Fietsry is soveel lekkerder in die platteland!

Die Bosveld word op die oomblik geteister deur baie hoë temperature. ‘n Mens voel die hele dag pap en gedreineerd.

Saam met dit is die Argus nou net so oor die twee weke weg.  Dit is nou tyd om die oefenprogram te begin afrond. As ‘n mens nou een gehad het! In my geval probeer ek maar so veel as moontlik kere op die fiets klim, net om bietjie fiksheid bymekaar te skraap om Suikerbossie te oorleef…

Eergister het ek tussen half elf en twaalf op die fiets moes klim, so na die Bybelstudie. Kon nie later nie, want ek was van 16h00 tot 21h00 uit op die gewone huisbesoek, nie die Huisbesoek nie…

Toe ek op die fiets klim, was dit so 37 grade gewees.  As ‘n mens dan ry, is dit regtig erg op die lyf. Die lug voel sommer verskriklik dun en warm in die longe in. Sweet verdamp dadelik en los so ‘n soutneerslag op die vel.  Soms hoor ‘n mens harpmusiek, ander kere voel jy die hel se vlamme hier kort agter die fiets se saal uitbreek. Dit raak ernstig as die engeltjies jou naam begin neerskryf in goue letters op die perkamentrol by die Poorte…

Gister middag was net so warm. Ek het weer 35 km gaan ry. Maar daar was darem baie mooi oomblikke ook.

Die wolke ontwikkel deesdae baie indrukwekkend hier oor die Bosveld.  So nou en dan word ons verras deur ‘n stewige wolkbreuk ook, en dan ‘n halfuur later lyk dit weer of niks gebeur het nie…

Terwyl ek gistermiddag so ry, kom ek op hierdie toneel af. En wens ek ek het eerder my Canon met die telefotolens by my gehad! Die selfoon zoom ook net so ver!

Twee lekker spekvet vlakvarke het so ewe rustig in die pad afgedraf, salig onbewus van my teenwoordigheid. Hulle het geloop en skinder oor al die ander dames in hulle troppie, oor die kiddies wat so windgat raak, en waar ‘n mens die sappigste wortels kan gaan uitgrawe.  Die een was nog besig om wortelkoek resepte met die ander een uit te ruil, toe kom een van die boere van die gemeenskap met ‘n Land Cruiser bakkie met ‘n gejuig aangejaag. Hulle kon my nie hoor nie, maar daardie Land Cruiser kan ‘n mens op ‘n afstand hoor brul.  Bravo 1 spring net daar regs om, en hol in die veld in. Maar Bravo 2 is so bietjie van die blonde soort vlakvarke. Sy dog sy hardloop sommer so reguit in die pad af weg vir die Land Cruiser. Reg in die middel van die pad. Sy spin daardie pootjies dat die hoefies sulke vonke uit die teerpad uit laat spat. Sy kom mooi op spoed, en word vir ‘n paar oomblik die Florence Griffiths Joyner van die varkerige soort. Soos die mense hier rond sê, sy maak gat skoon…

Maar die Land Cruiser kom onverbiddelik aangejaag. En die jong man klim op die toeter. Die varkie versnel nog so ‘n bietjie, maar die Cruiser is op haar… Ernstige vermydingsaksies word uitgevoer, want ‘n  vlakvark is ‘n baie harde ding. Hy maak selfs Land Cruisers baie seer. Uiteindelik dring dit deur Bravo 2 se kop, draai links af. EN met ‘n snork van verontwaardiging gooi sy haar boudjies uit, en maak ‘n 90 grade na links, in die bosse in.

Die Land Cruiser het haar gemis, en ek het gelukkig ook nie oor een van hulle geval nie. Nie weer gesien nie, maar ek is seker hulle het nogal baie gehad om oor te gesels rondom hulle wortelkoek gistermiddag!

Op pad terug huis toe, 5 km van die huis af, het een van my nagmerries weer gebeur. Die wolke het toegetrek, en die weerlig het begin. Ek is skytbang vir weerlig op ‘n fiets! Toe maak ek maar soos die varkies en maak gat skoon huis toe!

Maar dit is die voordeel van plattelandse fietsry- ek sien vlakvarke, nie padvarke nie…  Ek sien doringbome en voëls, slange en olienhoutbome en ‘n ribbok wat daar teen die randjie draai… (apologie aan ?)

Soms is die lewe op die platteland net soveel beter as die stad!

Vrydag se fietsrystories

Ek sukkel die afgelope ruk om getrou fiets te ry, en die Argus kom vinnig nader. Sedert verlede Vrydag kon ek nog net gister ry, as gevolg van universiteitstories, reën in die Bosveld, en karmoeilikheid.

Vanoggend het ek weer my fiets aangetree vir 50 km.

As ‘n mens so stadig soos ek fietsry, het ‘n mens baie tyd om te dink.

Langs die pad was dit weer fantasties soos altyd. Op een kol het ek verby ‘n miskruier gery, wat ewe gewillig ‘n bol mis in die teerpad rondstoot wat dubbeld sy grootte is. En dit het my nou aan die dink. Hoeveel van ons het ook so ‘n lewe? Soms voel die hoop mis (of wat jy dit ook al wil noem!) dubbeld ons grootte. Maar as ‘n mens dit eers mooi rond gekry het, kan jy dit uit die pad uit stoot. Solank ‘n lorrie nie oor jou ry nie, dan maak dit ‘n lelike squeesshh geluid en dan gaan die … mis spat…

Ek het ook die mooiste toneel gesien van ‘n arend wat majestieus vlieg en kyk vir muise en slange langs die pad. Dit is darem pragtig om te sien, en ek is so bly daar is sulke diere wat die muise en rotte en slange in toom hou. Ek dink net die rotte hou f-ol van vlieg, soos die ou plaaswerker van die meerkat gesê het.

Ek het tyd gehad om oor dankbare dinge te dink. My vrou se lewe is hierdie week gespaar- waaroor ek verskriklik dankbaar is. Die laerskool is net 600 m van my huis af. Maar die ou hoofpad loop tussenin deur, met ‘n stewige afdraende en ‘n robot tussenin. Vragmotors is veronderstel om 40 km deur ons dorp te ry, en te stop by rooi robotte.  Woensdag het dit verskriklik gereën, en my vrou het die jongste by die skool gaan oplaai. Op pad terug het sy by die rooi robot gestop, voor in die ry. Toe die lig groen slaan, het sy weggetrek. Sy het die klassieke fout gemaak wat ek haar en my dogter gereeld oor inlig, sy het nie eers gekyk nie, selfs al was die lig groen. Die volgende oomblik lê iemand op ‘n toeter, en sy stop dood. Die vragmotor kom teen ‘n helse spoed oor die rooi robot gejaag, millimeters voor die bakkie se neus. Soos sy sê- as sy die radio aangehad het, het sy nie die toeter gehoor nie.  As ek so sleg na ‘n vriendin se dood gevoel het verlede Februarie- hoe op aarde sal ek dit oorleef het as my vrou onder ‘n lorrie beland het saam met my jongste?  Ek wens so ek was hier naby Woensdag, ek sou baie graag daardie bestuurder wou spreek…

En ek het ook gedink ek laaik nie op die oomblik vir Nedbank nie. Ek het op 5 Januarie aansoek gedoen vir ‘n studielening vir my dogter. Hulle het gesê dit gaan 5 werksdae neem om dit te verwerk. Ek wag nou nog. Ek skakel al van Maandag af daagliks, dan is die konsultant besig met iemand, ek los my nommer elke keer, en sy kom nie terug na my toe nie. Dis die neukery as jy by ‘n bank is waarvan die naaste tak 90 km ver weg is.  Om dit net meer ironies te maak, het Nedbank my verlede week geskakel om te hoor of ek nie in ‘n persoonlike lening belang stel van R120 000 nie, die rentekoers is net so 7% hoër as ‘n studielening. Ek voel soos Blikskottel vanoggend op my fiets- ek haat banke!!!

So op my fiets het ek baie dinge vandag beleef- verwondering, dankbaarheid, die blixemingeit.

Ek het vandag vir die eerste keer Explode poeier in my waterbottel gehad, anders sou ek nie die 50 km op twee Weetbixe kon maak nie. En die goed is nogal potent- ek voel eintlik heel goed na 50 km!

Ek moet nou twee preke gaan maak vir Sondag. Soet wees en gedra julle, en as dit sleg is, sit dit op facebook!

Donkie versus Armstrong

Ja, dis die reine waarheid- ek het al teen Lance Armstrong meegeding in ‘n fietswedren…  Twee jaar gelede se Argus, om presies te wees. Teoreties was dit moontlik selfs om hom te wen. Maar dit het nou nie gebeur nie.  Ek bedoel, ons praat darem van die Lance…  Hy was al klaar met die roete, en deur die storte, en dalk al op sy tweede bier by Ferrymans, toe het ek eers weggespring. Maar ek het die Argus darem baie beter as hy aangepak. Meer as dubbeld so lank soos hy spandeer in die saal, om die Kaapse uitsig ordentlik in te neem en in my diepste hart te bewaar vir aande soos gisteraand se herinneringe.

 

Dis nou weer sulke tye. Ek het die afgelope ses maande niks fiets gery nie. Toe so drie kere ‘n maand gelede. Toe val ek, en die gout val my knie aan. Intussen het die swart hond ook weer aan my kom knaag asof ek sy gunsteling been is. So ek moes net iets begin doen aan die saak. Gisteraand skakel ‘n fikse vriendin en sê ons moet vanoggend gaan fietsry. Sy kry my 06h00 by die Total garage…

 

Ek het toe maar gisteraand ‘n sinuspilletjie ingeneem op die slaap aan te help. Vanoggend vyfuur is ek sommer self wakker voor die selfoon se wekker my kon wakker skree. Ek het eers daar gelê en bewe, angssweet het oor my voorhoof uitgeslaan… Ek het gelê en bid, en al my sondes bely, en genade gevra vir die reuse taak wat voorlê. Halfses het ek maar opgestaan, my homo-erotiese spandex pakkie aangetrek(kan steeds nie onthou of dit Nic Marais of Bernito Vergotini van Kfm is wat dit so genoem het nie…), my fiets onder die dertig sentimeter diep stoflaag gaan uitgrawe, en vertrek op pad na die Total garage toe, 7oo meter van ons huis af.

 

En hier is die verhaal van die reis. Dit was nie baie lank nie, toe begin ek my hart wild voel klop in my borskas.  Dit het kompleet gevoel soos ‘n wilde mustang wat in ‘n horsebox omgekrap raak en die deur probeer oopskop. My heart rate monitor het dit bevestig- hartklop verby die maximum (220 minus jou ouderdom).

 

My longe het begin brand.  Daardie gevoel van soutsuur wat so stadig drup- drup- drup op die tou wat my lewe vashou duskant die Jordaan. Ek het begin hyg na asem, maar dit het gevoel asof die lewegewende suurstof net nie meer ‘n impak het op die weefsels van my longe nie…

 

Later het my bene begin brand. Dit het eers begin met ‘n effense lam gevoel in die kuite, wat later na die bobene toe versprei het. Krampe het deur die spierweefsels gespoel soos die tsunami van Oukersdag 2004 deur ‘n Thailandse bordeel.

 

Maar ek het vasgebyt en uitgehou. Ek kan darem nie ‘n goeie vriendin so drop nie.

 

Ek het later maar twee tot drie keer gestop vir water, en om net te staan en hyg vir asem langs my fiets, totdat die heart rate monitor net weer sê ek is darem onder 220 hartkloppe per minuut, newwermaaind die minus my aansienlike ouderdom…

Die pyn en lyding het net al hoe erger geword. Maar ek is ‘n man, ek het ook my trots. Ek kan nie my vriendin drop nie…

 

Weet julle, daar is sekere pyne wat manlike fietsryers kry, wat vrouens nie kan kry nie. Veral as dit die eerste keer in ‘n lang tyd op ‘n saal is. Dit maak baie seer. Gelukkig het ek regtig nie meer die begeerte om kinders te verwek nie, want na vanoggend is ek in elk geval steriel. Maar dit raak seer as ‘n man se beste vriend so begin doodgaan van die tekort aan bloed…  Net fietsryers sal verstaan hoe seer dit kan raak mettertyd…

 

Ek het later hallusinasies begin sien. Eers was dit daardie girl met die bikini broekie en die volstruisvere boa wat so vir ons geflash het by die onderkant van Chapmans Peak so sewe jaar gelede (mag sy geseënd wees!)  Ek is seker ek het haar langs die roete gesien.  Ek weet nie of dit die gebrek aan suurstof in die liggaam was nie, kammakazi kan dalk wetenskaplik verklaar, maar daar het later so ‘n euforiese gevoel oor my neergedaal. Daardie hêppie gevoel- as ek nou deur die Jordaan beweeg, dan is dit ook maar reg…  Die lug was blouer as blou, die gras was ‘n psigedeliese neongroen, en die voëltjies het die Aïdamars gefluit…  Die gevoel van geluk het versprei, ek het later Cheryl Crowe op ‘n harp gehoor speel (dankie Neander- sy is een van my ou gunstelinge, dalk omdat sy ook al teen Lance meegeding het…) en nog later het ek my lewe voor my verby sien flits. Ek het sommer ook gesien wie het toe my flashdisk weggesteek… In elk geval, die gelukkige gevoel het versprei totdat ek die hemelpoorte voor my geopend gesien het- die donker tonnel met die lig daar voor, die mooiste grasvelde, die 72 maagde met wit rokkies wat vir my wag… nee wag nou, ek is nie ‘n selfmoordbomplanter nie…

 

Uiteindelik gaan alles ook verby, en bereik ‘n mens tog maar jou doel as jy aanhou. Ek het maar net aangehou trap, en uiteindelik, met baie sweet en trane daar uitgekom. By die Total garage waar my vriendin vir my gewag het dat ons die 20 km moet gaan ry…

Die begin van die pad terug…

Ek het hierdie jaar ‘n baie lekker Argus gery. Vir die eerste keer in drie jaar was die weer net absoluut perfek, ‘n mens kon nie vir beter vra nie. Die middag na die Argus het ek my fiets ingegee om teruggeneem te word huis toe. Ek het ‘n lang koue een gedrink by Ferryman’s en toe my oefenprogram dramaties aangepas.

Na die Argus het ek begin stap- so agt kilometer per dag vir drie tot vier dae per week. Alles met die oog daarop om die Camino gemaklik te kan maak. En ek het merendeels goed gevoel op die Camino. Ek het op die 22e Junie geland in Suid-Afrika, en weer ‘n keer my oefenprogram dramaties aangepas. Ek het weer ‘n Castle Draught of twee geneem, lekker saam met vriende gebraai, om die storie vir hulle te vertel,  en weer begin huisbesoek doen (die een met die klein h!)

Een van ons “occupational hazards” is die doodgewone, alledaagse Boere Koeksister.  Dit werk so: die kerkkantoor skakel, en maak ‘n afspraak met die mense- dominee wil kom kuier…  Tannie X sê Ja, dis nou hoog tyd- hy was darem jare laas hier… en dan gaan koop die tannie meel en eiers, stroop en wat ook al in ‘n koeksister ingaan.  Want dominee moet darem weet daar is nie ‘n lui haar op X se kop nie! Die geheim is so bietjie amandelessens in die stroop- oumagrootjie se resep toe die ossewaens oor die Drakensberge getrek het…

Meanwhile, back at the ranch, het die kerkkantoor besoeke gereël by Tannie Y en Z ook. En vanweê die gevolge van klassieke kondisionering op die platteland, assosieer hulle ook huisbesoek dadelik met koeksisters vir die dominee.

Kom ek nou daar aan- dan staan die skinkbord met koppies en bordjie keurig op die koffietafel gerangskik. Ons gesels oor die dieper dinge van die lewe. Ons word saam stil voor ons Vader se voete, om sy seën vir hierdie gesin te vra.

En dan begin die tannie (sorry Vega!)  se oë skielik blink, soos daardie aansit van die Kersfeesliggies in Times Square in New York. Sy verdwyn in die kombuis in, en kom dan te voorskyn met haar meesterlik gebakte koeksisters.  En geen ordentlike dominee sal dit daarna waag om nie een te neem en dan te verduidelik hoe dit die absolute uitsonderlikste koeksisters is wat hy nog in sy jong onskuldige lewe geëet het. Waarop hy dadelik, om die kompliment te beantwoord, met nog ‘n koeksister geseën word.  Hemel op die platteland! Behalwe… vier huise na mekaar doen dieselfde ding met Dominee. Agt koeksisters per aand, twee aande per week…

‘n Goeie dominee op die platteland kan jy op ‘n afstand uitken.  Dis die dominee wat by sy mense uitkom, en nie nee sê vir die liefdesgeskenkie van die gemeentedames nie.  En daarom gooi ons binnekort ‘n redelike duidelike skaduwee…

Ek het al herhaaldelik gepleit van die kansel af: mense- “you are killing me with kindness…” Liefde kan seer maak.

Met ons basaar is daar ‘n foto geneem waar ek en my kollega ‘n trio sing saam met Du Preez Stoltz van Bloemfontein. Ek kan ‘n heel aanvaarbare tenoor sing.  Wat my tot in my sokkies geskok het, was die foto wat daar geneem is. Ek begin nou wraggies soos Pavarotti lyk, as ek nou nie heeltemal soos hy klink nie!  Dit is vir my traumaties- ek wat so graag fiks en gesond wil wees…

Al die goeie werk van Spanje is deur koeksisters vermoor.   En glo my, dis nie so eenvoudig om nee te sê daarvoor by die liefdevolle mense van die Bosveld nie. By dit alles deel ek ‘n slegte eienskap met Martin Luther.  ‘n Biertjie op sy tyd is darem net so lekker!  Maar ek is allergies vir bier en koeksisters, dit laat my opswel…

Ek het vanoggend my karkas om half ses uit die bed gesleep. Ek het my homo-erotiese spandex pakkie aangetrek (dekselse Benito Vergotini van KFM radio se woorde as ons Maartmaand ons geld in die Kaap agterlos…) en op my resiesfiets geklim. Die fiets het gekreun en gekla: maar ek was onverbiddelik- ons twee moet nou fiks word.

Dit was baie moeilik op die fiets vanoggend, eerste keer in ses maande op ‘n fiets (vergeet nou maar van daardie ou grappie op my vriend se kerkbasaar met die drie valle in 3 km!)  Dit was eerstens ongelooflik mooi. Die son het pragtig opgekom agter die bekende kop in ons omgewing.  Dis selde dat ek voor die son opkom!  Dit was bitterlik koud, my ore pyn nou nog, en die stopsels voel of hulle uit my tande wil uitspring.  Die vriende saam met wie ek gaan ry het, is van nature BAIE fikser as ek. Ons het uitgejaag, plek plek tot 35 km.u. Maar op 11.5 km moes ek maar omdraai- my knie is nog seer van die motorfiets episode van twee weke terug. My hart klop woes in my ore. My longe voel soos soutsuur wat dit vreet…  Maar ek het dit tot by die huis gemaak.

Nou, vir die rekord, ek wil verskriklik graag die Argus onder 4 ure ry.  En ek wil verskrikllik graag daardie onnodige skapie wat ek altyd saamdra, afgooi…  Ek weet net nie altyd hoe nie. Fietsry is wreed in die sin dat dit my nooit gewig laat verloor nie. Ek sal moet maniere kry om koeksisters te vermy. En ek sal moet nee sê vir my geliefde moutsappies…

Hier lê ‘n LANG, LANG pad voor na 11 Maart 2012 toe. Maar ek het ‘n begin gemaak, en dis al die helfte van die projek!

Mooi week vir julle, en moenie julle dominee/ pastoor/ guru/ geestelike leier of ongeestelike leier voer of terg nie…

Onderwerpe:  koeksisterskade en fiksword…