Springbokke, reise en Potjies…

Die Springbokke staan amper gereed om op te draf teen die Engelse in Durban, Heyneke Meyer se eerste toets as afrigter, Jean de Villiers as kaptein.

Vandag is ‘n groot dag. Net ek en Jongste was gisteraand tuis. Die saak staan so: Gister het skoonma in die Wes- Transvaal verjaar. Vroulief en die oudste 3 is saam deur soontoe, met my kar! Maar ek kon nie saamgaan nie. Jongste se 2e Laerskoolspan het  deurgedring tot die Liga se semi- finaal, vanoggend op neutrale terrein gespeel daar by Hoërskool Warmbad se 4 rugbyvelde. Pa moes ongelukkig skoonma se verjaardag mis…

Die rugbywedstyd was epies, en woes. In die eerste helfte het Phalaborwa geslaag met ‘n strafskop. In die 2e helfte het ons seuns mooi teruggeveg, en toe… ‘n bal geknock voor ‘n amper oop doellyn in die doodsnikke van die wedstryd… Dit was maar net een van DAARDIE dae… Eindtelling 3-0 vir Phalaborwa…

En nou is die res van die gesin op die N1, in die laaste 100 km van hulle reis huis toe. Hulle is amper hier.

Vanoggend het ek in Warmbad se Superspar  ‘n pakkie Skaapvleis  raakgeloop. Die skapie het my gesmeek om saam met my huis toe te kom,

En dit is die gevolg:  Die Springbokke is amper gereed om op te draf, die gesin is amper hier, en my kos is amper klaar:

Photo: Die legende vorder mooi, nou moet die gesin net veilig die laaste 100 km ry...

Geniet jou aandjie voor die televisie, ek gaan…  Hoop nie die Springbokke sê so baie soos ek AMPER nie!

Ns- die bottel wyn wat so sak is toe net ‘n optiese illusie, oom Ouderling…Ons vier die gesin wat veilig tuis kom, Skoonma se verjaardag en hopelik ‘n Springbokoorwinning…

Nss: My gesin is veilig tuis, Morné Steyn het nounet sy eerste drie teen die Engelse gedruk, en my potjie is HEERLIK!  Die lewe is mooi!

Photo: Gesin veilig tuis...

Advertisements

Vrydagaand bly maar bobaas…

Na ‘n lang week is Vrydagaand in ‘n pastorie ‘n baie lekker aand…  as daar nou nie woeste gemeente-aksies is nie.

Op die oomblik, hier langs my, staan my geliefde Weber. En in sy magie is 5 stroke vark “spare-ribs”. ‘n Geskenk, glo van dieselfde plek waar die Spur hulle s’n kry…

Saam met die Spareribs is daar Pap en Sous, en slaai. Die wyn is ‘n nederige Santa Clair Rosé.

Die geselskap is my hele gesinnetjie, saam met onse teologiese student…

En more oggend vroeg is dit TUT toe vir rugby… besige naweek lê voor.

Geniet julle naweek!

 

… en dit was toe hemels…

 

Wat op aarde het toe geword van… die Rooibok?

Ek hou mos baie van historiese verhale…  Dis so lekker as hulle aan die einde van die fliek vertel wat het toe van elkeen van die karakters geword.  So is daar dalk soortgelyke begeertes om te weet- van die rooibokkudde by Bloubul Safari’s. en dalk van enkele lesers: wat het toe van 2 weke terug se Rooibok geword?

Wel, my oudste seun het toe die rooibok vermoor, soos berig.  Ons het 49 stukkies biltong gemaak gekry. Hulle is op tragiese wyse reeds verslind.  Die rooibok het vanuit die bokkehemel laat weet hy is nie meer kwaad vir ons nie, aangesien ons sy nagedagtenis op so gepaste wyse geëer het.

Maar vanaand is die aand om daardie nagedagtenis nog verder te eer.  Die jagter is op die plaas saam met sy pelle. Nou het sy pappie maar die 8e gebod oortree. Ek het een van sy pakkies vleis uit die vrieskas gesteel.

In Carmen Niehaus se boek oor Potjiekos het ek ‘n resep raakgeloop vir wildsvleis wat ‘n mens nou maar moet gaan probeer.

‘n Wild en droëvrugte potjie (ene André s’n).

Die wild word in blokkies gesny, en eers in olie in die ysterpot bruingebraai.

Dan word dit uitgehaal, en uie in fyn stukkies gesny, saam met 4 knoffelhuisies gebraai.

Daar kom ‘n eetlepel mostertpoeier, teelepel heel naeltjies (geskip!), teelepel braaispeserye, sout en swart peper by.

Die wildsblokkies kom by, saam met 500 ml Coke, ‘n blikkie bier (ek het sommer verstaan ‘n Windhoek Draught…) 5 eetlepels Worcestersous. Dit word vir 90 minute stadig geprut in die pot (myne prut nou al 3 ure stadig om die wild sag te maak…)

Daarna kom 250 gram gemengde droë groente en 1 blikkie pynappelstukkies by, en ‘n teelepel pietersielie.

Net voor opdiening kom 70 gram plein jogurt by. Dit word bedien op ‘n bed van rys…

Nou voeg jy vriende en marinade vir die vriende soos ‘n goeie rooiwyn by… dis wat ons vanaand gaan doen…

Hier is die pot tot dusver:

So baie dankie Rooibok vir jou onbaatsugtige bydrae, baie dankie seun vir die mooi skoot, baie dankie André vir die resep, en baie dankie goeie vriende wat vanaand saam met ons gaan aansit…

Vrydagmiddag, na die Openingswedstryd

Op ‘n Vrydag kom Pastoriemoeder om 12h45 huis toe…

En haastig opgeskep- nog nie heeltemal Masterchef nie, maar steeds baie lekker, sou ek sê…

Tuna en roommielies, cheddarkaas, origanum en ‘n sprinkel paprika, volgraanbroodjie met regte plaasbotter, en so ‘n sprinkeltjie Balsamiese asyn…

Australian Masterchef, that other naked guy and I…

Ek het ‘n werk wat maak dat ek ander tye as die meeste normale mense werk.  Ek is byna elke weeksaand van so vieruur tot na negeuur uit die huis uit, besig met vergaderings of om mense tuis te besoek. Dikwels bid ek vir kinders se mangeloperasies, tannies se spatare, of vir wysheid of die man daardie derdehandse Tatabakkie moet koop of nie. Dit kan nogal frustrerend raak!

Maar in die vakansietyd kry ek kans om bietjie saam met my gesin voor die televisie te parkeer. En in ons huis is dit nie 7e laan (bestaan die laan nog?) of Binneboudknypers nie. Nee, elke aand stiptelik om half sewe skakel ons oor na ‘n program uit die mees onverwagte oord- Australië! Nou weet ons almal daar het, buiten Nicole Kidman, nog nooit iets goeds uit Australië gekom nie. Maar hierdie program, gemaak deur die nageslag van uitgesoekte voorouers, is vir ons uitstekend! Australian Masterchef.  Dis vir ons een van die beste realiteitsprogramme ooit. Dit is nie naastenby so vennynig soos Idols nie, nie so voyeurfees soos Big Brother nie, en nie so uitgerek soos Survivor nie. In elke episode kry ons nuwe idees,  wat ons ook maar nooit gaan uitprobeer nie. Maar dit is fantasties om te sien wat alles moontlik is om met kos, en mensehande, en geduld, en ‘n moerduur kombuis reg te kry!

Veral toe die klompie nou Engeland toe was, en nog boonop vir Jamie Oliver daar raakloop en by hom leer kook, toe raak dit eers lekker. Ons hou van die Naakte Kok. Omdat hy so ooglopend geniet wat hy doen. Omdat hy nie ‘n saak het met die reëls van die spel nie, en altyd bereid is om iets nuuts te probeer.

En dan kan ek my boonop verkyk aan die Twee Hairy Bikers as hulle kosmaak…  Party ouens kyk Fashion TV vir hulle kieks, nog ander soek snaakse programme van arm meisies wat nie geld het vir klere nie, om besig te bly.

Maar ek? Sekere kosprogramme is vir my so lekker ontspannend!  Ek word verlei deur ‘n netjiese snit vleis, gestop met eksotiese kruie en speserye, aan die brand gesteek met ‘n duur dop. Ek wens so ‘n mens kon die eindproduk ruik. Ek wens so ek en my geliefde kon om ‘n tafel in ‘n wonderlike intieme klein restaurantjie sit, en om ‘n kers se lig daardie ontploffing van smake persoonlik ervaar! Terwyl Joshua Bell vir ons saggies op sy viool speel.

Ek wil nou graag van hierdie geleentheid gebruik maak om teenoor julle te bieg: ek is baie, baie lief vir lekker eet! Ongelukkig doen ek dit te veel, en daarom sukkel ek om soos Ryk Neethling te lyk in Jenna Clifford se posters. Ek is gewoonlik ook redelik tevrede met ‘n basiese braai, soos pap en wors, of een van verskillende snitte steak, met of sonder sous, met of sonder gebakte aartappel, altyd medium rare.

Maar ek is nie soos van die Vrystaatse boere wat ek net na Weermag bedien het in ‘n plattelandse gemeente nie. Ek ken van daardie manne wat elke liewe dag van sy lewe sy stukkie kookvleis, rys, en aartappels wil eet, miskien met boontjies en pampoen. Elke dag. Behalwe Vrydagaand wanneer hy by die dorpsklub kan staan met sy twotone hemp, rugbybroekie, rugbykouse en vellies. Daar braai hy dan sewe skaaptjops, laai die kas Castle van sy bakkie af, en geniet dit alles met ‘n enkele wit bun.  (Dis ook lekker op sy tyd!) Daar is ook van hulle wat regtig dink groente se doel is net garnering op ‘n bord.  Soos toe ek op Piet Plessies destyds vir ‘n onderhoud was, en die manne sê: “Hier eet ons net vleis, en as ons lus is vir groente, dan eet ons hoender…”

Ek is nie so nie.  Daar is wel sekere goed wat ek nie graag eet nie. Brussel sprouts, vanweë my ongelukkige ervaring in die skoolkoshuis in die koue Vrystaat sal nooit weer as kos kan klassifiseer nie. Sousboontjies was ook totaal uit, maar ek het in Spanje geleer om enige iets te eet wat energie kan gee vir die volgende dag…  Behalwe- daardie rioolreuk van ‘n vuil afval sal my nog steeds oortuig om ‘n dag te vas, eerder as om saam te eet! Daardie fotos van Maankind gister van sekere Oosterse geregte sal ek ook nie kan inkry nie, nie eers op Fear Factor as daar ‘n mijoen Rand op die spel is nie. Ek eet nie fetusse van enige aard nie, ook nie huisdiere soos hond of kat nie.  Goudvis en budjie kan dalk oorweeg word…

Ja, die een ding wat ek geniet, is om verskillende kosse uit te probeer. Dit was vir my ‘n regte treat toe my een baie goeie vriend my die dag aan sushi voorstel, saam met ‘n vars droë witwyn- nooit voorheen gedink ek kan van een van die twee hou nie. Ek het baie van Melide in Spanje se Pulpo gehou, (opgekookte, gekapte heel seekat.)  België se warme wafels, Istanbul se Beiti Kebabs by Doi Doi’s agter die Blou Moskee. En Durban se Brittania Hotel se Bunny Chows! Vars seekos by die Muisbosskerm by Lambertsbaai. Vlakvarkboud by Mabalingwe naby Warmbad.  Sulke geleenthede is hoogtepunte in my lewe! Ek droom nog daarvan om  ‘n Michelin ster restaurant te besoek, en ek droom van ‘n besoek aan  Reuben Riffel se restaurant in Franschhoek.

Kan ek self kos maak? In my ouerhuis het my pa die vleis gebraai, maar hy is nooit naby ‘n stoof in sy lewe opgemerk nie. Toe ek in Standerd 9 was, het ek die eerste keer met Potjiekos kennis gemaak. Ek het gesien hoe ‘n familievriend dit maak. En ek het die bestanddele onthou, maar nie die hoeveelhede nie.  Ek het by ‘n volgende geleentheid my eerste potjie gemaak: Stukkies beeskookvleis, aartappels, boontjies, wortels in goue pennies gesny, met ‘n sousie van blatjang, tamatiesous en worcestersous gemeng.  Die groot probleem het gekom met die speserye- ek kon nie onthou hoeveel kerrie om in te gooi nie. Toe gooi ek maar die hele pakkie extra strong Masala in! Ek het dit op brood bedien, maar my gaste het een na die ander met trane in die oë  verskoning gevra, met dringende dinge wat hulle elders moes gaan doen het. Toe moes ek maar self my eie potjie opeet- die trots van die tienerseun is legendaries. Maar daar was 2 liter melk nodig om weer gevoel in my mond terug te kry!

Vandag kan ek ‘n baie lekker vleisie braai. Ek het met my eerste salaristjek ooit my eerste Weber gekoop, en hom verlede jaar finaal opgebraai.  Ek kan basiese boerekos in die kombuis maak op die stoof, maar het nog nooit iets probeer bak nie.Ek kan ‘n redelike goeie potjie aanmekaar sit, en het al vir 600 mense in die gemeente op een slag ‘n Potjie voorberei.

Maar ek wens ek kan nog baie verbeter. As die Masterchef se mes so blits deur die wortels op die kapbord, dan wens ek dit was ek. Wanneer mense op televisie enige chefopleiding kry, dan begeer ek om ook daar te wees. Een van die grootste vreugdes in my lewe is om kos vir gaste op te skep, wat ek self vir hulle gemaak het. As ek Masterchef kyk, is my aanbieding nie naastenby op enige standaard nie. Maar as mense lekker eet aan my kos, dan blom ek!  Dalk moet ek en vroulief net so nou en dan een van die groot resepte neem en dit self probeer doen. Goeie vriende nooi, ‘n botteltjie diep rooi op die tafel kry, en kuier tot die son opkom.