‘n Wilde Wildsveiling by Nylstroom!

Ek en twee van my seuns het vanoggend die Eksotiese Wildsveiling by Castle de Wildt daar doer net buite Nylstroom gaan bywoon.

Dit is ‘n pragtige plek, in die vorm van ‘n Middeleeuse kasteel…

IMG_0055 IMG_0005

Die ouens wat so swaar gebuk gaan onder die resessie was ook daar gewees: ek het 11 helikopters getel toe ek uitstap…

IMG_0049

Daar was 80 lotte op die veiling vanoggend gewees. Die bieëry het begin op ‘n Swart Rooibokram: Wat dink jy is ‘n billike prys vir ‘n Swart Rooibokram? Ons wil nie gaan jag as ‘n rooibokram anderkant R800 kos nie…

IMG_0024Wel, hierdie outjie het gegaan vir R365 000 (nie te veel nulle nie… Drie honderd vyf en sestig duisend rand…)

Daar was troppe eksotiese Njalas op die veiling:  So van R20 000- R30 000 per bul, van so R14000- R17000 per ooi. IMG_0031

Daar was ook pragtige Swartwitpense op die veiling, wat so rondom R250 000 tot R300 000 gegaan het. Elk.

IMG_0018

Maar die ster van vandag se veiling was ‘n Goue Wildebees, genaamd Rommel.  Hier is die MENEER:

IMG_0059Op die jagplase betaal jy dalk so R2500- R3000 vir ‘n Blou wildebees. Wat skat jy het Rommel voor verkoop?

R1.85 miljoen! Een miljoen agt honderd en vyftig duisend rand…  Dis meer as dubbeld wat my pensioen op die oomblik na 20 jaar diens in die kerk is… vir een bok… !!!  Vir dieé wat hierdie goeters verstaan- hier is meneer Rommel se pedigree…: Kyk net die mooi tande!  

IMG_0058

Daar is verseker een of twee ouens met dikker beursies as ekke… Dit het ek vanoggend agtergekom by die Eksotiese Wildsveiling…

IMG_0060

En toe ons uitstap, is hierdie die tipe speelgoed wat hulle by so ‘n funksie adverteer:

IMG_0054Ek het maar in my ou Mazda bakkie geklim, en so deur die trane heen my pad huis toe gevind…

Dit smaak my Donkies hoort in die Bosveld…

‘n Goeie gevaarlike rooikopvriendin van my kuier saam met haar gesin by Thabazimbi op die oomblik. Terwyl hulle nou so wild kyk, kom hulle toe af op die pragtigste van alle diere… sy het dit dadelik afgeneem om met my te deel. Met haar toestemming deel ek ook hierdie fantastiese wildbesigtigingsfotografiesetoerresultate met jou.

Adriani 1.

Dit is natuurlik ‘n rare verskynsel in die Bos, die Rooibok en die Koedoe en die Vlakvark en die Renosterstroper is baie meer algemeen, tot jy oor die Botswana grens gaan. Dan, daar in Botswana, is jy in die Donkiehemel. Daar is meer donkies as stemgeregtigdes in Botswana, so hou hierdie spasie dop, ons gaan binnekort ‘n staatsgreep uitvoer. Wie het in elk geval daardie nonsens van een mens een stem uitgedink? Dit diskrimineer teen donkies en bobbejane, en ander diere wat julle homo sapiens so op neersien!  Ek dink die bobbejane en die donkies sal die land in elk geval beter kan regeer…

In elk geval, die moeder en die vul het glo belangstellend nader gestaan, en toe nog ‘n beter foto veroorsaak:

Adriani 2

 

Uit hierdie fotos, wat die afgelope dag of twee geneem is, kan jy duidelik aflei:

  •  Die Winter het gekaap geraak in die Kaap- hier in die Bosveld is g’n niks stuk winter hierdie jaar nie. Die dae word dan 30 grade!
  •  Die hitte  en die droogte van hierdie jaar maak die Bosveld ‘n reuse brandgevaar.  Tweebeen ape wat sigarette rondgooi, kan weer reuse skade veroorsaak wat donkies en bobbejane lelik gaan verontrief.
  • As die donkies so teen die draad staan, dan word daar seker op die koedoes en rooibokke en vlakvarke geskiet in die middel van die kamp. Soms is dit goed om nie glamerous te wees nie- niemand hou van donkiebiltong nie…
  • As die donkies lank genoeg so staan, en die Hilux is reg gepak, kan ‘n mens lank hier sit en kuier. Maar wie gaan die meeste soos ‘n esel optree na die tyd?
  •  Ons lug is selfs in die winter blou. Engeland mis nou al hulle tweede somer se week van sonskyn…
  •  Dis baie lekker om Wimbledon en Tour de France te kyk op die oomblik. Maar die Donkie sal dit alles graag verruil vir die kans op agter op ‘n Land Cruiser te sit, en die diere met die Canon te gaan skiet…
  •  Ek kom die afgelope paar weke maar net agter hoe lief ek ook vir die Bosveld is. Ons het darem bome en voëlsoorte by die duisende… dalk het die Liewe Vader dit tog maar so in die Boek geskrywe dat ‘n mens in die Bosveld moet WOON, en in die Kaap gaan KUIER…
  •  Die gemoed is heelwat beter na ‘n trippie op huisbesoek, baie dankie, ek is nou weer so vroom soos Jan de Wet. “Langs die Viaaaaaa Dolorooooooosa…”
  •  Die petrolprys van oormore gaan Donkiekyk baie duurder maak in die Bosveld…
  • Daar is dalk baie ander dinge wat die wyses ook uit hierdie twee abstrakte fotos van die mens se alterego kan aflei… maar nou moet julle dit maar in die kommentaar publiseer, want ekke- ek gaan nou met ‘n ouerpaartjie gesels oor ‘n pragtige babatjie wat ek Sondag moet natgooi…

So, geliefde broer en suster- enige voorstelle of opmerkings oor die rol van die Donkie in die bevolkingsafname van Botswana?  Net nie resepte vir Donkiebiltong, donkiepotjie ens nie, netnou kry die boere gedagtes… eerder dan maar kreatiewe voorstelle om die donkiebolle sinvol in jou petuniatuin aan te wend…

 

Gemengde gevoelens op die Saadrag aand…

Ek probeer darem nou een keer ‘n week by die Donkie uitkom, om vir hom kos te gee. Maar hierdie week is die gedagtes so bietjie moeilik en deurmekaar geklits…

Daar is wonderlike dinge aan die gebeur:

  •  Ons hele gemeenskap is so trots op Arno Botha se debuut in die Springbokspan vanaand teen Italië- ons ken hom goed en hy is darem net een van die ouens wat die hardste gewerk het daarvoor. Hy bly nederig, en toeganklik vir almal van ons!

  • My oudste seun speel heel netjiese rugby- op die bank vir die Hoërskool se eerste span. (In Arno se ou posisie…) Hy is baie beter in die spel met die ovaal bal as wat sy pappie ooit gehoop het om te wees.
  •  My jongste seun het vandag sy rugbyloopbaan by die Laerskool afgesluit- volgende jaar moet hy by die Hoërskool gaan inskakel as ‘n onder 14. Hulle het lelik pak slae gekry by Laerskool Phalaborwa, maar hy het, behalwe vir die 2 knocks en 1 gemiste tekkel, darem baie mooi vir sy pa gespeel!
  •  My skoonma is vandag 82 jaar oud. En anders as die meeste van my pelle het ek nog nooit moeilikheid met haar gehad nie- ek hoop sy word nog lank vir die familie gespaar.

Daar is ook spannende dinge aan die gebeur:

  •  Madiba is alweer in die hospitaal, en die oubaas lyk nie goed nie.
  •  Ek het die lelikste maagkrampe, en begin vermoed ek het ‘n koring weerstandigheid- ons het juis weer so lekker weggelê aan ons plaaslike bakkery se croisants en vetkoeke vandag. Dit raak al meer gereeld dat ek so voel na broderige kos… die gemene deler begin na koring lyk…
  •  Ek beleef een van die heel spannendste tye in my lewe hierdie week- erens in die nabye toekoms kan ‘n enkele telefoonoproep alles verander… ek kan eers heelwat later daaroor gesels… bid maar vir my/ons…
  • My Corolla se agterbande is klaar en ek moet self binne die volgende 1500 km die 105000 km diens betaal…

Daar is lewensveranderende besluite nodig:

  •  Ek het alweer onfiks geraak, en is nou behoorlik gatvol vir my eie slapgatgeit… (skies sensitiewe lesers- effe donker Afrikaans…)
  •  Ek kyk na gesinsfotos, en lyk glad nie sportief en fiks nie. Dit moet nou begin verander want ek wil waaragtag nie so op AL die gesinsfotos lyk nie.
  •  Ek kort dringend bietjie orde in my studeerkamer- die kat sal nie haar kleintjies hier kry nie…
  •  Ek moet dringend weer ‘n goeie boek kry om te lees!
  • Ek wil weer dringend aandag gee aan my tydsbestuur-  ek kan beter doen as wat ek nou doen.
  •  Daar is ‘n paar groot veranderinge nodig in my kop- die manier waarop ek dink is nie lekker op die oomblik nie.

So liewe vriende, die Donkie is ok maar nie so lekker nie…  dalk, as DAARDIE stukkie onsekerheid uit die weg uit geruim word, kan ek weer voluit aangaan met my lewe!  Intussen hoop ek die lewe behandel jou nog mooi, dat jy goeie gedagtes dink en soms iets lekkers aanvang ook.

Nee!!!!

Elke vier minute word ‘n vrou in Suid-Afrika verkrag. Met elke verkragting word ‘n vrou se lewe verwoes!

ELKE vrou wat verkrag word, is een te veel!!!  Elke Anene Booysen en die ander 1/3 vroue van Suid-Afrika wat verkrag word, is ‘n skande- wat sê dit van die manne van Suid-Afrika???

Ek voel so magteloos- wat kan ‘n mens doen om dit te verander? Ek kan net self elke vrou met respek behandel. Ek maak my seuns groot om respek vir vroue te hê. Ek verkondig respek vir vroue in my gemeente…

Ek en my seuns- ons sal vroue respekteer. En deel wees van die oplossing sodat elke vrou in ons lewe veilig sal wees, en gelukkig kan wees as mens.  Ek wil deel wees van die War Against Rape, op watter maniere ook al ‘n mens ‘n verskil kan maak vir die vroue van Suid-Afrika!

 

 

Die grootste stryd is die een in myself…

Dis alweer belydenistyd. Ek sukkel. En daar is niemand anders te blameer nie.

Oor ses weke is dit die Argus 2013. Ek het hierdie droom om 21 Argusse in ‘n ry te doen, dan kry ‘n mens ‘n blou nommer en word sommer soos ‘n eregas oorlaai met hartlikheid- die afsetter groet jou sommer op die naam as jy wegspring. Ek is mooi op pad, hierdie jaar is nommer 19.

Maar die oefenry! Ek sukkel om hierdie jaar aan die gang te kom! Ek het op hierdie oomblik 187 km vir Januarie gery, en my doelwit is ten minste 1000 km vir Januarie en Februarie.  Maar aai. Vrydagoggend was daar ‘n elektriese storm. Saterdag was ek na ‘n troue toe in Gomorrah, en ek moes vroeg ry om van my dogter se goetertjies terug te vat vir nog ‘n jaar op Universiteit. Sondag was ek nie lus nie. Maandag was die pap wiel episode. Gister was dit reënerig. Vanoggend is dit bewolk. .

Daar is mense wat in die hael en sneeu en Suidooster op fietse klim, en gaan oefen. Selfs al sou die wêreld op 21 Desember geëindig het, sou sommiges nog steeds gou ‘n laaste oefensessie wou gaan inwerk! Ek kry dit net nie meer reg nie. Ek is bang vir weerlig op ‘n fiets, iets te doen met die hoeveelheid mense wat doodgeslaan is deur weerlig waar ek in Noord-Natal grootgeword het.  Ek hou nie van natreën op die fiets nie. Dan koel ‘n mens verskriklik vinnig af, en kry krampe, en kry verkoue. Jy sien ook nie die pothole raak as dit baie gereën het nie. En magtag, julle moet sien hoe loop die slange rond in die Bosveld op die oomblik, daar lê juis weer ‘n moerse pofadder doodgery net hier buite die dorp. Hulle is nog vriendelik, die mambas is nie so lekker nie… En so sit ek en praat myself uit vanoggend se oefensessie uit, vanmiddag gaan dit weer erger reën. Ja, daar is so baie goeie verskonings… maar Suikerbossie wag…

Dis waaroor ek vanoggend sit en wonder. Hoekom het party mense daardie dryfkrag om groot suksesse te maak van alles wat hulle aanpak? Is deursettingsvermoë geneties, is dit persoonlikheid, is dit houding in die lewe?

Ander kere dink ek oor daardie stryd wat maar alewig in my gedagtes is. Hoekom kan party mense so gemaklik met hulleself saamleef, en ander, soos ek, voel die hele tyd of iets jou jaag? Ek sien dit ook in my kinders. Twee van hulle het totale rustigheid en vrede, met donderbuie plek-plek, net soos hulle ma. En twee is sommer die hele tyd van die prêm af, en altyd bedonnerd, soos hulle pa.

Wat kan ‘n mens self kies om te verander?  Wat is net ‘n houdingsaanpassing? Ek kan amper net dink wat sou Karen Brynard dit genoem het…  En waarmee moet ‘n mens maar rustig vrede maak, en weet jy gaan nou maar hierdie omie in die ouetehuis wees wat eendag nog steeds wonder: “What happened?”

Miskien is dit so eenvoudig soos hou op nonsens skryf op jou blog, en gaan ry 30 km fiets, reën nat as dit dan moet… sonder om te veel te tob daaroor…

Daar is ‘n tyd….

Met al die dinge die afgelope ruk, was julle waarskuwings seker baie geldig. Op die oomblik kan ek nie baie opbouende dinge dink en sê nie. Daarom is daar ook ‘n tyd om stil te bly. As dié fase verby is sal ek weer blog, dit maak geen sin om ander saam met my in die gat in te trek nie…

Olimpiese Inspirasie- Vrydagmense langs die pad…

Vanaand begin die Openingseremonie van die Londen Olimpiese Spele van 2012.  Baie belangrik om te onderskei van die London Olimpiese Spele van 1908- ek onthou nie veel van daardie ene nie…  Ook nie so baie van 1948 s’n nie…

As die Openingseremonie begin, het daar alreeds wêreldrekords in die Pyl en Boog geval. Die Noord Koreaanse vroue sokkerspan het alreeds hulle moere gestrip omdat hulle met die Suid- Koreaanse vlag verwelkom is- die jongste Kiem gaan glo nie hêppie wees daarmee nie.

Die afgelope paar dae gesels hulle gereeld met Suid-Afrikaanse medaljewenners van die verlede. Josiah Tughwane (Marathon goud- 2h 14min) .  Terrence Parkin. Mariaanne Kriel. En Penny Heyns. Veral Penny Heyns! (Nee, sy het niks verkeerd gedoen nie, ek hou net so baie van haar!)  As hulle so met al die helde en legendes gesels, dan begin ek so skuldig voel. Na die Argus het ek nog nooit weer geoefen nie. Tot verlede week, toe het ek die eerste keer weer gaan stap. Vroeër hierdie week die tweede keer. En na ‘n lang, lui afdag het ek besluit om netnou maar weer te gaan stap. 4.2 km in 48 minute.  Ek wil so graag weer atleties lyk, op die oomblik is die enigste sportbeeld wat vir my gebruik kan word, boks se slaansak.

So saal ek my ou muurbaltekkies, my een stapbroek van die Camino, en hierdie jaar se Argus T hemp met die lang moue op- ek moet darem lyk of ek wel al fiks was, sien…

Eintlik wou ek hierdie inskrywing wy aan alles wat ek langs die pad gesien het.  Toe dwaal my gedagtes alweer af- die ADHD slaan alweer toe… Net voor ek daarby kom- en van ADHD gepraat- gisteraand was ek totaal moedeloos met die lewe. Eerstens het ek nie baie braait gevoel na die bloedskenk nie.  Toe het ek ‘n leiersvergadering bygewoon, wat net deur sowat 33% van die leiers bygewoon is- dit maak nogal moedeloos… En daarna het ek my twee hoërskoolseuns se rapporte gekry. Ek het hulle toe nie vermoor nie, maar dit was amper. Maar ek sal solank moet begin uitvind waar word ‘n mens as motorwag voor Absa opgelei, dat ek hulle kan help met loopbaanbeplanning. Hulle wil my mos nie glo dat ‘n mens soms nader aan jou boeke moet wees as ander tye nie.

In elk geval- al hierdie dinge het  my gemoed maar weer ontstuimig. Ek skryf sommer weer iets oor die ketters van die NG Kerk om met iemand te kan baklei!

Ek gaan stap toe maar hierdie flink stappie- om van die opgekropte emosies ontslae te probeer raak.

Onse dorpie is op die hoofpad Botswana Noord toe van Gauteng af. Die vinnig groeiende Lepellê, voorheen bekend as Ellisras, lê anderkant onse dorpie, op ‘n baie slegte enkelbaan teerpad, wat van die Boereoorlog tot die Oordeelsdag neem om oorgebou te word. Maar op ‘n Vrydag is dit chaos in onse dorpie. Dan gaan haal al die Botswana en Ellislê mense hulle kinders by Affies. Die Gautengers pak hulle karavane, sleepwaens en dies meer, en gaan soek skoon lug en bokke om te vermoor (terwyl daar nou niks op Loftus aan die gang is die naweek nie…)  Op ‘n Vrydagmiddag is dit spitsverkeer deur ons dorp. Die drankwinkels en biltongwinkels floreer.

Net so 2oo meter van my huis af stap ek verby die konsentrasiekamp kerkhof. As ek al die kindergraffies so sien, dan wonder ek darem weer oor daardie oorlog…  Op hierdie pad ry al die taxis deur wat nie tolgeld wil betaal nie. Hulle is op pad Noorde toe, na Pieterskwane en Lebowagomo en Louis Trichardt toe, party selfs Zim toe. Die Zim taxi’s kan jy maklik herken- dis dié met die reuse sleepwaens op, waaraan daar baie plastiese waterbottels en sinkplate en ander derglike regstellende boumateriaal hang.  Ek het dit betroubaar by ‘n kolonel in die polisie gehoor: hulle mag nie daardie sleepwaens laat afpak by padblokkades nie, dit vertroebel die verhoudinge met Zim. Maar daar diep binne al die gemors is my vriende in Gauteng se platskerm televisie, blue ray, laptop… die polisie weet dit, hulle mag net niks daaraan doen nie.

Nog ‘n hartseer ding van die polisie in ons dorp- daar is ‘n groot erf met ‘n betonheining om. En julle sal huil as julle sien wat daar binne gebeur vandag. Die groot lorries van die stad het weer opgedaag hierdie week. En al die gesteelde voertuie wat teruggevind is, en nie opgeeis is deur die versekering nie, word daar platgedruk in sulke vierkantige boksies. Niks mag op ‘n veiling verkoop word nie. En partykeer is dit byna splinternuwe goeters…   Julle moet sien hoe lyk dit as ‘n drie jaar oue Prado gecrush word…

So op my stappie sien ek die rykes deur ons dorp ry. Splinternuwe Land-Cruisers, met splinternuwe Offroad karavane, op pad na een van die duisende bosveldlodges. Ander het weer sleepwaens, met splinternuwe Scramblers of Quads op, hulle gaan speel in die bos, en die ortopeet by Pretoria-Oos weer rykmaak.  Daar kom Landrover Defenders verby met daktente, jerrykanne en gasbottels op die roofrack. Hulle gaan Maun en Chobe en Kasane en Okavango toe… Deur die Caprivi strook om in Angola te gaan visvang…

Daar kom baie oues van dae verby- hulle woon op die aftreeoord op die bult, wat so op die gholfbaan en die res van ons uitkyk. Party kom verby met groot splinternuwe Mercedesse, en ander met ou, baie moee kapoenkleurige Mazda 323’s. Maar almal met die aftreeoord stieker ry mooi 40 kmu daardie pad uit- die lorries se spoed.

Langs die pad stap die boemelaars: hulle het so pas by elke pastorie in die dorp die sêd sêd storie van hulle lewe gaan vertel, om geld te kry vir die taxi, vir DAARDIE werk by Medupi.  En via die Liquer Inn sal hulle eerder duimgooi met al die dominees en pastore se Vrydagmiddag skuldgevoelens.

Daar kom Gauteng se Nissan Patrols en Land Cruiser bakkies verby, met bankies van kakiemateriaal op die reëlings vasgebout. Binne in sit prokureurs en dokters en rekenmeesters met camo klere en rooi gesiggies, Kaptein Morgan word weer bevorder na Majoor voor Vaalwater se Spar Tops winkel weer voorrade kan aanvul. Daar gaan weer ‘n  paar vlakvarke en koedoes en elande sneuwel hierdie naweek, en die armgatte gaan dalk ‘n rooibok skiet vir bietjie biltong. Maar dit gaan oor Roland Ward trofees om teen die spreekkamer en in die lapa te hang om die ander te impress…

Langs die pad kom werkers teen die bult afgestap. Die huishulpe van die aftreeoord, en die werkers van die vakansieoord. Hulle kan dalk nie die taxigeld bekostig nie, so stap hulle maar saam die 5 km na hulle sinkkaaias toe. Maar weet julle wat? Hulle lyk baie gelukkiger as daardie plastiese blond in netnou se groot BMW X 5!  Drie bar gepomp, en sy lyk nog steeds nie gelukkig onder haar Raybans nie…

Daar kom plaasboere se bakkies verby, werkbakkies soos die Isuzu 250 D en die ou vorm Hilux, met so 500 000 km op die klok en drie skokbrekers wat ernstig protesteer. Hulle kiddies dra nog hulle skooldrag, die tasse van die week in die koshuis ry saam met Filemon en die Staffie, die sakke varkkos en die spilpuntkaber agterop. Al hierdie bakkies is rooibruin, hulle oorspronklike kleur is nog net op die registrasie papiere sigbaar.

Op pad uit en terug stap ek verby die gevangenis. Daar agter die tralies, in die vierkantige geboutjie, sit 3000 stoute jongens in die “Centre of Youth Excellence…”  (Ek belowe!!!)  Hulle gaan nie binnekort erens heen met hulle oranje pakkies nie, behalwe as oom Jacob weer trou voor Mangaung in November.  En tog sing hulle die Vrydagmiddag daar in hulle selle…

Die Moskee se Vrydagmiddag aanbidding trek in die rigting van die Gholflandgoed, waar al die heel rykes van onse dorpie bly. Die heel rykes is op die Gholfbaan, waar die fairway nog mooi groen is, ten spyte van die koue winter. Gholfkarretjies ry enkele meters, agter hoë mure, van waar die sluipslaper se kartonne onder die brug by die stroompie lê en wag vir sy tuiskoms vanaand. Zimbabweers verkoop hope sekelbos op pad na die vakansieoord toe, en dit word gretig opgeraap teen R8 ‘n sakkie deur die ouens met die mooi meisies wat netnou in die warm swembad gaan lê, met die Coolbox vol Castle en Skaaptjops. Die houtverkopers slaap vanaand onder ‘n seil op die Mazda bakkie wat lyk of hy al 2 miljoen kilometer gedoen het.  En twee keer onder oom Bob se tank deurgery het in die grenskruising…

Ja, die yuppies en die boemelaars, die afgetredenes en die werkersklas, die dominees langs die pad en die ryk sakemanne met hulle skelmpies op pad na ‘n “Jagnaweek”  R25oo special,  die jagters en die boomkykers, die sluipslapers en die miljoeners- almal saam sê net: Dank Vader dis VRYDAG!!!  Dankie tog nog ‘n werkweek is verby… (behalwe vir ons Dominees, my werksweek is eers Sondagaand 8 uur verby, as daar nie ernstige krisisse opduik nie…)

Dis Vrydagaand. My hele gesin slaap elkeen op ‘n ander plek. Dis seker hoekom ek so lank en onsamehangend skryf hier- ek haat dit om alleen tuis te wees! My vrou is met skolenetbal in Rustenburg. Ousus in haar woonstel in Pretoria, Ouboet en Kleinboet by verskillende plase in die distrik, en middelboet het ook netnou my kom meedeel dat hy ook maar by ‘n vriend wil gaan oorbly. En daar ry hy ook nou. 1/6 is tuis vanaand… dit gaan nie so lekker wees nie. Ek dink ek gaan maar netnou ‘n plekkie in die Spur soek, ‘n Castle Draught en ‘n hammie geniet, en dan voor die televisie kom tuismaak vir die Olimpiese Inspirasie om my al meer te tref.

Mag die Olimpiese Spele vir jou wonderlik wees, en mag jy vanaand warm slaap!

 

 

 

Die Langste Nag

Soos almal nou alreeds bewus is, is vandag die kortste dag in die Suidelike Halfrond.  Maar terwyl ons daarmee worstel, geniet die ouens in Skotland se noordelike dele vanaand ‘n sonsonder hier net voor elf… Ek weet, want vandag 5 jaar gelede was ek en my geliefde daar, om vir ons susters in Engeland en Ierland te gaan hallo sê. Toe verdwaal ons sommer maar Skotland toe ook om ‘n droom waar te maak- ‘n Bucket List item kan jy maar sê… Vanaand 5 jaar gelede was ons by ‘n Backpackers Lodge in Invermorton of so iets, halfpad langs Loch Ness op, op die pad na Inverness toe. Daardie aand het ons in ‘n dakkamer met ‘n skuins venster geslaap, op ‘n wankelrige dubbelbed. Maar slaap was moeilik. Want onder ons het ‘n groep Kanadese fees gevier langs ‘n bonfire- dit was mos “Summer Solstice” en die moeite werd om te vier.

Hierdie foto van Loch Ness is tienuur die aand geneem! Die geraas onder in die werf het tot tweeuur aangehou, ek het nooit geweet Kanadese kan soos Aussies drink nie!  En net na drieuur het die son weer begin opkom. Die hele aand was dit nooit donker nie…

Vanaand dink ek daaraan terug terwyl dit die langste dag hier is. Ek sien op e-nuus die koue wolke wat so oor die binneland saampak vanaand. Ons voel dit hier by ons. Die ysbere raak nou erg parmantig.  Selfs in die Bosveld lê die gesin nou onder ons -5 grade slaapsakke voor die televisie.

Vandag was nou regtig die kortste dag in die jaar. Maar ons het seker ‘n keuse- dit kan of ‘n baie kort dag wees met minder geleenthede as gewoonlik. Of ons het ‘n heerlike lang nag voor, om lekker te kan rus en ander nokturniese vermaaklikhede aan te pak. Ons het seker elke dag darem ‘n keuse oor wat ons gesindheid gaan wees vandag.

Vandag was interessant. Vanoggend het ons gemeente se Bejaarde- Aksie hulle maandelikse byeenkoms gehad. Ek het vir hulle geopen met Psalm 118, wat baie mooi vertel dat ons lewens vir die Here kosbaar is, en dat Hy hoor in elke nood. Kort daarna sou hierdie waarhede ook getoets word in my bediening.

By die Aksie se byeenkoms was ‘n egpaar wat vir ons gesing het. Die man het ‘n fantastiese stem, sy vroutjie dalk so effentjies skril vir my ore… en tog, as hulle saam sing, was dit baie mooi. Ek het die ouer mense dopgehou. Hulle is so dankbaar as iemand vir hulle iets doen, hulle gee glad nie om vir ‘n vals nootjie hier en daar nie. Ek het by myself gedink: Dit is darem baie beter om ‘n Duet saam met iemand op die lewenspad te sing, as om dit Solo aan te pak. Dit is my belewenis- ek is so dankbaar vir die een wat langs my op die koue wintersaand in die bed gaan lê- soos selfs die Spreukedigter gesê het: een alleen kry koud in die bed… Twee bly warm. Ek dink ek gaan vanaand vroeg in die bed klim, met groot waardering dat ek dit nie alleen hoef te doen nie.

Ek was vanaand ook by ‘n huis, waar die man pas gehoor het die toetse was positief. Hy het kanker. Maandag moet ‘n deel van sy derms uitgesny word, maar daar is ook reeds uitsaaiings na die lewer toe. Ek weet: hier lê ‘n geweldige stryd voor…   Die man het niks vreemd gevoel nie, tot hy een oggend bloed begin passeer het. Dit is baie, baie moeilik in sulke tye om my werk te doen. Ja ek weet. ons het mos die vaste sekerheid van die ewige lewe, Jesus het die dood reeds oorwin, om te sterwe is vir ons wins en die lewe Christus… Al hierdie dinge is waar. En moeilik wanneer jy die nuus van die groot K kry.  Ons sterflikheid kom onderstreep hoe kosbaar die lewe eintlik is. Dat ons nie ‘n dag op onnodige nonsens moet mors nie.  Dat die lewe te kort is om tyd te mors met beuselagtighede, en derglike ekskreta…

So vandag is die kortste dag, met die minste sonskyn. Die langste nag lê voor. Maar van more af draai die dae, is elke dag weer ‘n hele paar sekondes langer.  Al kom die belofte van die groot koue, sê die daglengte dat hierdie ook verby gaan. dat daar aan die anderkant van hierdie koue weer vars bloeisels in ‘n nuwe seisoen voorlê.

Vanaand is ek dankbaar vir mooi herinneringe in my lewe. Ek is dankbaar vir die regte persoon wat saam met my op die lewenspad wals. Ek is dankbaar dat almal in my gesin op die oomblik gesond is. Ek is dankbaar dat die langste nag verby gaan. en dat die koudste winter ook weer die knie buig voor nuwe lewe.