Dis eenuur in die more…

en netnou moet ek gaan preek… “Rig julle gedagtes op die dinge daarbo…”

Daar is ‘n wit kat uit die hel wat my deesdae elke aand eenuur kom wakker skree met ‘n demoniese geknetter.  En as ek eers wakker is, is dit baie moeilik om weer aan die slaap te raak.

Die kat is doof, ek het vanaand tot 3 meter van hom af gekom met ‘n skerp visstok staander, toe ruik hy seker die heerlike knoffelslakke in my asem. Ongelukkig het hy nie daarvan gevrek nie.

Ek sit nou met ‘n reuse morele dilemma. Ek is regtig baie lief vir katte. Maar ek het ook my slaap nodig.

Nou wonder ek alweer oor ‘n paar goeters:

  •  Afvuur van vuurwapens in die dorpsgebied is glo verkeerd, behalwe vir kriminele soos rowers en moordenaars.  As ek myself tot moordenaar laat verklaar, mag ek die kat skiet?
  •  Die bure sal dalk moan, behalwe hierdie kat pla hulle seker ook- moet ek eers almal se toestemming vra om die kat te skiet?
  •  Toe ek nog ‘n student was, het hulle gewaarsku- baie drank lei tot katte skiet. Hoeveel is genoeg drank?
  •  Ek ken heelwat smouse van landbougif, maar ek hoor Temic is onwettig om op diere te gebruik, glo net vir aalwurms. Is hierdie kat nie dalk ‘n aalwurm nie?
  •  Kan ek die kat met ‘n petrolbom gooi, en wat vra die brandweer om die vuur te kom blus?
  •  Kan ek nie die muur tussen ons huis en die kerk boobie trap dat hy op die kat omval as hy weer oorspring nie? My slaap is meer werd as die herstelkoste aan die muur… het een van die outobank opblasers nie dalk vir my ook so bietjie van daardie boomboom van die myne af nie?
  • Hoe ver kan een mens ‘n kat gooi?
  • Is daar nie dalk kindertjies wat gaan huil oor hulle vermiste demoon nie? Waar kan ek ‘n Tamagotchi vir hulle koop, dié goed het nooit rondgeloop na die bure se erf toe nie.
  •  Kan ek die kat saggies met my bakkie bekruip en oor hom jaag?
  •  Kan dit nie as selfverdediging beskou word om die kat te skiet nie, hy hou ‘n wesentlike gevaar vir my geestesgesondheid in.
  •  Weet Julius Malema en sy maatjies dat hier ‘n WIT kat is wat hom baie sleg sê- die kat het iets te sê oor sy IK en sy ouers… elke nag!
  •  Kan ek die kat met my ou weermagbajonet kastreer, net hier onder sy nek?

Daar is nog baie ander gedagtes ook in my jong onskuldige gemoed, maar daar is van my gemeentelede wat volhard in die bose deur my blog te lees…

Laat ek dus eindig deur Robert Burns aan te haal en  dan te gaan probeer slaap tot die helsinwoner weer opdaag:

How do I hate thee- let me count the ways…

Ek is nou vaak en moeg, lekker slaap.

Enige sinvolle voorstelle tot kateliminasie sal baie waardeer word.

Teiken A- eie tyd, eie teiken…

PS- Ek lees nou maar deur netnou se preek uit Kolossense 3 om darem iets te probeer onthou so deur die vaak. En vers 5 is so van toepassing- “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is,  onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”  En die wit kat, Paulus?

Pandora se boks is oop…

 In die mitologie het al die moeilikheid in die wêreld ingekom toe Pandora se boks oopgemaak is…

 Nee, hierdie verhaal gaan nie oor daai boks nie. Ook nie oor daai Pandora nie.

Pandora is ons kat. Sy is so lekker wollerige kat. Nee, sy kan nie met Persiese bloed spog nie. Sy is net ‘n opregte kat, met ‘n ma en ‘n pa wat wel katte was. Sy het geen stamboek waaroor sy roem nie.

Maar die kat het persoonlikheid. Sy is die vriendelikste en geduldigste kat wat ek nog besit het. Sy word nooit omgekrap nie, en ek vermoed dat sy ‘n dieselenjin het, want as ‘n mens vir haar kyk, dan purr sy al. Sy is baie lief vir voertuie en as enige deur oopgemaak word van ‘n kar, dan spring sy in, sy wil saamry. Effens onverstaanbaar, want sy raak karsiek.

So ken ons ons kat as vredeliewend, vriendelik teenoor alle mense, lê graag heeldag en slaap, geniet sommer net die lewe.

Maar vanmiddag het ons rustig gesit en eet op die stoep. Uit die hoek van my oog sien ek ‘n duif op die agterste grasperk sit. Met Pandora wat daardie duif heel geslepe bekruip.  Ek sien hom die duif, maar ekke sien, hom die duif sien nie die kat nie… Soos ‘n weerligstraal spring Pandora op daardie arme duif, en kry hom beet…

Toe het ek gesien: in die mees vredeliewende kat, daar diep binne, is daar nog steeds ‘n leeu. In die vriendelikste kat is daar nog steeds ‘n wrede bliksem wat haar prooi dood speel.  Dit wat ‘n mens sien, en dit wat daar diep binne versteek is, is nie altyd dieselfde ding nie.

En dit het my laat dink oor vriendelike mense wat ek ken…