Trofeejag…

Ek weet dis deesdae ‘n baie kontroversiële onderwerp.  Die Amerikaanse owerhede probeer hulle bes om die invoer van trofeediere se oorblyfsels te verbied. Die Europese Unie is nie ver agter nie.

En tog is daar so ‘n leë plekkie bo my vuurmaakplek in my lapa. Ek het nou al by my vriend die taksidermis se werkswinkel gesien dat mense die vreemdste diere en reptiele en voëls laat opstop. Daar is glo nie te veel politiek rondom die saak as dit probleem ongediertes is nie. Niemand gee te vreeslik baie om as dit ‘n jakkals was wat tussen die skape doodgeskiet is nie.

Nou kom my groot vraag: wie bepaal wat is ‘n ongedierte? ‘n Probleemdier? Alles is deesdae so relatief- een mens se terroris is ‘n ander se vryheidsvegter, een mens se troetelmamba is ‘n ander se ergste vrees.

Met dit in gedagte was daar nou al geruime tyd wat ek darem ook ietsie wou vermoor en laat opstop. Ek het die ideale teiken gevind- ‘n probleemdier van epiese proporsies. Amper so erg soos die Behemoth en die Leviathan van ouds in die Goeie Boek, meer spesifiek die vertellinge van Job. Job het sy kwota lyding gehad, en hierdie ongedierte het ook al sy kwota wrewel in my lewensruim ingebring.

Met dit in gedagte het ek maar so paar maande gelede daar na Safari & Outdoor toe gegaan in Lynnwoodweg. Die hele winkel is mos een reuse kluis, en hulle het alles daar van die eerste grotman se knuppel tot by die laserguns waarmee Elon Musk se mense Mars toe gaan vertrek.

Ek het so rondgestap en een besondere vuurwapen het dadelik my aandag getrek. Dis die ideale geweer om enige grootte ongedierte mee uit te wis. By nadere ondersoek het dit geblyk ‘n Barrett M82 A1 .50 Cal te wees. Dit kos nou wel R1200 per patroon, maar jy hoef net binne ‘n meter van die dier se kop af te skiet, die skokgolwe wat die projektiel in die lug maak is genoeg om enige ding wat asem haal, dadelik deur die Jordaan te neem.

Daar was toe wel so ‘n ligte probleem met die lisensiestories, oom Bheki Cele wil glo nie hê die burgers moet meer iets gevaarliker as ‘n plastiese swaard van Crazy Store hê vir selfverdediging nie. Ek moes toe maar die langer pad vat- ek het aangesluit by die Jagtersvereniging, en al die kursusse geloop om as toegewyde jagter te kwalifiseer. Dit het ook verskeie interessante werkswinkels meegebring, soos hoe om te bepaal aan die smaak van ‘n koedoebol hoe lank gelede die bok daar verby is, of hoe om die verskillende spore van diere selfs op die rivierbodem in ‘n vloed te volg…

Met baie moeite en verdriet het die SAPS se vuurwapentak uiteindelik gebel: my lisensie is gereed. Ek het die R150 000 oorgeplaas vir my Barrett, en gevra hulle moet ‘n baie goeie Schmidt & Bender teleskoop opsit, ongeag die koste. Ek verneem hierdie kombinasie het al in Irak skote van oor die 2500 meter akkuraat voltooi, die ontvanger van die projektiel was glo nie te gelukkig daarmee nie.

In elk geval, die Barrett het so ‘n oulike Harris bipod op vir ekstra akkuraatheid. Eergisteraand het die groot jag uiteindelik aangebreek. Ek het my donker camo’s aangetrek en van Herman Mashaba se Black is Beautiful oor my gesig gesmeer. Ek kon net drie rondtes bekostig, maar hulle is sorgvuldig gepoleer en in die magasyn gebêre. Ek het met die versigtigheid wat enige professionele sluipskutter sou beïndruk gesorg dat ek in my posisie kom waar ek die ondier sou kon sien as hy nader kom. Die geweer is mooi in posisie gebring op sy pootjies. Daarna het ek begin wag… Dit was ‘n lang wag! ‘n Mens kan nie eens muskiete wegklap nie, die ondier se sintuie is te skerp. Ek moes voortdurend die wind in berekening bring, want windaf ruik die ondier my dalk net en vlug na veiligheid toe. Of kom val my aan.

Net na drie-uur gisteroggend skrik ek wakker, en daar, in die maanlig, staan die objek van my nagmerries. Hy maak die mees onaardse geluide. Sy oë lyk demonies swart, sy asem stink soos die poorte van die hel, en sy tande is die aakligste Hollandse kaasgeel kleur. Gelukkig gaan staan die dierasie vir ‘n oomblik om die lug te snuiwe, maar die wind waar reg vir my…

Ek maak soos die histeriese korporaal jare gelede op die skietbaan met baie donker Afrikaanse woorde my geleer het. Ek haal diep asem in. Blaas saggies halfpad uit. Die veiligheidsknip is af, die kruisie van die teleskoop soek die perfekte kol op die blad. My hand druk stadig toe, ‘n mens pluk nie aan ‘n sneller nie! Wanneer die skoot klap, verbaas dit my, en seker die teiken ook…

Dit was raak! Daar, in die maanlig, lê Behemoth en Leviathan se gelyke- ‘n trofeedier! Dit was soos van ouds- mens teen dier, sintuig teen sintuig, oorlewing van die sterkstes…

Die euforie van oorwinning het deur my gespoel- ek is die een wat hierdie battle oorleef het, ek kn huis toe gaan en die storie vertel. Nou het ek ‘n trofeedier se kop vir my lapa…

Ek gaan nader, en katrol die lewelose karkas tot op my sleepwa. Ek sit en wag tot die son opkom met ‘n beker koffie, die adrenalien loop nog te hoog om te gaan slaap.

Opgewonde ry ek na my vriend die taksidermis se werkswinkel toe, vandag gaan ons besigheid doen. Ek hoop nie my trofeedier se opstopkoste gaan te veel kos nie- daar is net ‘n kopmontering ter sprake, die res van die liggaam het nie die aanslag van die .50″ projektiel goed gevat nie…  Ek reverse in die plek waar die trofeediere ontvang word, en hulle staan gereed met die blok en takkel… triomfantelik ruk ek die seil weg van die trofeedier af, dat almal kan deel in my vreugde…

My taksidermis vriend het al alles in sy lewe gesien. Maar ek sien hy word bleek, en pers sy lippe styf saam om te keer dat hy hiperventileer…  Ek word effe benoud, het ‘n mens dan permitte nodig vir hierdie klas van ondiere?

My vriend sukkel om sy woorde uit te kry…

“Wat het jy met my skoonma se Maltese Poedel gemaak?!!!”

Hier in die tronksel is daar geen blaffende keffertjies nie.

As julle weet van iemand wat ‘n Barrett .50 Cal met ‘n Schmidt & Bender scope en 2 rondtes ammunisie teen ‘n goeie prys wil hê, kontak asb die staatsaanklaer, ek kort dringend bailgeld.

 

PS… Geen ware diere is seergemaak tydens die verfilming hiervan nie…

Ken jy die see, Meneer? Uys Krige

Ek stap verlede week in Hartenbos langs die strand. Op die granietblad voor die rusbankie is hierdie pragtige ou gedig van Uys Krige ingebytel. Ek onthou die gedig van skooldae af. Maar eers noudat ek kinders het, verstaan ek hom bietjie beter…

Ken jy die see, Meneer? 

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep, blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy is gevaarliker as vlam of vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind
lyk of dit dae, dae lank sal duur,
maar word dié bries ‘n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Ja sleep die swart, swart wind die nag nog mee,
waar kry ons dan rus, waar is ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Gee hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas,
En daar is geen sprokkel hout meer vir jou vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos ‘n veer gevee
deur ‘n grys golf so hoog soos ‘n tronk se muur?
Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
sluk jy eers daardie waters sout en suur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes ‘n krap,
Hy’s koud soos vuur, heet soos die hellevuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
en ons net één ou misstappie moet gee
en hy kom trompop op ons afgestuur?

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Sien jy die krom ou vroutjie daar, Mevrou Matthee?
Wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink die briesie bring haar seuns betyds vir tee.
Hul slaap aldrie agter die kerkhofmuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur…

Uys Krige

Dankie vir die gedig op die granietblok by Hartenbos. Dankie Uys Krige vir die pragtige woorde. Ek sal nie weer oor die prys van vis murmureer nie…

 

 

DSC_0094.JPG

Liewe Ontevrede Restaurant Kliënt in Pretoria…

Jy het vanoggend besluit om te gaan uiteet vir middagete.  By die restaurant was die diens vanoggend baie stadig. Jy het dit verloor, op jou kelnerin gegil, en woedend daar uitgestorm. Ja nee, slegte diens in ‘n restaurant is verseker nie aanvaarbaar nie!

Weet jy, die restaurant wat jy gekies het, het ‘n krisis in die kombuis gehad. ‘n Hele paar personeellede het net eenvoudig nie opgedaag nie.  Dit het die diens vertraag.

Weet jy, daardie kelnerin wat jy so verskree het, is my dogter. Sy is ‘n student wat baie hard probeer om te help betaal aan ‘n baie duur opleiding.

Weet jy dat jou kosbestelling klaar op die sisteem was? Toe jy jou humeur so verloor het en uitgestorm het, weet jy wat het van die rekening geword? Insluitend al die drankies wat jy geniet het?  My dogter moes vir dit alles betaal. Dit was heelwat meer as wat sy in ‘n lang dag verdien…

Jy kon die bestuurder nader geroep het en jou probleem met die diens verduidelik het.  Dalk het dit beter gevolge gehad.

Jou optrede het my kind vandag duur gekos. Ek hoop jy slaap lekker.

Waar mot en roes verniel hier kort voor die einde…

Die Goeie Meester het in die Goeie Boek gesê ons moenie skatte op aarde bymekaar maak nie, want hier gaan mot en roes dit verniel. Of ons geliefde naastes gaan dit steel.  Vandag is ek sommer weer ekstra die hel in vir die sondeval. As ons nog in die volmaakte wêreld gelewe het, het ek glad nie vandag se moeilikheid gehad nie. Inteendeel, dan het ons nog kaalbas in die tuin baljaar…

Ek het die voorreg om verskeie ou voertuie te besit, wat op verskillende tye verskillende gesinslede na verskillende plekke toe moet vervoer. Onlangs het my geliefde naaste my dogter se motor probeer deel maak van die herverdeling van welvaart transformasie program. Ek sukkel nog steeds om al die regte pirate parte op te spoor (Toyota genuine Parts- R2800 vir die ignition barrell, en enkele sente onder R1000 vir die deurlslot…)

My Mazda Drifter bakkie het ook net een bestaande sleutel gehad. Ek weet Newton se eerste wet sê materie kan nie geskep of vernietig word nie. Erens op hierdie planeet, of een of ander paralelle heelal, is ‘n heel Mazda Drifter sleutel, met ‘n ekstra sleutel vir my Carryboy Canopy, asook ‘n Santam botteloopmakertjie vir daardie Windhoekies wat nie kan oopdraai nie, alles aan een carabiner. Daardie sleutel pas op my Drifter, en werk baie mooi. Behalwe dat hy totaal en al  weg is. R300 beloning vir die een wat hom in my hande plaas!

Die tweede sleutel van my bakkie was vandat ek hom gekoop het, al stukkend. Die “casing” was met superglue vasgeplak. Raai watter sleutel kies om nie weg te raak nie? Die stukkende een. En toe ek op die Rally was, toe gee hy die gees, in my vrou se hande…

Ek het my bakkie nodig om op vakansie te gaan Dinsdag.  Ek het ‘n werkende sleutel nodig. Die ou ene werk so effens, as jy die swart plastiek vashou aan die los metaalpunt, en dan so in die ignition druk. Maar dis groot werk vir elke staart!

Eers vra ek die Mazda agente in ons dorp- ek soek net graag ‘n werkende sleutel vir my bakkie. Nee, sê hulle- ‘n mens het albei nodig om ‘n nuwe een te programmeer. Of die hele stelsel moet vervang word! Nee, sê my baie goed opgeleide Ford mekêniek in my gemeente, dis nonsens. Tzaneen se tak kan dit met een sleutel doen. Maar Tzaneen is 320 km weg, met erge padwerke.

Ek skakel Lazarus Ford in Centurion. Hier volg die pret: Die sleutel kos R576, die chip nog so R560. Dan moet dit in die werkswinkel geherprogrammeer word- nog so R500 arbeid. Ja, hulle het die sleutel en die chip in voorraad. Maar hulle kan my eers Woensdag help. Maar ek ry Dinsdag see toe! Jou probleem, nie ons s’n nie!

Ek begin op die internet rondspeel. Silverton Locksmiths sê ek kan maar stad toe kom, hulle kan help. Gister is ons Pretoria toe, met die sleepwa om ons dogter se trek te gaan haal. Ma en die seuns bly by ousus se woonstel om te help pak. Ek jaag Silverton toe. “Jammer meneer, net die agente…” Julle het dan oor die foon gesê… Ag focacia pizza!

So ry ek vir ure rond in die stad, op soek na antwoorde. Aurina Ford in Silverton boek hom selfs in die werkswinkel in- hulle het die parte. Jammer meneer, ons het albei sleutels nodig…  Ag foxterrier!

Na ure se rondjaag sê ‘n sleutelplek in die Waterglen sentrum- die enigste ouens wat jou kan help, is Gateway Locksmiths daar in Esselenstraat in Sunnyside. Ek skakel hulle: ja, hulle kan help… Ek ry weer al die pad Sunnyside toe. Die ou wat so pas gesê het hy kan my help, is nie meer daar nie. Die ander probeer kyk.  Daar is sulke no-name brand sleutels teen die muur. Ek verduidelik- ek wil NOG ‘n werkende sleutel hê, ek kan hierdie een sommer weer met superglue plak, hy werk al 4 jaar so vir my. Die ouens sê hulle sal kyk wat hulle kan doen. Na so ruk kom hulle uit- hulle het vir my een van die generiese sleutels gesny. Hulle het my ou sleutel oopgesny en sy chip uitgehaal en in die generiese sleutel ingesit.  Ek was op hulle perseel, hulle het niks geprogrammeer nie. Wat skuld ek hulle? R650!!!!  Vir iets wat ek self kon doen met R20 se Super Glue, want ek het nog steeds net EEN werkende sleutel!!!

Gateway LOcksmiths mag dalk die beste in die kontrei wees, maar ek voel ordentlik deur die ore ge… werk…!!! Hoe op aarde kos ‘n no-name brand sleutel sonder enige inherente elektronika meer as ‘n nuwe karbattery, of ‘n Perfecto Motorfietsbaadjie???

My gevolgtrekking liewe vriende, as jy ‘n MAzzda sleutel verloor, steek maar die kar aan die brand en eis hom  by jou versekering. Want daar is GEEN manier waarop jy in hierdie lewe ‘n sleutel kan verloor, en weer een in die hande vir daardie voertuig kan kry nie.

GElukkig eindig die wêreld mos Vrydag, dan hoef ons nooit weer met slotte hoef te sukkel nie, dan kan ek speel met my Bugatti Veyron wat in die hemel vir my wag… .

As dit nie so uitwerk nie- ek is die ou by die see wat oral loop met sy bakkiesleutel met slot en ketting om sy gewrig vasgebind. Want as daardie generiese stuk plestiek eers gebreek het- dan gooi jy ‘n Ford produk weg…

Hospitale is nie lekker plekke nie!

Van kleins af ken ek hospitale. Ek is selfs in een gebore! Ek onthou dit nog soos gister… Donkerte, en toe lig. ‘N gemaskerde persoon wat my alie aan die brand slaam sonder dat ek iets verkeerd gedoen het…

My eie moeder was ‘n teatersuster, my ouma was ‘n suster. En ek kom baie gereeld in hospitale- ek doen siekebesoek as daar van my gemeentemense daar in nood is.

Self was ek na geboorte nog redelik geseënd om hospitale te vermy. Ek het nog alles waarmee ek ge-issue is- die enigste keer wat ek nog daar beland het, was toe my verstand in die vorm van tande uitgehaal is daar by die nonne in Groenkloof. Behalwe nou vir die ongelukkige voorval waar ek ‘n polisiewa met my 50 cc gekamikazi het in my 1e jaar op universiteit. Maar dis ‘n ander dag se storie…

Soos gesê- ek ken hospitale. Ek besoek dikwels mense daar. Ek kan dit baie goed doen, dink ek.

Behalwe as dit ‘n mens se eie kind is. My dogter het gisteraand in die Wilgers hospitaal geslaap. Haar bloeddruk hardloop skielik weg met haar. Dan word die rooikop BAIE bedonnerd! Ons weet nog nie wat fout is nie- ons sal netnou weer gaan hoor.

Dis nie lekker om nie te weet nie…

Maandag se inspirerende woorde…

Nee, dis te moeilik…

Ek is al weer in ‘n maalkolk in my kop die afgelope ruk.  Daar kom nie op die oomblik enige iets op om oor te skryf nie. Ek voel weer so “blank”- (lees in Engels… ) soos daardie ongelukkige gebeurtenis tydens die Ou Testament mondeling by Prof Fanie Snyman toe ek uitgejaag is om weer te gaan leer…

Daar is wel enkele dinge waaroor ek dankbaar is vandag:

  • My dogter is vir die week tuis- hulle vakansies is so week na gewone universiteite s’n. Ek en sy het vanoggend 6 km gaan stap en lekker gesels…
  • My swembad is amper weer blou, dit lyk nie meer soos ‘n baberdam nie…
  • Ek het Saterdag ‘n pragtige paartjie op ‘n Lodge getrou met die mooiste uitsig…
  •  Ek het gister ‘n doopdiens gehad, waar ek oor die seën van die Here uit 2 Korintiers 13:13 kon preek… Genade bly die mooiste woord in die Bybel vir my.
  • Ek was verlede week by Skoonma. Gelukkig is myne nie ‘n heks nie…
  • Dit is verskriklik warm in die Bosveld, en ons het nou dringend reën nodig. Die weervoorspelling sê dit lyk belowend vir die naweek…
  •  Vanoggend by die Ouetehuis gaan kuier, by ‘n dame van amper 97 en ‘n oom van 95.  Ek is dankbaar ek is nog nie daar nie!  Maar hulle twee hanteer dit met baie grasie, en dankbaarheid- ek voel altyd beter as ek daarvandaan wegstap. Wens alle ouer mense was so gewees!
  • More se Bybelstudie oor Johannes 7 se 2e helfte is klaar- dis eintlik baie fassinerend as ‘n mens die Loofhuttefees ken, en dan hierdie stuk in daardie konteks lees… Water wat lewe gee…

Dankie vir al die ander wat sulke inspirernde blogs op die oomblik skryf…

 

O ja- die GROOTSTE rede tot dankbaarheid: Ek is so bly ek hoef nie in ‘n Roomyskarretjie te werk nie… Dit is my naaste idee van wat die hel moet wees:

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

 

Die hele. hele dag lank…

 

Die Prys van die Liefde- deel 2

Ek is so jammer, verlede week se inskrywing van Die Prys van die liefde het party mense ontstel. ‘n Goeie vriend het sommer sy droom van ‘n nuwe fiets prysgegee en sy pragtige vrou meer begin aangryp…

Maar ‘n mens kan ‘n mooi verhaal nie so in die lug laat hang nie. Daar het soveel meer intussen gebeur.

Verlede Dinsdag het die kinders van die tannie deurgekom, op haar bevel. Sy het regtig ervaar die einde is nou naby, en sy wou tot siens sê. Maar hulle kuier het haar geïnspireer om nog so bietjie te wil lewe. So was daar regtig ‘n opflikkering in die lewensvlammetjie. Maar oor die naweek het dinge weer begin agteruit gaan.  Sy het geval, en haar man (nou 83 jaar oud) kon haar nie terugkry in die bed in hulle woonstelletjie in die ouetehuis toe nie. Sy moes toe maar noodgedwonge na die siekeboeg van die Ouetehuis verskuif word.   Maar Tant Tienie was nie baie gelukkig daar nie. Sy en haar man was dan nou al by die 60 jaar getroud, hulle kan nie meer sonder mekaar lewe nie.

En sy het oor die naweek in die siekeboeg gebly.  Maar die oom het gesien- sy vroutjie is nie gelukkig daar nie.Sondagoggend om half vier, toe trek die oom ‘n James Bond van epiese proporsies op die Ouetehuis. Dit was VERSKRIKLIK koud. Maar die oom het ‘n rolstoel  in die hande gekry, en in daardie donker, koue uur die Ouetehuis binnegesluip, en sy vrou gaan ontvoer.  Ek weet wraggies nie hoe op aarde het hy dit reggekry nie, sy moes met die bietjie krag wat in haar oor was, hom gehelp het om haar in die rolstoel te kry, en warm toe te draai.

Sesuur Sondagoggend is die hel los. Die verpleegster daag met die tannie se bord Oatspap op. En weg is sy! Sy skakel toe maar die kinders- Tant Tienie is weg!  Na kerk gaan kyk die kinders. Tant Tienie lê gelukkig in haar eie bed, en haar man glimlag breed met daardie onnutsige glinster in sy oog. So het hulle ‘n wonderlike avontuur beleef!

Maar die tannie was reg- haar gesondheid was vinnig besig om agteruit te gaan. Soos verlede week vertel, het sy altwee haar seuns aan hartaanvalle op ‘n jong ouderdom verloor as gevolg van ‘n aangebore hartdefek. Die een seun se vrou is weer getroud, maar behandel hierdie twee gewese skoonouers nog steeds met die mooiste respek en liefde. Sy het in die week gaan kuier waar tant Tienie weer in die siekeboeg opgeneem moes word. Met die organe wat stadig gaan staan het, was die tannie vir groot tye nie by haar bewussyn nie. Maar hier na die einde toe gistermiddag het sy helder wakker geword. Sy was in ‘n geestesvervoering- sy het beskryf hoe sien sy ‘n helder lig, en aan die ander kant sien sy van haar oorlede broers en susters, asook haar twee seuns, wat haar roep om na hulle te kom. En sy beskryf vir haar skoondogter dit asof sy dit ook moet sien- kyk hoe mooi lyk hulle!   Daar is net een ding wat haar terughou: gaan haar man sonder haar regkom?  Maar haar man het ‘n paar keer hierdie week al vir haar gesê hy wil haar nie terughou nie, as dit haar tyd is, kan sy met vrede gaan.

Gisteraand het die oom weer by haar bed gesit. Sy het al in 1982 ‘n hartaanval oorleef, en moes van toe af ‘n slaappilletjie drink om aan die slaap te raak.  Gisteraand het sy weer haar slaappilletjie gedrink. Haar man het soos gewoonlik oor haar been gevryf tot sy rustig aan die slaap raak. Toe hy dink sy slaap, vat hy sy hand weg. En die tannie vra kwaai: “Waar is jou hand?”  So het hy nog ‘n kwartier by haar gesit, tot sy rustig aan die slaap geraak het.  Hy is terug na hulle woonstelletjie toe.

Teen half twaalf gisteraand het die personeel hom kom roep. Sy is saggies in haar slaap oorlede.

VAnoggend vroeg kry ek die boodskap. Ek gaan kuier vir hom by sy woonstelletjie. Die HELE ouetehuis is in sy sitkamer. Almal gee om, almal is daar om te ondersteun. Maar  daar is nie eers sitplek vir die oom en my in sy eie huis nie. Die oumense sit en praat met mekaar oor hulle ortopede en hartspesialiste, en vertel mekaar wrede oorlogstories van hulle operasies en herstel. EK neem die oom na die klein kombuisie toe, net ons twee. Ek sit my arm om sy skouer, en bid vir hom. Dankie vir die tannie se lewe. Dankie vir hulle wonderlike 60 jaar saam, en die voorbeeld wat hulle vir ons gestel het van mense wat ware liefde verstaan.  En Here, dra asb vir oom Hans in U arms deur hierdie donker diepte…

Sy skoondogter het hom net daarna kom haal, die woonstel, en sekerlik die baie mense, was vir hom te veel.

Ek het vanmiddag weer daar gaan kuier, ek moet Maandag haar troosdiens lei. Die versoek is dat ek uit Prediker 12 sal preek.

Ek help graag, oom Hans! Maar ek gaan waarskynlik hierdie keer net so hard huil soos julle!

My begeerte is om ook so oud te kan word, dankbaar en tevrede, saam met die vrou van my jeug…

Ek sal ook daarvan hou om eendag so deur die Jordaan te kan gaan…

Ek is so bang vir daardie alleenheid…

Bid maar vir oom Hans asseblief, dis die wonderlikste, mees saggeaarde mens, wat vir my so ‘n voorbeeld van liefde is. Dit gaan vir hom ‘n baie moeilike reis vorentoe wees!

 

Op hierdie koue dag…

  •  is ek wakker gebel deur die Ouetehuis- die dame oor wie ek verlede week geskrywe het in “Die prys van die liefde” is nou baie na aan die einde van haar lewenspad. Sy het verlede week bietjie opgeflikker na al haar kinders daar was en haar gevra het om nog so bietjie te baklei teen die naderende einde. SY is nou moeg baklei…
  •  vertel jongkollega ons van sy nuwe status op facebook- hy is nie meer “single”nie maar in ‘n “relationship”… Hou dop, ek glo ons gaan die nuwe liefde in die Olimpiese spele van 2016 in Rio sien- hou dames padfietsry dop, sy is VINNIG!
  • moet ek ‘n pa van vier dogters gaan begrawe- een se man is nou al self  30 dae in die Intensiewe sorg eenheid van Pietersburg se Provinsiale hospitaal- die siek skoonseun is nou maar 39 en dodelik siek na ‘n maagsweer begin bloei het, verkeerd deur die Kubaan behandel is, en septisemia opgedoen het wat sy organe aanval.
  •  gaan my dogter Oppikoppi toe en in ‘n tent bly terwyl sy nog nie gesond is nie, en nie vir haar bejaarde vader wil luister nie…
  • Is ‘n baie goeie vriendin uit die Kaap uit in ons dorp, en hoop ek ons kan vandag na al die hartseer gebeure lekker kuier.
  • Begin my vrou en kinders se langnaweek, ek is aan diens vir die naweek.
  •  Val die sneeu op die dorpe rondom ons, maar steeds nie by ons nie. En my vrou het nog nooit self sneeu beleef nie.
  •  Moet my twee hoërskoolseuns begin leer vir Maandag se toetsreeks, hulle albei se gemiddelde lê rondom 42%. Hoe de hel kry ‘n mens ‘n hoërskoolseun om oor ‘n langnaweek te leer?
  • Eintlik maar ‘n doodgewone dag in die lewe van die plattelandse predikant…

Die kennisgewingbord in ons kombuis sê gewoonlik hoe die gesin voel…

wat de *#+@!!! gaan met my laptop aan?

Ons het ‘n Wınkerk program waarop al ons gemeentelede se kontakbesonderhede ıs. Baıe handıg om vınnıg ıemand op te spoor wat hulp noıdıg het.

Gısteraand moes ek ‘n omgeegroep gaan bywoon by dıe aftreeoord op dıe berg. Ek wıl net weer dıe leıer se huısnommer bevestıg. Daar vra dıe program skıelık watter databasıs ek wıl gebruık. Ek besluıt om maar eerder te “reboot” net daar begın my leed. Dıe laptop wıl glad nıks weet nıe. Wındows kom nıe aan dıe gang nıe. Nıe met ‘n “safe mode’ nıe, en ek kry nıe eers ıets reg met ‘n startup dısk nıe. Hy vra nog watter keyboard hy moet gebruık, en dan hang hy. Dıe muıs beweeg, maar verder gebeur net mooı nıks.

Ek het verlede maand vır my student dogter ‘n ı5 laptop gekoop, ek ıs nou bankrot! My laptop ıs ‘n 18 maande oıe Acer Aspıre Dual core.

Het enıge ıemand dalk raad, want op dıe oomblık wıl my sondıge natuur kyk hoe ver ek hom kan gooı ın dıe styl van dıe Olımpıese dıskus… Maar dan ıs ek heeltemal rekenaarloos- en dıe Blackberry kan maar nıe alles doen nıe…