Die Sirkusleeu se oë…

Dit bly vir my een van die beelde wat my diep aanspreek- daar is niks vir my so hartseer soos ‘n sirkusleeu nie. Simba is veronderstel om die koning van die Diereryk te wees. Hy moet statig en majestieus rondstap in die bos, en die ander diere moet versigtig pad maak vir hom. Of hy moet lekker dikgevreet lê en slaap onder die maroelaboom, met sy wyfies en welpies rondom hom, terwyl die kwêvoël kywie hou van die boonste tak af. Dis hoe dit moet wees. Vry.

Nou kom iemand en koop Christian by Harrods… of die sirkus kry ‘n leeumannetjie êrens in die hande. Sy lewe word hompe donkievleis (waaroor ek natuurlik baie beswaard is!) . Sy woning is die tralies van ‘n hoktrok, met ou strooi onder hom. Die stad se geraas het die jakkals se blaf en die uil se hoe-hoe vervang. Die maan en sterreglans is vir neonlig verruil. Vanaand gaan ‘n ou met ‘n simpel rooi manelpak en pluiskuil hom met ‘n sweep en ‘n stoel rondjaag, en die skare gaan hande klap, bly dat die leeu anderkant die tralies is, en dat dit nie hulle koppe is wat tussen die stomp slagtande gaan lê nie. Na die vertoning vanaand gaan daardie leeu daar in sy hok lê, en met dowwe oë die “thousand yard stare” vervolmaak, en dink aan wat kon gewees het…

Ek begin alweer voel soos daardie sirkusleeu. Ek sit hier in ons ou dorpie, besig met routine werk- baie belangrike Koninkrykswerk inderdaad, maar tog…

Iewers in Pole ry Lodie de Jager op sy Kawa KLR rond, sien nuwe paaie, ontmoet nuwe mense, reën nat en kry koud…Hy maak sy droom waar om van Duitsland tot in Rusland te ry, nadat hy al van Naboomspruit af tot in Duitsland gery het, manalleen, sonder Ewan en Charlie se moerse begroting en fabrieksborge en bachup span in Nissans…

My skoolvriend Roché Vermaak het in die week by die katedraal in Santiago aangekom, na sy Camino ervaring…

My nuwe vriendin Emilene is êrens op die beginpunt van die Franse Roete van die Camino vanoggend, besig om te stap oor die Spaanse Meseta…

Vandag is daar mense besig om oor o’ Cebreiro te klim op die Camino… verlede jaar hierdie tyd was ek op pad tussen Ponferada en Villafranca del Bierzo…

Anderkant die horison sit mense in ‘n straatkafee in Parys. Iemand is vroegoggend op ‘n Harley op Roete 66, iemand is besig om iets nuuts te proe vir aandete by ‘n drywende restaurant in Thailand.  Iemand duik nou in die Rooi see, en iemand is op wittebrood in Maritius, dalk duik hulle ook nou… Iemand trap ‘n fiets teen die Franschhoekpas uit, iemand “corner” die kronkelpaaie van Graskop op sy motorfiets…

Daar is weer ‘n roepstem besig om op te bou hier binne…  die vrye leeus brul onder die maroelaboom…

Dis tyd vir ‘n nuwe droom, anders gaan ek dood…

Vrees…

Dit help om jou vrese te verwoord, en dis die doel van hierdie skrywe. Spanning, angs, stress… vrees vir die dood, vrees vir die onbekende, skeidingsangs, vrees vir pyn en lyding…

Gisteraand op Discovery kyk ek laataand na ‘n makabere program. Masjiene wat Doodmaak. Die stukkie wat ek gesien het, het begin met die oorspronklike Longdrop- die Galg. Daarna ‘n insetsel  oor die stoel waarop mense per vuurpeloton gefusileeer word. Die elektriese stoel word mooi verduidelik- alles deur ‘n aanvallige neuro-bioloog, wat tot in die fynste detail beskrywe hoe ‘n mens deur die Jordaan beweeg wanneer hierdie apparate op jou toegepas word- nog 25 minute om te gaan, hartklop versnel effens… Dit word nou mooi verduidelik vir die gevalle waar die individu wel skuldig was aan een of ander misdryf teen die res van die mensdom, en dat dit wenslik vir die massa is dat die individu nie meer langer deel van die geselskap sal wees nie.

En so het my beurt ook uiteindelik aangebreek. Ek het ook ‘n afspraak met die gewraakte Stoel. Die pupille vergroot effens, want die adrenalien begin afgeskei word deur die gepaste kliere- vlug is nie meer moontlik nie, daar lê ‘n geveg voor tot die einde. Nog twintig minute oor. Gaan die wegraping nie betyds plaasvind nie? Is daar nie ‘n komeet wat in die aarde gaan vasvlieg in die volgende 18 minute, voor die pyn onhoudbaar word nie?

OOr sewentien minute moet ek die dissipel van Josef Mengele in die folterkamer ontmoet. Die loon van die sonde is die dood, sê Romeine 6:23. Ek gaan in die verblindende lig instaar. Sewe duisend demone gaan lostrek, en skree dat dit in my kopbeen vibreer…  Sataniese Jackhammers gaan tromspeel op my moeë liggaam. Maar daar is net nie meer omdraai nie. Die pyn is nou te erg, oor 15 minute moet dit finaal weg…

Ek wonder altyd: hoe gaan ek myself in daardie finale uur hanteer? Gaan ek my vrees soos ‘n man in die gesig staar? Gaan ek oop- oë, doodsveragtend spoeg in die duiwel se oog?  Of gaan my broek bewe, en ek soos ‘n klein seuntjie my moeder se naam prewel? Die toets lê voor, oor 12 minute gaan ek sien… is ek ‘n man, of ‘n muis? Het ek murg in my pype? Of is ek toe maar net ‘n lafaard?

‘n Mens moet ‘n naam gee vir jou vrees. Jy moet dit in jou geestesoog minimaliseer. Dit voorstel in ‘n pienk balletrokkie op ‘n kinderpartytjie.  Maar ek is net mens, van vlees en bloed. Die vrees eet ook aan my, al wys ek niks daarvan na buite nie. Dis tyd om die sleutels vir oulaas te neem, die kinders te groet, en te vertrek.

Dis tyd vir daardie tandartsafspraak wat ek nie meer kan mis nie… Maak nou mooi oop…

 

Vaarwel, liewe vriende…

http://www.extremefunnyhumor.com/picture.php?id=1237

 

Die Psigiater sê…

Vanoggend by die Kreatiewe Verouderingkursus het ons aan die voete van ‘n Psigiater gesit. Ons het geleer oor die Psigiatriese wêreld waarin die ouer wordende persoon hom of haarself bevind.

Ek kan vir julle sê: ek is ‘n diep bekommerde man. Bekommerd, oor die pad na oudword met soveel rotse besaai is. En nou wil ek julle ook opsaal met die bekommernis oor JOU oudag.

1. Daar is net 350 Psigiaters in ons land. Daar kort 10 000. En die gemiddelde afspraak kos R1400. Die meeste van ons is dadelik in ons moer as ons ‘n Psigiater nodig het.

2. As ‘n mens meer as drie keer per week alkohol gebruik, is jy ‘n alkoholis. As dit meer as drie doppe per sessie is, is dit nogal ernstig. Die twee aande van die kursus het my en kollega klaar op die rand van GROOT moeilikheid!

3. Die simptome van depressie is:
* moeilikheid om te slaap
* geïrriteerdheid
* tranerigheid
* gevoelens van skuld en hopeloosheid
* onvermoë om te konsentreer
*moegheid en energieloos
* herhalende gedagtes van dood of selfmoord
(O liewe hemel…) En dan die enigste teken dat ek nie depressie het nie:
* verminderde aptyt en gewigsverlies…

4. Die een ding wat Alzheimers teenwerk is om hardop te lees (geen Ds het dus Alzheimers nie…)

5. Ouderdom onder natuurlike omstandighede gaan nie met geheueverlies gepaard nie. ek wou nog iets hieroor gesê het… Wat was dit nou weer?

Die Psigiater het nog ‘n hele paar dinge gesê, maar toe pass ek uit as gevolg van traumatiese breinoorlading. Die vlakke van breinoordragstowwe te wete serotonien, dopamien en noradrenalien is glo normaal, maar ek het nie genoeg reseptore nie.

Die faktore en reseptore en professore maak die ouer word proses al hoe moeiliker vir my jong onskuldige gemoed. En ek het omtrent al die simptome in die DSM- IV, maar met die koste van 1 uur se Psigiatriese hulp kan ek en ou Huisbesoek die Kaap haal- baie goeie terapie om die lewe van die motorfiets se begrypende rug af te beleef- soveel deernis en empatie wat my Aprilia altyd na my toe uitstraal!

Daarom onderneem ek vanoggend om hierdie groot waarheid aan te gryp en uit te leef: ” It is never too late to have a happy childhood…”

Titanic 14 April 1912

Op 10 April 1912 het die Titanic uit Southampton vertrek op haar nooiensvaart na New York toe. Dit was die mees luukse skip wat die wêreld nog gesien het, die nuutste tegnologie wat die mensdom nog ontwerp het om op die see te vaar.  Die trots van die White Star line…  2224 mense het vertrek op die avontuur van ‘n leeftyd. Die White Star redery het ook gehoop  om ‘n rekordpoging aan te wend om New York vir die heel eerste keer binne 5 dae te bereik en die gesogte, Blue Riband prys te wen. In 1912 was die beroemde Lusitania (getorpedo deur Duitsland in 1e Wêreldoorlog) se susterskip, die Mauritania, die houer van die prys.

Titanic het vertrek met 2224 dromers aan boord na New York…

http://www.theblueriband.com/titanic1big.html

Sy het nooit daar uitgekom nie…

http://www.ibiblio.org/jimmy/folkden-wp/?p=7408

So…

http://www.titanicuniverse.com/

Niks mensgemaaks hou vir altyd nie, en niks op die see is onsinkbaar nie..

As ‘n mens droom oor die reis van ‘n leeftyd,  kan die reis dalk net anders verloop as wat jy beplan het.

En tog, as jy die onbekende vrees, sal jy nooit by jou voordeur uitstap nie!

Moet ‘n mens ophou droom, of moet jy so lewe dat as die einde onverwags opdaag, jy oor niks langs die pad spyt was nie?

Is die risiko op see nie baie meer opwindend as die veiligheid van jou eie bed nie?

Sou jy op die Titanic geklim het as jy geweet het… ?

Ns- Ja, ek weet hy het op 15 April 1912 eers gesink. Die ysberg is op die 14e al getref…


Druk net die rooi knoppie!

Vanoggend op CNN was daar ‘n skreeusnaakse insetsel. Ons almal is mos dadelik geïnteresseerd om knoppies te druk. Daar moet mos altyd iets gebeur as ons ‘n knoppie druk,

Die een televisiekanaal in België het met die stadsvaders van een dorpie onderhandel om ‘n advertensie in hulle dorpie te verfilm met versteekte kameras, amper soos die ou dae toe Leon Schuster dit nog goed gedoen het…

In die stadsplein is daar ‘n pilaar opgerig met ‘n groot rooi knoppie op. Daar is ‘n bordjie aangebring waarop daar staan “Press to add some drama…”

Kyk dit hier…

Die knoppiedrukkers was onbewus van die “setup”, dit was net nuuskierige dorpenaars.

Wanneer die knoppie gedruk word, jaag daar binne sekondes ‘n ambulans in die markplein in en stop met skreeuende bande voor ‘n besigheid. Die ambulansmanne hardloop in, en kom dan uit met ‘n man op ‘n draagbaar. Hulle laat hom val, tot groot ontsteltenis van die onwetende toeskouers. In die chaos ry ‘n fietsryer dan verby, en kyk so vir die toneel dat hy in die ambulansdeur vasry. Hy en die een ambulansman begin mekaar te boks. ‘n Pragtige dame in rooi onderklere kom op ‘n superfiets verby. Die polisie daag op, en ‘n skietgeveg ontstaan tussen al die  betrokkenes.

Uiteindelik is dit die “launch” van ‘n nuwe dramakanaal op hulle televisie, en hulle het elf verskillende knoppiedrukkers se ervarings verfilm en toe geredigeer tot een advertensie.  Soos ek die Belge onthou, weet ek nie of hulle soveel opwinding op een oggend kan hanteer nie!

Deel van die CNN insetsel het juis gegaan oor ons mense se behoefte om die rooi knoppie te druk.

Daar was ‘n insetsel waar Hillary Clinton saam met die Russiese president staan, en hulle dan saam ‘n rooi knoppie druk om die internasionale betrekkinge tussen die VSA en Rusland te “reset”.

Ek het maar net daarna gesit en wonder vir so drie en 1/2 sekondes oor al die dinge in my lewe waarvoor ek graag ‘n rooi knoppie sou wou hê.

Ek is so bietjie siekerig op die oomblik, met effense koors en seer keel, my oë is baie seer en my keel brand tog te lekker. Maar in die siekerige toestand het ek gister so in die bed  weer ‘n oomblik belewe- een van daardie “What if this is as good as it gets?” Jack Nicholson tipe oomblikke.  En ek onthou so deur die newels dat ek redelik tevrede was- daar is nie te baie dinge op hierdie oomblik wat ek graag sou wou “reset” in my lewe nie- die goeie en die slegte… is seker maar die koors…

Enkele los gedagtes waaroor ek dalk die rooi knoppie sou wou druk:

  •  Werk harder op skool aan die wiskunde en probeer my bes om ‘n vlieënier te word?
  • In die baie, baie jare wat ons op universiteit was- moes ek nie ‘n vakkie of twee bygevat het om iets anders ook te kan doen in die lewe nie, dat ek nie so skuldig voel oor my salaris die kerk so baie geld kos nie?
  • Ek sou graag die rooi knoppie druk op my selfbeeld op skool. Ek sou so graag vir die 16 jarige ek wou sê dat almal maar onseker is, dat skool eintlik ‘n reuse “show” is waarin niemand weet wie hulle is of wat hulle doen nie…
  • Dalk moet ek die rooi knoppie druk op my fiksheid- dis alweer gister ‘n maand terug Argus gewees, en ek het nog nie my fiets weer aanmekaar gesit nadat ek hom op die Waterfront uitmekaar gehaal het om in my kar te sit nie…
  • Daar is sekere keuses in my lewe waarop ek graag die rooi knoppie sou wou druk… moenie weer ‘n Mercedes Vito Paneelwa koop omdat hy so lekker enjin het nie- as jou vrou nie daarvan hou nie…!

Soms het ‘n mens geleentheid om ‘n rooi knoppie te druk, en sekere dinge in jou lewe te “reset”.

Maar baie kere is die knoppie buite ons bereik. Soms, lyk dit vir my, moet jy aanvaar dat sekere keuses gemaak is met die inligting wat jy toe gehad het. En as dit nie uitgewerk het nie, is dit maar skoolgeld op die reis van die lewe.

 

Knoppie gekry by: http://12in12in2012.blogspot.com/2012/04/reset-button.html

Ek is maar stil deesdae want:

* ek oefen hard vir die Argus
* ek het nogal BAIE seer mense wat my nodig het deesdae…
* ek stoei steeds met die bank vir ‘n studielening vir my dogter
* ek stoei om my dogter se karwrak weer soos ‘n Corolla te laat lyk
* die kinders se programme is deesdae BAIE besig…
* met al die rondhardloop agter gemeente, kinders, bankbestuurders, fietsry en derglike beproewings aan is ek redelik moeg…
Daar sal seker weer meer spraaksame tye in die toekoms wees, nou is ek maar stil…

‘n Wonderlike laaste dag van Verlof…

Vandag is my laaste dag van 10 dae se verlof. Ek het dit by die huis deurgebring, en my maar verbeel ek is wel op Morgan Baai.

Die een probleem met ons werk is dat ‘n mens nooit afskakel by die huis as ons op verlof is nie. Die huisfoon lui, en ‘n mens weet nooit of dit vir die kinders is, of dalk ‘n krisis in die gemeente nie. Die kinders gaan nie die geleentheid mis om iets lekkers te doen saam met vriende nie, daarom antwoord hulle altyd die telefoon. En so nou en dan kom dit deur: Is jou pa tuis?

So was ek betrokke by ‘n troosdiens Donderdag, wel vir iemand vir wie ek die wêreld se respek gehad het. Maar daarna voel ‘n mens nie meer op vakansie nie. Ek het ook navraag gehad oor iemand wat graag iemand anders wil aanspreek  oor sy meisie by hom ingetrek het, en ek dringend daar moet optree. Dit neuk ‘n  vakansiegevoel nog baie meer op!

So, al bly ek reg langs die kerk, het ek vanoggend besluit: Aangesien ek nog op verlof is, gaan ek kerk bank. Dit is ‘n pragtige oggend, en ek gaan my motorfiets vir ‘n Breakfast Run neem.  En dit het ek toe gedoen. Terwyl die goeie mense die kerk volgemaak het, het ek in my denim en T Hemp en leathers die pad gevat, na die Maxi’s op ons buurdorp toe, vir ‘n heerlike omelet. Op pad soontoe het ek vir myv ‘n Rapport gekoop, om die nuutste nuus oor die Modimolle Monster te lees. En vir balans, om te fokus op die verhewe dinge in die lewe, het ek vir my ‘n Bike Sa gekoop.

Die rit na die buurdorp toe was heerlik. Die lug was so effens koel na gister se bewolktheid.  Die veld was pragtig, en die kronkelpaaie en my Mitchelin Anakees verstaan mekaar mooi.

Maxi’s het my teleur gestel. Die koffie was vanoggend vrek sleg.  En die omelet se kaas was nie eers gesmelt nie. Ek het maar daar gesit en die Rapport klaar gelees. Dalk, sê Rapport, sal die wêreld nie heeltemal op 21 Desember 2012 tot ‘n einde kom nie. Miskien het die Maja’s net uit klip uit gehardloop!  As hierdie die laaste jaar is in onse lewens, dan wil ek dit graag voluit lewe. Die lewe is in elk geval te kort vir slegte koffie, is die een slagspreuk by Mugg & Beane. Daarom het ek so vinnig as moontlik oorgeskuif na Greenfields op die Waterfront vir beter koffie. Daar het ek die Bike Sa deurgelees.

Ek wil net eers hierdie met my motorfiets vriende deel- net buite Maxi’s het hierdie pragtige ou BMW R 100 GS gestaan, in perfekte toestand. Hierdie fiets was al tot in Tanzanië volgens die inskripsie op sy fairing.  Dit is ‘n pragtige, baie skaars ou fiets, en sy eienaar kyk baie duidelik mooi na hom…

Op pad terug het ek die wet lelik oortree, ek bely, ek is baie jammer. Tussen Warmbad en Nylstroom, of Bela Bela en Modimolle vir die meer polities korrekte name, is een van die lekkerste kronkelpaaie. Maar om een of ander rede het die slim verkeersmense gedink die meeste van die 27 km moet teen 60 km per uur afgelê word. Belaglik! Ek het plek plek 140 km/u in ‘n 60 s0ne gery, en voel glad nie skuldig nie, al is dit ‘n toesluitbare misdaad. Maar dit was soveel pret- die draaie, die pragtige veld, die bokke langs die pad. En om die karavaners verby te steek wat wel 60 km/u ry…

In ons dorp was daar die hele dag ‘n kragonderbreking. My vrou het vir ons die heerlikste hoendergereg op gas voorberei.  Daarna het ons sonder ‘n waaier in ons baie warm huis ‘n middagslapie geneem.

Die krag het netnou aangekom, en nou kan ek weer met julle gesels.

Ek is so effens meer getraumatiseerd as wat ek graag  in die openbaar sal erken. Dis my dogter se laaste naweek in die ouerhuis as ‘n permanente inwoner van ons huisgesin. Volgende Saterdag vat ons haar Gomorrah toe om te gaan studeer, en daarna is sy net ‘n gas in die huis wanneer sy kom kuier. Dis nogal baie skrikwekkend vir my!  Ek hou my braaf, maar hier binne pla die gedagte my baie! Sy word nou groot, en ek word nou oud!  Dié van julle wat lankal hier verby is, sal vir my lag… maar dis nou baie erg vir my. En ek weet nie hoe om dit te sê nie, nou maak ek soms onvanpaste grappies daaroor…

In elk geval, my verlof is nou verby. More begin ek weer amptelik te werk. En ek is nogal skielik bang daarvoor… ek weet nie of ek al geestelik gereed is vir nog ‘n siklus op die mallemeule nie…

Dink maar aan my, dis nogal regtig rowwe tye vir my!

Sjampanje en fyn onderklere op ‘n Saterdagoggend…

Nee, dis nie ek wat so ‘n lekker Saterdag gehad het nie.  Ek en my geliefde het gaan ontbyt eet by ons een gunsteling koffieshop in die dorp. En soos wat ons ingekom het, daar langs die koidam, sit ‘n groepie van ses jong dames, wat ek byna almal ken van hulle laerskooldae af. Dié groepie is nou in die ouderdomsgroep net so rondom 21 jaar oud.  Op die tafel is twee sjampanje bottels in ‘n ver gevorderde stadium van genieting. Die versiersels is dié van ‘n kinderpartytjie. Die vriendinne gee met ‘n stoute glimlag ‘n groot boks met ‘n persentjie vir die een aan die koppenent van die tafel.   Sy maak dit met groot opgewondenheid oop, en daar kom die mooiste, fynste swart onderkleertjies uit- ‘n baie sexy nommertjie. Ideaal vir ‘n wittebrood…

Duidelik is die jonge dame redelik haastig op pad kansel toe. Op ouderdom 21. En soos my geaardheid maar is, synde ‘n geestelike  nakomeling van die Koheleth (Prediker) het dit my diep laat nadink oor die sin van die lewe, soos gemeet in hierdie spesifieke situasie.

Op ouderdom 21 dink ek nie die meeste mense het al hulleself ontdek nie. Die meeste het nog nie hulle loopbaan klaar beplan, en die opleiding daarvoor klaargemaak nie. Die meeste wat ek ken, het nog nie ge-waiter en geld bymekaar geskraap vir ‘n rugsaktoer deur Europa of ander mooi plekke nie. Hulle het nog nie onder die Eiffeltoring gestaan in die nag nie. Hulle het nog nie langs die Seine rivier afgeloop teen middernag nie. Hulle het nog nie op die Britse Parlement neergekyk vanuit die London Eye nie. Hulle het nog nie die son sien sak agter die piramides van Giza nie. Hulle het nog nie in die gondels in Venesië gery, of die ferry by Istanboel geneem na die ander kontinent toe nie.

Hier in ons dorp het baie van die 21 jariges nog nie eers verby Bloemfontein gevorder nie… hulle ken nie die bergskilpaaie van die Karoo Nasionale park nie.  Hulle het nog nie by Blue Peter gesit en kyk hoe die son agter Robben Eiland nie, of hoe die maan opkom van Duiwelspiek af nie.  Baie van hulle het nog nooit met ‘n fiets verder as 10 km gery nie, wat nog te sê getoer daarmee oor 1000 km nie. Sommiges het nog nie eers bestuurslisensies vir enige klas voertuig nie. Die meeste wat ek ken, is nog stewig in pa se beursie.

En tog wil die jonge dame op hierdie ouderdom trou. Sy gaan binnekort voor die kansel staan, en beloof om die res van haar lewe saam met haar ridder op die wit Raleigh fiets die lewenspad te stap. Binne ‘n jaar of drie gaan die babatjies begin afgelewer word deur die ooievaar (of is dit oor sewe maande?)

En op ‘n dag gaan sy dalk voel soos die ballade van Lucy Jordan, wat toe nooit deur Parys kon ry in ‘n afslaandak sportmotor, met die wind wat deur haar hare waai nie…

Ek hoop regtig vir die jonge dame dat die liefde genoeg gaan wees…

Ek is so bang ook hier gaan dit tot niks kom, net ‘n gejaag na wind wees…

 

En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, en die grootste hiervan…

“Thanksgiving” dag in die VSA, hoekom nie sommer hier ook nie?

Maankind het vanoggend my gedagtes op loop gesit oor die idee van Dankie Sê…

Vanoggend moes ek gou kyk of die nuwe ogie van my satelietskottel werk. Ek sit op CNN om ook sommer die wêreldnuus te kyk. En een van die berigte is hoe Pres Barack Obama amptelik ‘n kalkoen Presidensiële kwytskelding gee- daardie een gaan nie op ‘n Amerikaanse bord beland vandag nie.

Die Amerikaners vier Thanksgiving op die 4e Donderdag van November elke jaar. Die gedagte gaan terug na hulle Pilgrim Fathers in 1621, met ‘n dankiesê geleentheid in Plymouth in 1621 as gevolg van ‘n goeie oes. Dit het eers anderkant die 1660’s ‘n gereelde verskynsel in Massachussetts geword, wat later ‘n tradisie in die hele land geword het.

Een van die geleenthede heel in die begin was ook gekenmerk deur ‘n oes wat  misluk het, en die Wampanoag  stam het hulle oor die bleekgesigte ontferm en hulle gehelp.

Jaarliks is dit die geleentheid waar families bymekaar kom, en dankie sê vir goeie oeste, vir die hulp van mense, vir familie, vir kosbare gawes en geskenke in elke mens se lewe.

Iets daarvan beleef ons gesin rondom Kersfees.  Maar ek het tog ook gewonder of daar nie meer sulke geleenthede in ons familie se jaar moet wees nie. Tye waarin ons fokus op die mooi dinge in ons lewe. ‘n Tyd om te waardeer, en dit vir ‘n slag te sê.  So dikwels dink ons dalk dankie, maar ons sê dit nie altyd nie.

Waaroor sou ek dankbaar wees as ek vanaand rondom ‘n vet kalkoen saam met familie en vriende kon wees?

  1.  my huwelik- al gaan dit soms met stampe en stote, is dit ook my begeerte om saam met die vrou van my jeug oud te word.
  2.  Vir gesonde kinders, wat elkeen op hulle unieke manier iets bydra in my menswees.
  3. Vir baie goeie vriende, saam met wie ek soms om ‘n bottel rooiwyn en langs ‘n vuurtjie weer die lewe se sin kan herontdek.
  4.  Vir ander baie goeie vriende saam met wie ek galonne koffie per jaar kan opdrink. en so my varkies op hok kry.
  5.  Dat ek nog ‘n geleentheid het om my roeping uit te leef, en mense wat my daarin ondersteun en dra.
  6. Dat my dogter gister haar skoolloopbaan kon afsluit, en dat sy ‘n baie wonderlike jaar beleef het in die akademie, kultuur en sportgebied.
  7.  Dat my oudste seun klaar langer as ek is, ek wou so graag weer lengte in die familie inteel- mission accomplished!
  8.  Dat daar darem nog ‘n vleisie van die basaar oor is om te kan braai.
  9. vir die goedheid van mense in my lewe wat ek deur die blogs ontmoet het, en sommiges wat ek nog nooit van aangesig tot aangesig gesien het nie.
  10.  Vir my motorfiets, wat my steeds groot vreugde gee wanneer die mensdom as geheel my onderkry.
  11. Vir die reënplassies op  ‘n bosveld grondpad wat ek vanoggend moes ry om iemand te gaan bemoedig.
  12.  Vir die prag van drie koedoebulle wat saam in die veld staan en wei, elkeen van hulle ‘n trofeedier wat gelukkig nog lewe!
  13.  Vir ‘n kollega wat ‘n vriend is, en wat my ruimte gee wanneer ek nie eers myself verstaan nie…
  14. Vir al die wonderlike boeke wat ek al in my lewe kon lees, wat ietsie meer van ‘n groot groot wêreld en heelal vir my kon oopmaak.
  15. Vir die vyf eiervrugplante wat wel groei in my groenteboerdery, en die belofte wat nuwe bloeisels bring.
  16. Vir die wonder van slaap, al gebeur dit deesdae met chemiese aanmoediging.
  17.  Vir wonderlike fotos, waarmee mense ietsie van die wêreld met ietsie van hulle eie siel se waardering meng, en dit soms op die internet met ons deel.
  18. vir die paar pasgebore babatjies in ons gemeente, wat so ‘n belofte van hoop en liefde vir die toekomspad saamgebring het…
  19. die wonder van geliefdes se liefde, ver bo wat ek ooit verdien.
  20.  die wonder van God se liefde, wat soveel meer genade gee as wat ek ooit kan opgebruik…

Ek moet vanaand by die Laerskool se prysuitdeling wees.  Dit maak die kalkoengedagte nie moontlik nie. Dalk moet ek dit more aand probeer!