Donkiestories…

Ek verlang na die Donkie. So ek haal hom bietjie uit sy stal uit vir ‘n Spin…

20140802_120647

 

Wat sou die Donkie op die oomblik wou sê as hy kon praat?

  •  Gesondheid is ‘n baie groot gawe.  Jy besef dit veral wanneer hulle jou in ‘n teater instoot…
  • Familie is ‘n baie groot gawe…  kan nie vandag meer sê nie, gemoed is bietjie vol…
  •  Ware vriende is ‘n baie groot gawe, facebook kennisse is BAIE, pelle is ‘n klomp, ware vriende tel jy op een hand…  Het dit net weer gisteraand besef toe ek ‘n bier wou gaan drink saam met iemand, want dit was my pa se verjaardag, al is hy al 21 jaar oorlede.  EK het altyd gedink Pa verstaan nie mooi nie. Nou is ek 7 jaar jonger as toe hy dood is, en nou kom ek al hoe meer agter: Ek verstaan nie mooi nie…
  •  Die regte lewensmaat is seker een van die top 2 grootste gawes in die lewe- ek het saam met haar gisteraand ‘n bier gaan drink- sy verkies Grapetizer…
  • Die kerk is veronderstel om ‘n baie groot gawe aan die wêreld te wees. Maar nie soos sy nou lyk nie…
  • Die jeug is ‘n wonderlike gawe, en ek weet nie of ons ‘n goeie invloed op hulle is nie…  Almal sien vandag se hoërskool kinders se foute raak, maar niemand vra waar dit vandaan kom nie.  Die meeste het baie negatiewe rolmodelle wat oor alles kla…
  • Ek sit nou met trompetmusiek in my studeerkamer en probeer dink wat die Here graag vir die gemeente wil sê Sondag… die trompet is hemels… Sondag se boodskap wil nie kom nie…
  • Motorfietse is ‘n gawe uit die hemel.  Maar motoriste kan demone uit die hel uit wees…
  • Ek moet dringend weer ‘n droom kry- dalk ‘n volgende Camino de Santiago beplan, iets soos die Portugese of Noordelike roete.
  • Hoekom pak so baie mense se galblase deesdae op?
  • “What if this is as good as it gets…?”
  • Alan Hirsch se boeke oor wat die kerk kan wees is besig om my kop te blaas…
  • Ek verlang na my vriende in die Kaap. EN na Ons Huisie se snoek. En na Blue Peter se Bosun’s Bitter as die son sak agter Robben Eiland.  En na Tafelberg.
  •  Ek begin werk aan my 20e Argus- moet die beste een ooit wees. Na ‘n operasie mag ek nog nie fietsry nie. Ek swem vir die eerste keer van Hoërskool Dae af. EN borsslag is steeds die maklikste vir my, en flinderslag steeds net vir Chad en Cameron bedoel…  Borsslag klink soveel lekkerder in Engels…
  • Mense is hel- Jean Paul Sartre
  • Verhoudings is die lekkerste lekker en die diepste seer- die Donkie…
  •  Is die dolfyne nog hier? Of het hulle al lankal gesê :“So long and thanks for the fish…”
  •  Ware Liefde is al wat regtig die wêreld kan red. Maar dis so ongelooflik skaars deesdae…

 

Die einde van die wêreld was toe groot pret…

Gisteroggend sit ek en kyk Sky News. En in die koerante vertel hulle hoe die einde van die wêreld teen 12 minute oor 11 verwag kan word volgens die koerante in Engeland.

Ek weet- die einde van die wêreld kom net ‘n paar keer in ‘n mens se lewe. ‘n Mens moenie daarmee mors nie, anders moet jy dalk 5125 jaar wag om die volgende een op die Maya kalender te beleef. So- verskuldigde eerbied is verskuldig vir die aard van die geleentheid. Jy moet jou kleredrag reg ken, en soos die eiendomsmark is die drie belangrikste dinge om te onthou “Location, location, location…”

Vir die geleentheid het ek maar vir my ‘n blou swembroek gaan koop, my rooie is in die brand vernietig. Ek en die gesin het op Pennington se strand gaan sit en wag op die einde. Ek het gewonder hoe dit gaan wees. Een verblindende straal lig wat die aarde net uitwis, dat ons die volgende oomblik in die hemel is? Die aarde wat oopskeur en kontinentale plate wat omdop in die lawa in, dat ons almal soos op ‘n rollercoaster gaan sit en gil?  ‘n Reuse Tsunami waarmee ek tot in Newcastle kan body surf?  Ek het nie geweet wat om te verwag nie.

Ek het selfs, soos Douglas Adams dit so mooi beskryf het, by die Restaurant aan die einde van die wêreld beland. Hier is hy…

Die Mpithi  Beach Kiosk daar aan die bokant van die trappe. Ek wou so graag daar gaan koffie drink en appeltert eet om vir oulaas iets in my maag te hê, ek dink nie ‘n mens moet met ‘n leë maag die aarde verlaat nie. Ek het eers baie lank op die bankie gesit en wag vir ‘n leë tafel. Die gesin was solank op die strand, hulle wou eerder swem as appeltert eet. Na baie lang gewag het daar uitdeindelik ‘n tafel oopgegaan. ‘n Sespersoon tafel. Ek het daar gaan plaasneem. Na sowat tien minute het die jonge Zoeloe dame die tafel kom skoonmaak van die vorige kliente se reste…  Sy het gesê sy sal nou die Menu bring… sy het verdwyn, ek dink Zoeloes is eerste weggeraap, sal iemand kyk of ons geagte President nog met ons is?  (die Bybel sê mos dieé wat eerste is sal laaste wees, en die laastes eerste- dit maak sin- Zoeloes gaan voor Afrikaners weggeraap word…)+

Twintig minute later sit ek nog steeds daar met waterende mond en wag vir my menu… Twee tafels verder het mense moedeloos geword en opgestaan en geloop. So tien minute later kom die ander Zoeloe dame by die leë tafel en sit hulle borde kos neer. Niemand bring steeds vir my ‘n menu nie. ‘n Bejaarde Engelse heer sit en kyk die storie so, hy roep die bestuurder en sê ek het nog geen diens ontvang nie. Die bestuurder mompel iets van hy sal nou iemand stuur.  Na nog tien minute staan ek op, en gaan vertel die bestuurder ek wil nie daar bly sit en wag op die einde van die wêreld nie, hy kan maar sy menu vat en…  nee, gewoonlik is ek te polite en dink dit net… Maar vir die mense gesê veertig minute se wag vir die menu is totaal onaanvaarbaar. Ek kan  net dink wat sou Gordon Ramsay hier gesê het. En dis jammer, hierdie mense se kos lyk lekker wanneeer dit wel eendag opdaag.  Hulle het een van die mooiste uitsigte wat ‘n mens voor kan vra.  Nee wat, ek gaan nie weer my tyd daar mors nie.,., Die aarde sal vergaan voor hierdie Teagarden jou goeie diens sal gee…

In elk geval, ek gaan neem toe maar plaas op die strand, en kyk op ‘n afstand hoe my nageslag in die see baljaar. Hier kort voor my kom sit twee susters van so in die 20 jaar, die een is ‘n jong moeder… Ag, te pragtig, uiteindelik het die vroulike vorm perfeksie bereik, dankie tog vir die donkerbril. Dis darem so mooi om te sien so kort voor die einde- d ie prag en skoonheid van die kroon van die skepping…

Die minute het afgetik. Uiteindelik het die tyd aangebreek. Ek het dit op my horlosie afgeneem as bewys vir die nageslag: ek was ook daar toe die wêreld geeindig het. Ek het my gemaklik neergevlei op my handdoek en my hoed oor my oë getrek- as die einde kom wil ek dit nie sien as dit erg is nie. Ek het die posisie aangeneem  vir einde van die wêreld reise…

Eers het dit begin met die selfone wat nie meer sein het nie. Die see het skielik teruggetrek, dit staan mos daar in Openbaring 21 dat die see nie meer daar sal wees nie. Die dolfyne was inderdaad nie meer op die laneet nie, nes Douglas Adams dit in die historiese akkurate skrywe- “Hitchhikers Guide to the Galaxy” beskryf het.  Ek het nie die intergalaktiese stootskrapers van die Gorgons gesien nie, net die aaklige geluid waarmee die aarde ontplof het. Jy kon net bikini’s sien spat die hele leë strand vol… Die aarde het in verskeie kaleidoskopiese kleure ontbind in verskillende chemiese elemente.  Dit het die reuk van Durban Poison gehad, en ons mense het teen die spoed van lig die duister ingetrek. En nee, dit maak toe nie seer as jy deur ‘n Black Hole trek nie, moet dit net nie in Afrikaans vertaal nie… Die ANC se nuwe leierskap het Noordwaarts in die ruimte ingetrek, en die goeie mense suidwaarts…   Daar was ‘n tonnel met ‘n helder wit lig, en ek kon harpe saggies hoor speel aan die ander kant- “Brothers in Arms” van Dire Straits was van 1976 af die nommer 1 op hulle top 40 ook daar aan die anderkant…

En net voor ek by Petrus by die Pêrelpoorte aankom, het Noag se sondvloed my getref. Ek wou nog sê: “Petrus- die Goeie Boek het dan gesê nooit weer met water nie…”  toe hoor ek my jongste se stem : “Pa beter nog sonbrandroom aansit, anders gaan pa se pens brand…”

Die klein bliks… kottel staan daar met sy geel emmertjie met Indiese OSeaan Durban Rioolwater wat hy liefderyk oor my uitgegiet het. En so het die wêreld toe geeindig, want kort daarna moes ons terug om uit die warm son uit te kom en middagete te gaan maak.

Hierdie einde van die wêreld het ek gemis.  Ek het gehoor al die goeie mense is weg. Hoekom is jy nog hier?

Die komplot van Felix Astera teen die ganse mensdom.

Ek was vanoggend by my tandarts.  Hierdie besoek is vooraf gegaan deur baie gemoedswroeging, want ek is een van daardie mense wat so vrees uitstraal teenoor ‘n tandarts, dat dit hulle selfmoordsyfer opjaag. Dis glo baie gevaarlik om ‘n tandarts te wees- selfmoord is ‘n ernstige beroepsrisiko.  Maar myne het dit nog nie oorgekom nie, anders sou ek dit dalk vanoggend agtergekom het.

In elk geval, my tandarts het een kyk na die gebreekte tand gegee, en toe sy kop meewarig geskud. “Hierdie gaan jou baie seerder maak as vir my,” het hy gesê. Toe het daar allerhande inspuitings en gasmaskers toegeslaan op my vreesbevange liggaam daar in die gat bo kop sitposisie in die stoel. My tandarts se stoel lyk nog nie soos die Spur se sitplekke nie. Dis ook nie so lekker ervaring soos ‘n Draught en hammie in die Spur nie. En baie, baie duurder!  In elk geval- ek pass toe maar uit van al die vreemde chemikalië wat deur my are spoel. ‘n Mens sou dit kon beskryf deur te sê dat ek vanuit die helder wit lig in die donker tonnel inbeweeg het…

Ek is vaagweg bewus daarvan dat iemand oor my leuen, en my heen en weer deur die gesig klap. Dis die tandarts wat klaar is met sy argeologiese opgrawings in my agtertand. Ek moet nou wakker word en loop, daar sit nog baie mense in sy spreekkamer om aan sy Mercedes en Wildsplaas te betaal.   In elk geval, ek strompel daar uit, val in my bakkie in, en jaag huis toe. Gelukkig ken die dorp se spietkop my, hy weet as ek jaag is daar ‘n groot krisis in die gemeente, meestal in my eie huis.

Toe ek by die huis kom, het die lewe begin terugkom in my mond. Ek het toe maar op die bed gaan lê, totdat die wêreld vir ‘n slag ophou om so vinnig te draai. Ek weet ons moet teen 29 km/s om die son kom, en 365 1/4 rotasies voor Oujaarsaand 24h00 voltooi, anders is ‘n jaar mos nie meer ‘n jaar nie, en gaan niemand meer weet wanneer verjaar hulle of is dit Krismis nie.

Toe ek so op die bed gaan lê, kom die kinders se kat, Einstein, langs my lê. En wat nou gaan volg, is baie belangrike inligting wat asseblief aan Jaap Zuma en Barack Obama oorgelewer moet word, ons almal se lewens hang daarvan af.

Die kat, Einstein, foto hierbo, kyk my so met meegevoel aan. En skielik praat hy. Ek jok regtig nie nou nie! Ek het my doodgeskrik. Die kat sê vir my: “Jy lyk sleg, né!” Ek sê vir hom- “jy is ‘n mooi een om te praat! Gelukkig sit ek nie my eie gat en lek in die son soos jy nie!” Die kat kry so verleë glimlag om sy mondhoeke.  Maar hy laat hom nie afsit nie, eintlik hou hy nogal van my- ek koop vir hom Pedigree katkos. HY sê vir my dat hy iets op die hart het om met my te deel, wat sy eie lewe en myne in gevaar stel. Ek dog dis dalk ‘n rotplaag in die dak, wat die builepes weer gaan laat opvlam. Ek wil hom net vra wat hy daaromtrent gaan doen, toe sien ek hy lyk ernstig. Hy moet die volgende met my deel, sê hy.

Stephen Hawkins was toe reg gewees. Daar bestaan inderdaad iets soos paralelle heelalle. Einstein (dis nou my kat, nie Albert nie) vermoed dat Hawkins se kat ook iets uitgelap het. Soms raak katte baie lief vir mense, en dan praat hulle uit. Maar meestal sal hulle net optree asof ons nie bestaan nie. Behalwe wanneer die yskas oopgaan. Ek gaap van verbasing. Hoe ken Einstein vir Stephen Hawkins, en wat weet hy van paralelle heelalle? Ek weet dan nie eers iets daarvan nie?

‘n Paralelle heelal (universe) is ‘n hipotetiese (net vir ons- ‘n hipotese bly dit totdat dit bewys of die teendeel bewys is, dan is dit ‘n feit of ‘n mite) selfonderhoudende realiteit wat saam met die ervaarde realiteit saambestaan. Dalk is my vertaling effens kreupel. Einstein het hieroor geskryf op Wikipedia terwyl ek geslaap het en my rekenaar aan vergeet het: “A parallel universe or alternative reality is a hypothetical self-contained, separate reality coexisting with one’s own. ” In hierdie alternatiewe heelal is die basiese natuurwette anders, daar is nie relativistiese beperkings nie, en die spoed van lig kan oortref word, aldus Einstein. Uit wat Einstein graag vir my wil vertel, is daar ‘n paralelle heelal aan ons s’n, wat net deur ‘n enkele kwantumgebeure van ons af geskei word.  Dieselfde tipe dinge gebeur meestal dieselfde in verskillende wêrelde. Maar in hierdie paralelle heelal, genaamd Felix Astera (die Kat-ster konstellasie) is die huiskat die kroon van die skepping. In daardie heelal hou huiskatte mense aan as troeteldiere. “Onthou jy wat het jy met my knaters gedoen, Bileam? In daardie heelal het ek… ” Ek val hom dringend in die rede- sekere goed wil ‘n man nie hoor nie.

“Nou wat wil jy vir my vertel, Einstein- wat is so dringend dat jy jou lewe in gevaar stel vir my?” Die kat kyk my met ou, wyse oë aan. ‘n Ligte glimlag speel om sy mondhoeke. “Ek wil jou waarsku- julle is in gevaar! Jy moet voorbereid wees daarop.”

Die kat begin my die hele storie vertel. Die planetestelsel rondom die Kat-Ster het ‘n groot krisis begin beleef. Hulle weergawe van die asteroide Toutatis wat ons aarde gaan tref op 21 Desember 2012 op die Suidpool (google dit, kyk self!), het deur die gravitasie van hulle son van wentelbaan verander, en  teen hulle derde planeet gebots. Dit het die wentelbaan van hulle planeet baie effentjies verander.  Maar met die miniatuur gradeverskil van hulle wentelbaan het hulle planeet se ellips om die son jaar na jaar, bietjie vir bietjie, na die son toe begin indraai. Stadigaan is hulle planeet besig om al nader aan die son te beweeg. Temperature styg elke 1000o jaar met 1 graad Celsius. Binnekort sal dit egter by hulle soos op ons Mars begin word, te warm vir water om ‘n vloeistof te bly, en plante sterf uit, hulle verdroog letterlik soos die son nader kom.

Die katte se wetenskaplikes is baie ver voor die menslike wetenskap. Hulle het meer as 8000 jaar gelede al uitgevind van paralelle heelalle, en ons s’n ontdek. Hulle het ook uitgevind van ‘n ander dimensie van tyd, wat reis tussen die heelalle moontlik maak deur ‘n sogenaamde “worm-hole”. Waar is hulle heelal? Dis wat ons nog nie kan verstaan met ons wetenskap en ons konsepte van lengte, breedte en hoogte nie. Daar is ‘n vierde dimensie, tyd, en ‘n vyfde dimensie, wat ons nie eers in ons tale met woorde kan beskryf nie. Dis by ons, en terselfdertyd aan die ander kant van die heelal. Die portaal van hierdie worm-hole is die Sfinks by die piramides net buite Kaïro. (Dis hoekom dit die lyf van ‘n kat het, en die kop van ‘n mens. Verstaan jy? Obviously nie!)

Vier duisend jaar gelede het hulle ‘n afvaardiging katte na ons wêreld toe gestuur met die opdrag: gaan vermeerder, vul die aarde, en rapporteer terug aan ons. As die mensdom op sy weerloosste is, kan hulle baie maklik oorgeneem word met ‘n vinnige staatsgreep.

Dis waarmee die katte die afgelope vier duisend jaar besig is. Die katte het so vermeerder dat byna elke huis in die wêreld ‘n verteenwoordiger van Felix Astera in hulle huis akkomodeer. Die kat steur hom nie veel aan sy “eienaar” nie, want eintlik besit hy reeds op papier die huis, die inhoud en die mense. Hy is wel afhanklik van die kos wat ons hom gee, en sal so nou en dan ‘n muis van om ons te laat dink dat daar n doel aan sy teenwoordigheid in ons huis is .

Die probleem met die katspesies wat op aarde voorkom, is dat dit verouderde tegnologie is. Die kat se pels is so ontwerp om van ons son se strale om te skakel in elektriese energie. Dit help die kat om vir so ongeveer 14 jaar te kan opereer, voordat sy sisteme ingee en hy ophou funksioneer. Daarom lê die kat graag in die son. Hy herlaai sy batterye. Die foto-elektriese eienskappe van die pels word nog deur water bedreig, omdat dit sulke ou tegnologie is, is dit baie vatbaar vir kortsluitings. Daarom sal katte so ver moontlik water vermy. As jy ‘n kat sien wat van bad hou, moet jy ekstra versigtig wees, dis ‘n nuwer weergawe, wat baie meer gevaarlik as die ouer modelle is. Wanneer ‘n mens ‘n kat streel, dan word ekstra energie opgewek. Die kat maak ‘n hoorbare vibrasiegeluid. Ons mense is gekondisioneer om te dink dat die kat die aandag baie geniet, wat veroorsaak dat ons langer aanhou streel. Wat in werklikheid gebeur is dat die wrywing op die pels sekere statiese energie opwek, genoeg om die kat se interne kommunikasietoerusting (vermom om soos ‘n linkernier te lyk) aktiveer, en dan word kort, bondige sit-reps na Felix Astera gestuur.

Die katte weet dat die aarde teen 21 Desember 2012 ‘n radikale verandering gaan beleef. Die Mayas se katte, en Nostradamus s’n, het dit per ongeluk uitgelek. Een of twee Hollywood grootkoppe se katte het ook per ongeluk iets laat val terwyl hulle base hoog was op kokaïene- dis waar rolprente soos 2012 en Next vandaan kom.

Daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie. Maar Einstein wou net gehad het ek moet weet. Want op 22 Desember 2012 word ek sy troeteldier in hierdie heelal.

Ek weet dit klink heeltemal na net ‘n storie. Maar as die mensdom betyds gewaarsku is, kan Nasa dalk nog iets doen daaraan, soos daai fliek wat Bruce Willis vir daai lelike ou van Aerosmith wat op American Idols is, se pragtige dogter en ons almal red, deur ‘n gat in die asteroide met ‘n olieboor te gaan boor.  As iemand vir oom Jaap Zuma persoonlik ken, of weet hoe om met die Withuis te kommunikeer, moet hulle asseblief hierdie inligting aanstuur! Dit sal dalk nodig wees om die Obamas se kat net eers te elimineer wat sekere inligting van hulle af weghou. (hierdie woorde het nou net die FBI se triljoende dollar rekenaar diep onder die aarde onder Washington DC geaktiveer, en in Amerikaanse Engels vertaal. Die pos sal binne minute verdwyn, soos reeds met Litnet en Blogger vanoggend gebeur het.)

As ek binnekort ook verdwyn, moet julle weet waar dit vandaan kom. Die beste raad is om nou dadelik te gaan en ‘n kat te gaan skiet. Julle is gewaarsku, maak gereed, die einde is op pad!