Vadersdag…

Ek het gister een van die mees interessante Vadersdae in my lewe gehad…

Na ‘n nagmaalsdiens in die gemeente het ek die wonderlike voorreg gehad om twee dogtertjies, die pragtigste niggies, te gaan doop op hulle oupa se plaas. Voor die Inkwisisie op my neerdaal- op die plaas is ‘n kapel, en my kerkraad het dit ‘n amptelike erediens van die gemeente verklaar…  Die setting is baie mooi, die plaas kyk uit op ons dorpsdam, is onder andere ‘n vierster gastehuis, en die kapel is onlangs gebou in ‘n baie outydse styl, met ‘n venster agter die kansel wat oor die dam uitkyk. Die geleentheid was so spesiaal, met familie en vriende uit soveel verskillende kerklike tradisies daar saam verenig deur die liefde vir hierdie twee kosbare klein mensies.  Soms geniet ek my werk baie!

Daarna moes ek huis toe haas. Want ek is nou amptelik besig om oud te word. Die saak staan so: behalwe nou vir jongste wat verlede jaar in Standerd 2 vier meisies gehad het, het die res van die kinders nog nie ernstige verhoudings met die teenoorgestelde geslag aangeknoop nie. Nou ja, jongste is nie so erg soos wat dit dalk klink nie, ek vermoed ‘n verhouding in Standerd 2 is om jou toebroodjies vir iemand tydens pouse te gee, en ‘n tjoklit op Valentynsdag.

Nou ja, die saak staan so: ‘n rukkie gelede wys Ouboet vir my wat gaan op Ousus se BBM Status aan. ‘n Jonge heer soen haar op die neus, en dit lyk asof sy daarvan hou!  Nou ja, vir enige dogter se pa is dit mos erg. ‘n Mens wil dadelik gaan haelgeweerpatrone koop en ‘n stomp mes gaan soek.  Maar dan skop ‘n gedagte in: lank lank gelede, many moons ago, was ek en Mamma ook jonk…  Erens moet die jonge dame seker maar iemand raakloop wat my as die nommer 1 man in haar lewe gaan vervang, dit is die verloop van die lewe…  En so vra Ousus versigtig of ek tuis is Sondag, sy wil vir die dag deurkom.  Aanvanklik was my vermoede: seker maar vir Vadersdag! Ek is sommer aangedaan dat sy vir haar bejaarde vader wil kom kuier…  Nog later skemer dit deur, sy bring ‘n vriend saam. Nou kyk- dis waar ‘n mens een van daardie groot tektoniese plaatverskuiwings in jou lewe beleef. Sy het nog nooit voorheen “‘n Vriend” saamgebring huis toe nie.  Liewe ouers, die lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie!  Ek wil nog meer haelpatrone gaan koop, maar Mammie sê sag dog ferm: “Be nice…”

Nou, terwyl ek gister oggend die twee babas so natgooi weet ek- ek moet nou huis toe ry, en “Die Vriend” gaan ontmoet… Wat op aarde sal my dogter nou huis toe sleep?  Ek wil sommer daardie drie bladsye toestemmingsvorm om by my dogter te kuier aansoekvorm by y kollega gaan haal- daardie een wat oa vra “Wat verstaan jy, in jou eie woorde, onder die begrip “kastrasie”?

Maar nee, so mag ek mos nie wees nie. Ek deel met die oupa van die twee doopbabas my groot dilemma, terwyl hy nou al drie dogters aan ander ouens afgestaan het. En hy vermaan my net ernstig- ‘n pa weet nooit wanneer dit “Die Een” is nie. Daarom is die eerste ontmoeting en openingswoorde van groot strategiese belang vir die res van die nageslag se bestaan. Dis maak of breek in die verhouding tussen jou en potensieële skoonseuns…  Dit maak my sommer nog meer onstabiel- maar ek het darem die pad huis toe om myself naais te kry…

Toe ek by die huis aankom, sien ek die meneertjie op die stoep, besig om saam met my seuns vuur te maak om vir my vleis te braai. En my seuns lyk of hulle nog nie saamgestaan het en hom gebl… slaan het nie.  Dis al ‘n goeie teken. My liewe vrou lyk ook nie te moerig nie.  Met ‘n glimlag wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, kom Ousus vir my hallo sê. Sy het vir my ‘n Vadersdag geskenk. ‘n Pragtige foto van my en haar, toe sy nog ‘n klein dogtertjie was, Sy lyk pragtig op die foto, ek lyk Derik…

Daarna kom Die Vriend, en ek kan sien die jong man is baie gespanne om Haar Pa te ontmoet. My hart word sagter- ek onthou toe ek in 1987 vir die eerste keer na Orkney toe gery het om vir Haar te gaan kuier by haar ouerhuis, en daardie vrees en bewing om Haar Pa te ontmoet. Nou is ek Haar Pa!!!  Maar die jong man het ‘n goeie bottel rooiwyn vir Die Oom saamgebring… Ek kan sommer sien hy kom uit ‘n goeie gesin uit, met sulke bedagsaamheid.   Ons gaan sit in die lapa, en hy en die seuns braai vleis, terwyl Ousus iets babbel oor projekte wat sy more moet inhandig. Ek vra maar vir die besoeker my normale vrae: Waarmee vang jy babers? Wie is jou gunsteling in die Moto GP?  Julle weet- daardie vrae om die dieptes van ‘n man se hart te meet…

Hulle kon net tot so drie uur kuier, en daarna terugjaag Gomorrah toe met die projekte en sy laaste vraestel.

Gisteraand bel ek my ma vir die weeklikse gesprek. Sy vra: het jy Ousus se facebook onlangs gesien?  Ek gaan kyk, sien die link na die jong man se facebook toe, en gaan spioeneer soos ‘n waardige pa betaam.  En daar is dit toe. Die jong man het vir MY Dogter met rosette of iets ‘n uitstalling gemaak wat vra: A, sal jy met my uitgaan?  Die jong man se hart jubel as hy aan die wêreld verkondig- Sy het JA gesê…

So daar is dit nou, liewe vriende. Die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.  Ek is nie meer die Main Man in my dogter se lewe nie. Maar weet julle: Dis orraait. Dit hoort so. Ek lê gisteraand in die bed en dink: Ek hou van die jong man. Sal hom ook graag beter wil leer ken, maar ek hou van wat ek sien.  Ek hoop nie dié tweetjies breek mekaar se harte nie. Maar ek is tevrede…

 

Op hierdie oomblik moet ek nou gaan inpak. Ons het weer ons jaarlikse Ringsitting. More sit ons saam met Ouderlinge en waardige Dominees agter groot kerkmaskers, praat in vreemde woorde en ander stemtone oor die stand van die Koninkryk in die Bosveld. Maar vandag kom die leraars alleen bymekaar. Ons gaan mos preke uitruil soos elke jaar, sien? En ek gaan weer die swakkes kry… 🙂 Ou grappie. Wat doen dominees saam voor ‘n Ringsitting? Ons sit mos daar in ‘n kring in ons swart pakke en wit dasse. Ons lees saam uit Calvyn se Institusie, Volume 3. Dan bid ons lank en aanhoudend saam. En dan drink ons tee, met koeksisters, net twee draaie anders lyk dit uitspattig…

Nee, vanmiddag is ons op ‘n Wildsplaas in die Bosveld. Ons vat kleinkaliber vuurwapens saam. Baie klein, soos in windbukse en .22’s. Dominees kan nie ammo vir iets groter bekostig nie, wat nog te sê bokke!  En ons neem geweerolie saam. BAIE geweerolie, want dit is baie stowwerig in die Bosveld vanjaar. En vanaand gaan ons om die groot kampvuur saam sit, en dit gaan die hoogtepunt van die hele RIngsitting wees, want daar, oor ‘n glasie hoesmedisyne, hoor jy ‘n kollega se seer, of sy vreugde.  Net jammer more kan nie ook so eg wees nie. Of kan dit?

Om weg te ry…

Gister het ek my dogter in Gomorrah agtergelaat.

Ons het huis toe gery, en dit was maar stillerig in die bakkie.

Reg oorkant ons kamer staan die deur oop- ‘n baie morsige kunstenaarstipe tiener se kamer. Die mure is vol geverf, die helfte van die huis se skottelgoed staan daar onder die bed en op die lessenaar. Verskeie buisies olieverf lê op die vloer rond, tussen ander projekte se verfspatsels. Stephanie Meyer se boeke lê al vier op verskillende plekke… Ek sal dit maar nie waag om weer ‘n foto te neem en op die web te sit nie, ek het dit eenkeer op facebook gedoen en toe kry ek groot pakslae…

Daar is die stemtoon van ‘n tienermeisie wat met haar pre-tiener boeties praat oor wat hulle alweer verkeerd gedoen het. Daar is die gestry oor watter DVD uitgeneem moet word, wie verantwoordelik was vir die skottelgoed se was, wie nou weer voorgetrek word. Dis nie meer in ons huis vandag nie. Skielik is die decibels baie laer in die huis.

Dan is daar die breë stroom geld wat die afgelope ruk in een rigting gevloei het. Registrasiegeld. Akkommodasie deposito, klasgelde vir die jaar,  geskikte rekenaar, versiening van ma se ou kar, begroting vir kos en petrol per week.  Saam met die boeties se registrasiegelde en skoolklere en skryfbehoeftes… alles op een slag…

Met al die spanninge en konflikte, al die groeipyne en dinge wat ons al lankal sien kom het, het dit uiteindelik gisteraand gebeur- my oudste het nou ‘n ander adres. Haar kamer in my huis  is nou verlate, sy sprei haar vlerke en vlieg op ander plekke as wat ek haar kan beskerm.

Gisteraand, om by die huis te kom, en die inwonertal is amtelik een minder- dit was vir my baie, baie sleg.

En vanoggend voel ek skoon babelaas. En ek het nie eers ietsie geneem om dit te verdien nie!

Ek sukkel om al my varkies te vang en op hok te kry. Die hamster neuk al die hele oggend van die wieletjie af. Dit terwyl ek vanaand ‘n belangrike vergadering het wat ek baie slim dinge op moet sê, en groot planne moet voorlê.  Dit terwyl ek more op versoek van my Bybelstudie groepie bietjie moet gesels oor die verskille tussen die klein- en die groot doop (ligte ou tematjie waaroor almal nog altyd saamstem, geen probleme nie…)

Almal oorleef hierdie fase, baie van julle is al lankal daardeur. My bek was ook baie groot oor hierdie onderwerp.

Vandag is vir my baie moeilik!

Dag 1 in die Hoërskool…

Vanoggend het my seun ‘n groot mylpaal in sy lewe bereik. Hy is vir die eerste dag Hoërskool toe. En dit is vir ons ook ‘n interessante gebeurtenis om te aanskou.

Gistermiddag was al die nuwe Graad 8 leerders saam met hulle ouers in die saal. Ons het gehoor van alles wat voorlê. Nee, daar is nie ontgroening nie, daar is wel ‘n induksieproses om hulle welkom te laat voel.

Hulle mag nog nie in hulle skooldrag kom nie, die eer moet eers verdien word. Hulle is vanoggend met grys skoolkortbroeke, en kaalvoet skool toe. Hulle dra blou T-Hempies, waarop sy ousus vir die skool ‘n spotprent geteken het van ‘n verwarde Graad 8 leerling. Hulle sal vir die volgende paar weke as “Ditsems” bekend staan, en ek gaan sukkel om hierdie woord elke keer reg uit te spreek. Moreaand is daar ‘n deurnag kamp, glo om die skoollied en die volkslied en die Ditsemlied te leer. Uit twee vorige ervarings weet ek dat hulle wel slaapsakke saamneem, maar dit nooit gaan gebruik nie.

Tog vir die induksie of orientering onder baie gekontrolleerde omstandighede plaas. Ja, die bloedjies gaan soms bietjie ongemaklik wees, en nie meer so grootmeneer voel soos verlede jaar as die grootkoppe van die Laerskool nie. Hulle gaan maar hulle plekkie in die sisteem vind, en van onder af begin om nuwe netwerke te bou, nuwe ervarings te geniet, nuwe geleenthede te ontgin.

Dit was vir my gister net weer interessant hoe die ontwikkelingsvlak tussen seuns en meisies in Graad 8 verskil. Die meisies begin al volwasse lyk, en lyk of hulle so gereed is vir die nuwe ontwikkelingsvlak in hulle lewens- jonge dames. Die seuns daarteenoor lyk nog soos regte klein seuntjies, nog pure kind.

Daar gebeur darem so baie tussen Graad 8 en 10 in ‘n seun se lewe! Sy Graad 10 boetie is nou ‘n ent langer as ek, en ek gaan baie binnekort die armdruk en stoei begin verloor…

Dit herinner my nou aan ‘n daggie in 1981, 31 jaar gelede hierdie tyd, toe ons as Standerd sessies opgeruk het Hoërskool toe. Ek onthou dat ons gedink het ons is vreeslik grootmeneer.  Ons het gereken die matrieks gaan ons sweeties vat. Ons het die dag voor die skool begin het, ure geneem om gate in toffies te maak, en dit vol Tabasco te spuit, en dan toe te knyp. Ons wou so ooglopend met die lekkers op die speelterrein gaan rondloop, en die matrieks uitlok om ons lekkers te steel. En toe wou die matrieks nie meer toffies eet voor hulle pelle nie…

‘n Mens het darem so verdwaald en verward gevoel in daardie eerste dae in Standerd ses. Ek het die eerste dag in die houtwerk klas ‘n pak slae gekry ook om my te verwelkom in die Hoërskool. Ek het ‘n winkelhaak gevat en gemaak of dit ‘n pistool is, en die meneer wou seker ook maar sy merk maak. Alle aspirasies vir houtwerk is daardie dag uit my uitgedonder… Vandag is ek nogal baie spyt daaroor.

Ek kon ook in die Hoërskool met sportsoorte begin wat nie algemeen bekend is nie. Ek het in Standerd 6 en 7 geskerm vir ‘n sport, en was regtig redelik goed daarmee. In Standerd 8 het ek my gesteur aan groepsdruk, en eerder gaan derde span rugby speel, want net Engelse en moffies skerm… Nog ‘n groot foutjie in my lewe…

Ja, daardie eerste dae in Standerd 6 was verwarrend en skrikwekkend, en tog ook ‘n noodsaaklike deel van my vorming as mens. Nou is dit my seun se beurt, en hy lyk so jonk daarvoor…

Dis waar ‘n ouer ook maar soms moet terugstaan, en jou kind toelaat om sy eie battles te baklei. Met die wete dat hy huis toe kan kom na ‘n moeilike dag, en ‘n pa agter hom het wat omgee en verstaan…

Matriekuitslae se dinge

En so gaan die gang van die geskiedenis, en sleur ‘n mens deur al die stroomversnellings van jou lewe heen. Ek onthou hierdie tyd van my lewe so goed- daardie gewag op die matriekuitslae. In my geval was dit baie spannend, met rede was ek bekommerd of ek die matriekvrystelling vir universiteitstoelating gaan kry. Ek en leer was nie groot vriende nie, ek en my motorfiets en die oop pad was…
Die groot dag het uiteindelik aangebreek, die spanningskol op die maag was baie erg. Toe ek dit in die hande neem, uiteindelik die groot verligting- 4 C simbole, en 2 E’s vir Wetenskap en Rekeningkunde… Dit was amper!

Vanoggend sesuur is Matriekmerrie se punte vrygestel. Sy leer net so min soos haar pa. Maar het darem haar ma se verstand gekry! Na al die jare se deurskuur tot in graad 10 het sy bietjie vasgetrap, en vier onderskeidings huis toe gebring, vyfde met 1 persent gemis en slegste vak 68 persent, sy kon die vraestell nie klaar kry nie.

Verskoon my maar vandag, ek gaan nou eers op die wolke rondloop, en dan verder met Nedbank oor ‘n studielening gesels…

Lekker dag daar by jou!

Die Bestuurslisensie…

Die een ding waarmee ek my lewe lank al mee sukkel, is ongeduld. En die een ding wat ek al lankal sien kom, is hierdie storie van kinders wat moet leer bestuur.

My skoonpa het nie te baie oor hierdie dinge omgegee nie. Ons was al getroud, toe weet my vrou nog steeds niks van bestuur af nie.  En sy het maar by ‘n bestuurskool gaan leer om haar lisensie te kry, toe sy in haar destydse werk as streeksbibliotekaris moes begin rondry…

Sy het nog altyd gesê ek moet net nooit die kinders self probeer leer nie.

En toe Matriekmerrie (wat gaan haar naam volgende jaar wees?) uiteindelik ‘n leerlinglisensie gekry het, raai wat het gebeur…

Matriekmerrie het haar pa se persoonlikheid…  Skielik raak Ma die ongeduldige een wat nie saam met haar kan ry nie. Raai wie is toe die toonbeeld van geduld? Dis nou behalwe as sy in reverse probeer sit terwyl die kar nog vorentoe loop, en die ratkas daardie heerlike demoniese skreegeluid maak, dan verloor ek dit vir so ‘n oomblik…

Ons het regtig nodig dat die jonge dame ‘n lisensie moet hê, sy gaan volgende jaar 7 km van haar studeerplek af woon in Gomorrah, en die busse is glo nie altyd so betroubaar nie. Ons oorweeg maar om haar ma se kar vir haar te leen, en dit laat my met ‘n reuse leemte in die een finansiële deel van ons lewe… waarmee gaan Ma rondry?

Die groot dag het vinnig nader gekom. Die spanning loop hoog. Ons het maar ‘n bestuurskool gekry om te help met die afronding van die werftoets. Jongedames en parallel parkering is nie altyd sinonieme nie…

En so breek gister toe aan. My oudste kind gaan vir haar bestuurslisensie toets. Nou is daar ook maar interne politiek. Die gerugte wil dit hê dat die swart verkeersman die blanke kinders maklik laat dop. Die gerugte wil dit hê dat die groter blanke een maar redelik bedonnerd kan wees, en kinders senuweeagtig maak. En die ander blanke een het na bewering al vir sy eie vrou ‘n kaartjie geskryf toe sy oor ‘n stopstraat gery het.

Nou kyk, hier in onse dorpie is daar maar min afleiding. Daar is heelwat mense wat dit regtig mis dat daar nie ‘n Ster Kinekor naby is nie, en ook nie groot malls is nie. Hier is nie ‘n Mugg & Beane binne 100 seemyl nie.  ‘n Mens kan ook net so lank sit en kyk hoe die lorries na Medupi kragstasie toe deur die dorp verby kom. Daarom gaan party mense en pak ‘n piekniekmandjie, en gaan sit onder die bome by die verkeersmense se toetsterrein, en kyk hoe die kinders hierdie tyd van die jaar lisensies probeer kry.  Die ouer tannies sit en hekel doilies, die jonger manne sit daar met die koelboks, en gasbraaiers, so langs hulle ou Datsuns…  En as iemand op die werf iets regkry, dan gooi hulle ‘n Mexikaanse golf. Punte uit tien word opgehou. En in die plaaslike koerant word dan deeglik gerapporteer oor elkeen wat die werf betree het, se prestasie. Die verkeersmanne word gereeld op die voornaam in die plaaslike koerant aangespreek, gewoonlik gekoppel aan donker Afrikaanse woorde.

Met al hierdie dinge in gedagte is dit baie spannend vir onse kinders om ‘n lisensie te gaan doen.

Met al daardie senuwees het ons maar weer die bestuurskool se Chevvy Spark gehuur vir gister, ma se Corolla het ‘n langer alie, en het nie kragstuur nie. Dit maak die parallel parkering mos soveel moeiliker.

Ons arriveer op die toetsterrein, en hou met angstige oë die verkeersmanne se kuierplekkie dop. “Who will it be…” Dit is toe gelukkig die Regverdige Een…

Matriekmerrie moet nou eers rondom die Chevvy Spark stap, en alles sê wat elke bestuurder elke keer outomaties kyk voor ons in die bestuursitplek klim om kafee toe te ry vir brood. Al 25 stappe. Sy het so bietjie gesukkel met al die souse wat in ‘n enjin gegooi word om die ding te laat werk, en die tou wat die fên laat draai wat die bestuurder koel moet hou. Maar verder darem die eersterit inspeksie mooi deurgekom. Pa gaan sit in die bakkie onder die boom tussen al die ander toeskouers. Ek koop ‘n hotdog by die stalletjie, en kry ‘n Draught bier by die biertent vir die senuwees…

 

Matriekmerrie ry tot teen die bult waar sy sonder om terug te rol, moet wegtrek. Sy trek daardie Spark se handrem tot teen die dak vas.  Effense ou probleempie, die Chevvy se kontroles sit presies andersom as die Corolla s’n. Die venser word ‘n paar keer gevee deur die ruitveërs waarvan die rubber steeds in aanvaarbare toestand is… Die petrolpedaal word vasberade vasgetrap, die koppelaar gelos soos wanneer ‘n mens agterkom die stok waarop jy in die jagveld gestaan het, was toe al die tyd ‘n pofadder… Die handrem word gelos, en met skreeuende bande verlaat die Chevy die aarde oor die bult, sonder om ‘n enkele millimeter agtertoe te rol. Ek is so trots op my merrievul- sy “ramp” daardie bultjie soos ek destyds op my eerste scrambler gehoop het om te kan ramp. Gelukkig land sy binne die werf sonder om die randsteen te tref- darem nog nie ‘n diskwalifikasiepunt nie.

Volgende aan die beurt is die agteruit stoot. Dit word gedoen volgens die hele K53 metode. Spieël spieël blindekol sein trurat handrem los, die hele rympie. Uiteindelik is die Chevvy van albei kante veilig tussen die wit paaltjies in, sonder om een fataal te stamp…

Driepuntdraai volgende. Gelukkig onthou sy om nie soos haar pa ‘n handbriekdraai te doen en in een beweging die 180 grade tussen twee nou randstene om te draai nie. Sy onthou die voorskrifte, al mis sy die randsteen met enkele nanomikromillimeters… ‘n mis is ‘n mis.

Dan die parralelparkering, wat sy, haar ma, haar ouma aan vaderskant, haar ouma aan moederskant, haar vader, haar broer aan vaderskant, die grys mannetjieskat, die grys wyfiekat… die hele familie met ander woorde, gevrees het…

En hier het dit gegaan soos ‘n All Black voorspeler se wittebrood- hy is lelik maar hy is in…

Van albei kante af het die Spark dit tussen die paaltjies ingemaak.

Teen hierdie tyd was ek al in ernstige nood vir mediese behandeling daar onder die bome. Dit is regtig senutergend as jou bloedjie so daar op die werf in die hande van die wrede Spietkop is, en die randstene so self rondspring.

Die spietkop staan en skryf op sy klipbord. Uit vorige ervaring weet ek daar op die kantlyn- hierdie is ‘n kritieke oomblik. Of hy stap met die klipbord vasberade terug na waar spietkops graag tee drink, en dan gaan ek sukkel om ma en dogter te troos. Of hy klim in die kar, en laat my kind los op die onskuldige gemeenskap van Bosveld Suid, om te kyk of die plaaslike bevolking nog dieselfde hoeveelheid mense gaan wees as sy terugkom.

GElukkig klim hy in langs haar. Ek sms vir Ma- sy is deur fase 1!

Daar is sekere oomblikke in ‘n man se lewe wat verskriklik lank voel. Daardie oomblikke wat jou vrou in die ginekoloog se ondersoek kamer in verdwyn. Daardie oomblikke wanneer hulle jou nog nie in die kraamsaal toelaat nie.  Daardie oomblikke wanneer jy voor die skoolhoof se kantoor wag…

Daardie halfuur wat Matriekmerrie en die Verkeersman in die verkeer gaan rondspeel het, was verskriklik lank…

Hier gooi my jongste nou net die badkamer venster uit… pret in die pastorie…

 

Uiteindelik, na baie, baie sweetdruppels en washers geknyp, kom die Spark terug op die werf. Die Spietkop lyk moerig. Matriekmerrie lyk ook moerig. O fotosintese… In hulle kantoor begin hy haar vertel hoe baie foute daar was op die pad. En my moed is in my skoene. Wanneer de ongeluk kan ons weer ‘n afspraak kry?

Maar na ‘n goeie uitka… boutersessie besluit hy tog om die lisensie toe te ken. Nou kos dit nog R217 ekstra om ‘n lisensie uit te reik. R1000 vir die dag daarmee heen met karhuur en derglike sundries…

Maar die vreugde is groot!  Sy kan uiteindelik op haar eie motor bestuur!

Sy en haar boeties het die middag op hulle eie KFC toe gery vir draairoomyse.

Praat van gemengde gevoelens… Skielik kom ek en Pastoriemoeder agter dat ons kinders vir die heel eerste keer ooit ons nie nodig het om dorp toe te gaan nie. Skielik het ons in ‘n nuwe fase van ons lewens inbeweeg. En skielik is daar nog ‘n klip op my hart, saam met die een van die matriekafskeid, en die laaste matriekvraestel…

Dit bly ‘n groot aanpassing om te besef ‘n mens se oudste is nou 99.89 % klaar met die ouerhuis…

Lisensie kry flashbacks

Ek sit nou hier by die toetswerf en kyk, terwyl Matriekmerrie haar eerste amptelike bestuursles kry. Sy moet gedurende Desember haar eerste en hopenlik enigste toets slaag om op haar eie te mag bestuur.

Op die oomblik sukkel die instrukteur om haar daardie tru teen 90 grade in die paaltjies in te leer. Eish, hier lê nog baie werk voor!

Ek het kort na my 18e verjaardag my lisensie vir motor gekry, dit was vir my ‘n lewensbelangrike saak.

Op universiteit moes ek my groot motorfiets lisensie kry. Leerlinglisensies word al hoe makliker hoe langer jy met ander voertuie reeds op die pad is. Toe ek vir my lisensie gaan daar by Bloemfontein se Hamilton toetsgronde, het ek dit baie gelukkig getref. Net voor my het ‘n Sotho dame die spietkop spierwit geskrik afgelaai met ‘n Kode 10 voertuig,toets duidelik gedop. Ek wonder nog steeds wat het daar gebeur.

Die spietkop kom bewend na my kant toe gestap, clipboard in die hand. “Boetie, kan jy hierdie ding bestuur?” Vra hy met ‘n bars stem. Ek skud entoesiasties my kop op en af. Die omie sê: “bewys dit. As jy tot by daardie stopstraat kan ry, omdraai en lewendig terugkom, skryf ek jou lisensie sommer dadelik uit.”. Ek lewe nog, so ek is groot dank aan daardie Sotho dame verskuldig! Dit was soveel makliker as my karlisensie!

Die volgende jaar het ek ook my Kode 10 daar gaan doen, om soos baie ander studente my brood en botter te verdien met busbestuur.

Maar daardie oorspronklike vrees om ‘n paaltjie te stamp, en gedop te word, het steeds met my gebly.

Merrie is nog steeds besig met dieselfde maneuver! Gaan die kind ooit ‘n lisensie pass?

Hengel is groot pret, al byt die vis nie…

So met al die gestoei in die lewe het dit tyd geword om vir ‘n slag ‘n ordentlike gesinsdag te beplan. Ek het toe nie Rhino Rally toe gegaan nie, al wou ek ook so graag daar by die aksie wees. Ons het toe ook nie gemeentekamp toe gegaan nie.

 

Verlede week hou ons een middag na skool ‘n huisvergadering. Almal kry kans om te sê wat hulle graag Saterdag wil doen saam met die gesin. Sê ons as ouers: “Sit nou julle opsies vir ons op die tafel…” maar jongste sê nee, hy kan nie. Want die tafel is vol skottelgoed, boeke, helmets ens…  Daar is nie plek om nog iets op te sit nie. Ek dink dit is dalk die probleem in die gesin op die oomblik- ons almal se tafels is te vol om nog iets op te sit…

 

Die voorstelle was uiteenlopend. Ousus sou graag Kollonade toe wou ry en fliek en uiteet (MYLE bo begroting… hier praat ons van ver oor R1000 petrol en tolhekke ingesluit…)  Krokodilplaas? Nee, sê die broers, oor hulle dooie liggame- hulle like nie krokodille nie.  Dit het iets te doen met ‘n ringskollega se broer wat eendag deur ‘n krokodil opgeëet was… hulle boikot alle krokodille en krokodilprodukte uit respek vir oom Mannetjie se nagedagtenis…

 

Wonder bo wonder besluit die gesinslede op ‘n visvang- ekspedisie. Ek het op universiteit laas visgevang. Dis twee dekades terug. Ek het drie seuns. Ek het al vir elkeen van hulle ook ‘n visvangstel gekoop.  En vir hulle hengeluitstappies van tyd tot tyd hoeke, sinkers, swivels en lyn…  Ek en Ma het buite stemming gebly- dis die kinders se dag. En ousus het verbasend genoeg ingestem…

 

Saterdagoggend breek aan. Teoreties besit ek vier visstokke en katrolle, en elke seun een stok en katrol. Erens is ‘n “keepnet” en ‘n vangnet in die buitekamer. Ons begin die toerusting bymekaar sit. Raai wat is oor? Een heel visstok met katrol. Nog twee heel visstokke- katrolle MIA of stukkend. My Penn katrol is deur IEMAND stukkend geslaan met ‘n hamer. My lang seestok se punt is afgebreek.  Ons gaan nie regkom met een stok nie. Ek gaan koop maar nog ‘n stok, en twee katrolle.

 

Ons gryp my hengeltrommel, laai die gasbraaier en kampstoele in, die stokke, sonbrandroom, en al derglike noodsaaklikhede om as hengelaars beskou te word…  Ons kom by die plek waar ons graag wou hengel, waar daar wel vis is. Nee, die plek is toe vir ‘n privaat funksie. Ons gaan na die tweede keuse toe- gemeentelede se lodge op die dorpsdam se oorkant- sorry nee, hulle het ‘n troue vandag. Kom by die derde plek aan- nee jammer, dis privaat grond, en hulle is nou besig daar.  Ek begin histeries huil op my vrou se skouer- het ek hiervoor my Rhino Rally opgeoffer? Nee, nie heeltemal nie, ek sukkel ook maar met die huilbesigheid.  Maar gelukkig ken ek een van die mense by die privaat oord. En hy verduidelik dat ek 600 m verder ‘n verskuilde paadjie sal kry reg tot teen die dam, waar dit munisipale grond is. Daar sal ons regkom.

 

So ploeg ons met die Drifter deur die modderpad, dit het toe wel goed gereën. Ons kry ‘n geskikte plek. Pak die tafel en stoele uit, stel die gasbraaier op, smeer die kinders met sonbrandroom, want ou Spikes is maar moeilik so deur die wolke heen…

Kry die stokke gereed, maak die vistrommel oop… en verloor dit heeltemal. Die trommel is dolleeg! Daar is nie een van die meer as 120 hoeke oor nie. Geen sinkers nie. Geen swivels nie. Al my kunsasies is weg, daar lê net ‘n stukkie glimwurm op die bodem en lag vir ons.  Al my poliesmanne wat ek self gemaak het is weg…  Ek wil begin wurg soos wat Homer Simpson gewoonlik vir Bart aanspreek… Ouboet bieg uiteindelik- dit was hy. Hy het al die goed in ‘n kleiner houer geplaas met sy vorige ekspedisie. En hy weet nie meer waar dit is nie.  Gelukkig het ek ‘n pakkie sinkertjies en ‘n pakkie hoeke  gekoop die oggend net om aan te vul. Dis nou die somtotaal van wat ons oor het om mee te hengel. Daar is wel nog een botteltjie ou mielies oor.

 

Na gespook is die drie lyne in die water. Maar daar is vier kinders. Nou wil elkeen ingooi en inkatrol. Ousus wil skielik ook hengel. Die middelste twee het die afgelope ruk soms saam met vriende gaan visvang, hulle kan amper al gooi. Maar die klein sinkertjies maak dat afstand nie ‘n opsie is nie. Ousus en Kleinboet kry dit reg om enige plek in die voorste 180 grade te gooi, gewoonlik oor die ander lyne ook.

 

Met die tekort aan stokke maak ek en Pastoriemoeder maar ‘n brunch. Dit kan ons goed doen. Kaasbangers, bacon en eier, jogurt en aarbeie, sap en koffie, lekker broodjies… ons fokus maar op die eet. Die kinders baklei. Ousus sit in die water op ‘n kampstoel en sê dis nou vir haar baie “Relaxing”. Boeties gooi vloermoere oor mekaar…

 

So teen eenuur het die reën weer teruggekom, en ons maar opgepak. Somtotaal van byte= 0. En tog het almal so deur die bakleiery heen dit skynbaar baie geniet.  OP pad uit ry ons verby ‘n goed ingerigte tent. Daar staan die man se stok sommer so skeef van ‘n byt. Aangesien ek hom ook ken, stop ons maar om die petalje te aanskou. Hulle is goed ingerig- professionele opset met alarms wat afgaan as daar ‘n byt is, duur stokke, groot katrolle.  Hulle roei die aas in tot bykans oorkant die dam, waar die groot visse glo skuil (nou hoekom het die seuns nog nooit iets daardie kant van die dam gevang nie?) Met ‘n heerlike gestoei kom die karp in- 8.6 kg.  Hy word versigtig uitgehaal, geweeg, foto geneem, natgegooi en weer teruggeplaas in die dam. O, daar is toe wel vis in die dam!  En net daarna gaan die volgende stok se alarm af. Dieselfde ritueel- 7.6 kg karp.  Daar was glo aan ‘n mooi baber en nog twee sulke karpe die oggend. Ons verneem hoe lank hy en sy vriend beplan om so te hengel, want ons sien die proviande is baie (die knaap drink gelukkig niks nie…) Nee, sê hulle, die plan is ‘n maand lank!  Word ek toe sommer jaloers! Wens ek kon ‘n maand lank op my alie langs water sit, buite selfoonbereik…

 

Ons het toe as gesin ook maar die Curriebeker eindstryd deurgeworstel- ek is ‘n oud Shark, dit was seer- baie geluk Leeu ondersteuners- julle span het dit toe regtig verdien!

 

Ons het heerlik gebraai die aand. En so is ons familiebande weer bietjie stewiger vasgemaak vir die laaste skof van November, wat maar ‘n lelike maand gaan wees op ons almal se dagboeke.

Sondagmiddag het ouboet ons amper afgeskryf in Ma se Corolla. Maar ons sal daardie een op ‘n ander geleentheid vertel. Ek en julle moet nou gaan werk, en ons brood in die sweet van onse aangesigte gaan verdien. Sterkte vir jou week!

Psalm 91 se beskerming teen gevaar in die dag?

Vanoggend het ek en my matriekmerrie baie vroeg vanuit die Bosveld vertrek Gomorra toe.

Die verpletterende nuus was dat, ten spyte van 4 A simbole en ‘n baie sterk B in die Junie-eksamen, met ‘n gemiddeld van 75 persent in die eksamen, het Potch Universiteit vir Chips, Hamburgers en Owerspel nie vir haar plek nie. Nie in ‘n koshuis nie, en nie in die grafiese ontwerp departement nie. By verdere navraag blyk dit dat sy keuring gemis het omdat sy nie kuns as skoolvak het nie.

Een van die privaat ontwerpskole het haar vir ‘n onderhoud genooi vanoggend. Sy het binne 24 uur ‘n nuwe portefeulje van ses potlootsketse gemaak, die PUK wil mos nie haar oorspronklike een pos nie. Bliksems!

Vanoggend het die oudste met bewende knieë en haastige sketse in ‘n Engelse onderhoud ingestap, en hulle binne ‘n uur oortuig om haar te aanvaar vir volgende jaar, vir ‘n internasionaal erkende graadkursus in Grafiese ontwerp. Aan die einde van die onderhoud sê hulle dat hulle haar binne ‘n week sal laat weet wat die uitslag is.

Ek en sy is toe Menlyn toe, want ons het nou baie tyd in die stad. Ons stap deur ‘n boekwinkel of twee, toe lui my selfoon. Binne ‘n uur het hulle besluit sy is goed genoeg, en ons moet (asseblief) weer terugkom om die papierwerk te kom haal. Ons verlaat Menlyn net daar, ure voor ons sou…

Kort daarna was daar ‘n massiewe rooftog en skietery in Menlyn! Die oproep het ons verseker betyds daar uitgekry! As ‘n mens sulke dinge begin raaksien, is ek baie dankbaar!

Ek sukkel nog egter met een groot geloofstryd- die private inrigting is maklik R20000 per jaar duurder as wat PUK sou wees! Daarvoor het ek nog nie ‘n plan nie! Ek leer sommige geloofslesse so moeilik!!!

Daar staan vanaand ‘n tent in die agterplaas…

Kom ek val in die huis in met die belydenis- ek het vanaand die aanddiens gebank!  My kollega het gepreek, en my jongste het bietjie liefde nodig gehad.

Die sake werk so: van die vier kinders is my jongste die enigste een wat van jongs af verhoudings met die teenoorgestelde geslag het. Baie onskuldig, maar hy kan baie geheg raak aan sy meisie.  Die eerste een het hom afgesê vroeër in die jaar.  En toe is daar glo die oulikste meisie in sy klas, en hulle gaan nou uit. Dit behels basies ‘n tjoklit so nou en dan, en sommige pouses sit hy en gesels met haar.

Maar vanmiddag met middagete kon ek sien die jong man se gemoed is nie lekker nie. Kort na die ete het hy op die grasperk gaan lê, en op sy kitaartjie getokkel, terwyl hy ver in die hemelruim intuur. En hy word kwaad as sy suster en broers hom uitvra, en wou ook niks vir my vertel nie.

Na my wedervaringe die naweek was ek nogal doodmoeg, en het ‘n wonderlike middagslapie geneem. Toe ek wakker word, sien ek jongste het ‘n tent in die agterplaas opgeslaan. Hy wil nou vanaand daar slaap, om bietjie “weg te kom van dit alles…”

So teen halfvyf het ek maar nog ‘n kampstoel opgeslaan langs syne voor sy tent, en die Weber nadergetrek en ‘n vuurtjie aangesteek. Ek het van ons basaarwors uitgehaal, en braaibroodjies gemaak. En toe het ons twee lekker gesit en gesels terwyl die kole reg kom. Dwarsdeur al drie kere wat die kerkklokke hier langs die huis gelui het. Ons braaibrood was baie lekker, en die boerewors was fantasties (ek het dit help maak!)  Maar die Pa-Seun gesprek was een van die kosbaarste dinge in ‘n lang tyd in my lewe.

Ek weet Jesus sal verstaan dat ek nou nie vanaand kerk toe gegaan het nie. Ek het weggebly van die een samekoms van die heiliges… Maar my seun se hart was vanaand prioriteit nommer 1. En ek glo dat hy ook vanaand die boodskap sou kry dat hy vir my baie kosbaar is, en dat ek daar is vir hom as die lewe se storms vir hom te erg begin voel. Van kleins af weet hy mos nou: Vroumense kan ‘n man klaar maak! En Pa verstaan…

DVVPP- Dank Vader vir die Pienk Pilletjie…

Julle almal ken nou al die bekende DVDV- net vir stadige mense soos ek wat ook vir lank gewonder het, dit staan vir Dank Vader Dis Vrydag. Maar dis eers more.  Vandag het my vrou ‘n nuwe een gepatenteer, soos die opskrif dit beskryf-DVVPP.

Daar is sekere definitiewe voordele daaraan om op die Platteland te bly. “Soos wat?”, wonder die stadsjapies. Soos- ek het 2-3 ure per dag meer tyd as julle. Want ons spitsverkeer is so 2 minute rondom 08h00, en dan weer rondom 16h00. Vier minute se spitsverkeer. Ander voordele is dat alles minder as vyf minute se ry van die huis af is na enige plek in die dorp toe. As die kinders sport in skooltyd het, dan kan die meeste van ons vinnig wegglip om te sien hoe boetie kolf, en hopelik is hy nie vir ‘n duck uit nie.  Byna almal ken mekaar (dit hoort ernstig onder nadeel nommer 1) maar dit maak dat jy vinnig kan netwerk, en weet wie wat waar vir jou kan doen as iets gedoen moet word. Ek weet selfs van een kollega wat al in ‘n plattelandse dorp (Dendron) van die pastorie se stoep af ‘n vlakvark geskiet het. Dieselfde vriend het ‘n SKIETBAAN op die kerkterrein in Vaalwater opgerig om sy jaggeweer in te stel voordat hy gaan bokke vermoor. Sekere mense kan met alles wegkom. As ek net met ‘n windbuks ‘n Cokeblikkie in die erf gaan skiet, gaan die Taakmag met helikopters daar opdaag!

Daar is ook ernstige nadele daaraan om op die platteland te woon. Soos- die feit dat almal mekaar ken!  Almal weet alles van mekaar af, en dikwels weet die hele dorp dit voor die verbaasde Donkie as een van die seuns weer êrens aangejaag het. (Of op die rooi tapyt beland het soos Maandagmiddag!)   Die inkopiegeleenthede is beperk, en daar is byna geen plek van vermaak waar ‘n Dominee of sy gesinslede gesien kan word sonder ernstige aanspreek deur die ouderlinge nie. Ek is hoeka een keer ernstig aangespreek oor ek ‘n keer of wat alleen by die ITALIAANSE restaurant gesit het met ‘n Draught en ‘n bordjie chips na huisbesoek, sonder my vrou. (sy het vroeg geëet en in die bed geklim, die skool put haar nogal baie uit!)  Ek sweer dis die waarheid!

Die ander probleem is dat daar in die hele Limpopo provinsie nie ‘n enkele privaat hospitaal van goeie reputasie is nie.  Om goeie (lees nie Kubaanse by die staatshospitaal) spesialiste te sien, moet ons ten minste Pretoria toe ry. En so moes ek en Mevrou en van die kinders vandag na Sodom en Gomorra toe gaan om gevorderde mediese hulp te kry.

En dis waar die probleempies vandag soos klein  jakkalsies in die wingerd begin kop uitsteek het. (waar kom daardie uitdrukking tog vandaan?)  Ons moes vanoggend om negeuur by die spesialis wees wat die moeilike outjie se ADD behandel. En daarna moes daar nogal baie ander dinge gebeur. Ons moes BAIE vroeg ry om betyds by die hospitaal te wees. Raai wat gebeur? Die liewe dokter hoor op die radio dat die verkeer stadig is, en vat die mense wat na ons moes ingaan, voor ons in.  Ons sit vyf voor nege en duime draai in die spreekkamer, en moes toe ‘n halfuur langer daar wag.  Ek was betyds! En ek het hel baie om in die stad te doen!  Ek wou amper net hiperaktief word in daardie wagkamer, die dokter behoort dit mos te kan hanteer aangesien ADD haar spesialisveld is…

Dit was by die Moot Hospitaal. Nou kyk, met die onderwys se eise het Mevrou geleer van die Pienk Pilletjie se bestaan. Daardie Pienk Pilletjie, wat in my Wyse Vrou se woorde die “edge” afvat van ‘n paniekaanval.  En soos ons ry by die Moothospitaal, stop Mamma die twee pienk pilletjies in my hand, met so stainless steel koffiebeker vol water om dit mee af te sluk.  Sy sien ekke is nie so geduldig soos wat die goeie boek vertel Dominees gewoonlik behoort te wees nie. Chemiese intervensie is die enigste raad om vandag padwoede te keer.  Daardie pienk pilletjies los vinnig op in die maag, en word deur die are versprei tot in die verste buitewyke van my liggaam. Die Chemiese boodskap versprei: ” Time to relax!” Verseker is dit ‘n Chillpil, en die goed skop vinnig in.

Ek moet nou redelik vinnig by Menlyn uitkom, want ek het ALWEER ‘n kredietkaart weggegooi. Ek bank by Nedbank, hulle was verbasend genoeg die enigste bank wat destyds vir my ‘n huislening vir ‘n piepklein meenthuisie wou gee.  Moet op GAPSA nie vertrou nie, my Volk!  Die naaste tak van my huis af is meer as 130 km!  Om verlore kaarte maandeliks te vervang, verg deeglike beplanning en tydsbestuur…  Maar ek het die Pienk Pilletjies nou in…  Terwyl ek bestuur, word die wêreld skielik ‘n baie mooier plek. Al die winterskleure begin vervaag, na pastelskakerings toe. Die beste om dit vir julle kunssinniges te beskryf, is: Dink Impresionisme. Dalk selfs Van Goch se Crows in a Corn Field… Ek hoor die stemme van engele en harpmusiek.  Alles word so heerlik “mellow” in my gemoed. En skielik besef ek- wat is die haas? Almal sê mos op hulle sterfbed dat hulle gewens het hulle het meer tyd spandeer om die rose te ruik. Dit klink skielik na ‘n baie goeie idee. Maar soos ek in Fratesweg opry, sien ek niks rose op die sypaadjie om by te stop en te ruik nie… Ek is sommer omgekrap oor al die hoë heinings en lemmetjiesdraad- “Give peace a chance…” Ek ry sommer nog stadiger, op soek na die perfekte roos…

Ek sien die mense in die verkeer lyk almal so gestress. So besluit ek om vir hulle ‘n bietjie liefde te gee. Ek ry maar stadiger, dat hulle voor my kan inry. Ek waai vriendelik vir almal, en glimlag baie mooi vir hulle.  ‘n Mens kan sommer sien hierdie stedelinge is baie gestress, dalk is hulle dag nog baie moeilik, en kan een vriendelike ou wat 30km/u ry en vir hulle waai, net die dag ophelder.  Ag, vir elke taxi gee ek sommer groot ruimte, en wag geduldig dat hulle hul passasiers aflaai, en dan weer vertrek sodra al die insittendes mooi tot sit gekom het. Ons draai links daar bo in Soutpansbergweg. En iemand was nie so geduldig soos ek nie, hulle het oorgejaag, in een of ander verbaasde ou se erf in. Dis net polisie. Die ou voor my sit so en kyk by die groen lig, dat hy die hele beurt mis om links te draai. Maar ek gee nie om nie. Hoekom nou sy mooi dag met my toeter opfoeter?  Ek sit eerder en saamkyk.

Nou ry ons in Soutpansbergweg ooswaarts. Reg daar onder onse liewe oom Jacob se een huis.  Ek wou eers by hom gaan kuier, of net vir hom waai, toe my seun my so effens ongeduldig aanspreek. Dit lyk of ons die lykswa is, en die res van Soutpansbergweg is die stoet agter ons aan.  Ons ry verby daardie OR Tambo gebou daar onder oom Jaap Z se huis, en ek is sommer opgewonde dat die ANC sulke mooi geboue gebou het met my belastinggeldjies.

Basies het hierdie stoet so aangehou tot by Menlyn. Duncanstraat, Lynnwoodweg, Attenburyweg, tot by Menlyn. Ek was selfs baie geduldig met die personeel by Nedbank, en het vriendelik al 700 vorms onderteken om my nuwe kaart te kry, en my linkernier te skenk vir iemand in nood (Plaasjapie kort deesdae een na hy sy Lexus enjin gekoop het vir Bees…)  Ek vermoed daar was selfs ‘n vorm wat toestemming gegee het dat daar 30% Tutu welvaartsbelasting ekstra gehef kan word op my bleek gesiggie op my ID Dokument…. Met ‘n lied in my hart het ek alles geteken wat voor my neergesit is.

Ek het dit geniet om daar by Beker en Boontjie te gaan sit met ‘n Skon en ‘n Bodemlose Beker Boeretroos. So na die sewende koppie koffie dink ek het die Pienk Pilletjie se effek uitgewerk- Kafeiene kan enige Chillpill gas gee. Maar nou is ek Hipertens!  Ek het nou al Mamma se pienk Pilletjies opgedrink. Op pad terug na my bakkie toe stap ons verby die Harley winkel (ek is so bly hulle is terug…!)  Ek sien ‘n Sportster, so pragtige skakering geel met ‘n Matt Black afwerking op sy enjin. As ek dit gesien het op pad in, het ek verseker by Nedbank finansiering daarvoor ook uitgeneem, saam met die studielening vir Malema se liefdestweeling in Polokwane… Na die kafeiene is ek nou geïrriteerd, en sommer depressief ook. Ek kry myself so jammer dat ek nie eers R82 000 het om vir my die baba Harley te koop nie!

Nou moet ons oogkundiges toe gaan by die Hillfox sentrum in Weltevredenpark.  Dié praktyk is die enigstes wat my seun se oë verstaan van kleins af. Dis nogal ‘n entjie van Menlyn af Hillfox toe.  En stadsmense bestuur mos goed! Maar skielik is almal VERTRAAGD agter die stuurwiele! Niemand wil flippen vinniger as 140 km/u ry nie!  Ek het skoon gewens die bakkie het ‘n groter bullbar opgehad, dat ek op daardie (**&^^ Tazz se gat kan gaan sit, en my spotlights aanskakel.  Ek wil net toet, maar dan gaan ek tot Sondagmiddag dit nie weer regkry om mamma te verlei nie… Sy is nogal sensitief vir padwoede en ander vorme van aggressie.

Ons was toe MYLE te vroeg vir ons Hillfox afspraak. Daar is toe weer ‘n BEKER en BOONTJIE. Met ‘n lekker boekwinkel langsaan. En toe kon ek een van die boeke koop wat ek al lankal soek- tweedehands teen ‘n goeie prys: JH Thomspon se “Dit was Oorlog- van afkak tot bosbefok…”  Daardie boek van stories van mense soos ek wat Diensplig gedoen het.  O, ja, ek het ook uiteindelik weer ‘n CD gekoop. Ek is mos mal oor Adele, en het daardie Adele 21 CD raakgeloop op ‘n spesiale aanbod.

Terwyl Ma en Ouboet hulle oë laat toets het, was ek eers gou Full Throtle se winkel toe in Byers Naudéweg.  Motorfiets toebehore en klere. Op die hoek is daar darem ‘n ander weergawe van Full Throttle! Die Adult winkel… Ek  moes Middelboet se ADD pilletjies gaan koop, en besluit toe om vir die eerste keer in my lewe Chresta sentrum binne te vaar.  Daar is darem deesdae verskriklik baie malls wat groter as ons hele dorpie is!

NA die oogtoetse voltooi is, moes ons eers in Pretoria elke man se nagmerrie waarmaak. Skoonma het by skoonsus gekuier vir die week. En vroulief het vir skoonma weer lanklaas gesien, terwyl ons mos nou byna nooit naweke kan weggaan nie. So ja, ek het maar vir Skoonma gaan kuier, en my bes probeer om nie die swart kat en die besem raak te ry nie…  (Nou soek ek eintlik moeilikheid en jok verskriklik, ek is die een ou wat GEEN moeilikheid met my skoonma het nie. Sy is ‘n dierbare mens wat my nog nooit ‘n dag se nonsens gegee het nie… Ekskuus, ek kan soms meegevoer raak en oordryf- net so bietjie…)

In elk geval- dit was ‘n dag van uiterstes. Vroeg uit die huis uit, hele dag op straat, laat weer tuis. Net soos ‘n gewone stadsjapie se alledaagse lewe! En ek is nie stadsfiks nie, ek is moeg vanaand!  Van diep ongelukkig met die verkeer tot baie mellow met die pienk pilletjie.  En ek het ‘n hele dag se varkverwerking vir die basaar gemis…  Ek dink ek moet vir my ook ‘n Boks vol Pienk Pilletjies koop, om te drink voor Huisbesoek (nie hierdie keer my motorfiets nie…) voor die Feesvergadering, en veral voor die Kerkraadsvergadering. Kom Pienk Pilletjies in bokse van 10000 voor?