Wat sou ‘n mens alles kon doen…?

As jy nooit bang was vir mislukking nie?

As jy nooit die ervaring gehad het dat jy gesig eerste in die modder val nie?

As al jou foute langs die pad leerervarings was om dit volgende keer beter te kan doen?

Dis die tipe vrae wat hierdie middeljarige Donkie besig hou op die oomblik.

Die kerk se finansiële posisie laat mens soms in die nag wakker word, en wonder: wat anders kan ek doen om vir my gesin te sorg?  Wat moet ek maak as ek die dag my werk verloor, en vir niks anders opgelei is nie?

Ek het 8 jaar se universiteitsopleiding om vir 1 “firma” te werk. Daardie “Firma” het skynbaar steeds te veel personeel en te min vakatures.

Ek kyk op die oomblik na ‘n advertensie in Die Kerkbode. ‘n Groot gemeente in die stad is op soek na iemand om daardie stukkie bediening te kom doen waarin ek ‘n Meestersgraad het.  Hulle spesialiseer duidelik daar in elkeen se gawerigtings.  Die gemeente lyk regtig indrukwekkend op hulle webwerf! Daar is lewe, daar is groei, hulle maak ‘n verskil!

Ek kyk na die advertensie. Ek hoor ‘n roepstem. Maar ek is bang. Ek is nou 20 jaar op die platteland. Hier spesialiseer ons nie- hier doen ons sommer alles self.  Omdat ons so by alles betrokke is, is ‘n mens later regtig “Jack of all trades, Master of none…”

Ek probeer myself indink hoe dit moet wees om in my belangstellingsveld te kan spesialiseer. Daar is ‘n reuse honger in my om dit te doen. Maar iets hou my terug. Sê nou maar net… sê nou maar ek het nie genoeg om hulle te bied nie. Sê dit nou maar: sê nou ek is nie goed genoeg vir die grênd stadsmense nie? Sê nou maar ek pas nie in nie?

Ek wens ek het geweet hoe om daardie tipes gedagtes te kon nek omdraai. Ek wens ek kon met groter selfvertroue enige iets aanpak, en sonder twyfel klaarmaak daarmee.

Die afgelope paar maande was weer ‘n steil leerkurwe in my lewe. My gesondheid het my die eerste keer begin dwing om radikaal anders te begin dink aan eet, en nou oefen ook. Ek word geforseer om gesonder te leef. Ek gaan dit gebruik as springplank om so fiks as moontlik ook te word, as ek net hierdie lastige kopverkoue oorwin kry.

Al die vrae in my gemoed oor my huidige posisie laat my wonder: Hoe kan ek in elk geval beter doen waar ek nou is- wat kan ek anders, meer effektief doen om ‘n groter bydrae te lewer tot my huidige beroep.  Ek het ‘n al groter wordende behoefte om te ervaar wat ek doen, maak ‘n verskil.  Ek wil so graag beter doen…

En soos een van my blog vriendinne aanstuur: Miskien wil ek ook weer vir ‘n slag ‘n sexy ass hê!

Advertisements

Na groot sukses… die Besembos…

Ons het toe die naweek ‘n baie suksesvolle Fees gehad- lees: Kerkbasaar… Ons het ons teiken bereik. EN daar is nog ‘n hele klomp vleis oor, amper ‘n halwe lorrievrag vol. Die mense wat dit graag wil koop, begin ook opdaag. Dit lyk al hoe meer suksesvol..

En ek? Ek voel soos Elia nadat hy die Baälpriesters verower het met die vuur uit die hemel. Die volgende dag tref ‘n mens hom aan in die woestyn, onder ‘n besembos, besig om te wens die engel wil hom maar kom haal…  (1 Konings 18 as jy dit graag self wil gaan lees. Ek google dit en kom toe af op: https://bileamsedonkie.wordpress.com/2012/05/28/elia-en-die-besembos/) Lyk my ek was al voorheen hier…

Na groot suksesse, waarvoor jy maande lank gewerk het, is dit seker maar natuurlik om ‘n dip te vat in jou hêppiness…  Maar toe ek Saterdag tot stilstand kom, toe tref die peste en plae wat ek die hele tyd probeer ignoreer het, my behoorlik.  Verlede Saterdag (week terug) het ‘n tand gebreek wat al lankal tot sy uiterste toe gestop is. Verlede Maandag het ek dit laat trek. En binne enkele dae die ding getref wat hulle van praat as “Dry Socket“- die bindweefsel val uit, en die gat in jou kakebeen bly nie toegroei nie. Met dieselfde simptome as ‘n tandabses. Ek lewe nou al van verlede Maandag af- 9 dae- op baie sterk  pynpille. Wat my kop verskriklik dof maak.  Ek was verlede Donderdag weer by die tandarts, dat sy die Droë Sokkit minder Fo….it kan maak… Maar ek weet nie of ek weer iets verkeerd gedoen het nie, die gat voel presies dieselfde, en nog steeds vreet ek pynpille soos smarties om te leef.  En Wikipedia sê: “The pain may last for seven to forty days.” Oor 40 dae is ek totaal van my trollie af… !  Saam met dit, totaal onverwant, het ek nog ‘n klap griep ook gekry, met ‘n baie seer keel, en duiseligheid daarmee saam.

Met al hierdie pret het ek en my oudste seun verlede Vrydagmiddag in die vrieskamer (minus 18 grade) gehelp om die vleis in die lorrie te pak. En Saterdag middag al die onverkoopte vleis weer terug in die koeltrok, wat ook maar fullblast op my was… ek voel die hele tyd uit op my voete.

Maar die ergste was vir my in die suksesvolle Fees, om vleis aan mense te verkoop.  EK is baie dankbaar vir al die skenkers, en die mense wat so getrou gehelp het om die vleis te verwerk en verpak, en die span wat help verkoop het- dis alles staatmakers wat ‘n mens op kan reken en saam oorlog toe kan vat.

Maar die kliënte!!!  Veral die groot aftreeoord op die bult se inwoners!!!

Ons het ‘n skenking Wildswors gekry, wat in 750 gram pakke verpak is.  Die skenkers het besluit op ‘n baie billike prys-  en dis so in in die advertensies aangedui. R35 per pakkie. Vrydagoggend kry ons nog ‘n skenking van fantastiese wildswors, baie hoë kwaliteit, en dis uiters netjies vakuumverpak en weeg 1.1 kg gemiddeld.  Natuurlik het ons dit so bietjie hoër gemerk.  Die een omie van Luilekkerland kom baie ongeskik daar aan en vra wat kos die wildswors- hy het een van die duurder pakkies wors in die hande. Ek sê vir hom die prys.  Hy betaal dit met ‘n groot gebrom. En binne ‘n minuut voel ek skielik hoe iemand se vinger in my sy pomp van agter af… “Hoekom het jy so vir my gelieg? Jou advertensie sê dan R 35 per pakkie…” Baie ongeskik. Ek probeer verduidelik, maar die belangrike oom wil niks weet nie. Ek strip my moer net daar maar soos altyd kan niemand dit sien nie. Ek sê net baie kalm vir die mense wat die geld werk om vir die oom sy geld terug te gee. Ek sê niks van vierkoffieshierso nie…  Nadat die oom sy geld gekry het, glimlag hy liefies soos iemand wat die lotto gewen het, en sê “Dankie dat jy my gehelp het, Meneer…”   Ek het weggestap en gaan koeldrank koop…

En toe ek terugkom, staan daar nog ‘n egpaartjie van Luilekkerland daar, en betas die varksnitte onbetaamlik.  Hulle het by die eerste moontlike krat vleis vasgesteek, wat toe  die varkrashers is wat oorgebly het nadat ons die drie worsvarke bewerk het. Party mense hou daarvan so… Die antie het niks verder na ons vleis gekyk toe sy afhaak en kliphard teenoor haar man sê: “Kyk hoe vet is hulle vleis, en kyk hoe lelik is dit gesny… ”  Dit het maar net my hele Augustus in beslag geneem, en die res van die vleis is Supergraad Bees en topgehalte vleisvarke teen maklik 30% onder slaghuispryse…  Hoekom mag Dominees nie vir mense met enkele kragwoorde van die terrein af verjaag soos sleg honde nie?

Daar was ‘n paar sulke episodes by die vleis. Die een oom wil weet of daar vark in die boerewors is. Die ander of daar vet in die boerewors is. Die derde of daar genoeg Koljander by die wors is…  Ag liewe blou forklift…

My liefde vir die mensdom het ‘n laagtepunt bereik. Ek is gatvol vir die mensdom. Daarom het ek my kerkkantoor in kennis gestel dat ek nou vir vier dae in die bos gaan wegkruip, waar ek geen mense hoef te sien of mee te praat nie.

Ek het my kamera by my, en wil vir die volgende vier dae net die bome en plante en diere sien en afneem.  Die mens WAS die kroon van die skepping voor die sondeval.

Mense is hel… Jean Paul Sartre

Baie meer die kroon van die skepping...

Baie meer die kroon van die skepping…

Volgende week sal ek weer beter voel en liefies glimlag vir al die mense met hulle pragtige idees.  Ek gaan volgende week weer die oorgrote meerderheid kliënte onthou wat die dag eintlik ‘n groot plesier gemaak het. Ek gaan die oorgrote meerderheid mense onthou wat ordentlike, opgevoede mense is, en dat dit baie lekker is om hulle te ken…

Maar intussen- hoop ek daar beland Donkieknaters in jou Shoprite boerewors, oom Luilekkerland…

‘n Harde week van grondpad ry… Gatvol blog, moenie lees nie…

Hierdie week is hopelik nou amper verby. Ek het lanklaas in my lewe so ‘n uiters moeilike week beleef soos hierdie een.

Dit het begin met die begrafnis van ‘n man in ons gemeente verlede Saterdag oggend. Ek en hierdie man het mekaar verstaan- ons albei het van motorfietse gehou, ons het dieselfde smaak in boeke en musiek gehad.  Dit is nie lekker om mense te begrawe nie.

Nog ‘n man in ons gemeente het die nuus gehoor dat sy kanker nou na sy longe en lewer toe versprei het, en die dokters praat van 6 weke lewe wat oor is.

Ek het gisteroggend ‘n jong moeder op ‘n plaas in die Bosveld begrawe.   En al is dit die mooiste setting waar ‘n mens begrawe kan lê, sou ek haar soveel eerder in haar kinders se arms lewendig tuis wou sien! 2013-06-21 12.28.01

Al bogenoemde dinge was erg om te beleef in dieselfde week. Maar in al daardie gevalle kon ek voel ek help mense, dat ek daar was vir iemand in nood, en net die seer van mense so klein bietjie kon help dra…

Maar waar ek dit verloor het hierdie week, was by die Ringsitting.  Ons het Dinsdag as leraars informeel bymekaar gekom. Dit was lekker. Maar Woensdag saam met die kerkraadslede in die formele vergadering…   Dit het vir my ‘n baie slegte ervaring geword. Ek wil nie baie oor die inhoud van my ongemak uitbrei nie. Ek dink net die kerk se hantering van proponente stink. en ek is jammer dat hulle dit moet beleef in die “meerdere vergaderings”.  Ek is so moeg vir die institusionele kant van die kerk, waar alles so ordelik en netjies volgens vergaderingsprosedure moet geskied. En goeie dinge wat ‘n reuse verskil kan maak, sommer met ‘n ordemosie van die tafel af gevee kan word, of uitgestel word na volgende jaar se ringsitting toe… Ja, die ringskommissie gaan intussen daarna kyk, die betrokkenes gaan saam vergader (en ek is nie een van die betrokkenes hier nie…) Die boodskap wat uitgedra is teenoor die jongste lid van die vergadering is: Ons gee eintlik nie ‘n hel om nie.   Al kan ons dit met sulke mooi woorde probeer sê. Dan wonder ons hoekom  die tradisionele kerk op pad uit is…  Die klokke lui al lankal, die pasiënt is in ICU, maar ons gaan rustig voort, die Kerkorde sal ons mos beskerm teen die Chaos…

En toe ek terugkom van die RIngsitting, kry ek die epos van die verslag van die Emosionele Intelligensietoets wat ek moes aflê voor my prekie in die Kaap. En dié toets het ek duidelik gedop. Ek het vroeër die week dit vir ‘n aand op die blog gehad, maar weer uitgevee. Die toets het net ‘n klomp ou wonde in my hart weer kom oopkrap.  Daar is ‘n hele paar dinge wat ek weet waarmee ek sukkel in die bediening. Ek het oor jare baie werk daarvan gemaak.  Nou kom ‘n EI toets, en vra 104 vragies- watter een is die meeste jy, watter een is die minste jy?  Daar is nog steeds dinge wat ek meer van hou as ander dinge. Daar is sekere vrae wat glad nie ek is nie, maar ek moet kies en een meeste en een minste werk. Die uitslae kom genadeloos- as ek na die resultate kyk, sou ek myself nie eers wou huur nie.  Geen leierskap potensiaal nie. Druk nie deur met projekte nie. Kan nie aanpas nie. Luister wel goed na mense…  My interpretasie: ‘n regte slapgat…   Ek beleef dat daardie toets my finaal sou gesink het in die beroepingsproses.  Maar ek het gebid dat die regte ding sou gebeur- ek weet nou dat hierdie beroep nie vir my beskore was nie. Maar daardie verslaggie sink my hierdie week in die donker dieptes in.  Ek hou nie van leiding neem nie, dit is waar. Maar ek dink ek kan.  Ek voel nie altyd daarna om deur te druk met iets nie. Maar ek dink my track record sê anders…  Ek was nog nooit goed met Emosionele Intelligensie toetse nie…

Die een ding wat ek weer baie oor wonder, is die aanhaling wat Stephan Joubert eendag gemaak het, en ek kan nie onthou wie dit oorspronklik geskryf het nie- ‘n Man het in die verre Ooste die verskillende godsdienste gaan bestudeer. En dié persoon het die opmerking gemaak: “Every time I see a Buddist priest, I see a holy man. But every time I see a Christian pastor, I see a manager…”

Dit, liewe vriende, is die punt van hierdie gerammel wat ek net van my bors af wil kry, en more dalk weer ‘n keer gaan uitvee. Ek is nie ‘n goeie bestuurder nie. Ek hoef ook nie te wees nie. Paulus het gesê die Ouderlinge is immers die bestuurders van die huishouding van God.  Ek doen my werk omdat ek graag vir mense wil omgee, en saam met hulle ‘n pad wil stap.  My verstaan van die kerk is dalk anders as wat al die gemeentes wat beroepe in die Kerkbode adverteer, wil hê.  Ek wil vir die Here lief wees, en vir mense lief wees. Soos die oorspronklike roeping wat die Here my mee geroep het om in sy diens te staan.  Dis wie ek is- ek het jare lank daarteen baklei, maar ek is nou moeg vir die stryd in myself. Ek gaan nou maar aanvaar wie ek is, en myself ten volle uitleef in dit wat die Here wel vir my gegee het om mee te werk.

Ek hoop volgende week lyk beter!

Ek hoop nie jy het toe hierdie gemors gelees nie!

Die Gatvol Donkie…

Die kerk vandag…?

Apology- this picture belongs to Daniel B Lane, but it really really was exactly what my mood felt like today. Sorry Daniel!

  •  In die tradisionele kerk wil almal graag terugsit, en bedien word.
  •  Die dominee word betaal om my te maak op die swaai.
  •  As die laaste ou lekker swaai, het die eerste ou alweer heeltemal tot stilstand gekom…
  • As die dominee my nie maak nie, dan loop ek…

Party dae words ‘n mens hartlik moeg daarvoor om agter almal aan te hardloop, en nêrens heen op pad te wees nie!

En dit, liewe Inkwisisie, is hoekom dit lekker sou wees om wel nog anoniem te wees.  Ek wou graag hier kon sê as ‘n mens die dag lekker gatvol vir die mensdom is, sonder dat dit ‘n Buitengewone Ringsitting word…

Ek het gedog kerkwees gaan so lyk: