Trofeejag…

Ek weet dis deesdae ‘n baie kontroversiële onderwerp.  Die Amerikaanse owerhede probeer hulle bes om die invoer van trofeediere se oorblyfsels te verbied. Die Europese Unie is nie ver agter nie.

En tog is daar so ‘n leë plekkie bo my vuurmaakplek in my lapa. Ek het nou al by my vriend die taksidermis se werkswinkel gesien dat mense die vreemdste diere en reptiele en voëls laat opstop. Daar is glo nie te veel politiek rondom die saak as dit probleem ongediertes is nie. Niemand gee te vreeslik baie om as dit ‘n jakkals was wat tussen die skape doodgeskiet is nie.

Nou kom my groot vraag: wie bepaal wat is ‘n ongedierte? ‘n Probleemdier? Alles is deesdae so relatief- een mens se terroris is ‘n ander se vryheidsvegter, een mens se troetelmamba is ‘n ander se ergste vrees.

Met dit in gedagte was daar nou al geruime tyd wat ek darem ook ietsie wou vermoor en laat opstop. Ek het die ideale teiken gevind- ‘n probleemdier van epiese proporsies. Amper so erg soos die Behemoth en die Leviathan van ouds in die Goeie Boek, meer spesifiek die vertellinge van Job. Job het sy kwota lyding gehad, en hierdie ongedierte het ook al sy kwota wrewel in my lewensruim ingebring.

Met dit in gedagte het ek maar so paar maande gelede daar na Safari & Outdoor toe gegaan in Lynnwoodweg. Die hele winkel is mos een reuse kluis, en hulle het alles daar van die eerste grotman se knuppel tot by die laserguns waarmee Elon Musk se mense Mars toe gaan vertrek.

Ek het so rondgestap en een besondere vuurwapen het dadelik my aandag getrek. Dis die ideale geweer om enige grootte ongedierte mee uit te wis. By nadere ondersoek het dit geblyk ‘n Barrett M82 A1 .50 Cal te wees. Dit kos nou wel R1200 per patroon, maar jy hoef net binne ‘n meter van die dier se kop af te skiet, die skokgolwe wat die projektiel in die lug maak is genoeg om enige ding wat asem haal, dadelik deur die Jordaan te neem.

Daar was toe wel so ‘n ligte probleem met die lisensiestories, oom Bheki Cele wil glo nie hê die burgers moet meer iets gevaarliker as ‘n plastiese swaard van Crazy Store hê vir selfverdediging nie. Ek moes toe maar die langer pad vat- ek het aangesluit by die Jagtersvereniging, en al die kursusse geloop om as toegewyde jagter te kwalifiseer. Dit het ook verskeie interessante werkswinkels meegebring, soos hoe om te bepaal aan die smaak van ‘n koedoebol hoe lank gelede die bok daar verby is, of hoe om die verskillende spore van diere selfs op die rivierbodem in ‘n vloed te volg…

Met baie moeite en verdriet het die SAPS se vuurwapentak uiteindelik gebel: my lisensie is gereed. Ek het die R150 000 oorgeplaas vir my Barrett, en gevra hulle moet ‘n baie goeie Schmidt & Bender teleskoop opsit, ongeag die koste. Ek verneem hierdie kombinasie het al in Irak skote van oor die 2500 meter akkuraat voltooi, die ontvanger van die projektiel was glo nie te gelukkig daarmee nie.

In elk geval, die Barrett het so ‘n oulike Harris bipod op vir ekstra akkuraatheid. Eergisteraand het die groot jag uiteindelik aangebreek. Ek het my donker camo’s aangetrek en van Herman Mashaba se Black is Beautiful oor my gesig gesmeer. Ek kon net drie rondtes bekostig, maar hulle is sorgvuldig gepoleer en in die magasyn gebêre. Ek het met die versigtigheid wat enige professionele sluipskutter sou beïndruk gesorg dat ek in my posisie kom waar ek die ondier sou kon sien as hy nader kom. Die geweer is mooi in posisie gebring op sy pootjies. Daarna het ek begin wag… Dit was ‘n lang wag! ‘n Mens kan nie eens muskiete wegklap nie, die ondier se sintuie is te skerp. Ek moes voortdurend die wind in berekening bring, want windaf ruik die ondier my dalk net en vlug na veiligheid toe. Of kom val my aan.

Net na drie-uur gisteroggend skrik ek wakker, en daar, in die maanlig, staan die objek van my nagmerries. Hy maak die mees onaardse geluide. Sy oë lyk demonies swart, sy asem stink soos die poorte van die hel, en sy tande is die aakligste Hollandse kaasgeel kleur. Gelukkig gaan staan die dierasie vir ‘n oomblik om die lug te snuiwe, maar die wind waar reg vir my…

Ek maak soos die histeriese korporaal jare gelede op die skietbaan met baie donker Afrikaanse woorde my geleer het. Ek haal diep asem in. Blaas saggies halfpad uit. Die veiligheidsknip is af, die kruisie van die teleskoop soek die perfekte kol op die blad. My hand druk stadig toe, ‘n mens pluk nie aan ‘n sneller nie! Wanneer die skoot klap, verbaas dit my, en seker die teiken ook…

Dit was raak! Daar, in die maanlig, lê Behemoth en Leviathan se gelyke- ‘n trofeedier! Dit was soos van ouds- mens teen dier, sintuig teen sintuig, oorlewing van die sterkstes…

Die euforie van oorwinning het deur my gespoel- ek is die een wat hierdie battle oorleef het, ek kn huis toe gaan en die storie vertel. Nou het ek ‘n trofeedier se kop vir my lapa…

Ek gaan nader, en katrol die lewelose karkas tot op my sleepwa. Ek sit en wag tot die son opkom met ‘n beker koffie, die adrenalien loop nog te hoog om te gaan slaap.

Opgewonde ry ek na my vriend die taksidermis se werkswinkel toe, vandag gaan ons besigheid doen. Ek hoop nie my trofeedier se opstopkoste gaan te veel kos nie- daar is net ‘n kopmontering ter sprake, die res van die liggaam het nie die aanslag van die .50″ projektiel goed gevat nie…  Ek reverse in die plek waar die trofeediere ontvang word, en hulle staan gereed met die blok en takkel… triomfantelik ruk ek die seil weg van die trofeedier af, dat almal kan deel in my vreugde…

My taksidermis vriend het al alles in sy lewe gesien. Maar ek sien hy word bleek, en pers sy lippe styf saam om te keer dat hy hiperventileer…  Ek word effe benoud, het ‘n mens dan permitte nodig vir hierdie klas van ondiere?

My vriend sukkel om sy woorde uit te kry…

“Wat het jy met my skoonma se Maltese Poedel gemaak?!!!”

Hier in die tronksel is daar geen blaffende keffertjies nie.

As julle weet van iemand wat ‘n Barrett .50 Cal met ‘n Schmidt & Bender scope en 2 rondtes ammunisie teen ‘n goeie prys wil hê, kontak asb die staatsaanklaer, ek kort dringend bailgeld.

 

PS… Geen ware diere is seergemaak tydens die verfilming hiervan nie…

Die Engel word gesoek vir Die Burg…

So nou en dan wonder ek of die Here my nie vergeet het waar ek nou is nie…

Dan slaan ek my oë op na die Heilige Bode, om soms maar weer moedeloos toe te maak.

Soos hierdie merkwaardige advertensie wat in die jongste Kerkbode geplaas is. Wat maak my moedeloos daarvan? Ek kan nie aan ‘n enkele gawe dink wat in die kerk teenwoordig is, wat nie deur hierdie gemeente in een mens vir een salaris gesoek word in biddende afhanklikheid nie…

Net so uit die Kerkbode gehaal, net adres en dorp verswyg… Kyk bietjie wat moet hierdie een mens alles kan doen…

NG GEMEENTE DIe BURG

Christus in my en ons in die wêreld

VAKATURE: MEDELERAAR

Gemeenteprofiel:

Fokusareas: Skrifgegronde liggaamsmodel gemeentewees, dissipelskap, diensleierskap.

Gemeenskapsgeöriënteerde kerkwees.

Verdere vars uitdrukkings van kerkwees.

Om God se konkrete familie vir mense te wees.

Die hele evangelie vir die hele mens, vir die hele wêreld.

Fokusareas: Alle fassette van gemeentewerk (Artikel 9 van die Kerkorde).

Spesifiek verantwoordelik (en aanspreeklik) vir die oorhoofse bestuur en Skrifgegronde bediening van kinders/kleuters, die jeug, jong werkendes en ongetroude/getroude lidmate jonger as dertig (30) jaar (insluitend kategese).

Fokus op die bemagtiging van families.

Begeleiding van uitreikgroepe.

Leraarsprofiel: Dinamiese gelegitimeerde, hoogstens 45 jaar oud, wat oor bedieningservaring beskik.

’n Persoon van deurleefde spiritualiteit.

Talentvolle prediker – fokus op eredienste en suiwer Woordverkondiging.

Sterk pastorale ingesteldheid – fokus op persoonlike kontak met alle gemeentelede.

Sterk leierseienskappe, kreatief, georganiseerd, goeie kommunikasievermoë, goeie verhoudingsvaardighede, entoesiastiese

motiveerder, energieke werker, vermoë om mense bymekaar te bring, probleemoplossing, kan multi-taak, selfdissipline,

deursettingsvermoë, aanpasbaar en onbesproke integriteit.

Roepingsbewustheid vir bediening van ’n jonger geloofsgemeenskap

’n Mens-mens met kennis van en aanvoeling vir die behoeftes van lidmate van alle ouderdomsgroepe.

Vermoë om onafhanklik en binne spanverband effektief te werk.

Bewese rekenaargeletterdheid.

Insig/vaardig in praktiese gebruik van sosiale media-platforms netwerke.

Sterk administratiewe en multi-media vaardighede.

Musikale vaardigheid dien as sterk aanbeveling.

Vergoeding: Volgens Wes-en-Suid-Kaap Sinodale riglyne, insluitend huisvesting.

Aansoeke: Aansoeke moet vergesel wees van ’n omvattende CV asook die volledige name en kontaknommers van minstens twee (2)

resente referente.

Aansoeke moet vertroulik gemerk en gerig word aan: Voorsitter: Kerkraad

Kortlys-kandidate sal aan ’n professionele/gestruktureerde keuringsproses onderwerp word. Sodanige kandidate moet vir

onderhoude beskikbaar wees op ’n datum, tyd en plek soos deur die keuringspaneel bepaal. Die proses kan psigometriese

toetsing en praktiese evaluering insluit.

Sluitingsdatum: 26 Februarie 2015 om middernag.

Diensaanvaarding: So spoedig moontlik in oorleg met die suksesvolle kandidaat.

Die kerkraad behou hom die reg voor om geen aanstelling te maak nie.

Nou ja, liewe gemeente van Die Burg, ek sal maar liewer nie aansoek doen nie… Ek sou die meeste van daardie dinge kon doen, maar nie alles nie.
Een mens, wat met almal in die gemeente persoonlike verhoudinge het- van die wieg tot aan die graf met almal oor die weg kom en bedien. Jeugbediening tot bejaardesorg. Sterk admin, sterk musiek, sterk sendinghart, sterk rekenaarvaardig… watter gawe is daar in die kerk wat julle nie van hierdie een mens verwag nie?

En… ek is ouer as 45, die nuwe ouderdom in die Kerkbode se advertensies waar dominees asb weggeraap moet word. DIe ouderdom wat ‘n dominee geen nut meer het vir ‘n gemeente nie.

Maar ek bid regtig vir die arme mens wat dalk wel daardie aanstelling sou kry…

Ek dink ek gaan so Desember rond soos ‘n boemelaar aantrek, en aan hierdie broer/ suster se voordeur kom klop. Ek wil regtig daardie persoon ontmoet wat presies inpas by hierdie advertensie. Dalk by die medeleraar ook, hy/ sy kan seker nie minder superGabriël wees nie…

Die Aartsengel Gabriël soos gevind by http://www.devinemiracles.com/How-To-Meet-Angels.html

Die Aartsengel Gabriël soos gevind by http://www.devinemiracles.com/How-To-Meet-Angels.html

Soms, net soms wonder ek of daar nog ‘n gemeente is wat dalk net ‘n leraar soek wat lief vir die Here, en vir mense is…

Namens die eerwaarde Boukommissie…

Reeds van die vroeë Middeleeue was dit ‘n formidabele projek om aan te pak. Katedrale kon honderde jare neem om gebou te word, en baie, baie, baie jare se salarisse van baie, baie, baie mense kos om klaar te maak.

En tot vandag toe is dit die groot uitdaging vir sommige: om ‘n Huis vir die Here te bou. ‘n Gebou wat waardig gaan wees om iets van God se grootheid aan die mensdom rondom te vertel…

Dit bly ‘n verskriklike duur projek. Daarom moet dit met die nodige omsigtigheid aangepak word, en met die gepaste erns en toewyding.

‘n Boukommissie moet op die been gebring word. Hierdie mense moet by die Here en die argitek gaan hoor: hoe moet ons tempel nou daar uitsien. Die bourekenaar moet betrek word, daar moet deeglik begroot word.  Maar geld is ook nie alles nie, hoor, ons moet geen koste ontsien vir onse Here nie. Die Susters moet koeksisters bak, daar moet so ongeveer drie miljoen koeksisters verkwansel word om die tempel te laat verrys uit hierdie aardse stof ver benede…

Die broers moet Saterdae kom help met hulle tuiningenieurs, daar moet baie sand en klip rondgeskuif word. Die broers wat kan houtwerk doen, moet kom banke maak. Maar net as jy dit baie, baie netjies kan doen, geen afskeepwerk word in onse tempel geduld nie.

En dan, dalk na jare se harde werk- een dag is die tempel klaar. Daar is ‘n gemeentefees, die argitek oorhandig die sleutel aan Dominee of Pastoor. Die rooi lint by die voordeur word geknip. die gemeente stroom binne om aanbiddend te gaan verkeer. “God is in sy tempel, hemelpoorte bewe…”

Die droom het waar geword! Die tempel het verrys… ons het God verheerlik…  Nou gaan ons Hom aanbid, op ons manier…

So paar jaar later…

2014-10-09 09.05.08

Die deure is nou oop vir almal…

2014-10-09 09.04.36

Die boukommissie het toe inderdaad die mooiste stene na baie gevegte gekies…

2014-10-09 09.05.15

Kom gerus binne, en kom word stil…

2014-10-09 09.05.48

Hier verkondig ons… kom luister!

2014-10-09 09.06.07

Ons tuinbouklub se trots…

2014-10-09 09.05.40

Erens moet die duiwe uitvlieg…

2014-10-09 09.05.45

en tog, kyk mooi, daar sit die duif nog steeds…

 

Dit was vir my net so hartseer om die einde van ‘n droom te sien toe ek my skoonma verlede week besoek het. Ek weet nie eers watter soort kerk se gebou dit was nie, en ek vra nederig om verskoning vir enige oud lidmate. Die dorp se ekonomie het drasties agteruitgegaan. Dalk het die oorspronklike lidmate oud geword, of weggetrek agter beter geleenthede aan.

Ek het maar net gedink aan Jesus se woorde in Johannes 4- daar kom ‘n dag dat God nie meer in tempels belang stel nie, maar in Gees en in waarheid aanbid wil word. Ons sloof ons so af om tempels te bou wat God sal verheerlik. Maar die Here woon nie meer in mensgemaakte tempels nie, Hy woon in die harte van mense… Die Here het uit die gebou uit getrek. Hy stel nie belang in Real Estate nie, Hy is lief vir mense… dalk was die stukkende vensters nodig…

 

Yster slyp yster…

… en vriende vorm mekaar- so sê Spreuke 27:17.

Dit het my net aan die dink vanaand.

Spreuke het mos 31 hoofstukke, My oom, wat so ‘n groot rol in my lewe gespeel het, het vir my gesê dis ‘n hoofstuk vir elke dag van die maand. Hy het gereeld deur Spreuke gelees, en so dit oor jare in sy kop bewaar as wysheid wat die lewe help vorm.

Ek skryf op ons gemeente se facebookgroepie so enkele gedagte elke oggend, sommer net om ons kerk se mense weer te inspireer om ‘n stukkie Bybel saam te dra elke dag op hulle lewenspad.

Vanoggend, net voordat ek die lang pad moes vat vir ‘n baie moeilike dag in ons gesin se lewe, het ek my oom se raad van Spreuke op die groepie gesit. Ek het die lesers uitgedaag om dalk net een spreuk te kies, en vandag daaroor te dink.

Spreuke 27 (ooreenstemmend met die datum) het vandag so baie wat met my gepraat het.

Maar hierdie vers 17 het die hardste gepraat. Daar is vriende wat jou lewe help vorm. Soos wat ‘n hamer ‘n stuk staal kan vorm, soos wat ‘n slypsteen ‘n mens se lem skerp kan maak, so is vriende ‘n faktor in ‘n mens se lewe.

My vrou het so ‘n skinkbord in die kombuis waarop daar staan: “Vriende is die familie wat jy self gekies het…”

Ek het vandag, deur hierdie lang, lang dag, nogal baie aan vriende gedink.

EK het so baie kontakte- meer as 500 “Vriende” op facebook, waarvan ‘n hele klomp ook nogal regtig omgee.

Ek het heelwat pelle. Daar is baie mense saam met wie ek lekker sal gaan koffie drink, en soms gesels oor gedeelde belangstellings.

Maar ek het vandag gedink aan daardie vriende wat my al op my heel slegste gesien het.  Daar was al tye wat ek dit heeltemal verloor het, en woedeuitbarstings van epiese proporsies gehad het, met woorde wat ek op nagskof by Yskor geleer het, wat nie in die Goeie Boek staan nie.

Daar was vriende wat my op my slegste gesien het. En nog steeds gekies het om my nie weg te gooi nie, maar ‘n pad met my te bly stap. Daar was al vriende wat enduit geluister het as ek baie negatief raak. Wat my storms getrotseer het, tot dit uitgewoed was. Dan met ‘n sagte woord van wysheid my weer terug te lei na ‘n plek waar daar hoop is.

Daar is sulke vriende in my lewe. Mense wat my liefhet vir wie ek is. Mense wat my aanvaar soos ek is.  Dis die ware vriende wat ek in die middel van die nag kan bel, en kan sê my lewe het nou gat oor kop neergedonder, en hulle sal verstaan.

Sulke vriende is nie baie in ‘n mens se lewe nie. Miskien het ‘n mens maar net die kapasiteit vir drie tot vyf sulke vriende in die lewe. Maar daardie vriende is die yster wat jou slyp, jou vorm, en jou beter anderkant uitbring.

Miskien is die ou grappie tog waar- ‘n pel is iemand wat vir jou in die tronk kom kuier, ‘n ware vriend sê die volgende oggend: “Wanneer kom bail hulle ons hier uit?”

Vandag se versie van Spreuke in my lewe was 27:17, en vandag is ek baie diep dankbaar vir sulke vriende in my lewe.

Ongelukkig bly twee van die heel bestes van die beste in die Kaap, ek wens so hulle was soms nader, want daar moet deesdae weer rooiwyn gedrink word, en antwoorde gesoek word. Maar dankie vir dié wat naby is. Dankie vir dié wat geweet het ek is siek, en kom kuier het.

Paragraaf self gesensor…

Dankie vir die vriende wat weet, en omgee, en bid…

En soos Forrest Gump gesê het: “That’s all I want to say about that…”

 

Donkiestories…

Ek verlang na die Donkie. So ek haal hom bietjie uit sy stal uit vir ‘n Spin…

20140802_120647

 

Wat sou die Donkie op die oomblik wou sê as hy kon praat?

  •  Gesondheid is ‘n baie groot gawe.  Jy besef dit veral wanneer hulle jou in ‘n teater instoot…
  • Familie is ‘n baie groot gawe…  kan nie vandag meer sê nie, gemoed is bietjie vol…
  •  Ware vriende is ‘n baie groot gawe, facebook kennisse is BAIE, pelle is ‘n klomp, ware vriende tel jy op een hand…  Het dit net weer gisteraand besef toe ek ‘n bier wou gaan drink saam met iemand, want dit was my pa se verjaardag, al is hy al 21 jaar oorlede.  EK het altyd gedink Pa verstaan nie mooi nie. Nou is ek 7 jaar jonger as toe hy dood is, en nou kom ek al hoe meer agter: Ek verstaan nie mooi nie…
  •  Die regte lewensmaat is seker een van die top 2 grootste gawes in die lewe- ek het saam met haar gisteraand ‘n bier gaan drink- sy verkies Grapetizer…
  • Die kerk is veronderstel om ‘n baie groot gawe aan die wêreld te wees. Maar nie soos sy nou lyk nie…
  • Die jeug is ‘n wonderlike gawe, en ek weet nie of ons ‘n goeie invloed op hulle is nie…  Almal sien vandag se hoërskool kinders se foute raak, maar niemand vra waar dit vandaan kom nie.  Die meeste het baie negatiewe rolmodelle wat oor alles kla…
  • Ek sit nou met trompetmusiek in my studeerkamer en probeer dink wat die Here graag vir die gemeente wil sê Sondag… die trompet is hemels… Sondag se boodskap wil nie kom nie…
  • Motorfietse is ‘n gawe uit die hemel.  Maar motoriste kan demone uit die hel uit wees…
  • Ek moet dringend weer ‘n droom kry- dalk ‘n volgende Camino de Santiago beplan, iets soos die Portugese of Noordelike roete.
  • Hoekom pak so baie mense se galblase deesdae op?
  • “What if this is as good as it gets…?”
  • Alan Hirsch se boeke oor wat die kerk kan wees is besig om my kop te blaas…
  • Ek verlang na my vriende in die Kaap. EN na Ons Huisie se snoek. En na Blue Peter se Bosun’s Bitter as die son sak agter Robben Eiland.  En na Tafelberg.
  •  Ek begin werk aan my 20e Argus- moet die beste een ooit wees. Na ‘n operasie mag ek nog nie fietsry nie. Ek swem vir die eerste keer van Hoërskool Dae af. EN borsslag is steeds die maklikste vir my, en flinderslag steeds net vir Chad en Cameron bedoel…  Borsslag klink soveel lekkerder in Engels…
  • Mense is hel- Jean Paul Sartre
  • Verhoudings is die lekkerste lekker en die diepste seer- die Donkie…
  •  Is die dolfyne nog hier? Of het hulle al lankal gesê :“So long and thanks for the fish…”
  •  Ware Liefde is al wat regtig die wêreld kan red. Maar dis so ongelooflik skaars deesdae…

 

Wat sou ‘n mens alles kon doen…?

As jy nooit bang was vir mislukking nie?

As jy nooit die ervaring gehad het dat jy gesig eerste in die modder val nie?

As al jou foute langs die pad leerervarings was om dit volgende keer beter te kan doen?

Dis die tipe vrae wat hierdie middeljarige Donkie besig hou op die oomblik.

Die kerk se finansiële posisie laat mens soms in die nag wakker word, en wonder: wat anders kan ek doen om vir my gesin te sorg?  Wat moet ek maak as ek die dag my werk verloor, en vir niks anders opgelei is nie?

Ek het 8 jaar se universiteitsopleiding om vir 1 “firma” te werk. Daardie “Firma” het skynbaar steeds te veel personeel en te min vakatures.

Ek kyk op die oomblik na ‘n advertensie in Die Kerkbode. ‘n Groot gemeente in die stad is op soek na iemand om daardie stukkie bediening te kom doen waarin ek ‘n Meestersgraad het.  Hulle spesialiseer duidelik daar in elkeen se gawerigtings.  Die gemeente lyk regtig indrukwekkend op hulle webwerf! Daar is lewe, daar is groei, hulle maak ‘n verskil!

Ek kyk na die advertensie. Ek hoor ‘n roepstem. Maar ek is bang. Ek is nou 20 jaar op die platteland. Hier spesialiseer ons nie- hier doen ons sommer alles self.  Omdat ons so by alles betrokke is, is ‘n mens later regtig “Jack of all trades, Master of none…”

Ek probeer myself indink hoe dit moet wees om in my belangstellingsveld te kan spesialiseer. Daar is ‘n reuse honger in my om dit te doen. Maar iets hou my terug. Sê nou maar net… sê nou maar ek het nie genoeg om hulle te bied nie. Sê dit nou maar: sê nou ek is nie goed genoeg vir die grênd stadsmense nie? Sê nou maar ek pas nie in nie?

Ek wens ek het geweet hoe om daardie tipes gedagtes te kon nek omdraai. Ek wens ek kon met groter selfvertroue enige iets aanpak, en sonder twyfel klaarmaak daarmee.

Die afgelope paar maande was weer ‘n steil leerkurwe in my lewe. My gesondheid het my die eerste keer begin dwing om radikaal anders te begin dink aan eet, en nou oefen ook. Ek word geforseer om gesonder te leef. Ek gaan dit gebruik as springplank om so fiks as moontlik ook te word, as ek net hierdie lastige kopverkoue oorwin kry.

Al die vrae in my gemoed oor my huidige posisie laat my wonder: Hoe kan ek in elk geval beter doen waar ek nou is- wat kan ek anders, meer effektief doen om ‘n groter bydrae te lewer tot my huidige beroep.  Ek het ‘n al groter wordende behoefte om te ervaar wat ek doen, maak ‘n verskil.  Ek wil so graag beter doen…

En soos een van my blog vriendinne aanstuur: Miskien wil ek ook weer vir ‘n slag ‘n sexy ass hê!

Genade vir die Verstandelik Gestremdes ook…

 

 

So gebeur dit toe Saterdag dat ek en my geliefde in die Kaap rondwandel na ‘n vriend se heerlike troue Vrydagaand. Ons doen maar die toeriste ding, en gaan Waterfront toe.  Dis mos hier in die Waterfront wat jy gewoonlik Top Gear tipe droomkarre raaksien. Onder in die kelderparkering sien ek hierdie droom Ferrari staan, en ruk dadelik die kamera uit, want my donkievul met my naam geniet ‘n Ferrari enige dag net so baie soos ek… dis darem net so bietjie bo ons vuurmaakplek, verstaan?  Kyk daardie pragtige wiele!

IMG_2495Nog so bietjie nader- kyk daardie fenominale enjin- ek sou darem wat wou gee om een van hulle te kan vat vir ‘n spin! Maar die mense in die winkel lag net as gewone plebs vra…  So stap ek maar verby… en sien toe wat aan die gebeur is… 
IMG_2497

 

 

Hierdie Ferrari behoort aan die man met die Pick ‘n Pay sakkie. En raai- hy het op die Gestremde Parkering gaan stop, dis mos naby Pick ‘n Pay se ingang…  Hy is toe beloon met die dreigende klamp, en hy staan toe woes en stry oor die R250 wat hy nou moet betaal. Shame, wonder waar gaan hy dit kry. Die arme man kan nie lees nie, en nie ver loop nie… ons moenie lelik met die gestremdes wees in onse Suid Afrika nie! IMG_2496

Wat my by die vraag bring: WAT DOEN DIE OU OM SO KAR TE KAN BEKOSTIG???  Seker maar deel van die agtergeblewe Zuma familie?

Nog ‘n stuk ironie… die troue wat ons bygewoon het, was in die pragtige Protea Fire & Ice hotel, waar kamers teen so R1650 ‘n nag begin. Ontbyt gewoonlik uitgesluit, dit kos so R190 per kop vir ontbyt. Ek was op my wittebrood 24 jaar gelede laas in sulke luuksheid, ons het oë toegeknyp en vir een keer in 2 dekades bespreek- dit was ‘n fantastiese vriend se troue…

Die volgende oggend by die ontbyt tafel word ons begroet deur… die EFF Off party se mense. Hulle is baie luiddrugtig daar, en sommiges eet met hulle rooi konstruksiehelmets op… dit kan seker maar gevaarlik raak daar binne…

Wat my net laat wonder oor die ekonomiese vryheid wat hulle so voor suffer- R2000 per nag as jy ontbyt insluit… en daar is maklik 12 van hulle gewees…

Ag, ek is seker net gatvol op die oomblik na die afgelope verkiesing se resultate… ek het regtig gedink Suid Afrika verdien beter… maar dis waarvoor die massas gestem het…

So kom ons wees maar naais met die agtergeblewenes en alles wat hulle al die jare gemis het… dit wat hulle wil hê het ek ook gemis…

 

So aan die begin van die nuwe jaar…

is die Donkie nog maar stil…

En tog is daar so baie, baie dinge aan die gang op die oomblik.

Ek probeer fiks word vir my 20e Argus. EK het nou al die 500 km merk verby gesteek. Maar hierdie is al weer een van daardie weke. Maandag het dit gereën, en ek is soos ‘n kat oor water- hou nie van nat paaie nie, sien nie die pothole nie… Disndag het ek alweer maagmoeilikheid gehad, dit kan gerus nou maar ophou. En vandag reën dit alweer. Ek kla nie, die reën is wonderlik, en bring nuwe lewe (en rus…)…

Vanoggend het ek en my twee kollegas heerlik ontbyt gehad hier in my lapa. Ons het die jaar se Woensdagoggend byeenkomste afgeskop, dis ‘n goeie geleentheid waar ons weekliks saam dink, beplan, bid, grappies maak, preke uitruil, preekbeurte uitruil…

Dis maar net: die jaar begin met so ‘n gejuig, veral volgende week as die skole weer oopmaak. Dan lê daar weer lang, lang dae voor, en baie, baie vergaderings. ‘n Mens kan so vaskyk in die dinge wat ons doen, dat ‘n mens vergeet waarmee jy eintlik besig is.

So sien my vrou gisteraand iets op televisie raak wat sy nie kan wag om met my te deel nie. Een van die karakters vra: Wat sou jy hierdie jaar gedoen het as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie? Sy het eers gewag op my antwoord, en toe die tweede deel gesê: “Now go and do it…” (Ek dink nie dit was Bart Simpson nie… dalk Homer?)

Dit het my nogal woes laat dink gisteraand… Wat sou ek regtig wou doen as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie?

Ek het ‘n predikant geword, omdat ek gedroom het oor ‘n wêreld van heel verhoudings.  Dalk was ek baie naief as skoolseun, dalk voortvarend. Ek het regtig gehoop ek sou ‘n positiewe verskil kon maak.  Maar soos die ou Chinese omie  eendag gesê het: toe hy klein was, wou hy die wêreld verander. Toe hy groter geword het, wou hy sy land verander. Nog later wou hy sy provinsie verander. In sy middeljare het hy gedink hy sou bly wees as hy sy dorp kon verander. En toe hy aftree, het hy gehoop om homself te verander…

Ek dwaal af (soos jy kan agter kom…). Wat sou ek wou doen as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie?

Ek het nie fenominale insig oor die saak gekry nie, veral nie in die bad soos Archimedes nie, ek het nie kaalgat in die straat afgehol en Eureka geskree nie…

Ek het nie groot drome of planne vir 2014 nie.  Ek het nie die moed van ‘n Malala Yousefzai om die hele land en Die Sisteem aan te pak nie. Wie? Daardie meisie van Pakistan wat deur die Taliban in die gesig geskiet is, omdat sy gewaag het om te sê: Meisies moet ook skool toe gaan en ‘n toekoms kan hê… ek was diep beïndruk deur haar storie- I am Malala- kon die boek nie neersit tot ek half een vanoggend hom klaargemaak het nie. Ek wens ek het daardie moed of kapasiteit gehad om verandering te bring. Maar ek het nie…

Al wat ek wil probeer, is om lief te hê.  Ek weet mislukking is sommer ingebou daarin. Maar ek wil probeer…

Dalk is dit genoeg as daar geloof, hoop en liefde êrens soms teenwoordig is. Maar die grootste hiervan, glo ek met my hele wese, is die liefde…

Wat is liefde?