Die Storie van my bierbeker…

Die een program wat ek en my seuns baie geniet, is “How it’s made” op Discovery.

So ‘n twee maande gelede sit ons en kyk. Die volgende oomblik wys hulle hoe hierdie maatskappy in Engeland glasbodem pewter bierbekers maak. Ek onthou hierdie tipe bekers uit my weermagdae. In die Geniekorps (dalk in baie ander eenhede ook?) het elke offisier so ‘n  beker in die Offisiersmenasie gehad. Die tradisie was dat wanneer ‘n offisier gesneuwel het, dan het die ander na sy militere begrafnis uit sy beker ‘n ronde gedrink. Daarna is die glasbodem stukkend geslaan, en onderstebo in die offisiersmenasie se dak opgehang om hom te onthou.  As dienspligkapelaan het ek nie so ‘n beker gehad en deel gewees van die tradisie nie.

Dit was baie interessant om te sien hoe hulle die bekers maak. En dit het my so lus gemaak om spesifiek hierdie bierbeker te besit. “The King’s Shilling” beker…

Die ontstaansgeskiedenis daarvan is baie interessant. Tot seker nie te baie lank gelede nie, het die Engelse koning maar gereeld manne gesoek om in sy weermagte en vloot te dien. Maar die manne wou nie altyd vrywillig dit doen nie. Veral nie in die Vloot nie, waar manne vir maande en selfs jare aanmekaar van die huis af kon weg wees.  Toe het die koning, of sy skylie maatjies hierdie plan ontwerp. Die manne sit mos maar graag en drink in die Pubs van Engeland. Hulle het toe die gemene manier ontwikkel om ‘n Shilling in ‘n man se bierbeker te gooi. Wanneer hy dan sy bier in ontvangs neem, en lekker drink, dan kom hy skielik op die Shilling af in sy bier. Sonder dat hy dit dan weet, het hy die koning se shilling aanvaar- hy het mos daarmee JA gesê vir diens aan die koning se vloot. Iemand was naby om dit raak te sien, en hom te betrap waar hy die koning se muntstuk aanvaar het.  So is duisende manne ge”press-gang” in die vloot in- heeltemal teen hulle sin.

Dis waar die glasbodem bierbekers onstaan het. Iemand wat ‘n biertjie drink, moes dadelik kon sien of daar meer as bier op pad na hom toe is. ‘n Baie belangrike veiligheidsmaatreël om jou teen die koning te beskerm!

Om hierdie tradisie te onthou, het die vervaardigers van hierdie beker  ‘n dubbel glasbodem ingesit, met ‘n regte Britse Shilling in die middel. My Shilling is een van Tannie Bets se pappie s’n, wat uit 1947 uit kom.

My sussie het uit Engeland vir ons kom kuier verlede week. Ons het gesien aflewering is gratis in die UK, en daarom mooi by haar gepleit om vir ons te bestel. Ons is nou ek en my goeie vriend Thomas. Ons het nou albei so ‘n beker, wat seker vir die res van ons lewens vir ons moutsappies op ‘n stylvolle manier gaan voorsien. Gelukkig is my kinders nou (hopelik!!!) verby die fase wat hulle die bodem met ‘n hamer stukkend wil slaan om die muntstuk van naderby te sien!

My beker hou ‘n bier verbasend koud. Dit het nie lood in nie, en is dus heeltemal veilig vir menslike gebruik…

Sover my storie in halftyd in die wedstryd tussen die Bokke en Engeland. Nigel Owens irriteer my baie, maar die Windhoek Light is lekker koud…

[En ja, ek het verseker my lewe aan die Koning weggeteken… 🙂 ]

Advertisements

More kom Pastoriemoeder uiteindelik terug…

na ‘n heerlike twee weke se rondlê in Ierland…

En nou sal ek vanoggend graag by al die geliefde susters van die virtuele Donkiegemeente wil hoor:

Wat sou nou die gepaste manier wees om haar weer te verwelkom?

Die dag gaan so verloop-

Sy land 09h00 uit Frankfurt uit.

Met ons effektiewe bagasiestelsel sal sy waarskynlik 10h00 uit die “Arrivals” deur stap. Sy sal saam met haar ma en haar ousus na ousus se huis toe moet ry…

Want die Donkie was weer onnooslik gewees. Ek het maande terug vir die Hoërskool belowe om more die matrieks se “einde van 12 jaar op die harde banke, kort voor die laaste groot eksamen”- diens in ons kerk te hou, wat om 09h30 begin.  Ek kon dit nie uitruil nie, want Matriekmerrie en haar maters, wat ek omtrent almal van die doeke stadium af ken, moet vir oulaas op die regte paaie gewys word…

Tienuur op die kop wil ek in my se stadige bakkie spring, en dan twee rubberstrepe al die pad los tot by haar suster se huis naby die Wilgers hospitaal.  Die Britse verkeerspolisie moet my op radar optel, soos die foto onder van facebook af gesteel (David Nilsen’s photos…) vanoggend getuig…

Ek beplan om die spoedgrens deeglik te oorskrei. En teen so ongeveer 12h00 in Bose Stad nommer 2 aan te kom, en haar in my arms toe te vou…

Sy gaan waarskynlik honger wees- ek het op presies dieselfde vlug teruggekom van Spanje af, en ontbyt was êrens rondom die bokant van Botswana bedien…

Ek moet ook vir Matriekmerrie ‘n gloeilamp vir haar scooter se flikkerlig koop. Dié goed kry jy nie noord van Zambesiweg en suid van die Savannahsentrum nie…

 

 

Ek het verskoning ingesit vir die twee vergaderings wat ek sou moes bywoon in my hoedanigheid as “Voorsitter van die Kerkraad…”  Die res van die dag is oop. Maar êrens op die platteland is vier monstertjies wat ook verlang na hulle se mammie…

So, geliefde susters, met al hierdie informasie tot u beskikking, wat beveel julle aan?

Sushi by CTFM? Ander voorstelle mbt eet, drink, blomme, ens?

Hier onder is wat ek ook beplan om tussen 10 en 12 moreoggend te doen- waarsku solank die Metropolisie om ‘n veilige afstand te eerbiedig…

 

 

Ekskuus- die foto is nou nie so inspirerend soos wat Jeanne sou opsit nie… 🙂

Blog challenge: Wys my joune en ek wys jou myne.

Soos versoek deur Modderkoekie…

Dis eintlik baie maklik- alles in my lewe is omtrent oud en redelik opgebruik… As ek dit op die oomblik kon gebruik, sou ek ‘n foto van my ou Beetle ingesit het- maar hy is nie op die oomblik in diens nie.

Gemaklike ou klere en goeters…

Die oudste hiervan is die trui. My ma het hom vir my in die laerskool al gebrei. Dit is êrens in die geskiedenis in warm water gewas, en is daarom nog steeds moontlik om aan te trek.  Net as ek by die huis is, en lus is om vriende oor te nooi, sal ek hierdie trui nog in die winter aantrek. Hy werk lekker vir langs my braaivleisvuur…

My Aprilia Denim raak ook nou lank in die tand. Ek het eendag, op ‘n Harley Davidson dag by Gerotek, in die bout wat uitsteek op ‘n teerpaal vasgeloop, wat dadelik ‘n groot winkelhaak in my toe splinternuwe denim ingeskeur het. Ek het toe maar vir ‘n vriendin gevra om vir my hierdie Aprilia embleem te maak en vas te werk op my denim. Die denim is nou klaar, die bodem val heeltemal uit. So binnekort gaan daardie embleem op my motorfietsbaadjie vasgewerk word.

Die Weermaghoed is die een waarmee ek diensplig gedoen het. My van is op die ander kant vasgewerk. Ek gebruik hom graag as ek gaan jag. Maar omdat my hart baie klein geword het, en ek nie meer so lekker kan raakskiet nie, het ek sewe jaar gelede laas probeer om ‘n bok te vermoor.

Al drie hierdie dinge is van my ou gunstelinge, wat die lewe sommer net beter laat voel as ek dit aanhet!

Hoe lyk dit, vriend Wosonki, gaan jy volgende vertel?

Vrydag, o Vrydag, o wondersoete dag…

Nou ja, vandat Rebekka Black daardie liedjie oor Vrydag gepleeg het wat aangewys is as die slegste lied van die millenium, sal Vrydag seker nie heeltemal ooit weer dieselfde kan wees nie.

Anders as wat sekere filosowe mag dink, werk onse beroep werklik so bietjie meer as net daardie beroemde uurtjie op Sondag.  Soos die ou grappie wat almal ons mos maar vertel dit wil hê- onsigbaar in die week, onverstaanbaar op Sondag, en onbetaalbaar aan die einde van die maand. Eintlik het ek nou gemik na die ander ene toe- die een van net ‘n uur per week werk, en dan nog die helfte van die tyd met my oë toe ook. Daar is mos seker maar grappies oor elke moontlike beroep, en hierdie, saam met die pampoen in die kattebak storie hoor ons by elke huisbesoek, en dan lag ons beleefd…

Omdat ons ook dikwels dinge oor naweke aanhet, en so nou en dan ‘n man se vryheid opneuk deur hom in die eg te verbind, gebeur dit dikwels dat ‘n mens sewe dae ‘n week kan werk. Maar dan is ons nog getroud, gelukkig nie selibaat soos ons Roomse kollegas nie. En as ‘n man getroud is, dan word jy mos ” ‘n mens”.  ‘n Mens moet darem vir ‘n slag die stukkende gloeilampe vervang, die los deure vasmaak wat die tieners toegeklap het, die gras sny, die geute op die dak skoonmaak,  al derglike dinge wat gewone ouens maar Saterdag tussen die Super 15 en die Tri Nations moet inpas. Pastoriemoeders word net so omgekrap soos hulle susters in die gewone huise…

Daarom het my Kerkraad, in al hulle wysheid besluit die Goeie Boek sê iets van ‘n rusdag. En daarom is Vrydag my rusdag, die minste moontlike skade op die gemeente se voortbestaan, want Vrydagaande wil niemand die dominee sien nie, behalwe as die drank te veel gevloei het en mammie vir pappie geblissem het…  Geen regdenkende mens wil op ‘n Vrydag huisbesoek hê nie. Behalwe… ag kom ons los dit…

Daar was ook die hipervromes onder ons wat vreeslik graag op ‘n Vrydagaand ‘n Biduur wou hou. Iets van die week wat te besig is, en die beste tyd wat jy vir die Here gee. ‘n Paar van hulle was ook redelik omgekrap toe ek verduidelik dat ek nou soos my naamgenoot viervoet vassteek, ek wil ook een aand by my braaiplek sit, met my biertjie in die hand.  (Son het al gesê sy het nog nie voorheen van ‘n dominee en sy bier gehoor nie. Martin Luther het omtrent in elkeen van sy briewe aan sy vrou geskryf hoe hy elke dorp en stad se plaaslike bier bevind het, nadat hy dit beproef het. Die drink van bier is dus heel Gereformeerd…)

Nou ja, Vrydag is my afdag. Behalwe as dit kerkbasaar is. Behalwe as daar iemand te ruste gelê moet word. Behalwe as iemand sterwend is. Behalwe as iemand ernstig siek is. Behalwe as sekere mense se aambeie jeuk, of toonnaels ingroei. Behalwe as my kollega die Daniëlkonferensie vir die streek help reël het, soos hierdie naweek.

Ek kan ten minste op Vrydag van natuurlike oorsake wakker word. Ek kan rustig in die bed bly lê, terwyl ek dink oor die sin van die lewe, die antwoord op wêreldarmoede, die dreigende aardverwarming, en die eksistensiële krisis van Nietsche, en al derglike nietighede, voordat ek myself deur die stort sleep, ommelet maak met kaas en sampioene, en my Ricoffy sit en drink.  Dan kan ek gaan kyk wat ek weer alles verkeerd gedoen het teenoor die mensdom op my litnet blog, en dan, omdat ons sulke reuse salarisse verdien, op my motorfiets klim en by Wiesenhof die “Three mug blend” van die dag gaan drink, terwyl ek hulle Beeld en FHM deurblaai.  Met die kafeiene vlakke wat nou op standaard is (laat my gloei in die donker) en met my gemoed in ‘n goeie stemming, sal ek dan vir mamma en die kinders kos maak vir middagete… (behalwe nou as dit basaar is, of iemand te ruste gelê moet word, of iemand sterwend is… ) Nou ja, skies my lief, dit gebeur eintlik baie selde, en ek voel nou skuldig daaroor…

Vrydagmiddag doen ek wat Dominees gewoonlik op hulle afdag doen. Ek maak preek vir Sondag. Omdat ek van Maandag tot Donderdag rondhardloop in die gemeente om mense van hulle swaar verdiende geld te verlos, soos wat my goeie vriend en skaduwee op litnet graag sê. Of, as ek nie lus is vir preekmaak nie, vat ek my vrou vir koffie by die kwekery…  Of ek gaan ry op my motorfiets. Of ek lees nog ‘n blog of ses, of ‘n goeie boek- Wanneer gaan Nelson de Mille weer eendag iets skryf?! Ek is mal oor sy sarkastiese helde, en wens so niemand op litnet het geweet wat my beroep is nie, dat ek ook kon antwoord uit die hart uit op al die aanklagte daar…

Vrydagaand is heel Ou Testamenties. Dit is die aand van die Versoeningsoffer. Dit werk so- die hele week lank het die ses pastorielede rondgehardloop in elkeen se eie rigting.  Harde woorde het soms geval, veral tussen die jongste twee wat tot baie onlangs ‘n kamer moes deel.  Pappie en Mammie het tussen skool en kerk ook heel dikwels net vir mekaar gewaai in die gang.  Daarom, op Vrydagaand, as dit nou nie kerkbasaar is nie, en niemand is sterwend nie… dan pak ons die altaar met brandhout. Die vuur kom nie uit die hemel uit neer nie, daarvoor moet ons soms nog Lion Matches gebruik, wat hoeka nie meer soos vanmelewe se Lion Matches presteer in hulle skeppingsdoel nie… Ons dra by tot die aardverwarming, maar doen dit darem deur die gewraakte indringerspesie Sekelbos te help verminder.  Dan, jammer Boeddistiese vriende, neem ons ‘n snit van die been van ‘n bees of ‘n vark, as dit baie goed gaan, een keer per jaar rondom bonustyd, dalk van ‘n skaap, of as dit baie sleg gaan, van ‘n hoender. (JA, soms is dit net ‘n snit uit die been van ‘n hoender tot ons beskikking).  Dit word op die altaar geplaas, en geoffer tot medium rare, behalwe nou in die varkenhoender se geval. Pap en sous word gemaak, en dan sal die volk feesvier. Met ‘n botteltjie rooi- Slanghoek Camerca, Nederburg Cabernet Sauvignon, KWV Roodeberg… nee, nou droom ek- P ‘n P se klein boksie dooswyn vir R12,55.

So nou en dan is dit die enigste aand wat ek vriend ook kan oornooi. En daardie braai saam met vriende is ‘n hoogtepunt in my lewe! Wat ongelukkig nie so gereeld gebeur nie. Want, as die kerk nie ‘n mens besig hou met die kerkbasaar, die sterwendes, die siekes… ens nie, dan steel die skool my kinders! Hier op die platteland is die kinders net nooit tuis nie. En die vriende se kinders is ook weg. So, soms braai ek saam met vriende. En dit is baie, baie lekker om vriende te hê, en nie net kerkstories te praat nie…

Vanaand gaan nou ‘n heel interessante aand wees in onse huis. Ek is by die Daniëlkonferensie. En ek is saam met my seun by die afsluitingsbraai van die Laerskool se Eerstespan (Rugby). Wat dit so interessant maak, is dat ek by albei gelyktydig is. Vyftig kilometer uit mekaar uit. Mevrou Dominee (o, sy gaan my hard slaan…) vat Ousus Pretoria toe, want dié wil in matriek al saam met ouer vriendinne (op Tukkies)  na die Kovsie-Puk Intervarsity toe gaan in Potchefstroom. My gebedstyd gaan weer dramaties styg, want ek onthou Intervarsity nog so goed…  Daardie Reitz manne wat die Labrador soos ‘n skaap gebraai het… Jan Twak was nie in Reitz nie, onthou ek skielik…

Ek het nog nie die vaagste idee wat gaan Ouboet en Kleinboet vanaand aanvang nie. So, dis nog ‘n Vrydagaand in my lewe wat ons nie saam as gesin by die Versoeningsoffer gaan uitkom nie…

Ek moet net bieg, dis so lekker om op ‘n Vrydag die foon te ignoreer, want ek mag…

Ek wens nou net ek kan daardie Rebekka Black se “Friday, Friday…” se melodie uit my kop uit kry, sonder die aanwending van alkoholiese verversings….

Geniet jou naweek!