‘n Droom van ‘n aand by Bella Sophia!!

Ek en Vroulief is groot Masterchef fêns. Al moet ek Dinsdagaande uitgaan op die ander huisbesoek, (nie Huisbesoek- my motorfiets nie…)  is dit nie iets om te mis nie- dankie Sony vir die pragtige DVD recorder!  Ons mis nie ‘n episode nie…

Vandat Masterchef SA begin het, was ons ook groot Berdina fêns… Ons was sommer BAIE omgekrap toe sy so vroeg huis toe is- ‘n mens kon mos sien die dame verstaan ‘n kombuis die heel beste van hulle almal! (Onses insiens…)

Ons het op Kwela gesien sy het nou haar eie restaurant oopgemaak.  Dit inspireer my- as iemand ‘n droom vat, en dit gaan waar maak. Tydens die Kreatiewe verouderingskursus twee weke gelede het ek een van Riviera gemeente se dominees gevra: Waar is Berdina se restaurant… Dit blyk toe dis die naaste ordentlike koffieplek aan sy huis, en hy verduidelik mooi vir ons…

So word dit Pinkstertyd, en alles raak baie hectic in die gemeente. Ek sien al ‘n rukkie gelede: hier kom ‘n moeilike tyd. As ‘n mens dit weet, dan moet jy beplan.  So beplan ek toe vir my en Vroulief ‘n heerlike aandjie uit. Weg van gemeente, kinders, katte, spietkops en ander derglike kwellings in die lewe. Eers bespreek ek vir ons ‘n plekkie in een van ons gunsteling gastehuise- Marija Manor daar in Montana. ‘n Mens wil mos nie laataand op ‘n Vrydag die aand terug Noorde toe vat nie.

Berdina se eetplek is die Bella Sophia Culinary Café in Riviera.Op hulle facebook bladsy het hulle geadverteer dat gisteraand ‘n Jazz- kitaar aand saam met Keira Witherkey sal wees. Ek weet niks van jazz kitaar musiek nie, maar ek het net geweet: hierdie is die plek om Vroulief na toe te vat- dit gaan soveel beter as ‘n aandjie in die SPur wees.

Ons het met aankoms elkeen ‘n Cosmopolitan cocktail geniet. Ja, Louis Gossett Jnr, ek weet “real men dont drink pink drinks…” maar manne wat “in touch with their feminine side” is, se kanse is soveel beter… 🙂 Jong, ‘n Cosmopolitan is potent! Pienk, maar hy slaan hard!

Ons vriendelike kelnerin het vir ons die spesiale aanbiedinge van die aand mooi verduidelik. Die aanbevole dis was gekrummelde hoender, met “black-eyed peas”- sou dit nou kekerertjies wees? Daarmee saam kom ‘n mieliebroodjie en baie lekker spinasie. Vroulief het dadelik daarvoor ja gesê, maar hulle het my by die ertjie-woord verloor (sorry Berdina, dis nie jy nie, ek is maar so van kleins af…)

Maar ekke: ek het die Asian Sticky Spiced beef, spring onions, chili pickle, bamboo shoots & sesame seeds tagliatelle pasta probeer.  Ek wil net sê: dit was een van die heel lekkerste pasta-ervarings in my ganse lewe! Kyk gerus deur die hele menu- dis baie lekker kos!   Daardie pasta was baie geurig, met so lekker nasmaak wat dit in die mond los! Soos ek en vroulief maar maak, het ons ook bietjie aan mekaar se kossies geproe- en daardie gekrummelde hoender was so sappig en mooi gaargemaak, dat ek die geheim self sou wou weet: hoe doen julle dit? Ek wens my hoender kon so lekker proe!

Ons het vir nagereg ‘n Mississippi Mudpie gedeel. Dis nou ‘n stukkie lekker- so ‘n harde sjokeladekoek buitekant, met so loperige sjokelade binnekant en room- hemels!

Ons het ons ete afgesluit met cappuchino. Baie netjies gemaak, met verskillende patroontjies op.

Ons was aangenaam verras met die somtotaal van die rekening, die vriendelike diens, en ons het baie van die musiek gehou.

Ons het toe nie vir Berdina ontmoet nie, ons het gesien sy lyk baie besig en wou nie pla nie. Sal eendag as ons weer in die bose stad is, gaan koffie drink en hallo sê. So nee, ons is niks betaal om te adverteer nie!

Maar vir ons twee vlugtelinge uit die Pastorie was dit ‘n baie lekker aandjie uit. Ons het goeie waarde vir geld gekry, en beveel dit graag vir al ons vriende aan.

Verlore vreugdes van Vrydae…

Vrydag is my afdag. Of soos die voorsitter van my Diensverhoudingekommissie dit noem- my privaat dag. Wat beteken dit in praktyk? Gewoonlik nie veel nie. Maandag tot Donderdag hardloop ek woes agter die skapies aan, en Vrydag moet ek gewoonlik dan preek maak vir Sondag.Sommige dae, soos nou weer hierdie Dinsdag wat pas afgesterf het, is baie lang dae in my lewe. Dinsdag het ek sewe uur die oggend ingeklok by die Hoërskool se beheerliggaam,  en daarna besoeke en administratiewe take gedoen tot half twee. En van drieuur tot negeuur onophoudelik huisbesoek gedoen- ses ure aaneen…

Die werkstempo maak dat ‘n mens sekere rituele in jou week moet inbou ter wille van oorlewing. Dis presies soos wat ek die Argus ook maar ry. As ‘n mens flenters moeg is, moet jy nie dink hoe ver die eindpunt nog is nie, dan stop jy net daar. Nee, jy kry vir jou ‘n baken in die nabye toekoms. Die Brass Bell in Kalkbaai. Just Nuisance se standbeeld in Simonstad. Die baken by Millerspoint… so ry jy baken vir baken, hou net uit tot by die volgende een, tot die wenstreep uiteindelik die laaste baken is…

In my week, al moet ek preek maak Vrydag, was daar ‘n baie gunsteling baken gewees. Vrydagoggend het ek ingeklok by die Wiesenhof op ons dorp. En daar, om die hoek van die voorste kombuis, was daar ‘n tafel buite sig van selfs die meeste mense in Wiesenhof.  Daar het ek my dan tuisgemaak met my laptop, en sommer net lekker rondgesurf op die internet op hulle gratis Wifi. Ek kon die nuuste koerant lees, en heel onlangse tydskrifte (nie soos my boekhouer wat om een of ander rede 1997 se Landbou Weekblad op sy tafeltjie in die wagkamer het nie…) Die rede hoekom ek so lief was vir my geheime hoekie- as jy vir ‘n rukkie af wil wees en net weer jou asem wil terugkry, is die laaste ding wat jy wil hoor: “Hallo Dominee, o hier kruip jy weg! Ek wou net gou ietsie met jou bespreek wat my pla…” Dan is die dag in sy heppie kanon in.

Die lekker van Wiesenhof was die Three Mug Blend of the Day vir R15.95. Hulle word stadig geniet, en die koppies ten minste ‘n halfuur uitmekaar bestel.  En soms, net soms, daardie lekker Skilpaadjie ontbyt wat die Cholestrol so mooi aanhelp dat selfs die dokter die telling makliker kan sien…

Die Wiesenhof het altyd lekker musiek gespeel, of die Super 15 wedstryde as dit sulke tye is.

Dit was so ‘n wonderlike baken om voor te mik.

En ja. dan het ek en Vroulief die middag weer ietsie daar gaan drink, ons twee se ritueel om die huis en die kinders te oorleef!  Dan was ek al so vol kafeïne dat ek kan gloei in die donker, gewoonlik ietsie koels genuttig.

Vandag is Vrydag. Ek preek nie Sondag nie. My knie is verskriklik seer van vermoedelik gout, ek kan nie eers op Huisbesoek gaan nie… (my motorfiets se naam vir nuwe vriende…)

Ek sit nou maar in my studeerkamer met ‘n koppie Ricoffy, en balk my hartjie uit op my blog… want Wiesenhof het in Januarie deure toegemaak met die ekonomiese insinking. Ek wens daar het van my blogvriende naby gebly dat ek maar eerder julle Ricoffy kon gaan opdrink. Al my ander vriende in die dorp werk vandag in die sweet van hulle aangesig…

Geniet jou naweek en mag daar Jacobs koffie oomblikke vir jou voorlê!

Vandag is die dag…

My facebook  status op die oomblik is:

mense, vandag kom net een keer in die hele ganse ewigheid. moet hom nou nie gaan staan en opfoeter nie!

En vandag is die eerste dag van die res van my lewe. En die stinkende hanswors sê ek moet prektis wat ek priets.  So this is it.

Ek gaan nie vandag my lessenaar skoonmaak nie. Ek het netnou my kerkkantoor gesms en gesê dat ek een van my baie opgehoopte dae verlof gaan neem. Ek het my selfoon gestel dat hy geen boodskappe neem nie.

Huisbesoek se tank is vol. Nou sit ek net en wonder: wat maak ek nou om ‘n heerlike dag te beleef, waar my gees weer by my liggaam kan uitkom. Nou net vir die drie mense wat daardie storie nog nie ken nie (die karwagte by die Blou Windpomp?) Toe David Livingstone so deur Afrika getrek het, het hy soos ‘n tipiese Engelse ontdekkingsreisiger die hele huis saamgeneem. En daarvoor het hy mos baie drakrag nodig gehad, en so het hy baie van die swart stamme se mense gehuur om sy porseleinborde en kristalglase en bottels luukse wyn, en sy drie trommels onderbroeke en vier trommels kouse… ens ens… te dra oral waar hy gaan. So nou en dan het oom Dawie bietjie haastig geraak, en die mense gedryf om dae aaneen baie ver te loop. En eendag toe gaan sit al sy portiere. En toe hy die tolk vra wat hulle so brom, toe sê hy hulle sit en wag vir hulle gees om weer hulle liggaam in te haal. Die tempo was so bietjie haastig na hulle Afrika sin.

Nou ja, ek sit ook en brom so bietjie, die tempo was so bietjie haastig vir my die afgelope ruk. Behalwe nou, grapjas Didi, dat ek mos eintlik net Sondae werk, en dan net vir ‘n uur, die helfte van die tyd nog met toe oë ook, het ek mos eintlik baie, baie tyd om op die blogs rond te lê. Behalwe nou dat die bloggery partykeer net ‘n manier is om vinnig weer perspektief te kry in die rondhardloop, en dat die afgelope drie weke elke dag meer as 10 ure se werk ingehou het, verlede naweek ingesluit.  So as grapjas Didi nie omgee nie, of as hy/sy/dit wel omgee, ek gee nie ‘n hel om nie, vat ek vandag by die OFF.

Ek is lus vir ‘n ent op Huisbesoek, dalk sal dit beter gaan as die laaste keer. Ek is lus vir Bose stad nommer 2- Gomorra. Ek vorder dalk net tot by die Kolonade, en is lus vir ‘n fliek. Dan is ek lus vir iets wat nie in ‘n franchise gemaak is om te eet nie. Spur burgers of Wacky Wednesday sal dit nou nie helemal doen vandag nie. Die enigste uitsondering is die Fruit & Veg in Zambesiweg- dis nou as ek nie na Woodlands Boulevard s’n toe verdwaal nie- The Food Connection- of wat noem hulle die goed?

Ek is lus om na nuwe motorfietse te gaan kyk. BMW.  Dalk selfs die Harley vir die oudag. Ek is lus om tweedehandse karre te kyk, dalk sien ek ‘n mooi Yaris tjieptjiep.

En ek is lus vir ‘n heerlike koffieshop.

So, geliefdes, ek sluit die preek af deur kortliks op te som:

1. Watter goeie movies wys op die oomblik?

2. Waar kan ek lekker eet in Gomorratswane?

3. Watter koffieshop beveel jy aan?

4. Kom jy saam koffie drink?

5. Enige ander voorstelle vir ‘n dag op my motorfiets wat ek mis op die oomblik?

 

Sterkte vir jou dag op kantoor!

AMEN

Waarom gaan mense nie groot vir ‘n droom nie?

Ek het vanoggend begin met ‘n baie hartseer verhaal in my gemeente. Daar is ‘n baie (soos in BAIE) jong egpaartjie in ons gemeente.  Hulle het vroeg hierdie jaar getrou. En binne twee maande lê die jong bruidjie in Intensief, gediagnoseer met Lupus, en baklei  vir haar lewe. En so hou dit nou vir maande aan, dan is sy in die hospitaal, dan in intensief, en dan gaan dit beter. Maar sy is nie meer fisies die mens wat sy op haar troudag was nie.  Dit bring baie spanning by hulle in die huwelik,  dalk was hulle te jonk om te verstaan wat beteken “in sickness and in health… for better or for worse…” toe hulle ewige trou aan mekaar belowe het. Die jong bruidegom hardloop weg van sy bruid af. En dit is hartverskeurend. Soos enige sulke tragedie is daar altyd nog wyer kringende rimpelings in die dam van ellende.  Albei ouerpare woon ook in ons dorp. En die bruid se ouers versorg haar tans. Of die bruid se ma, in elk geval. Die pa is ‘n brombeer, wat in sy eie hoekie voor die televisie weg gaan kruip het, en nooit weer daar weggekom het nie. Die bruid se ma dra ‘n geweldige swaar las.  Ek moet bely dat ek eintlik ‘n baie sagte hartjie het. Sulke dinge ontstel my ook geweldig baie, en dit is vir al die partye in hierdie storie een groot stuk lyding op die oomblik. Mense se seer was nog altyd vir my baie erg, veral ekstreme voorbeelde soos hierdie.

Dit het gemaak, nadat ek die moeder van die bruid vanoggend vir lank probeer moed inpraat het, dat ek ook weer met nuwe waardering na my eie huis toe teruggery het.  Ek is so dankbaar vir ‘n vrou aan my sy wat ek op kan staatmaak in krisistye. ‘n Vrou wat my liefhet, en my ruimte gee om my unieke self te wees. Ek het net daar besluit om haar vir ‘n ontbyt te vat by die nuwe restaurant wat in ons dorp oopgemaak het, net om weer te wys ek is lief vir haar en waardeer haar baie.

Nou kom ons by die uiteindelike storie uit.

In ons dorp het hierdie betrokke eetplek oopgemaak saam met ‘n nuwe winkelsentrum. Die nadeel van dit is- daar is geen uitsig nie. Jy kyk agter in ‘n groot hardewarewinkel se agterplaas vas, en langs dit is ‘n oop stuk veld wat vol bourommel lê, nou al vir jare lank.  Die restaurant is een van ‘n bekende franchise, daardie een wat Jac de Priester ‘n regular is by in die Brooklyn Mall.   Die buurdorp se tak gaan baie goed aan, en ons ry gereeld met die motorfietse daarheen om ontbyt te gaan eet- hulle ommelette is gewoonlik uitstekend!  Om een of ander rede sukkel eetplekke en koffiewinkels om hulle deure oop te hou in ons dorp. Ons is ‘n bekende vakansiedorp, maar die plaaslike bevolking is hoofsaaklik afgetredenes.   Verlede jaar was ons baie hartseer toe hierdie franchise gesink het. En baie dankbaar toe die nuwe eienaars die plek weer verlede naweek oopgemaak het, met baie goeie spesiale aanbiedinge.

So is ek toe mos nou lus vir daardie spesiale aanbiedinge.  Ek en my geliefde het daar opgedaag, en daar is steeds nie baie mense in die eetplek nie. Wat ons opgeval het, is die groot hoeveelheid staf wat op die vloer rondstaan. Ek het getel, en ek oordryf nou regtig nie. Daar was ‘n bestuurder, en ‘n adjunkbestuurder, wat albei vroeg al by ons tafel gestop het, en die bestuurder wat gevra het sy soek asseblief ons terugvoer oor die kos as ons klaar is, want sy wil hierdie “situation” reg bestuur. Rooi liggie flikker op my paneelbord. Daar is NEGE mense agter die kombuis se toonbank, en daar is ongeveer ses kelners op die vloer. Ons was so elfuur daar, die tyd wat die boere klaar by die koöperasie was, en koffie soek (die lekker kuierplekke maak eers later oop.)

Ons bestel- vroulief het intussen klaar geëet tuis, en wil net ‘n Hot Chocolate hê om die ysbere weg te jaag. Ek bestel die openingsaanbod- ‘n Hamburger en tjips, en ‘n glas Coke vir R29.95.  Die drinkgoed kom redelik vinnig. Baie van die personeel op die vloer ken ons- ons gunsteling koffiewinkel in die dorp sukkel ook maar, en het van verskeie personeellede ontslae moes raak gedurende die afgelope paar weke.

En ons wag. En ons wag. En ons bespreek ons dogter se 18e verjaarsdag more, en wat ‘n gepaste dag sou wees (Zebula by Warmbad vir middagete lyk vir ons nou na die aangewese pad om te volg- baie luuks, baie lekker, en ongelukkig bietjie bo ‘n dominee se prysklas, maar ‘n mens se enigste dogter word ook net een keer 18) Later volg die debat of ons ‘n gasverwarmer moet koop, ons huis is ‘n yskas en ons word aangespreek oor kragverbruik met die gemeente se finansiële situasie.  Ons keer terug na Dogter se verjaarsdag, ons besluit om vir haar ‘n botteltjie sjampanje ook te koop, terwyl sy dan nou wettiglik saam kan drink, en al vir verskeie van haar vriendinne dit vir ‘n geskenkie gestuur het op hulle 18e verjaarsdag.  Baie diep gesprekke. Maar die Hamburger en tjips daag net nie op nie. Ek begin later ongeduldig rondskuif op my stoel. Die assistent bestuurder sien dit raak, en gaan vra in die kombuis wat aan die gang is.  Die nuus kom terug, die Tjipsmasjien het die gees gegee. Wil ek iets anders hê? Nee, my tyd het uitgeloop, eintlik my geduld. Ons vra maar die rekening, en loop daar uit.  Glad nie ‘n lekker ervaring nie.

Op die platteland is ons nogal afhanklik van die enkele eetplekke wat dit maak. Daar is mense soos ek op die platteland wat so ‘n klein liefde vir ‘n stad en sy malls het (maar hou julle spitsverkeer en tolhekke maar vir julleself, dankie!)  Dis so lekker as ‘n mens nie ALTYD by net een koffieshop hoef te wees nie,  want met net een begin die gemeenskap vinnig skinder oor hoe die dominee net in die koffieshop rondlê en nie sy werk doen nie…

Met my hele hart gun ek die nuwe eienaar van die oranje franchise Maximum sukses toe met sy nuwe onderneming. Ek weet daar gaan baie drome, en baie geld daarin om ‘n nuwe onderneming se deure oop te maak.  Ek is net bekommerd as ek daardie samedromming van niksdoenende personeel, daardie reuse tyd wat dit vat om te kom sê ‘n kritiese deel van hulle menu is buite werking,  en die alreeds leë stoele in die plek, gaan saamwerk om nog ‘n droom in ons dorp te sink. Ons almal baat by ‘n sakegemeenskap wat goed doen, en ek gun dit regtig vir almal. Maar diens moet op standaard wees. Anders koop ek eerder vir my ‘n botteltjie Jacobs koffie, en sit elfuur op my stoep in die son en geniet elke teug, en droom van Mugg & Beane as ek weer siekebesoek in die stad gaan doen. Of daai lekker koffieshop met die kunswerke daar bo teen Fairie Glen se rante…