Yster slyp yster…

… en vriende vorm mekaar- so sê Spreuke 27:17.

Dit het my net aan die dink vanaand.

Spreuke het mos 31 hoofstukke, My oom, wat so ‘n groot rol in my lewe gespeel het, het vir my gesê dis ‘n hoofstuk vir elke dag van die maand. Hy het gereeld deur Spreuke gelees, en so dit oor jare in sy kop bewaar as wysheid wat die lewe help vorm.

Ek skryf op ons gemeente se facebookgroepie so enkele gedagte elke oggend, sommer net om ons kerk se mense weer te inspireer om ‘n stukkie Bybel saam te dra elke dag op hulle lewenspad.

Vanoggend, net voordat ek die lang pad moes vat vir ‘n baie moeilike dag in ons gesin se lewe, het ek my oom se raad van Spreuke op die groepie gesit. Ek het die lesers uitgedaag om dalk net een spreuk te kies, en vandag daaroor te dink.

Spreuke 27 (ooreenstemmend met die datum) het vandag so baie wat met my gepraat het.

Maar hierdie vers 17 het die hardste gepraat. Daar is vriende wat jou lewe help vorm. Soos wat ‘n hamer ‘n stuk staal kan vorm, soos wat ‘n slypsteen ‘n mens se lem skerp kan maak, so is vriende ‘n faktor in ‘n mens se lewe.

My vrou het so ‘n skinkbord in die kombuis waarop daar staan: “Vriende is die familie wat jy self gekies het…”

Ek het vandag, deur hierdie lang, lang dag, nogal baie aan vriende gedink.

EK het so baie kontakte- meer as 500 “Vriende” op facebook, waarvan ‘n hele klomp ook nogal regtig omgee.

Ek het heelwat pelle. Daar is baie mense saam met wie ek lekker sal gaan koffie drink, en soms gesels oor gedeelde belangstellings.

Maar ek het vandag gedink aan daardie vriende wat my al op my heel slegste gesien het.  Daar was al tye wat ek dit heeltemal verloor het, en woedeuitbarstings van epiese proporsies gehad het, met woorde wat ek op nagskof by Yskor geleer het, wat nie in die Goeie Boek staan nie.

Daar was vriende wat my op my slegste gesien het. En nog steeds gekies het om my nie weg te gooi nie, maar ‘n pad met my te bly stap. Daar was al vriende wat enduit geluister het as ek baie negatief raak. Wat my storms getrotseer het, tot dit uitgewoed was. Dan met ‘n sagte woord van wysheid my weer terug te lei na ‘n plek waar daar hoop is.

Daar is sulke vriende in my lewe. Mense wat my liefhet vir wie ek is. Mense wat my aanvaar soos ek is.  Dis die ware vriende wat ek in die middel van die nag kan bel, en kan sê my lewe het nou gat oor kop neergedonder, en hulle sal verstaan.

Sulke vriende is nie baie in ‘n mens se lewe nie. Miskien het ‘n mens maar net die kapasiteit vir drie tot vyf sulke vriende in die lewe. Maar daardie vriende is die yster wat jou slyp, jou vorm, en jou beter anderkant uitbring.

Miskien is die ou grappie tog waar- ‘n pel is iemand wat vir jou in die tronk kom kuier, ‘n ware vriend sê die volgende oggend: “Wanneer kom bail hulle ons hier uit?”

Vandag se versie van Spreuke in my lewe was 27:17, en vandag is ek baie diep dankbaar vir sulke vriende in my lewe.

Ongelukkig bly twee van die heel bestes van die beste in die Kaap, ek wens so hulle was soms nader, want daar moet deesdae weer rooiwyn gedrink word, en antwoorde gesoek word. Maar dankie vir dié wat naby is. Dankie vir dié wat geweet het ek is siek, en kom kuier het.

Paragraaf self gesensor…

Dankie vir die vriende wat weet, en omgee, en bid…

En soos Forrest Gump gesê het: “That’s all I want to say about that…”

 

Advertisements

Donkiestories…

Ek verlang na die Donkie. So ek haal hom bietjie uit sy stal uit vir ‘n Spin…

20140802_120647

 

Wat sou die Donkie op die oomblik wou sê as hy kon praat?

  •  Gesondheid is ‘n baie groot gawe.  Jy besef dit veral wanneer hulle jou in ‘n teater instoot…
  • Familie is ‘n baie groot gawe…  kan nie vandag meer sê nie, gemoed is bietjie vol…
  •  Ware vriende is ‘n baie groot gawe, facebook kennisse is BAIE, pelle is ‘n klomp, ware vriende tel jy op een hand…  Het dit net weer gisteraand besef toe ek ‘n bier wou gaan drink saam met iemand, want dit was my pa se verjaardag, al is hy al 21 jaar oorlede.  EK het altyd gedink Pa verstaan nie mooi nie. Nou is ek 7 jaar jonger as toe hy dood is, en nou kom ek al hoe meer agter: Ek verstaan nie mooi nie…
  •  Die regte lewensmaat is seker een van die top 2 grootste gawes in die lewe- ek het saam met haar gisteraand ‘n bier gaan drink- sy verkies Grapetizer…
  • Die kerk is veronderstel om ‘n baie groot gawe aan die wêreld te wees. Maar nie soos sy nou lyk nie…
  • Die jeug is ‘n wonderlike gawe, en ek weet nie of ons ‘n goeie invloed op hulle is nie…  Almal sien vandag se hoërskool kinders se foute raak, maar niemand vra waar dit vandaan kom nie.  Die meeste het baie negatiewe rolmodelle wat oor alles kla…
  • Ek sit nou met trompetmusiek in my studeerkamer en probeer dink wat die Here graag vir die gemeente wil sê Sondag… die trompet is hemels… Sondag se boodskap wil nie kom nie…
  • Motorfietse is ‘n gawe uit die hemel.  Maar motoriste kan demone uit die hel uit wees…
  • Ek moet dringend weer ‘n droom kry- dalk ‘n volgende Camino de Santiago beplan, iets soos die Portugese of Noordelike roete.
  • Hoekom pak so baie mense se galblase deesdae op?
  • “What if this is as good as it gets…?”
  • Alan Hirsch se boeke oor wat die kerk kan wees is besig om my kop te blaas…
  • Ek verlang na my vriende in die Kaap. EN na Ons Huisie se snoek. En na Blue Peter se Bosun’s Bitter as die son sak agter Robben Eiland.  En na Tafelberg.
  •  Ek begin werk aan my 20e Argus- moet die beste een ooit wees. Na ‘n operasie mag ek nog nie fietsry nie. Ek swem vir die eerste keer van Hoërskool Dae af. EN borsslag is steeds die maklikste vir my, en flinderslag steeds net vir Chad en Cameron bedoel…  Borsslag klink soveel lekkerder in Engels…
  • Mense is hel- Jean Paul Sartre
  • Verhoudings is die lekkerste lekker en die diepste seer- die Donkie…
  •  Is die dolfyne nog hier? Of het hulle al lankal gesê :“So long and thanks for the fish…”
  •  Ware Liefde is al wat regtig die wêreld kan red. Maar dis so ongelooflik skaars deesdae…

 

Vrolike Vrydag

Iemand het die Donkie in die stal vergeet, Moet die dekselse Ruiter wees!

In elk geval, hier is dit nou weer Vrydag- die mooiste dag van die Week. Veral na Gisteraand.

Ons sit gisteraand so in die Hoërskool se saal, en bewonder die talente van die leerders tydens die Kultuuraand. Ons skool het ‘n jonge dame wat “Wrecking Ball” darem baie mooier as Miley sing, en dit met klere aan!  My oudste seun het sy ou vader ook bewoë gehad, want in die een toneelstukkie dans hy galant met ‘n pragtige blondine, en hy het dit so grasieus gedoen, en met soveel respek.

Maar een van die groot oomblikke in die konsert het die natuur voor gesorg. Dit is oom Paul Kruger se verjaardag gewees gister, en dan mag dit begin reën, volgens die spesiale dekreet van die ou Zuid Afrikaansche Republiek van Transvaal.  Amper soos die ander wet van Transvaal.  Dit MOET reën, anders dooi ons. En gisteraand het dit te heerlik gereën.

Ek kon weer met ‘n lied in my hart vanoggend die klein kameratjie gryp, en in die tuin gaan wandel.  Eers vir my tuiningenieur aan die werk sit met al die werkies in my groentetuin wat ek eerder voor betaal as om dit self te doen- soos onkruid uitspit, omspit en dies meer…

Die natuur is weer vars en nuut vanoggend…

IMG_0803

Hmm- ek sal ‘n meer fotovriendelike stal vir die Donkie moet kry… ek hou net so van hierdie ene se uitleg… Enige raad?

IN elk geval- hierdie naweek vat ons die belydenisklas bietjie Bos toe. Ons gaan kamp. Ons gaan nie tande borsel en skeer nie. Ons het nie meer geld om hulle Drakensberge toe te vat nie, maar ek sien nogal baie uit na hierdie naweek saam met die jong klomp. Ons het ‘n paar oulike monstertjies in ons gemeente.  Daar behoort ook lekker foto geleenthede te wees op die plek waarheen ons gaan, ek sien al so uit om weer in die veld te gaan stap met die Kanon.

Ons gaan ook eet… en ekke het so 4 groot varkboude van die Basaar gevat vir die doel. Saterdagaand maak ek vir die kiddies lekker gerookte varkboude in my Weber. Enige voorstelle om dit nog lekkerder te maak?

So, liewe getroue 3 lesers- Die Donkie Leef…   Dankie vir jou kuier hier. Kom ons skink nog ‘n koppie moerkoffie…

IMG_0805

Vandag, 13 jaar terug…

het ons nog ‘n apie in die berg gevang en hom mak gemaak…

Toe:

_MG_0487en nou: soek die verskille:

IMG_1078

Ons maak grappies, maar eintlik- eintlik het ons 13 jaar terug groot genade ontvang.

  • Groot genade, dat hy in Pretoria-Oos hospitaal gebore is, en nie in ‘n staatshospitaal nie.
  • Genade dat daar ‘n hartmonitor band om my vrou was.
  •  Genade dat die suster aan diens wakker was om te hoor daar is groot fout met die baba se hartklop.
  •  Genade dat die ginekoloog naby was, en dadelik ‘n noodkeiser kon doen
  •  Genade dat hy nie ‘n minuut later gebore is nie.

Want daar was twee knope in sy naelstring, wat styf getrek het met die geboorte. Dit het sy suurstof afgesny. Toe hy gebore is, was hy potblou van asemnood.  Die Here se genade was baie groot, en die ginekoloog en die mediese span was uiters professioneel daardie dag.

En ek as pa was wit geskrik- dit kon so maklik anders gewees het. Klein bietjie langer, en hy was nie vandag hier nie. Of nie ‘n normale, windgat dertienjarige seuntjie vandag nie.

Ons is diep dankbaar as ons na hom kyk, wonderwerke gebeur nog steeds…

Sy naam beteken “Oorwinnaar”…

En nou gaan ek saam met hom fees vier…

Die Dankbare Donkie

PS- Foto nou net saam met sy Ouboet geneem- dit is 37 grade vandag hier by ons…

_MG_0739

Baie geluk met jou verjaardag… moenie slaan nie…

Kom ek nou die dag weer in die moeilikheid by een van die hiper vromes van die Here se kindertjies.  

Ek het dit gewaag om daardie persoon “Geluk met jou verjaardag” toe te wens. 

Christene praat mos nie so nie! Weet julle hoe gevaarlik is die geluksgod?  Hoe kan ‘n mens iemand se toekoms op “geluk” toevertrou, so asof die toeval sal voorsien in al die seëninge wat die persoon nodig het om sinvol te lewe?  Om geluk met iemand se verjaardag toe te wens, is om die Here uit die pad uit te skuif, en die noodlot die laaste sê te gee… 

Isit? 

Wel, daar is ook ‘n ander manier om na die saak te kyk.  Ons een ou probleempie in Afrikaans is dat ons as ‘n jong taal baie minder woorde het as die ou gevestigde wêreldtale soos Engels en Spaans. 

“Geluk”- as jy nou regtig wil, kan jy dit bedoel met wat die Engelse “Luck” voor sê.  Toevalligheid. Noodlot. ‘n Kans. Gelukkig in daardie sin is “lucky”- iets buiten die gewone het toevallig oor jou pad gekom. 

Maar- “Geluk” is ook die stam van die Afrikaanse woord “Gelukkig”, dit wat die Engelse met “Happiness” sou vertaal.  In die Bergrede het Jesus telkens gesê: “Gelukkig is hy… “

Geluk in hierdie konteks is ‘n diepe tevredenheid met jou lewe. ‘n Stuk dankbaarheid teenoor die Here  vir al die mooi seëninge wat jy in jou lewe beleef.  ‘n Stuk vrede in jou gemoed oor die verhouding met God/ jou naaste/ jouself in harmonie is.  Geluk in hierdie konteks is ‘n sinvolle lewe, ‘n lewe vol betekenis. 

So ek gaan nie anders praat nie. Geluk met jou verjaardag! VAt dit soos jy wil! 

Image

Dinsdag se dankbaarheid…

Sekere dae in ‘n mens se lewe is mos net totaal anders as alle ander dae…

Vanoggend het begin met ‘n baie lekker Bybelstudie saam met my gemeentelede oor Johannes 13- Jesus wat voete was, en sê as jy belangrik wil wees in sy koninkryk, sal jy jou naaste dien.

Daarna was ek en kollega by die dame wat more 100 jaar oud word. Dit was aangrypend- die eerste persoon in beide die ouetehuis en ons gemeente wat 100 jaar oud word. Daar is in haar hart soveel dankbaarheid vir soveel mooi tye.

Ek het huisbesoek gedoen by ‘n paar uiteenlopende gesinne deur die dag. Verskillende stories gehoor van hoop en hartseer, van drome en nagmerries- ervarings van menslike bestaan oor die hele spektrum.

Vanaand was die groentjiekonsert van hierdie jaar se nuwe Graad 8’ ies in die Hoërskool, ‘n klug gebasseer op Romeo en Juliette, wat plaasvind in ‘n groentetuin. Talent was daar dalk nie so baie nie, maar entoesiasme in emmers vol.

En toe… die hoogtepunt- ek lees al hoe lank in boeke verwysings na die fliek “Il Postino”- die Posman. OM beslis nie te verwar met Kevin Costner se gelyknamige poging nie. Ek het baie lank gesoek na “Il Postino”. Ek kry hom nie in een van die DVD winkels nie. Ook op ebay ontglip hy my elke keer.

UIteindelik het ek dit maar op die Internet opgespoor, en op my laptop gekyk.  Ek is seker besig om oud te word, of my kind se kunstenaarsgene het my seker teruggeklap. Deesdae is ek baie meer lus vir vreemde taal kunsflieks met Engelse onderskrifte- dis dalk net ‘n fase. Op die oomblik doen flieke soos Trois Coleurs Blue (Three Colors Blue) met Juliette Binoche dit vir my. Ek het al drie in die reeks op ebay gekoop. Ek het uiteindelik ook Babette’s Feast in die hande gekry verlede jaar.

Maar hierdie Italiaanse fliek is voorwaar ‘n meesterstuk. ‘n Mens wil omtrent ‘n afdruk hê van elke raampie, so mooi is die fotografie. Die menslike interaksie, die plotontwikkeling, die emosie, die musiek, die danse- dit het sommer net dadelik diep in my hart gekruip.

Toe praat ek met my vriend in Melkbosstrand. Nou het ek heimweë vir die Kaap! Vir die vriende, vir die berg, vir die yskoue water, vir die bier op Blue Peter se stoep as die son sak agter Robbeneiland, vir Ons Huisie se snoek en patatkoekies, vir die rum en coke by Moyo’s, vir die wyn daar by Villiera, vir die koffie by Oom Samie saam met Son, vir die boekefees, vir die Suidooster wat my op my motorfiets rondpluk. Ek verlang nou Kaap toe…

Sondagaand tuis

Wat ‘n naweek!

Ek het Vrydag verjaar, en baie van julle het vir my pragtige boodskappe op facebook gesit- baie dankie! Kollega het my ook vroegoggend kom haal, en daarna is ons met die motorfietse na die buurdorp, waar ons in die Groen Weivelde gaan sit en koffie drink het, ekke met ‘n heerlike wafel, hy met ‘n ontbyt… (ek is in die bed verras deur my gesin met ‘n heerlike ontbyt, sien…)

Ons het lekker deur die Bosveld se kronkelpaaie gery met ons motorfietse, en die BMW purr tog te lekker met daardie lieflike Boxerenjin van haar, hierdie Duitste skelmpie begin net so diep in my hart kruip soos my Italiaanse skelmpie, ou Huisbesoek… Die BMW kort nog steeds ‘n wonderlike bynaam…

Net so rondom middagete het nog twee van my baie goeie vriende, kollegas van buurdorpe, by my opgedaag. Ons het lekker saam geëet, die een bly oor vir die nag, die ander een is op pad huis toe. So hartseer, albei van hulle se vroue was in baie ernstige ongelukke oor die Desember vakanse- die een was in ‘n rollende bakkie en het ‘n arm sleg gebreek, die ander het van ‘n krans afgeval, en haar been baie sleg seergemaak.

Ons het Vrydagaand ‘n heerlike braai by my huis gehad. Die rumpsteak was perfek gebraai, almal se slaai was mooi, en ons het die Hugenote Kollege se verslag in diepte hanteer…  Wat ‘n verjaardag! Ek is so dankbaar dat ek sulke fantastiese vriende in my lewe het!  Ek dink as ek volgende maand in die Kaap kom moet ons maar weer ‘n Paartie êrens gooi, ek het julle mal Stormers ondersteuners (en goeie Bloubulle van Brakkevel!) ook baie intens gemis!

Ek is so dankbaar vir my liewe vrou wat soveel moeite gedoen het om my verjaardag baie spesiaal te maak. En veral vir my dogter wat dit nie hierdie jaar soos verlede jaar opgedonder het deur haar kar om ‘n Jetta te vou nie- dit was ook baie spesiaal, dankie Ousus!

Saterdagoggend moes ons toe na Gomorrah vertrek. Skoonsussie uit Ierland verjaar vandag, en word 40. As ‘n geskenk het haar man vir haar ‘n vliegkaartjie saam met die Maagdelike redery gekoop, en sy het gisteroggend in Suid Afrika aangekom. Vandag was daar ‘n baie groot familiesaamtrek daar naby die Wilgers hospitaal.  Een van die nefies se meisies was verstom om my skoonfamilie in aksie te sien- my skoonma was daar, al vyf haar kinders, vier van die skoonkinders, vyftien van die 20 kleinkinders, en albei agterkleinkinders…  wat ‘n geseënde gesig om so baie gelukkige mense saam te sien op een rustige paartie… In my gesin is dit net my ma, my sussie en ekke- met natuurlik vroulief en my vier monstertjies.

Ons het vanaand veilig tuis gekom, na ‘n naweek van groot feesvier. Familie is baie kosbaar, en baie belangrik!

Net ‘n laaste opmerkingtjie: ek het toe my doelwit in die fietsry gehaal, met 505 km vir Januarie gery. Donderdag was dit nogal rof- ek het tussen 12 en 14h00 44 km gery in 34 grade Celsius. Daarna het ek gaan bloed skenk. Die bloedskenk personeel het die naald nie mooi ingehad nie, en die sakkie wou nie vol nie. Toe karring die suster die naald maar tot daar weer bloed vloei terwyl ek deur die dak klim. Daarna het ek nog nooit weer heeltemal reg gevoel nie!   My oë brand vreeslik die hele naweek al, en ek sal seker maar erens net die tyd moet vind om my oë ordentlik te laat toets- bril hier kom ek!

Ek is nou verby halfpad 90 toe…

Maar ek is diep dankbaar, vir die mense in my lewe, vir die wonderlike seëninge wat ek daagliks ervaar, en vir al die slegte dinge wat ek vrees, wat nooit gebeur nie.

En nou is ek vaakenmoeg- lekker slaap!

 

Vandag was anders as bepland…

Spreuke 16: 9 verkondig die groot waarheid: “Die mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy  loop...”

  • Vandag sou ek vroeg opgestaan het, en 30 km gaan fietsry het.

  •  Vandag sou ek by ‘n hele paar mense gaan huisbesoek doen het.
  •  Vandag wou ek by ‘n paar siek mense uitgekom het.
  •  Vandag wou ek saam met my vrou gaan koffie drink het by ‘n koffieshop.
  •  Vandag wou ek tyd saam met ‘n vriend deurbring.
  •  Vandag wou ek ‘n goeie boek lees.

Daar was baie dinge op my dagboek en wenslys vir vandag.

Gister wou ek my vrou die moeite spaar om kos te maak. Ek het vir ons borde kos by die Supermark gekoop. En ons het meer gekry as wat ons gebargain het voor. Gisteraand het die hele gesin, uitsluitend die jongste wat weer nie wou eet nie, lekker rondgehol met omgekrapte mage.

  • Vandag kon ek dit nie verder as 20 meter van die badkamer af waag nie. Verseker nie op ‘n fiets nie.
  •  Vandag het ek duiselig gevoel, en lekker pap.
  •  Vandag het ek nie my erf verlaat nie.
  •  Vandag kon ek en my vrou net tuis koffie drink.
  •  Maar vandag het ek ook ‘n lekker boek gelê en lees in my bed.

Vandag was so totaal anders as wat ek beplan het.  Maar dit is OK. Want vanaand voel ek beter, en more is ‘n nuwe dag.

  • Vandag het nie almal lewendig tuis gekom in ons land nie.
  •  Nie almal wat vandag by dokters was, het goeie nuus gekry nie.
  •  Nie almal wat werkaansoeke ingestuur het, was vandag suksesvol nie.
  • Nie almal slaap vanaand langs die persoon vir wie hulle regtig uit hulle harte uit lief is nie…

Ek het steeds vandag baie om voor dankbaar te wees.

  • Ek het een daggie siekteverlof minder, was in elk geval baie naby aan die maksimum dae beskikbaar- dit is ook rede vir dankbaarheid.
  • Ek het kos beskikbaar gehad vandag, al wou ek nie eet nie.
  •  Ek het al my kinders vanaand onder my dak, al kompeteer hulle  ook vir die toilet… 🙂
  • Ek het more baie werk wat wag, en dis ‘n voorreg om werk te hê in ons land.
  •  Ek slaap vanaand langs die liefde van my jeug, al gaan ons dalk net weer lê en kreun.

Vandag se pad het glad nie geloop soos ek hom wou hê nie. Maar ek is tevrede. Ek was in my Herder se hande. En dit is genoeg…

 

 

Die lewe in die Bosveld…

Ek en Kollega het vanoggend ons kerkraad na ‘n pragtige Lodge in ons direkte omgewing geneem, vir ‘n spanbou.

Ons het bietjie saam gedroom oor wie ons is, en waarheen ons graag in 2013 op pad wil wees.  Dit is regtig lekker om ‘n kerkraad te hê wat saam droom en dink hoe ons ‘n verskil kan maak in mense se lewens.

Ons het ook heerlik wors gebraai onder die afdak, want dit reën op die oomblik woes  in die Bosveld. Ons is gewaarsku om swaar neerslae te verwag, met vloede. Dit het gelukkig nog nie so gerealiseer in ons dorp nie.

Maar die hoogtepunt van die dag vir my het gebeur op die pad huis toe. My Canon 350D was ongelukkig nie saam nie, net die baie kleiner Powershot SX 150 IS.  Die lig was swak met die baie bewolktheid, en ek moes baie ver inzoom…

Maar kyk net hierdie pragtige toneel- dit is die Bosveld!  En dit is mooi vir my! Ek is dankbaar…

My eie foto vir ‘n slag…

‘n Bietjie respek vir die boer aan die ander kant…

Ek het vanaand so langs my Weber gesit. Ek het eers vanmiddag weer by Lodie de Jager gaan kuier, en ‘n mens kom altyd ‘n baie beter mens daar by hom weg…  Een van my goeie vriende se familie was ook in ‘n lelike motorongeluk eergister, en alhoewel almal lewendig uit die wrak uitgeklim het, het sy vrou haar arm op vyf plekke sleg gebreek, sy is gisteraand in Gomorrah geopereer…  Dit het my diep laat dink vanaand…

Niks in die lewe is meer vanselfsprekend nie. Ook nie die mense in ons lewe wat ons dink altyd daar sal wees nie… ons het geen waarborge nie.

So terwyl ek by die Weber gesit het, het my gedagtes weer wyd gaan loop.

Op pad terug van Naboomspruit af het ek vyf sakke sekelbos langs die pad gekoop. Sekelbos is ‘n indringerplant in die Bosveld, wat hele landerye kan oorneem en baie, baie rof op motorbande kan wees met daardie dorings. As hulle jou steek, dan weet jy dit, dit brand soos ‘n perdebysteek…   Maar dit maak ‘n uitstekende braaivleisvuur, baie beter as die Kaapse Port Jacksons of Natal se simpel wattelhout! Iemand het die moed gehad om daardie sekelbosse te gaan afsaag, en in sewe netjiese stukke te saag, en in ‘n plastieksak te sit vir R8. Ek weet- by Hartenbos hardloop die prys teen R25- aai, dis lekker in die Bosveld! Die hout was net so bietjie nat, dis hoekom ‘n mens altyd ‘n gaspyp byderhand het om die vuur aan te steek.  Ek was dankbaar vir goeie braaihout. Die hout van die sekelbos het mettertyd die hitte van drie duisend dae se son vir my gegee, om my vleisie op te braai.

Ons het ook in Naboomspruit by Spif hoenders se padstal twee lekker hoender espetadas gekoop. Dit is so sewe hoenderdytjies op ‘n sosatiestokkie, met ‘n marinade soos barbeque of sweet and sour op. Iemand het daardie reuse boerdery met groot ambisie en baie harde werk gebring tot ‘n suksesvolle boerdery. Die vleis was baie netjies verpak en van die hoogste kwaliteit. Ek was dankbaar vir die vleisie op die kole, en die boer wat dit geproduseer het.

Saam met die vuurtjie het ek ‘n bottel Mount Rozier Merlot oopgemaak, wat ek by Food Lovers Market teen ‘n baie billike prys gekry het. Ek het nie ‘n idee waar is hierdie kelder nie. Maar iemand het jare gelede die regte kultivar druiwe met groot geloof geplant, op grond wat seker ten duurste by die Landbank afbetaal moet word- ek weet nie van iemand deesdae wat ‘n plaas sommer net verniet gekry het nie.  Dit het jare geneem om die wingerd te vestig, met jare se bemesting, en sorgvuldige snoei, en die regte hoeveelheid water en plaagpeheer. Jare en jare se werk het ‘n oes opgelewer, en in 2008 is ‘n oes ingebring wat gepers is, in vate geplaas is, en uiteindelik gebottel is. Dankie vir daardie onbekende boer en sy werkers vir vanaand se botteltjie rooi.

Daar was mieliepap op die spyskaart. Dis ‘n bekende gereg noord van die Oranjerivier waar snoek maar skaaars is!  ‘n Boer in die Vrystaat het met groot geloof sy John Deeres opgestaart, die landerye bewerk, en gewag vir die reën. Toe die voggehalte van die grond  reg was, is die pitte van Sensako ten duurste geplant. Daarna is met groter geloof gewag op nog reën op die regte tye. Plaagbeheer is toegepas. soms teen honderdduisende rande om die peste en plae in toom te hou. Uiteindelik was dit oesdag, en die stropers het deur die nag gery om die oeste in te bring, en die goudgeel pitte in die trekker se wa te spoeg. Dis aangery na die koöperasie toe, terwyl internasionale mieliepryse angstig dopgehou is. Met die reuse pryse van diesel en kunsmis was dit ‘n wonderwerk as die mielieboer darem gelyk gebreek het of klein, klein bietjie vooruit gegaan het. Daardie boer se harde werk op sy plaas by Viljoenskroon het vir my vanaand mieliepap op my tafel gesit.

Daar was sous op die mieliepap. Iemand het gedurende Februarie of Maart die uie geplant, was dit dalk die Wildeklawer ouens wat so vir Griekwas borg in die rugby? Die tamaties was dalk daar van wyle Bertie van Zyk se ZZ2  plase by Letsitele af. Dit was nog nie my tamaties nie, myne word opgevreet deur klein wit wurmpies- die klein **^%$###$%^^&!!!!

Soveel verskillende boerderye het hard deur die jaar gewerk sodat ek vanaand hoenderdytjies, pap en sous, slaai en rooiwyn kon geniet. Nee, Pick ‘n Pay het dit nie gemaak nie, net tot in ons dorp gebring dat ek dit gou vanmiddag kon koop.

Daarom dink ek dat elke ete met groot respek aangepak moet word. Dis nie vanselfsprekend dat daar kos is nie. Hoe kan jy dan voor die televisie gaan neerplak en 7e Laan kyk, en die kos sommer net in jou mond instop? Nee, ek dink elke ete moet ‘n blyk van respek wees, vir die kos, vir die liefde waarmee dit voorberei is vanaand, en vir die harde werk van die boer wat dit in die eerste plek moontlik gemaak het. Ek dink ons moet elke ete gebruik as ‘n viering van die lewe- “celebration of life!” Soms sê Engels dit so effens beter- Sorry Riaan Cruywagen!

Baie dankie, elke boer van Suid Afrika! Ek het lekker geëet vanaand! En nog lekkerder geniet aan my glasie rooi!