Vandag, 13 jaar terug…

het ons nog ‘n apie in die berg gevang en hom mak gemaak…

Toe:

_MG_0487en nou: soek die verskille:

IMG_1078

Ons maak grappies, maar eintlik- eintlik het ons 13 jaar terug groot genade ontvang.

  • Groot genade, dat hy in Pretoria-Oos hospitaal gebore is, en nie in ‘n staatshospitaal nie.
  • Genade dat daar ‘n hartmonitor band om my vrou was.
  •  Genade dat die suster aan diens wakker was om te hoor daar is groot fout met die baba se hartklop.
  •  Genade dat die ginekoloog naby was, en dadelik ‘n noodkeiser kon doen
  •  Genade dat hy nie ‘n minuut later gebore is nie.

Want daar was twee knope in sy naelstring, wat styf getrek het met die geboorte. Dit het sy suurstof afgesny. Toe hy gebore is, was hy potblou van asemnood.  Die Here se genade was baie groot, en die ginekoloog en die mediese span was uiters professioneel daardie dag.

En ek as pa was wit geskrik- dit kon so maklik anders gewees het. Klein bietjie langer, en hy was nie vandag hier nie. Of nie ‘n normale, windgat dertienjarige seuntjie vandag nie.

Ons is diep dankbaar as ons na hom kyk, wonderwerke gebeur nog steeds…

Sy naam beteken “Oorwinnaar”…

En nou gaan ek saam met hom fees vier…

Die Dankbare Donkie

PS- Foto nou net saam met sy Ouboet geneem- dit is 37 grade vandag hier by ons…

_MG_0739

Advertisements

Oom Barrie se Bybel

Ons dominees se werk is nou nie altyd maanskyn en rose nie. Partymaal kan ons ook maar murmereer soos die Israeliete van ouds in die woestyn.

Maar soms het ons ook met wonderlike oomblikke te doen.

Een van die mense wat my baie diep aangeraak het met sy menswees, was oom Barrie Barnard gewees. Oom Barrie het baie gekrimp met die jare, hier teen die einde was hy baie kort gewees. Maar ‘n man van groot statuur in die gemeenskap. Oom Barrie was baie lief vir die Here gewees. En hy het vir lank gesit en skrywe in die aande. Sommer baie van daardie eksamenblokke vol geskryf met sy vulpen.

Elke keer as ek hom gaan besoek het, het die besoek nog meer vir my beteken as vir hom Hy was een van daardie mense wat altyd vriendelik was, en nooit gekla het nie, selfs as die gesondheid baie pla. Oom Barrie kon ook later nie meer hoor nie. Maar sy oë het altyd geblink as mense met hom praat, hy was baie lief vir mense. Oom Barrie is so twee jaar gelede oorlede, toe hy al goed in die negentigs gevorder het.

Sy weduwee, tannie Rachie, is net so ‘n kosbare mens. Sy is vol liefde teenoor almal, en sy is altyd vrolik. So sê sy ek moet bietjie vir haar kom kuier, sy wil graag vir my iets wys. Vanoggend na die Bybelstudie maak ek toe ook so.

Hulle seun Gerhard, ‘n leraar van die Kaap, het al die geskrewe eksamenblokke geneem, en dit baie professioneel laat bind.  Die geskryf was toe al die tyd die hele Bybel, wat oom Barrie woord vir woord oorgeskryf het met sy vulpen. Alles so netjies, soos oud-onderwysers soms maar maak…  Ek het toestemming gevra, en oom Barrie se Bybel met my selfoon afgeneem. Gerhard leen vir sy ma die Nuwe Testament, die ou Testament is glo in nog drie sulke volumes gebind.

So lyk oom Barrie se Bybel:

20130723_10405320130723_104101

 

20130723_104036Die woorde van Matteus 1:1, en so gaan die hele nuwe Testament handgeskrewe voort tot aan die einde van Openbaring 21. En daarna die wonderlike kort gebed:

20130723_104146” Dankie Here vir die genade aan my om die skryfwerk en studie te kon voltooi” en geteken L. G. Barnard

Dit is ‘n kosbare nalatenskap vir sy familie, en ek is so bly Gerhard het hierdie potensiaal raakgesien in die hope ou eksamenblokke.  Dit was vir my aangrypend mooi, en dit is vir tannie Rachie net so kosbaar om dit met my te kon deel.

20130723_104158

 

Oom Barrie se getuienis was soos Psalm 119:103 sê: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.”

 

 

Van skandaal tot skandpaal- ‘n tweede kans?

Daar is sekere nuusberigte wat nou maar elke Donkie se aandag elke keer sal vang. Hierdie week was dit toe nooit anders nie. As daar in die  hoofstroom nuus iets van ‘n Pornstar gesê word, dan is ons spesie mos maar nuuskierig.

Ek het die eerste keer hiervan gehoor op die Huffington Post se tweet.  Ons sal dit maar gebruik as die teks vir vandag se preek…

1. Die Skandaal

 In Oxnard, Kalifornië, was die kinders van die  Haydock Intermediate skool so bevoorreg om ‘n pragtige biologie juffrou te hê. Juffrou Stacie Halas. Sy met die lang blonde hare… 

ab miss Halas

Foto: dailymail.co.uk

So sit die seuns toe eendag in die Biologie klas.  Die les het seker oor die menslike voortplanting gegaan, met daardie sketse in die Biologie boek wat ‘n mens so laat bloos voor die meisies.   ‘n Man wil mos graag meer ook weet, aangesien jy nou 16 is, en as jy net die biologieboek sien, dan gebeur daar allerhande fisiologiese gebeurlikhede. My dogter het onbewus vir my die regte naam daarvoor gegee- dit kom glo uit die manier waarop ‘n mens in Graphic Design kaarte plat maak van die ronde aardbol af… “Vertikale Ekspansie…”  Nou ja, elke hoërskoolseun ken Vertikale Ekspansie baie goed, maar dit het gewoonlik niks met die wêreldkaart te doen nie…

Nou ja, so sit die jong lustige menere in Juffrou Halas se klas. Weens die wonder van die moderne tegnologie het elkeen van hulle ook ‘n slimfoon, wat aan die internet gekoppel is. Hierdie internet word dan gebruik vir opvoedkundige doeleindes, sien… Soos om daardie biologie ‘n bietjie beter te verstaan.  Die skets in die biologieboek is oud, en hulle het juis in die biologie kort tevore van evolusie geleer. Nou wonner daardie seuns- heel akademies natuurlik- het dinge nie dalk verander in die anatomie weens die evolusie nie?  Kom ons gaan google DIT.   EN so, in juffrou Halas se klas, kom hulle toe heel onverwags op ‘n reuse skok af.  Oulike juffrou Halas het so bietjie vakansiewerk gedoen na universiteit. Studielenings moet terugbetaal word, rentekoerse is hoog, die Amerikaanse droom is duur. En nee, sy was nie ‘n kelnerin by die Spur nie.  Daardie seuns het selfs agtergekom waar kom hulle pedagoog se naam vandaan: “Juffrou, Hal as sseblief nou die res van jou klere ook af, ons wil begin… kamera gereed, aksie…”

Ek wil nou nie weer in die Kilo Alfa… kom nie asseblief mense, hierdie is ‘n biologieklas van die hoogste pieke…

Juffrou Halas is toe ook, volgens die seuns se slimfone, op ‘n dag lank lank gelede Tiffany 6 gewees…  Sy is ‘n aktrise, van daardie tipe waar daar nie ‘n groot begroting vir kostuums is nie.

aamiss tiffany 6

foto:dailypost.co.uk

In die biologieklas het die seuns weens hulle indringende navorsing bevind dat: a. Die antieke sketse in die biologie boek is inderdaad anatomies korrek. b.  die evolusie het nog nie intussen veel daaraan verander nie. c. hulle juffrou is ‘n kenner op die gebied- ‘n mens kan sê sy is uitstekend in biologie prakties.

Opgewonde oor hulle so baie by die skool leer, haas hulle hul na die skoolhoof toe om hom die goeie nuus van hulle akademiese vordering te gaan meedeel.  Hulle het seker maar gestamel en gestotter oor die akademiese bronne wat hulle gebruik het, toe sex.com was en nie wikipedia nie.. Die skoolhoof  sê toe: “Menere, kom tot die punt…”  en toe het hulle. Die skoolhoof was ook heel verbaas, hy het nie geweet dat sy biologie juffrou so goed gekwalifiseerd is vir haar Vak (Afrikaans asseblief!) nie.  Hy deel dit toe met sy Voorsitter van die Beheerraad, en dié oom het ook die DVD in sy versameling, maar sê niks. OP die volgende Beheerraadsvergadering, die buitengewone ene wat ‘n uur later plaasgevind het, stel hy voor: Hal asseblief vir Juffrou Stacie van die personeel af…    Daar is ‘n lelike slang in die gras by haar..

En so het Juffrou Stacie toe haar werk verloor by die Rolling-in-the-HAy skool van Osknaters in Kalifornië. Sy was oorgekwalifiseerd vir haar Vakgebied…

Dit het die Donkie diep laat nadink, aangesien ek ook op ‘n skool se Beheerliggaam ‘n stoel gevind het.

2. Die Skandpaal

O liewe hemel, daar is stoute lesers by hierdie onskuldige jong Donkie se blog vanoggend. Julle het weer die Pornstar raakgesien en niks anders nie!  Die Donkie kan ook nie eers weg wees vir ‘n ruk nie, dan ruk julle hande uit!  Julle dink al weer Lolly Jackson en Teazers se paal… Nee liewe mense, dis nie wat die skandpaal in hierdie konteks beteken nie.

In Grieks is daar die woord Stauros- die skandpaal, beter bekend as die Kruis….

Aan ‘n kruis, 2000 jaar gelede, is daar betaal vir alle stukkende mense.  As ‘n mens die lewensverhaal van Jesus lees, dan sien ‘n mens dat die goeie mense van destyds baie kwaad vir Hom was. Hy het nie saam met die heiliges uitgehang nie. Sy vriende was die slegte mense. Die straatvrouens en die skelm tollenaars.  Hy het hulle geselskap baie meer geniet, want Hy het gekom om herstel vir stukkende mense te bring. ‘n Tweede kans, ‘n nuwe lewe…

Ek weet nie hoe gelowig die Beheerliggaam van Hoërskool Osbal in Kalifornië is nie. VAn die wêreld se indrukwekkendste kerke is daar- Saddleback van RIck Warren, die Chrystal Cathedral van die Schullers…  die oorspronklike Mosaiek gemeente, en Rob Bell sluip ook daar rond. Daar is baie godsdiens in Kalifornië.

Juffrou Halas het probeer verduidelik: dis lankal nie meer wat sy doen nie. Sy het verander. Sy wou op ‘n eerbare manier in die sweet van haar aangesig haar brood verdien.  Maar sy is weggegooi. En die hof het ook beslis- solank daar 1 enkele kopie van haar vryskutwerk in die wêreld is, gaan ‘n akademiese reus van ‘n hormoongedrewe tienerseun daarop afkom en nie meer oplet in die klas nie. Daarom- haar verlede diskwalifiseer haar om ‘n toekoms te mag hê…

Dis wat my nou so aan die dink het.  Ja, sy het ‘n verlede. Maar magtag man, sy probeer haar bes om ‘n verskil in ‘n gemeenskap te maak.   Ek dink sy is baie verkeerd behandel in die proses.  Ek is in die Genadebedryf. Ek glo aan tweede kanse. EK glo aan nuwe lewe.  Ook vir Juffrou Halas…

3. Om die Paal te haal… 

Nee, man julle dink alweer verkeerd. Ek het nie gesê “op die paal” nie, alhoewel die loon van die sonde gewoonlik êrens lastige gevolge kan inhou!

Paulus het dit so mooi vir my gesê: “Ek maak my los van wat agter is, ek strek my uit na voor om eerste die wenpaal te bereik… ”

Ek persoonlik dink: elke mens het ‘n agterkant. Agter elke mens lê stukke geskiedenis waarop ons nie trots is nie. Elke mens maak foute. Maar ek glo ook aan die vryheid wat die Here vir elke mens wil bring van jou verlede. Die heelword van jou seer.  Ek glo vas aan genade en ‘n nuwe begin vir elke mens.  SOdat ons elkeen voluit kan leef, en die wenpaal kan behaal… ????????????????????

Dis wat ek vir juffrou Stacie Halas gun… ‘n tweede kans, en ‘n nuwe lewe…

Ek dink die skool en die hof was verkeerd in hulle optrede…

Hiep Hiep Hoera, die Bikerskerk is nou hier…

‘n Klompie van my goeie vriende is baie  opgewonde.  Dit gons al die hele week op facebook daaroor: Uiteindelik word daar vir ons dorp ‘n Bikerskerk geplant.  Sondagoggend tienuur by die vakansie-oord. Daar kom sommer ‘n pastoor, seker van die stad af. En ‘n “band” kom ook vir die “launch”… Nou gaan ons kerk wees- dit staan mos elke maand in die Bike SA tydskrif: “Jesus died for Bikers too…”

foto: http://www.signsfunny.com/tag/biker-humor/  Onseker of die broer op pad Bikers Church toe is…

Ek is ook sommer uitgenooi op facebook- ek moes net reply of ek kom of nie. Ag, ek wou so graag, broers! Dink net aan al die moontlikhede- ek hoef nooit weer huisbesoek te gaan doen nie! Ek chat sommer met die gemeente op die “breakfast run” net voordat ons ons “bikes” gaan “bless”. “Boetas”- dit gaan sommer “kief” wees, net ons en ons “boneys” vir Jesus! Niks meer bekommernis oor oumense wat versorg wil word nie. Niks meer bekommernis oor die kinderhuis wat so baie geld nodig het om aan die gang te bly nie. Niks meer van daardie nonsens van kos vir die “bikeloses” nie… Nee, dis net ek en my bike en Jesus…Fantasties!

Maar… daar is ‘n ou probleempie. My vrou is nie regtig in murg en been ‘n “Biker” nie. Sy sou baie meer tuis wees vir die kerk van mense wat van boeke lees hou. Ek sou ook met daardie crowd kon meng. “Jesus died for readers too…:” So nou moet ek Sondag biker kerk toe gaan, sy moet boekekringkerk toe gaan. Maar dis ook nie so eenvoudig nie. Ek het ‘n dubbelkajuit bakkie… En die bakkieryers in ons gemeenskap is ook nice ouens… “Jesus died for Hilux owners too…” Ek sou graag soms by hulle kerk wou wees.  Maar dan is ek eintlik verskriklik baie lief vir my wit Corolla. Ek het twee, Varsity Vixen ry die ou een…  ‘n Kerk vir Corolla eienaars sou ook baie nice wees… “Jesus died for Jap car owners too…” Dalk elke derde Sondag eerder by hulle kerk inval.

Maar daar is nog  ‘n probleem. Ek ken ‘n paar ouens wat vlieg. Hulle hou daarvan om met ligte vliegtuie rond te speel. EK ken een ou met ‘n microlight. Baie nice ou.  Ek het al ‘n helikopter pilot ontmoet. Hoe? Hy het my sommer self gesê. Ek het darem ‘n paar Raybans soos syne. Ek glo “Jesus died for pilots too…”  Maar ek het nie geld om te vlieg nie.  Maar ek sou darem baie daarvan hou om soms saam met die pilote te aanbid… Nou kan ek nie. Dis ‘n eksklusiewe kerk daardie… Ek voel nie welkom daar nie…

En dit, liewe vriende, is my punt. ‘n Bikers kerk maak nie vir my sin nie. Jesus het een kerk, een liggaam met baie lede. Ek sou baie, baie meer daarvan gehou het as my goeie vriende in hulle leathers kerk toe gekom het, en na kerk hulle eie ding gaan doen het. Hulle kon selfs ‘n bike verwante omgeegroep in die gemeente gestig het. Ek sou graag deel daarvan wou wees. Maar ek het Sondae behoefte om saam met my biker vriende, en my leeskring vriende, en my bakkievriende, en my Corollacvriende, en my vlieëniervriende, almal saam as een liggaam ons Here Jesus te aanbid. En by mekaar te leer. En saam te vier dat ons so verskillend mag wees en dink, en nog steeds aan mekaar behoort.

Want, liewe biker vriende- baie van my vriende het nie bikes nie. ‘n Biker kerk is eksklusief.

En ‘n ware kerk bestaan juis nie net vir homself nie, maar ter wille van die ander. Die oumense wat versorg moet word. Die kinders wat bygestaan moet word om veilig groot te word. Die versorging van die armes, die weduwees en die wese…  Al daardie minder lekker dinge wat die Biker kerk se mense nie wil by uitkom nie- “We burn rubber, not souls…”

Daar is al klaar te veel kerke in die wêreld. Daar moes net een gewees het. Almal in verhouding met mekaar.Met verskillende kerkplantings as ons byeenkoms te groot raak vir die lokaal waar ons Sondag bymekaar kom om die Here te dien.

So askies dat ek nie so opgewonde soos julle oor die stigting van die Bikers kerk  is nie. Ek kan  net nie aan ‘n Biker kerk behoort, ten koste van al die ander verhoudings waarin ek staan met nie-bikers nie. Ek het ook ander mense as Bikers in my lewe nodig om gebalanseerd te wees.

Dis ‘n nuwe wêreld!

Die afgelope ruk het ek nogal baie te doen gekry met die vyandigheid van so baie mense teenoor die boodskap van Jesus. So baie mense is baie aggressief oor die sogenaamde kloof tussen geloof en wetenskap. So dikwels hoor ek dat ek nie ‘n wetenskaplike is nie, maar my uit sulke gesprekke moet uithou waar geloof na hartelus aangeval word as ‘n geestesversteuring.  Ek is al so hartlik moeg vir daardie ewige debat.

Hierdie Paasfees was dit my voorreg om beide die Goeie Vrydag en die Paassondag dienste te kon lei in ons gemeente. En ek wil net iets van my ervaring met julle deel, hoe wetenskaplik, onwetenskaplik, geloofwaardig, absurd, wêreldvreemd dit ook al vir jou mag voorkom.

Ek verstaan Genesis se bedoeling nie dat dit ‘n wetenskaplike geskiedenishandboek moes wees vir alle tye nie. Dit is ‘n heilsgeskiedenis, ‘n verhaal wat vir die wêreld se mense van alle tye iets van God se hart wil vertel. Genesis 1 het begin om te sê: God het die wêreld goed geskape, prosesmatig, Hy het alles in plek geplaas. God het in Genesis 1 en 2 die behoefte uitgespreek om ‘n Vader te wees, om iemand te hê wat soos Hy lyk, en met wie Hy in ‘n verhouding kan lewe.  En waar God koning is, is daar volmaakte harmonie- tussen God en mens, mens en medemens, mens en natuur, mens en self.

Genesis 3 het die hartseer verhaal vertel van wat gebeur as die mens buite God se wil self wil regkom. As die mens dink dat hy God nie nodig het nie.  Die mens se eie Ek het koning geword. Die verhouding met God is stukkend, daar het wantroue tussen  man en vrou gekom. die mens se eie ek het die die natuur begin opfoeter. En stry maar soos jy wil- is dit nie die toestand van elke koerant nie? Die mens wat sê daar is nie ‘n God nie. Die verhouding tussen mense wat opgeneuk is- deur die mens se eie EK! Is dit nie maar die verklaring vir elke oorlog, elke moord, elke verkragting, elke diefstal in hierdie wêreld nie?

En die mens se verhouding met die natuur is net so stukkend. Kyk maar wat maak ons met hierdie planeet. Ons verkrag die aarde om soveel wins as moontlik vir onsself te maak, en gebruik die hulpbronne op wat ons kinders en kleinkinders aan die gang moes hou. Net een voorbeeld: suur mynwater in Johannesburg- waar gaan ons kleinkinders eendag skoon drinkwater kry?

Genesis verklaar hierdie dinge vir my baie mooi.

Die evangelie van Jesus Christus, wat ek die voorreg het om met ‘n gemeente te deel, praat van God se herstel.

Die enigste antwoord vir die mens se selfsug was die een daad van totale onselfsug- altruïsme. Die een Persoon wat Homself opoffer vir almal anders wat dit nie kan of wil doen nie.

Die Een Persoon wat sterf, sodat almal kan lewe.  Die Een wat deur sy lyding vir ons lewe in oorvloed kom gee het.

En Jesus het dinge so kom verander. Ek het gister die opstandingsverhaal in Matteus 28: 1-10 gepreek.

Een van die vloeke in die Ou Testament was juis die onderdanige plek wat die vrou onder die man gekry hjet. Sy sal na haar man hunker, en hy sal oor haar heers.  In die Ou Testament het ‘n vrou net geen regte gehad nie, ek vermoed in baie huisgesinne was die hond beter af as sy.  ‘n Vrou kon nie in die tempel ingaan nie, net in die voorhof bly staan.

En tog, wanneer Jesus uit die dood opstaan, kies Hy om eerste aan die vroue te verskyn. Dit is aangrypend!  Hy kom herstel die vrou se posisie- sy boodskap aan hulle: Gaan vertel my broers… Die vroue word die eerste boodskappers dat Jesus lewe! (So waarom is dit so moeilik om dan te dink aan die vrou in die amp?) Jesus het die grense wat mense gemaak het, kom oorbrug- dis hoekom Paulus kan sê in die kerk maak dit nie meer saak of iemand Jood of Griek is, man of vrou is, slaaf of vry is nie, in Jesus is ons almal een!  (GAlasiërs 3:28)

Daar word so baie klippe gegooi na geloof. Dink net ‘n bietjie hieraan: Jesus se boodskap was nooit baie kompleks nie. Liefde vir God met jou hele hart, siel en verstand, en liefde vir jou naaste soos jouself. (Matt 22:34-40)

As almal dit maar uitgeleef het, dink hoe kon hierdie wêreld gewees het.

As elke mens sy bes probeer het om sy naaste so lief soos homself te hê.  Jesus het dit baie moeilik gemaak- jy moet jou vyande ook liefhê. Nou as elke mens dit kon regkry- dan waa daar nie meer oorlog en haat en verkragting en diefstal en al daardie ander dinge wat ons lewens so vernietig nie.

Dit is die potensiaal in die koninkryk van God- ‘n wêreldwye huisgesin van God wat mekaar liefhet en mekaar se laste dra en vreugdes deel.

Die evangelie wat ek ken, is nie vreeslik gepla oor geboue en getalle en reëls en regulasies nie. Dit is uit en uit verhoudingsgebasseer. ‘n Verhouding met die Hemelse Vader wat my liefdevol gemaak het, wat sê my lewe is kosbaar (Jes 41:3), ‘n Verlosser wat in my plek gesterf het en opgestaan het uit die dood om vir my lewe in oorvloed te gee, en die Gees van God wat my lei om meer en meer soos Jesus te word, dws meer en meer myself prys te gee en ander lief te hê.

Die evangelie gee vir my ‘n werkbare plan om van die wêreld ‘n beter plek te maak, en ‘n positiewe verskil in ander mense se lewe te maak.

My ateïstiese vriende kon my nog nooit ‘n beter alternatief daarop gee nie.

Hulle sê ek bestaan maar net per ongeluk, die resultaat van millenia se evolusie van daardie eerste goggatjie wat uit die “pondscum” uitgekruip het.  Dis net toevallig dat ons bestaan, daar is nie ‘n rede daarvoor nie, daar is nie regtig ‘n absolute morele kode nie- ek kan maar maak nes ek wil, solank ek gemaklik is daarmee. Daar is geen sin in lyding nie, geen hulp in nood nie, en geen toekoms nie. Die dood is die einde van die prent, en dan word ek weer kompos, stardust wat ek is…

Nee wat, dankie, ek is baie gelukkig in my geloof. Dit gee my hoop, en ek sien watter positiewe verskil dit in mense se lewens maak.

Nou kyk, my doel is nie om jou te oortuig nie. As jy anders as ek dink daaroor, dis jou saak. Ek veroordeel jou glad nie as jy ander insigte en waardes het nie. Al wat ek vra, is gee my ook ruimte om hierdie een lewe wat ek ontvang het, na die beste van my vermoë volgens my waardes uit te leef. Ek gun ander hulle plek in die son, en ek kan in elk geval nie meer doen as om net te getuig van wat Jesus vir my beteken nie.  My ervaring is dat Jesus vir my lig en lewe gebring het.  Ek ervaar dadelik ‘n band van familieskap met ander Christene reg oor die wêreld, al verstaan ek nie eers hulle taal nie. Ek het al in ‘n kerk in Egipte gesit en bid saam met ‘n groep vervolgde Christene, ek in Afrikaans, en hulle in Arabies, en ons het mekaar presies verstaan, al het ons nie ‘n woord verstaan nie…

Ek wou graag hierdie hier deel na my laaste ervaring by litnet.  Geloof is vir my uiters belangrik, en ek is nie bereid om meer stil te bly nie. Ek gaan hierdie verseker nie in my preekblog verander nie, ek wou net vir ‘n slag ‘n baie belangrike deel van my hart met julle deel. En as dit jou pla, hou dan maar verby, daar is baie ander blogs om te lees.