So aan die begin van die nuwe jaar…

is die Donkie nog maar stil…

En tog is daar so baie, baie dinge aan die gang op die oomblik.

Ek probeer fiks word vir my 20e Argus. EK het nou al die 500 km merk verby gesteek. Maar hierdie is al weer een van daardie weke. Maandag het dit gereën, en ek is soos ‘n kat oor water- hou nie van nat paaie nie, sien nie die pothole nie… Disndag het ek alweer maagmoeilikheid gehad, dit kan gerus nou maar ophou. En vandag reën dit alweer. Ek kla nie, die reën is wonderlik, en bring nuwe lewe (en rus…)…

Vanoggend het ek en my twee kollegas heerlik ontbyt gehad hier in my lapa. Ons het die jaar se Woensdagoggend byeenkomste afgeskop, dis ‘n goeie geleentheid waar ons weekliks saam dink, beplan, bid, grappies maak, preke uitruil, preekbeurte uitruil…

Dis maar net: die jaar begin met so ‘n gejuig, veral volgende week as die skole weer oopmaak. Dan lê daar weer lang, lang dae voor, en baie, baie vergaderings. ‘n Mens kan so vaskyk in die dinge wat ons doen, dat ‘n mens vergeet waarmee jy eintlik besig is.

So sien my vrou gisteraand iets op televisie raak wat sy nie kan wag om met my te deel nie. Een van die karakters vra: Wat sou jy hierdie jaar gedoen het as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie? Sy het eers gewag op my antwoord, en toe die tweede deel gesê: “Now go and do it…” (Ek dink nie dit was Bart Simpson nie… dalk Homer?)

Dit het my nogal woes laat dink gisteraand… Wat sou ek regtig wou doen as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie?

Ek het ‘n predikant geword, omdat ek gedroom het oor ‘n wêreld van heel verhoudings.  Dalk was ek baie naief as skoolseun, dalk voortvarend. Ek het regtig gehoop ek sou ‘n positiewe verskil kon maak.  Maar soos die ou Chinese omie  eendag gesê het: toe hy klein was, wou hy die wêreld verander. Toe hy groter geword het, wou hy sy land verander. Nog later wou hy sy provinsie verander. In sy middeljare het hy gedink hy sou bly wees as hy sy dorp kon verander. En toe hy aftree, het hy gehoop om homself te verander…

Ek dwaal af (soos jy kan agter kom…). Wat sou ek wou doen as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie?

Ek het nie fenominale insig oor die saak gekry nie, veral nie in die bad soos Archimedes nie, ek het nie kaalgat in die straat afgehol en Eureka geskree nie…

Ek het nie groot drome of planne vir 2014 nie.  Ek het nie die moed van ‘n Malala Yousefzai om die hele land en Die Sisteem aan te pak nie. Wie? Daardie meisie van Pakistan wat deur die Taliban in die gesig geskiet is, omdat sy gewaag het om te sê: Meisies moet ook skool toe gaan en ‘n toekoms kan hê… ek was diep beïndruk deur haar storie- I am Malala- kon die boek nie neersit tot ek half een vanoggend hom klaargemaak het nie. Ek wens ek het daardie moed of kapasiteit gehad om verandering te bring. Maar ek het nie…

Al wat ek wil probeer, is om lief te hê.  Ek weet mislukking is sommer ingebou daarin. Maar ek wil probeer…

Dalk is dit genoeg as daar geloof, hoop en liefde êrens soms teenwoordig is. Maar die grootste hiervan, glo ek met my hele wese, is die liefde…

Wat is liefde?

Hoekom…?

Ek het nou wakker geword met ‘n droom wat ek glad nie verstaan nie. Ek skryf dit maar neer voor ek more oggend wakker word en glad nie meer kan onthou nie. Ek wens ek het die gawe gehad om drome te interpreteer, maar helaas, dit ontbreek.

Miskien net as agtergrond: My ma het vir my vir Kersfees ‘n R200 geskenkbewys gegee by Exlusi1ve Books. Ek het gister eers kans gekry om iets daarmee te koop. Die een boek wat ek al lankal dophou, is “Boereverraaier” van Albert Blake.   Net voor ek gaan slaap het, het ek die verhaal daarin gelees van die Brits broers van Wakkerstroom, waarvan vier broers op een dag as Boereverraaiers doodgeskiet (gefussileer) is. Ek het baie naby aan Wakkerstroom grootgeword, en hierdie storie ontstel my!  Hierdie is natuurlik ‘n geskiedenisboek oor die onderwerp van broers wat broers as verraaiers doodskiet in oorlog. As VERRAAIERS.

‘n Ander ding in my onderbewussyn is die graf van die Ridder in John Knox se kerk in Edinburgh, wat ek en my vrou in 2006 gesien het. Dit was so ironies- die ridder lê in ‘n pragtige kis binne- in die kerk begrawe, en die ou Kerkvader lê… onder parkeerplek nommer 23…  In elk geval: hier is die ridder se graf:

Een van my eie fotos van 2006.

Nou- die droom:

Daar is twee ridders in hierdie storie. ‘n Baie sterk ridder. En ‘n baie swakker ridder met ‘n pragtige swaard. Vir jare lank het die sterk ridder die swakker ridder verkleineer, getart, en gereeld in die grond in gedruk.  Tot op ‘n dag dat die swakker ridder dit nie meer kon vat nie. Hy het die sterker ridder tot ‘n tweegeveg uitgedaag.  En sommer redelik gou die geveg, en sy lewe verloor. Uit respek vir sy poging het hulle die swakker ridder in sy wapenrusting, met sy swaard in sy hand begrawe. Nou nie in so ‘n pragtige marmerkis soos hier bo nie. Nee, in ‘n graf in die grond.  Nat koue grond, op ‘n nat, mislike dag…

Die swakker ridder het soos daardie een karakter in Douglas Adams se boek: Dirk Gently’s Holistic Detective Agency daar in sy graf gelê, en gewonder wat hy nou veronderstel was om te doen as pas afgestorwene…  Dan kom daar die liefde van sy jeug aangedraf om die hoek van die begraafplaas se geroeste doringdraad, seker ook maar ‘n spook, met ‘n deurskynende wit rok aan- ‘n pragtige spook…

En waaragtig, die temalied in hierdie droom, as die meisie so nader hardloop,  is  Annie Lennox: Why

Toe skrik ek wakker… Die ding wat my die meeste bekommer van hierdie droom- daardie dooie ridder was ek!

(Amos van der Merwe, jy moet tog vir my vertel hoe laai jy die liedere so in Rolbos se blogs in van Youtube af!

Amelia Earhart

Amelia Earhart's 115th birthday

Google verras vandag met sy embleem wat herinner dat Amelia Earhart vandag verjaar. Sy sou vandag 115 jaar oud gewees het.  Gebore op 24 Julie 1897, en verdwyn in 1937, baie kort voor haar 40e verjaarsdag…

Sy is vir my een van my groot heldinne in die geskiedenis- die sterk vrou wat die mans aangevat het op ‘n terrein wat hulle gedink het net hulle s’n was. Sy was ‘n pionier vlieënier, Sy was die eerste vrou wat alleen oor die Atlantiese oseaan gevlieg het  (17 Junie 1928 in ‘n Fokker F- VII b vliegtuig) Hiervoor het sy die Distinguished Flying Cross ontvang in 1932, die eerste vrou wat dit ooit ontvang het.. Sy het ook die eerste persoon geword om van Honolulu, Hawaii, na Oakland, Californiê solo te vlieg op 11 Januarie 1935.

Foto gekry op ‘n opwindende blog! – http://flywithamelia.wordpress.com/

In 1937 het sy beplan om rondom die wêreld te vlieg in ‘n Lockheed Model 10 Electra, saam met haar navigator- Fred Noonan. Hulle het ‘n eerste mislukte poging aangewend, daar was meganiese probleme by Hawaii. ‘n Tweede ekspidisie het op 1 Junie 1937 van Miami af vertrek, via Suid- Amerika, Afrika, Indië en Suid-Oos Asië. Hulle het vanaf Lae in Nieu Guinea vertrek op 27 Junie 1937, om te probeer vir Howland eiland. Oor die 35 000 km van die ekspedisie was reeds voltooi, die volgende skof sou 4115 km wees oor die Stille Oseaan. Maar Howland eiland is net 2000 meter lank en 500 meter breed- ‘n bitter klein teiken met destyds se navigasie. En die vliegtuig was glo oorlaai gewees. Dit kan wees dat ‘n baie belangrike radioantenna met die opstyg in Lau afgebreek het. Op een of ander manier het Amelia die radioseine gemis wat haar na die eiland toe sou begelei, waar die Amerikaanse vloot sou brandstof voorsien.

Hulle het die eiland gemis. Die Amerikaanse vloot het oor die $4 miljoen spandeer om haar te soek, die duurste soektog in die geskiedenis tot op daardie stadium.

Daar is baie teorië wat van Amelia Earhart en Fred Noonan geword het- van “Crash & Sink” tot redelike oortuigde navorsers wat besittings op die Gardner eiland, deel van die Phoenix eilandegroep opgespoor het soos Fred Noonan se kompas. Daar is ook verskeie gereedskapstukke gevind wat glo uit so ‘n Lockheed se wrakstukke gevorm sou wees.

So kort voor die 2e Wêreldoorlog, het haar verdwyning baie sameswerings teorië en wilde spekulasie opgelewer. Sy sou in die geheim op Japan spioeneer.  Sy wou van haar man wegkom. Sy sou onder ‘n ander identiteit voortleef.

Wat het van haar geword? Niemand is 100% seker nie. Sy vlieg voort in ons drome…

‘n Pragtige fliek met Hillary Swank in die titelrol- Amelia, het verskyn in 2009.  Daar het op 3 Julie vanjaar weer ‘n ekspedisie vertrek om te gaan soek na Amelia en haar vliegtuig…

Die vliegtuig waarmee sy verdwyn het- Foto: Wikipedia

Daar is ruimskoots van Wikipedea vir die feite gebruik gemaak, net om die storie te vertel. Hierdie is nie ‘n geskiedkundige werk nie, net ‘n bewonderaar se lof!

Drome wat nie uitwerk nie

Dit was nou vanoggend baie hartseer om van die ballon ongeluk in New Zealand te hoor. Vyf egpare het by ‘n Bucket List tipe ervaring uitgekom.  Dis selfs op my Bucket List- ek kan aan min dinge so romanties dink as om saam met my geliefde en ‘n bottel sjampanje so geruisloos in die oggendmis rond te sweef. Verkieslik oor ‘n wildtuin, waar ‘n mens die dieremanewales so uit die lug kan aanskou en jou verwonder oor hierdie hoek van sig.  Nou vyf egpare het opgestyg op so ‘n droom ervaring in ‘n ballon… daar by Wairarapa.  Nou kyk, my vlieëniervriende het ‘n spreekwoord: “You do’nt have to take off, but you need to land- every time… ” Ek kan my net indink- die een oomblik is dit nog die ervaring van ‘n leeftyd. En dan skielik kom die kragdrade nader, en almal eers versigtig, en dan met al groter paniek, na die gevaar kyk. En dan die absolute skok as daar gesien word dat die ongeluk nie kan vermy word nie. In ‘n ballon gebeur alles seker in elk geval in “slow motion…” Ek dink net Bucket List items is nie veronderstel om jou aan te help om die emmer te skop nie.

 

Nog  ‘n droom is besig om tot ‘n einde te kom. Ja, ons heteroseksuele manne hou baie van borste. En ongelukkig het die Playboy Mansion en Baywatch ons idee van wat mooi borste is, redelik beïnvloed. Baie manne se idee van ideaal is nou daardie groot, koeëlronde mensgemaakte aanhansel A en B, in grote DD. Nou kyk, so rukkie terug moes Toyota in Amerika miljoene karre terugroep, daar was ‘n foutjie wat die kar aan die brand kon laat slaan. Dit kan ‘n mens nog hanteer…

Dink jou nou net in: Dr 90210 skakel jou persoonlik. Uhm, Meneer, daardie Kersgeskenkie wat jy vir mevrou gegee het- jy weet, die speelgoed wat jy ook so geniet-  daar is ‘n fabrieksfout op hulle… ons moet hulle terugroep. Dis nou ‘n gatslag vir enige man- as sy vrou se borste teruggeneem word! Die Franse het eerste daarmee begin, en nou volg die Duitsers hulle voorbeeld. Dit lyk vir my iemand het weer lekker geld gespaar. In plaas van mediese graad silikoon is daar sommer gewone industriële silikoon gebruik, glo die soort wat in matrasse gebruik word.  En al lyk die resultaat ewe pragtig, is dit nie goed vir die draer daarvan as dit lek nie…  Kyk bietjie mooi daar in die BBC artikel- hulle lek makliker, en dit gaan nou deur ‘n magistraat ondersoek word. Ek wonder hoe?

Daar is 300 000 ongelukkige manne in 65 lande wat hulle vrouens moet terugneem fabriek toe… Van volronde volmaaktheid af  gaan dit hulle nou skielik weer teen die bors stuit…

 

Die hele aangeleentheid het my ook al laat wonder. Wat maak die mediese mense as die dame wel die implantate ontvang het, maar nie ten volle klaar betaal nie? Stuur hulle die balju om te kom “reposess”? Is dit ook iets wat op ‘n veiling vir bank teruggeneemde bates kan beland?

 

Miskien is daardie kwaai omie van die Windhoek advertensie tog maar reg- Keep it real! And remember- we are watching…

Bileam se Ruimtestasie

 

Geliefdes, na gister se inskrywing het ek baie en diep gedink.  Ek het tot die gevolgtrekking gekom: Die meeste dinge op hierdie aarde is ‘n gejaag na wind. So het die Prediker dit tog al 3000 jaar gelede vir ons uitgelig.

Die storie van Sir Richard se Ruimtestasie in New Mexico het my geinspireer. En so deur die loop van die nag het dit wat die Maagdelike Korporasie dekades se beplanning gekos het, sommer net gebeur- alles begin in plek val.

Ek het mos die voorreg om Sir Richard se outobiografie op my rak te hê, met die indrukwekkende titel van “Losing my Virginity…” Daarin word gemeld van groot drome, en groot planne, wat gekom en gegaan het. Sir Richard die Ballonvaarder se kaartjie na sukses het gekom met ‘n CD. Mike Oldfield se Tubular Bells, om meer presies te wees. Met hierdie musiek het Virgin dit reggekry om van die grond af te kom… later ‘n vliegtuigie of twee, en as we speak bou hulle êrens ‘n geheime ruimtetuig wat vir $200 000 vir jou vyf minute se gewigloosheid gaan gee, en ‘n gratis lewenslange lidmaatskap by Weigh-Less met komplimente van tannie Marie Rooihol ©.

Gedurende die nag het die volgende gebeur. Eers het ek ‘n pynpil of twee met ‘n glas mampoer afgesluk, vir die knie wat so seer bly. Dit het dadelik die kreatiewe breingolwe gestimuleer, wat tot vrugbare besigheidsplanne gelei het…

Die plan werk nou so. Ek kan mos darem sing ook. Ek het al vir die Pous in Rome gesing in 1983 as deel van ‘n skoolkoor. So- talent is daar geen tekort aan nie.  Ek het ook ‘n diep studie gemaak van musiek- ek besit darem oor 100 CD’s in my versameling.

Ek persoonlik hou van diep musiek.  Musiek moet darem meer vir ‘n mens sê as : Skud jou bisket… of wys jou mys… daardie tipe musiek werk nie vir my nie. Ek hou van woorde wat sin maak. Sien Leonard Cohen, of Neil Diamond voor jou geestesoog. Dit moet musiek wees wat konnekteer met mense. Iemand wat bv ‘n geel 1969 Kombi besit, met helder pink en oranje blomme op, met ‘n spesiale skoorsteen vir die daggawalms, moet daar binne kan sit en dit luister op sy Bose stelsel  (nee, nie Afrikaanse boosheid nie, Bose speakers…) en die trane moet waggel oor sy wang tot op sy Peace T-hempie…  Koos Kombuis moet dit like, dan is dit reg…

Maar daardie nis maak nie altyd so baie geld nie, anders was Leonard Cohen nie so depressief nie, en Koos Kitchen ook nie…  Ons moet darem geld maak met die CD, want daar is ‘n ruimtestasie om te bou. Ruimtestasies kos baie geld. So- die tienermark moet ook ontgin word. Dis waar die groot geld lê in die vermaaklikheidsbedryf. As hulle almal hom net nie gaan staan en kry op PirateBay nie.  So- daar moet ‘n tikkie Justin Beaver en ‘n klankie Mylie Virus © in wees.  ‘n Baby baby baby OHhhhhhhhhhhhhh, maar ook nie te veel nie, anders skiet die volwasse gehoor katte..  en dit gee ‘n morsige wêreldtoer af.

Maar ek persoonlik is mal oor die tjello. Ek dink dit is die mees sexy instrument van alle tye. Coenie de Villiers stem saam, hy sing dan: “Ek wens ek was jou Tjello… wat daar langs jou heupe lê “. Daar moet verseker ‘n tjello in wees. Maar ek hou ook van ‘n elektriese kitaar. Iemand soos Mark Knopfler sal deel moet wees van die band…  Ek weet August Rush het die tjello en die elektriese kitaar meesterlik saamgevoeg… ek wil ook. Net geen kerkorrel nie. Nie hierdie keer nie. Dalk ‘n trompet. Daar mag ‘n trompet in wees, maar ek weet nie hoe gaan ‘n trompet en baby baby baby Oooohhhhhhhh saam klink nie…

Wanneer die CD klaar is, gaan ek ‘n groot Launch hou by die Peter Mokaba Stadion in Pietersburg/ Polokwane… dis naby aan die Pietersburg/Polokwane internasionale en interplanetêre lughawe cum spacestation wat ek aanvanklik gaan huur, en later gaan uitkoop. Die internasionale launch gaan  gelei word deur Nelus Niemandt, die nuwe Moddermaker van die NG Kerk, om die gelowiges te laat inkoop op my CD.  Saam met hom, geklee in Karoo Lamstjoppies, gaan Lady Gaga op die verhoog wees, om ook die minder gelowiges te wys dat dit Cool sal wees om my musiek te luister.  Die twee gaan saam ‘n tango dans op snit nommer 7.

Wanneer die miljoene begin inrol soos die Platinumstatus bereik word, sal ons ook eers ‘n Music Lable moet kry, met nog so ‘n paar goeie kunstenaars in. Daardie groot meisie wat so in die top 10 van die Idols geëindig het, het my baie beïndruk. Ek sal graag vir haar ‘n kontrak wil aanbied.

En so gaan Bileam se Ruimtestasie deur musiek gefinansier word.  Out of this world!

Ek het net een probleempie, wat die pynpille en mampoer nog nie opgelos het nie, dalk kan jy my daarmee help en jou naam prominent op die CD kassie se insetsel kry: Wat moet ons die CD noem? Het jy dalk ‘n treffende gedagte?  O ja, die gelukkige wenner kry natuurlik ook ‘n $100 000 gratis kaartjie op ons eerste ruimtevlug van Donkey One…  Bring net jou eie pienk olifantjies saam asseblief.

 

Om saam met Son te droom…

Son het ons drie selfsugtige drome gegee, elk met drie onderafdelings.  As ek nou alles kon kry wat ek graag wou hê, sou dit so lyk:

  1.  My eie huisie by die see…
  •  Selfstandige huisie, met ‘n boorgat en sonkrag en groentetuin
  •  In sy motorhuisie staan ‘n ou Beach buggy en ‘n nuwe Harley
  • Die huisie is groot genoeg vir baie boeke en Cd’s, en ‘n dubbelbed vir my en my vrou…

2. Ek droom van ‘n toekoms vir al 4 my kinders…

  • In besonder dat my matriekmerrie redelik binnekort ‘n opening kry êrens om grafiese ontwerp te studeer…
  •  dat ek al vier op ‘n manier kan help om wel verder te studeer in wat ook al hulle rigtings is…
  •  dat elkeen van hulle ‘n werk sal kry waarmee hulle hul daaglikse brood kan verdien…

3. Soos Miss Congeniality droom ek oor World Peace:

  •  Ek droom van ‘n land waarin niemand meer skuldig hoef te voel oor die verlede nie.
  •  Ek droom van ‘n land waarin elkeen van ons kinders ‘n gelyke kans sal hê om te werk en te leef.
  •  Ek droom van ‘n einde aan misdaad, veral teen vroue en kinders!

So die genie wil seker weet: waar moet die Huisie staan?  Tietiesbaai. Erens ongerep…  Gansbaai? Kleinmond?  Al wat ek vra is see-uitsig en nie te veel Transvalers nie…

Perverse Afwykings…

Ek het netnou ‘n sensasie beleef so intens soos wellus op Clifton se nommer 4 strand…

Ek het vinnig daar in Nylstroom gestop vir Brandstof op pad huis toe. En by Waterberg Toyota staan hierdie V8 5 liter Lexus, in perfekte toestand tweedehands vir net R599 999.00  Ek het ‘n vet kans gevat, en gevra of ek hom vir ‘n toetsrit kan vat. Maar die verkoopsman het net een kyk na my gerolde Mazda bakkie gegee, en histeries begin lag. Nadat hy tot bedaring gekom het, het hy iets gesê van ek sal eers ‘n aansoek om finansiering moet voltooi. En as ek goedgekeur word daarvoor, dan kan ek maar saam met hom vir ‘n ry gaan.

En anders as wat sommiges beweer, is ek nie naastenby in hierdie klas nie! My hele salaris, met vervoertoelaag by, gaan nie die paaiement van hierdie tweedehandse voertuig kan betaal nie!  Hulle het die trane in my oë gesien, en toe darem die voertuig oopgesluit en die enjin gestart, dat ek net agter die stuur kan sit en die petrol kon trap.  En toe huil ek soos iemand wie se groot liefde so pas gesterf het.  Want ek gaan NOOIT in my ganse lewe so ‘n wa kan ry nie.  EN hierdie motor is so SEXY dat ek selfs dink ‘n Ducati gaan tweede kom in Sexygeit!

Julle moet hierdie kar se agterent sien. Daardie motoringenieurs in Japan het iets reg gedoen- dis myle beter as Merc of BMW se agterkant- dis amper in Ferrari klas! Julle moet daardie vier uitlaatpype sien, wat so uitsteek uit die agterste buffer!

In die voertuig het ek nog nooit so ‘n ervaring gehad nie. Perfeksie. Die instrumentepaneel wat met wit en koningsblou ligte aankom. Die afwerking van die binneruim, die uiters gemaklike leersitplekke, die koolstofvesel panele…

Dis vir sulke voertuie wat ‘n mens sal bankroof oorweeg. Dit sal dominees laat lotto speel.  Ek is fisies siek van begeerte soos ek hier sit. As ek maar net gou daardie voertuig hier op die N1 kon afneem vir ‘n toetsrit, daar om Kaappunt en dan weer terug, sou ek al effens beter gevoel het.

Maar ek voel soos wat Jeremy Clarkson gevoel het toe hy die eerste prototipe van die Bugatti Veyron vir ‘n toetsrit deur kontinentale Europa gevat het. Hy het omtrent gehuil oor hy nooit, ooit weer sulke perfeksie gaan bestuur nie. Ek vra nie so baie van die lewe soos Jeremy Clarkson nie. Hierdie R600 000 voertuigie sal dit doen vir my, ek wil nie eers kyk na die R8 miljoen Bugatti nie!

En ja, hansworsie, as ek hierdie voertuig besit het, sou ek dit dalk oorweeg het om te spog met wat ek het…

Die laaste vraag is- Is een van julle nie dalk Bill Gates wat graag vir ‘n vreemdeling ‘n guns wil doen nie?

 

Baie dankie dat ek my hart so kon uitpraat met julle. Dit is omdat ons protestante nie ‘n bieghokkie het soos wat die Rooms Katolieke het nie, en ek moes hierdie perverse gedagtes uit my hart uit kry, om weer dankbaar te wees oor wat ek wel het…

Onderwerpe:  begeerte!

Waarom gaan mense nie groot vir ‘n droom nie?

Ek het vanoggend begin met ‘n baie hartseer verhaal in my gemeente. Daar is ‘n baie (soos in BAIE) jong egpaartjie in ons gemeente.  Hulle het vroeg hierdie jaar getrou. En binne twee maande lê die jong bruidjie in Intensief, gediagnoseer met Lupus, en baklei  vir haar lewe. En so hou dit nou vir maande aan, dan is sy in die hospitaal, dan in intensief, en dan gaan dit beter. Maar sy is nie meer fisies die mens wat sy op haar troudag was nie.  Dit bring baie spanning by hulle in die huwelik,  dalk was hulle te jonk om te verstaan wat beteken “in sickness and in health… for better or for worse…” toe hulle ewige trou aan mekaar belowe het. Die jong bruidegom hardloop weg van sy bruid af. En dit is hartverskeurend. Soos enige sulke tragedie is daar altyd nog wyer kringende rimpelings in die dam van ellende.  Albei ouerpare woon ook in ons dorp. En die bruid se ouers versorg haar tans. Of die bruid se ma, in elk geval. Die pa is ‘n brombeer, wat in sy eie hoekie voor die televisie weg gaan kruip het, en nooit weer daar weggekom het nie. Die bruid se ma dra ‘n geweldige swaar las.  Ek moet bely dat ek eintlik ‘n baie sagte hartjie het. Sulke dinge ontstel my ook geweldig baie, en dit is vir al die partye in hierdie storie een groot stuk lyding op die oomblik. Mense se seer was nog altyd vir my baie erg, veral ekstreme voorbeelde soos hierdie.

Dit het gemaak, nadat ek die moeder van die bruid vanoggend vir lank probeer moed inpraat het, dat ek ook weer met nuwe waardering na my eie huis toe teruggery het.  Ek is so dankbaar vir ‘n vrou aan my sy wat ek op kan staatmaak in krisistye. ‘n Vrou wat my liefhet, en my ruimte gee om my unieke self te wees. Ek het net daar besluit om haar vir ‘n ontbyt te vat by die nuwe restaurant wat in ons dorp oopgemaak het, net om weer te wys ek is lief vir haar en waardeer haar baie.

Nou kom ons by die uiteindelike storie uit.

In ons dorp het hierdie betrokke eetplek oopgemaak saam met ‘n nuwe winkelsentrum. Die nadeel van dit is- daar is geen uitsig nie. Jy kyk agter in ‘n groot hardewarewinkel se agterplaas vas, en langs dit is ‘n oop stuk veld wat vol bourommel lê, nou al vir jare lank.  Die restaurant is een van ‘n bekende franchise, daardie een wat Jac de Priester ‘n regular is by in die Brooklyn Mall.   Die buurdorp se tak gaan baie goed aan, en ons ry gereeld met die motorfietse daarheen om ontbyt te gaan eet- hulle ommelette is gewoonlik uitstekend!  Om een of ander rede sukkel eetplekke en koffiewinkels om hulle deure oop te hou in ons dorp. Ons is ‘n bekende vakansiedorp, maar die plaaslike bevolking is hoofsaaklik afgetredenes.   Verlede jaar was ons baie hartseer toe hierdie franchise gesink het. En baie dankbaar toe die nuwe eienaars die plek weer verlede naweek oopgemaak het, met baie goeie spesiale aanbiedinge.

So is ek toe mos nou lus vir daardie spesiale aanbiedinge.  Ek en my geliefde het daar opgedaag, en daar is steeds nie baie mense in die eetplek nie. Wat ons opgeval het, is die groot hoeveelheid staf wat op die vloer rondstaan. Ek het getel, en ek oordryf nou regtig nie. Daar was ‘n bestuurder, en ‘n adjunkbestuurder, wat albei vroeg al by ons tafel gestop het, en die bestuurder wat gevra het sy soek asseblief ons terugvoer oor die kos as ons klaar is, want sy wil hierdie “situation” reg bestuur. Rooi liggie flikker op my paneelbord. Daar is NEGE mense agter die kombuis se toonbank, en daar is ongeveer ses kelners op die vloer. Ons was so elfuur daar, die tyd wat die boere klaar by die koöperasie was, en koffie soek (die lekker kuierplekke maak eers later oop.)

Ons bestel- vroulief het intussen klaar geëet tuis, en wil net ‘n Hot Chocolate hê om die ysbere weg te jaag. Ek bestel die openingsaanbod- ‘n Hamburger en tjips, en ‘n glas Coke vir R29.95.  Die drinkgoed kom redelik vinnig. Baie van die personeel op die vloer ken ons- ons gunsteling koffiewinkel in die dorp sukkel ook maar, en het van verskeie personeellede ontslae moes raak gedurende die afgelope paar weke.

En ons wag. En ons wag. En ons bespreek ons dogter se 18e verjaarsdag more, en wat ‘n gepaste dag sou wees (Zebula by Warmbad vir middagete lyk vir ons nou na die aangewese pad om te volg- baie luuks, baie lekker, en ongelukkig bietjie bo ‘n dominee se prysklas, maar ‘n mens se enigste dogter word ook net een keer 18) Later volg die debat of ons ‘n gasverwarmer moet koop, ons huis is ‘n yskas en ons word aangespreek oor kragverbruik met die gemeente se finansiële situasie.  Ons keer terug na Dogter se verjaarsdag, ons besluit om vir haar ‘n botteltjie sjampanje ook te koop, terwyl sy dan nou wettiglik saam kan drink, en al vir verskeie van haar vriendinne dit vir ‘n geskenkie gestuur het op hulle 18e verjaarsdag.  Baie diep gesprekke. Maar die Hamburger en tjips daag net nie op nie. Ek begin later ongeduldig rondskuif op my stoel. Die assistent bestuurder sien dit raak, en gaan vra in die kombuis wat aan die gang is.  Die nuus kom terug, die Tjipsmasjien het die gees gegee. Wil ek iets anders hê? Nee, my tyd het uitgeloop, eintlik my geduld. Ons vra maar die rekening, en loop daar uit.  Glad nie ‘n lekker ervaring nie.

Op die platteland is ons nogal afhanklik van die enkele eetplekke wat dit maak. Daar is mense soos ek op die platteland wat so ‘n klein liefde vir ‘n stad en sy malls het (maar hou julle spitsverkeer en tolhekke maar vir julleself, dankie!)  Dis so lekker as ‘n mens nie ALTYD by net een koffieshop hoef te wees nie,  want met net een begin die gemeenskap vinnig skinder oor hoe die dominee net in die koffieshop rondlê en nie sy werk doen nie…

Met my hele hart gun ek die nuwe eienaar van die oranje franchise Maximum sukses toe met sy nuwe onderneming. Ek weet daar gaan baie drome, en baie geld daarin om ‘n nuwe onderneming se deure oop te maak.  Ek is net bekommerd as ek daardie samedromming van niksdoenende personeel, daardie reuse tyd wat dit vat om te kom sê ‘n kritiese deel van hulle menu is buite werking,  en die alreeds leë stoele in die plek, gaan saamwerk om nog ‘n droom in ons dorp te sink. Ons almal baat by ‘n sakegemeenskap wat goed doen, en ek gun dit regtig vir almal. Maar diens moet op standaard wees. Anders koop ek eerder vir my ‘n botteltjie Jacobs koffie, en sit elfuur op my stoep in die son en geniet elke teug, en droom van Mugg & Beane as ek weer siekebesoek in die stad gaan doen. Of daai lekker koffieshop met die kunswerke daar bo teen Fairie Glen se rante…