Trofeejag…

Ek weet dis deesdae ‘n baie kontroversiële onderwerp.  Die Amerikaanse owerhede probeer hulle bes om die invoer van trofeediere se oorblyfsels te verbied. Die Europese Unie is nie ver agter nie.

En tog is daar so ‘n leë plekkie bo my vuurmaakplek in my lapa. Ek het nou al by my vriend die taksidermis se werkswinkel gesien dat mense die vreemdste diere en reptiele en voëls laat opstop. Daar is glo nie te veel politiek rondom die saak as dit probleem ongediertes is nie. Niemand gee te vreeslik baie om as dit ‘n jakkals was wat tussen die skape doodgeskiet is nie.

Nou kom my groot vraag: wie bepaal wat is ‘n ongedierte? ‘n Probleemdier? Alles is deesdae so relatief- een mens se terroris is ‘n ander se vryheidsvegter, een mens se troetelmamba is ‘n ander se ergste vrees.

Met dit in gedagte was daar nou al geruime tyd wat ek darem ook ietsie wou vermoor en laat opstop. Ek het die ideale teiken gevind- ‘n probleemdier van epiese proporsies. Amper so erg soos die Behemoth en die Leviathan van ouds in die Goeie Boek, meer spesifiek die vertellinge van Job. Job het sy kwota lyding gehad, en hierdie ongedierte het ook al sy kwota wrewel in my lewensruim ingebring.

Met dit in gedagte het ek maar so paar maande gelede daar na Safari & Outdoor toe gegaan in Lynnwoodweg. Die hele winkel is mos een reuse kluis, en hulle het alles daar van die eerste grotman se knuppel tot by die laserguns waarmee Elon Musk se mense Mars toe gaan vertrek.

Ek het so rondgestap en een besondere vuurwapen het dadelik my aandag getrek. Dis die ideale geweer om enige grootte ongedierte mee uit te wis. By nadere ondersoek het dit geblyk ‘n Barrett M82 A1 .50 Cal te wees. Dit kos nou wel R1200 per patroon, maar jy hoef net binne ‘n meter van die dier se kop af te skiet, die skokgolwe wat die projektiel in die lug maak is genoeg om enige ding wat asem haal, dadelik deur die Jordaan te neem.

Daar was toe wel so ‘n ligte probleem met die lisensiestories, oom Bheki Cele wil glo nie hê die burgers moet meer iets gevaarliker as ‘n plastiese swaard van Crazy Store hê vir selfverdediging nie. Ek moes toe maar die langer pad vat- ek het aangesluit by die Jagtersvereniging, en al die kursusse geloop om as toegewyde jagter te kwalifiseer. Dit het ook verskeie interessante werkswinkels meegebring, soos hoe om te bepaal aan die smaak van ‘n koedoebol hoe lank gelede die bok daar verby is, of hoe om die verskillende spore van diere selfs op die rivierbodem in ‘n vloed te volg…

Met baie moeite en verdriet het die SAPS se vuurwapentak uiteindelik gebel: my lisensie is gereed. Ek het die R150 000 oorgeplaas vir my Barrett, en gevra hulle moet ‘n baie goeie Schmidt & Bender teleskoop opsit, ongeag die koste. Ek verneem hierdie kombinasie het al in Irak skote van oor die 2500 meter akkuraat voltooi, die ontvanger van die projektiel was glo nie te gelukkig daarmee nie.

In elk geval, die Barrett het so ‘n oulike Harris bipod op vir ekstra akkuraatheid. Eergisteraand het die groot jag uiteindelik aangebreek. Ek het my donker camo’s aangetrek en van Herman Mashaba se Black is Beautiful oor my gesig gesmeer. Ek kon net drie rondtes bekostig, maar hulle is sorgvuldig gepoleer en in die magasyn gebêre. Ek het met die versigtigheid wat enige professionele sluipskutter sou beïndruk gesorg dat ek in my posisie kom waar ek die ondier sou kon sien as hy nader kom. Die geweer is mooi in posisie gebring op sy pootjies. Daarna het ek begin wag… Dit was ‘n lang wag! ‘n Mens kan nie eens muskiete wegklap nie, die ondier se sintuie is te skerp. Ek moes voortdurend die wind in berekening bring, want windaf ruik die ondier my dalk net en vlug na veiligheid toe. Of kom val my aan.

Net na drie-uur gisteroggend skrik ek wakker, en daar, in die maanlig, staan die objek van my nagmerries. Hy maak die mees onaardse geluide. Sy oë lyk demonies swart, sy asem stink soos die poorte van die hel, en sy tande is die aakligste Hollandse kaasgeel kleur. Gelukkig gaan staan die dierasie vir ‘n oomblik om die lug te snuiwe, maar die wind waar reg vir my…

Ek maak soos die histeriese korporaal jare gelede op die skietbaan met baie donker Afrikaanse woorde my geleer het. Ek haal diep asem in. Blaas saggies halfpad uit. Die veiligheidsknip is af, die kruisie van die teleskoop soek die perfekte kol op die blad. My hand druk stadig toe, ‘n mens pluk nie aan ‘n sneller nie! Wanneer die skoot klap, verbaas dit my, en seker die teiken ook…

Dit was raak! Daar, in die maanlig, lê Behemoth en Leviathan se gelyke- ‘n trofeedier! Dit was soos van ouds- mens teen dier, sintuig teen sintuig, oorlewing van die sterkstes…

Die euforie van oorwinning het deur my gespoel- ek is die een wat hierdie battle oorleef het, ek kn huis toe gaan en die storie vertel. Nou het ek ‘n trofeedier se kop vir my lapa…

Ek gaan nader, en katrol die lewelose karkas tot op my sleepwa. Ek sit en wag tot die son opkom met ‘n beker koffie, die adrenalien loop nog te hoog om te gaan slaap.

Opgewonde ry ek na my vriend die taksidermis se werkswinkel toe, vandag gaan ons besigheid doen. Ek hoop nie my trofeedier se opstopkoste gaan te veel kos nie- daar is net ‘n kopmontering ter sprake, die res van die liggaam het nie die aanslag van die .50″ projektiel goed gevat nie…  Ek reverse in die plek waar die trofeediere ontvang word, en hulle staan gereed met die blok en takkel… triomfantelik ruk ek die seil weg van die trofeedier af, dat almal kan deel in my vreugde…

My taksidermis vriend het al alles in sy lewe gesien. Maar ek sien hy word bleek, en pers sy lippe styf saam om te keer dat hy hiperventileer…  Ek word effe benoud, het ‘n mens dan permitte nodig vir hierdie klas van ondiere?

My vriend sukkel om sy woorde uit te kry…

“Wat het jy met my skoonma se Maltese Poedel gemaak?!!!”

Hier in die tronksel is daar geen blaffende keffertjies nie.

As julle weet van iemand wat ‘n Barrett .50 Cal met ‘n Schmidt & Bender scope en 2 rondtes ammunisie teen ‘n goeie prys wil hê, kontak asb die staatsaanklaer, ek kort dringend bailgeld.

 

PS… Geen ware diere is seergemaak tydens die verfilming hiervan nie…