, en die mense wat sulke goed soos Rooies se brief sommer net aanstuur en veroordeel… onthou die 9e gebod.

EN daarmee het ek hierdie gesprek afgehandel. Ek beweeg aan. Ek gaan nie met die koerante of radio of Huisgenoot daaroor praat nie. Ek gaan aan met my lewe en my bediening. Terwyl ek vashou aan wat die Here vir my gegee het in Prediker 9:7 :

“7Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.” Met die Vrug van die Heilige Gees van Selfbeheersing toegepas, soos dit hoort…

 

Vergewe al die spelfoute, hierdie is op my tablet in die donker getik, terwyl dit uiteindelik reën in die Bosveld. God is goed!

22 thoughts on “Rooies se Briefie: Ewald Schmidt antwoord.

  1. Al die dominees van my kinderdae het soms ‘n bier of wyn gedrink, en ek het in die apartheidsjare grootgeword. Dis asof ‘n nuwe soort eng konserwatisme sy kop uitsteek wat erger is as die ou tyd. Mens kan nie glo dat iemand aangeval kan word oor iets so doodgewoon soos om ‘n bier te drink nie. Wat volgende, seker iemand wat aangeval word omdat hy dit waag om kaal te bad.
    Nee wat, drink jou bier, dis jou goeie reg.

  2. Wil jy nou vir my sê dat geen Christen wat alkohol gebruik in die hemel kom nie?

    Ai, Ewald. Ek is n ongelowige, so ek mag/moet nie eintlik kommentaar lewer nie. Ek is omring deur fantastiese, gelowige mense soos my ma wat groot rolmodelle is vir my. Mense wat, soos jy, hulle geloof as n werktuig gebruik om transformasie in hul lewens te bewerkstellig. Nie as n kruk nie.

    Ek “ken” jou al n hele paar jaar van die blogs af en jy is vir my n toonbeeld van balans en menslikheid.

    Net 2 dinge oor rooies se brief:

    1. Ek sien hierdie ding van die non-alkoholiese wyn trek nou soos n veldbrand deur die charismatiese groepperings. Ek het nog altyd daaroor probeer uitsluitsel kry want hulle verwys na n hebreeuse term en dit, terwyl die NT tog grotendeels in grieks geskryf is, dan nie. Wat hierdie mense nou doen met hierdie snaakse brokkie inligting, is om ander mense te ontmagtig en te manipuleer en dis n baie slegte ding. Maar dis ook baie duidelik dat hierdie tipe mense se hele modus operandi geskoei is op vrees.

    2. Ek lees hierbo dat Rooies sê dat hy, omdat hy bekeer het, van ander bekeerdes verwag om heilig te leef. Die vraag ontstaan dadelik by my hoe mens van enige ander mens buiten jouself so-iets kan verwag? Vir my is dit asof baie mense n grens oorsteek na een of ander waan toe. ‘n Waan waar hulle van uit n trots wat verwring word in n valse nederigheid, kan sit en nou vir ander mense voorskryf. Dis nie gesond nie. Op grond daarvan, maak dit hul uitsprake oor jou heeltemal irrelevant en hoef jy op geen vlak emosioneel daarin te belê nie. . Dis ongelukkig so dat daar baie van hulle is. Veral op openbare media.

    Sterkte vir jou en jou gesin.

    Marna

  3. Ek ken jou persoonlik. Ek ken ook die Here. Ek het vir baie jare maar min vertroue in dominees gehad. Jy het my geleer daar is dominees wat opreg is. En dat mens nooit moet veralgemeen nie. Vir verskeie redes het ek ook ‘n probleem met alkoholmisbruik. Maar ek ken die verskil tussen gebruik en misbruik. Ek verstaan ook die sielkunde agter bekeerde misbruikers. Baie van hulle raak fanaties. Want drank was voorheen hulle kruk en nou is daardie kruk verbode, want hulle kan dit nie matig gebruik nie. Vir watter redes ook al. Sommige het die verslawingsgeen oorgeërf. Ander het drank nodig gehad om in die samelewing in te pas. Maar die kruk het ‘n slang geword en hulle het geen keuse gehad as om dit weg te gooi nie. Toe staan hulle kreupel. Maar gelukkig was daar vir sommiges ‘n ander kruk. Godsdiens. Ongelukkig, net soos met die drank, het hulle nie die streep gesien nie. Die streep van matigheid. En waar hulle voorheen mense skade berokken het in hul dronkenskap, saai hulle nou soortgelyke verwoesting in hul christenskap. As iemand die pad van verslawing kies, hetsy aan drank of dwelms of godsdiens, ontsien hulle niemand. Niks wat ons gematigde mense kan sê of doen, sal hulle red van hulself nie. Net soos hulle alles gedoen het om nog ‘n drankie te regverdig, net so sal hul die Bybel en God gebruik en verdraai om hul optrede te regverdig. Jy kan vir hul bid, maar ek het min hoop. Jy het die regte ding gedoen. Mens sny jou af van sulke mense, voor hulle jou lewe verwoes. Jy en jou gesin sal hierdie storm oorleef, want dié wat jou ken, gelowiges en ongelowiges, staan bankvas agter jou. Namasté my goeie vriend.

  4. As ‘n our gemeente lid waar D’s Ewald ‘n leraar is, sal ek graag aan die wat so maklik oordeel die volgende will norm.
    Ewald is ‘n mense mens. ‘n Mens wat waarlik omgee vir sy mede mens. Iemand wat ‘n ware normale lewe lei. Wat nie oordeel nie. Wat jou sal bystaan, selfs as dit beteken hy moet km’s uit sy pad ry.
    Die einste rede wat julle hom oor oordeel, was hoekom ons gesin besluit het om by daardie spesifieke gemeente in te skakel. Die feit dat hy ook maar net ‘n normale mens is, al verskil is, hy het die titel ‘Dominee’.
    Een van

  5. Ek ken jou nie maar ek ken en vertrou vriende wat by jou in die gemeente grootgeword het. Normale mense wat vry is van die las van versmorende asketisme. Die rede hoekom rooies hulle so gal af gaan is omdat hulle nog heimlik wens dat hulle dit kan doen. Nou projekteer hulle maar net hulle frustrasie op jou. Ons as christene moet maar so nou en dan bek uitspoel oor hierdie twak.

  6. Tyd en afstand maak dit moeilik om meer tyd saam met jou te spandeer, want daar is soveel oor menslikheid wat ek by jou kan leer. Sou iemand ooit eendag vir my my vra hoe ‘n Christen lyk, sal ek nie huiwer om jou uit te wys nie.
    Maak jou gesin en jouself weer heel, en veilig, en hou aan om die paadjie te stap. Jy is ‘n vorbeeld en ‘n inspirasie.

  7. D’s EWald,antwoord asseblief my volgende vraag,hoekom sal God ons dan aanhoudend waarsku in Sy Woord teen STERK DRANK???? in Spreuke 31:6 “gee sterk drank aan hom wat wil onder gaan” is dit dan nie n waarskuwing nie???? en
    1Korintiers 6:9-10 “of weet julle nie dat mense wat onreg doen,geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?moenie julle self mislei nie:geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat honoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of DRONKAARDS of kwaadpraters of bedrieers sal deel kry aan aan die koninkryk van God nie.
    daar staan dit self!!!!!!!!!!!!!!! ek studeur tans vir pastoor en eerlik waar,dit is n skande om te sien hoe n Leier van n kerk,n persoon wat mense van God moet vertel,die sonde regverdig,en opstaan vir die bose dinge….hoe werk dit???

    en aan Rooies Strauss,ek wardeur dit dat jy opstaan vir dit wat reg is,jy is n voorbeeld vir my,as ek kyk na hoe God deur jou werk om dwelm verslaafdes en drankverslaafdes vry temaak en dan op telei vir sendelinge…

      • dit is waar genade kom,bely en los die sondes dan sal God ons vergewe,ek het self gedrink,van die ouderdom van 13 af,ek het baie seer in my familie en in ander families versaak agv drank….ek oordeel nie,ek waarsku,

        • dieper sug… Vriend, soos ek vir Rooies gesê het, ek is nou moeg vir hierdie debat. Ek verstaan waar julle vandaan kom, ek gun dit vir julle om nooit ooit ooit weer iets te drink nie. Dis hoe die Here julle lei, so geniet dit. Daar staan egter ‘n klomp ander tekste ook in die Bybel wat nie die gebruik van drank verbied nie. Al daardie magtige wapens wat julle so na my toe gooi, praat van Dronkenskap. Daar is ‘n groot verskil tussen baie versigtige gebruik en dronkenskap.

          Anders moet julle begin teksverse uit die Bybel uitskeur. Soos Prediker 9: 7. Lees bietjie wat sê hulle van my beste Vriend in Matteus 11: 19. Vra jouself dan af- wat het Hom anders gemaak as Johannes die Doper in vers 18- wat is die punt daar? Moet net nie hierdie vers gaan uitskeur nie.

          En gaan lees dan baie versigtig Kolossense 2:16 tot die einde van die hoofstuk… voor jy dit ook uitskeur.

          Wat sê Paulus moet Timoteus doen vir sy herhaaldelike ongesteldhede- nie net ouderlinge laat kom en salf nie… 1 Tim 5:23

          Die verse pas nie by jou storie in nie. En jy gaan ook kom met daai nonsens van Tiros vir nie- alkoholiese wyn- my vraag staan: waar kry jy dit langer as 3 dae na die druiweoes?

          Ek is moeg gestry. Ek het werk om te doen. Ek moet vir mense vertel van Jesus, die Lewende Water, wat hulle dors vir altyd les. En julle het ‘n groot klomp van my tyd gesteel met hierdie debat wat julle in die openbaar ingesleep het, en my probeer besmeer.

          Laaste gunsie- gaan word ‘n fantastiese pastoor. Maar gaan doen net die moeite om erens bietjie by die oorspronklike tale van Grieks en Hebreeus ook uit te kom, dat jy self kan lees wat die Woord sê, en nie net die uitgesoekte versies waarmee sommiges ander gelowiges probeer uithaal nie.

          Ek is moeg gepraat hieroor. Gaan dan heen en sondig nie meer nie.

        • Hier se jy, jy het deur te drink baie seer in jou familie en in ander families versoorsaak, dan was dit beslis meer as net EEN bier – mens kan mos nou nie drank MISbruik met hierdie dominee se situasie (van EEN bier op n warm dag by n sportgeleentheid) vergelyk nie…
          Dankie vir jou waarskuwing, wil net se ek geniet ook n drankie en ek is ook al hard getref deur ander se drankMISbruik, maar daar is n HUGE verskil. Ek is bly jy veroorsaak nie meer seer.

    • Hy het drank gebruik en nie MISbruik nie, daar is n hengse verskil!
      En nou wil ek maar net weet AS dit nou in JOU oe so groot sonde is, het jy nog nooit ooit gejok, geoordeel, of enige ander sondetjie gedoen nie, indien nie tien uit tien vir jou. Ons leef in n sondige wereld met n sondige natuur – regtig, EEN bier en mense oordeel so. Tel jy sonder sonde dan maar die 1ste klip op.

  8. Pingback: Nylstroom: A small message of Hope | The Rider

  9. Rooies en sy volgelinge, as ek jou brief moet vergelyk met Ewaldt s’n, skaam ek my oor jou agresiewe benadering en vervolging. Ewald se brief van liefde, opregte omgee nadat hy die seerste gekry het nogsteeds positief jou (Rooises) benader. Ek drink nie en het nog nooitnie maar daar is en was geen liefde in Rooies se benadering nie. Ewald, jy is n stêr. Puik en hou jou kop hoog en leef jou bediening getrou uit soos n goeie dienskneg. Ek is moeg vir predikers wat net veroordeel.

  10. Uiteindelik, nadat ek al jare van Litnet se dae jou blog volg, sien ek n mooi duidelike foto van hoe jy lyk, nooit geweet toe die storie uitkom dat dit Bileam se Donkie is nie, nou weet ek ook hoe jy lyk – dankie🙂
    Oor die res… geniet jou bier en jou wyn ook as jy sou wou… mense is belaglik! Ek dink niks minder van jou nie, doen voort met jou goeie werk. Ek dink aan jou en jou familie.
    Hoop jy kom kuier meer gereeld hier op die blog.

    • Seker oor ek so handsome is dat Sunday Times my foto uit al 55000 toeskouers gekies het vir die oorspronklike storie… hulle het net ‘n onbekende toeskouer se stock foto uit hulle argiewe getrek… dankie vir jou ondersteuning!

  11. Terwyl hier nou honderde mense verby kom: EN sommiges steeds wil baklei:

    1. Alkohol is baie gevaarlik. Dit kan jou lewe vernietig. Dit kan baie seer in die lewe bring.
    2. Sommige mense moet dit glad nie gebruik nie, dalk is daar regtig iets van sekere mense wat geneties makliker geneigd is tot verslawings.
    3. Wanneer jy kies om alkohol te gebruik- onthou Selfbeheersing. Enige iets wat jou denke vertroebel kan jou inhibisies verlaag, en dan kan jy keuses maak wat baie negatiewe permanente gevolge kan hê.
    4. Dié wat so aanhou met die Bybel se algehele verbod op alkohol en die Tiros storie vertel net een kant van die verhaal. En daardie groep haal gelowiges uit wat verantwoordelik ook die ander kant van alkohol ken. Vir ‘n baie goeie eenvoudige opsomming van die rol, gebruik en misbruik van alkohol soos in die Bybel, is Wikipedia steeds jou vriend: lees gerus hierdie artikel daaroor:
    https://en.wikipedia.org/wiki/Alcohol_in_the_Bible
    5. En kan julle my nou uitlos oor hierdie onderwerp asb?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s