‘n Dag by die Engeltjie fabriek

Dankie vir die omgee! Ja, pastoriemoeder se Corolla mag oud wees, maar sal nog die Kaap haal, veral met gister se nuwe bande en wielsporing…

Vanoggend het Theuns Eloff eerste lesing gehad en gepraat oor die tye waarin ons lewe en kerk in moet wees. Die man is skerp, ‘n mens kon hom amper vergewe vir die PUK se nonsens. Amper! Baie goeie spreker.

Ek het vanoggend na Nelus Niemandt geluister oor Missionale gemeentewees. Dalk verkeerde keuse, al die goed het ons lankal gehoor by die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes.

Na middagete se hotdog het ek by Jan du Rand se werkswinkel ingehol. Hy is een van die wêreld se voorste kenners op Johannes en Openbaring. Ons het weer saamgedink oor 1 Johannes se boodskap vir ons identiteit. In my 1e jaar by hom klas gekry, en ons was skytbang vir hom. 25 jaar later is hy afgetree en ek middeljarig! Maar die prof is steeds baie skerp.

Die laaste sessie het ons by Louis Brittz en Renette Bouwer klas gekry. ‘N klassieke orreldosent, en ‘n kontemporere musikant wat verskillende kante van kerkmusiek vir ons belig het. Baie goeie sessie gewees!

Net voor aandete het ons ‘n heerlike verrassing gekry. Die spyseniers het vir ons ‘n heerlike wynplaas se wyne gereël en ek het twee goeie glase Cabernet gekry. Aandete was briljant met lekker skaapboud en hoenderpastye en daarna ‘n poeding met vla. Dit voel sommer of die kerk vandag weer omgee vir ons.

Vanaand het ek by ‘n goeie vriendin in Garsfontein gaan kuier, wat ‘n pragtige woonplekkie vir my dogter kan voorsien, 7 km weg van die kampus waar sy gekeur is. Deure gaan oop maar alles is dubbeld so duur soos wat ‘n staatsgesubsideerde universiteit sou wees- dit bly ‘n bekommernis maar al my gelowige vriende bly my verseker die Here sal voorsien. Ek moet seker maar nog baie leer oor geloof, en is nou self ingeskryf in die School of Hard Knocks. Vandag was ‘n goeie dag, tsv gisteraand se min slaap. Mooi aand daar by julle elkeen, ek is nou vakenmoeg!

Advertisements

Vandag is die dag…

My facebook  status op die oomblik is:

mense, vandag kom net een keer in die hele ganse ewigheid. moet hom nou nie gaan staan en opfoeter nie!

En vandag is die eerste dag van die res van my lewe. En die stinkende hanswors sê ek moet prektis wat ek priets.  So this is it.

Ek gaan nie vandag my lessenaar skoonmaak nie. Ek het netnou my kerkkantoor gesms en gesê dat ek een van my baie opgehoopte dae verlof gaan neem. Ek het my selfoon gestel dat hy geen boodskappe neem nie.

Huisbesoek se tank is vol. Nou sit ek net en wonder: wat maak ek nou om ‘n heerlike dag te beleef, waar my gees weer by my liggaam kan uitkom. Nou net vir die drie mense wat daardie storie nog nie ken nie (die karwagte by die Blou Windpomp?) Toe David Livingstone so deur Afrika getrek het, het hy soos ‘n tipiese Engelse ontdekkingsreisiger die hele huis saamgeneem. En daarvoor het hy mos baie drakrag nodig gehad, en so het hy baie van die swart stamme se mense gehuur om sy porseleinborde en kristalglase en bottels luukse wyn, en sy drie trommels onderbroeke en vier trommels kouse… ens ens… te dra oral waar hy gaan. So nou en dan het oom Dawie bietjie haastig geraak, en die mense gedryf om dae aaneen baie ver te loop. En eendag toe gaan sit al sy portiere. En toe hy die tolk vra wat hulle so brom, toe sê hy hulle sit en wag vir hulle gees om weer hulle liggaam in te haal. Die tempo was so bietjie haastig na hulle Afrika sin.

Nou ja, ek sit ook en brom so bietjie, die tempo was so bietjie haastig vir my die afgelope ruk. Behalwe nou, grapjas Didi, dat ek mos eintlik net Sondae werk, en dan net vir ‘n uur, die helfte van die tyd nog met toe oë ook, het ek mos eintlik baie, baie tyd om op die blogs rond te lê. Behalwe nou dat die bloggery partykeer net ‘n manier is om vinnig weer perspektief te kry in die rondhardloop, en dat die afgelope drie weke elke dag meer as 10 ure se werk ingehou het, verlede naweek ingesluit.  So as grapjas Didi nie omgee nie, of as hy/sy/dit wel omgee, ek gee nie ‘n hel om nie, vat ek vandag by die OFF.

Ek is lus vir ‘n ent op Huisbesoek, dalk sal dit beter gaan as die laaste keer. Ek is lus vir Bose stad nommer 2- Gomorra. Ek vorder dalk net tot by die Kolonade, en is lus vir ‘n fliek. Dan is ek lus vir iets wat nie in ‘n franchise gemaak is om te eet nie. Spur burgers of Wacky Wednesday sal dit nou nie helemal doen vandag nie. Die enigste uitsondering is die Fruit & Veg in Zambesiweg- dis nou as ek nie na Woodlands Boulevard s’n toe verdwaal nie- The Food Connection- of wat noem hulle die goed?

Ek is lus om na nuwe motorfietse te gaan kyk. BMW.  Dalk selfs die Harley vir die oudag. Ek is lus om tweedehandse karre te kyk, dalk sien ek ‘n mooi Yaris tjieptjiep.

En ek is lus vir ‘n heerlike koffieshop.

So, geliefdes, ek sluit die preek af deur kortliks op te som:

1. Watter goeie movies wys op die oomblik?

2. Waar kan ek lekker eet in Gomorratswane?

3. Watter koffieshop beveel jy aan?

4. Kom jy saam koffie drink?

5. Enige ander voorstelle vir ‘n dag op my motorfiets wat ek mis op die oomblik?

 

Sterkte vir jou dag op kantoor!

AMEN

Passiespele op die Platteland

Vanaand voer ons vir die laaste keer die Passiespele op in ons kerkgebou, waaraan ons al oefen van Januarie af. Ek het maar ‘n klein praatrolletjie hier in die begin rond, omdat ek ‘n groot deel van die oefentyd in Spanje was met die Camino.

So ‘n Passiespele is nogal ‘n baie, baie groot klomp werk. Eers was daar die maande se skryf aan die draaiboek. Hierdie keer was dit nie my baba nie. ‘n Gemeentedame het dit geskryf, en elke nou en dan bietjie lekker vasgesit met my kollega, wat weer ander idees as sy gehad het as gevolg van ‘n suksesvolle Passiespele in sy vorige gemeente. Dan raak die tweetjies warm vir mekaar, en ek kalmeer, en ons soek saam na die middeweg. Uiteindelik was daar ‘n draaiboek wat die moeite werd was. Toe kom  die rolverdeling.  Dit vat ook ‘n klomp pleit, en soebat, en mooipraat. Want dit gaan ‘n groot klomp aande se oefening kos om hierdie stuk gereed te kry.  En daar is baie rolle: Jesus, twaalf dissipels, Pilatus, twee soldate, ‘n Hoëpriester, die duiwel, ‘n klein dogtertjie, ‘n klein seuntjie, ‘n skare manne, ‘n skare vroue, ‘n engel, Maria, Maria Magdalena… Dis net op die verhoog. Ek wou verskriklik graag die duiwel wees. Maar die mense het net geweier- ‘n dominee mag nie die duiwel wees nie!  (Ek het gewonder- wat is die verskil? Party dominees is dan die duiwel…)

Agter die skerms gaan net so baie aan. Ons het ‘n goeie klankoperateur nodig. Ons het iemand nodig vir beligting en die rookmasjiene. Ons het ‘n rekenaaroperateur nodig- eintlik twee, vir die digitale borde. Ons het mense nodig wat die dekor bou, en verf. Ons het mense nodig wat die koordanse afrig, en ander wat dit doen. Ons het mense nodig om die kostuums te maak. In totaal het ons passiespele omtrent 65 mense betrek, wat elkeen ‘n reuse klomp tyd, en liefde, en energie ingesit het. En om dit in sulke besige tye soos vandag te vra, was ‘n baie groot vra!

Januarie het die oefeninge al begin. Elke Maandagaand, vyf tot sewe. Van Mei af was dit Maandag en Donderdagaand. Van verlede Maandag af was dit volle kostuum, volle program.

Die een ding wat ons verskriklik geniet het, is al die humor so in die oefenprogramme. ‘n Mens verstaan nou hoekom soveel DVD’s vir ‘n mens daardie “gagreel” van al die floppies insit. Die sêgoed wat mense uitdink op hulle voete. ‘n Toneel wat mense skielik verras. Een van my groot vriende is Jesus in ons Passiespele. Daar is ‘n toneel waar Jesus van die kruis afgehaal word, en met iemand se karavaan stretcher afgedra word, toegegooi soos ‘n lyk. Dan word hy van die verhoog afgedra, tussen ‘n groep koordansers in wat in engeleklere staan en wag om met die opstanding op die verhoog te gaan. Die eerste keer, toe my vriend afgedra word, sit hy skielik regop en skree “Wha!” met die lykdoeke so om hom. En ‘n paar van die dames het amper skoon broeke nodig gehad daarna!

Dit is so lekker, as ‘n mens die akteurs so goed ken, om te sien hoe elkeen hom of haar in hulle rolle inleef. Die stuk het so op ons gegroei. En na maande is vanaand ons laaste optrede saam. ‘n Mens voel amper ‘n stuk heimweë! Wat gaan ons volgende Maandag en Donderdagaand met onsself maak?

Maar was die stuk die moeite werd om op te voer? So baie mense bel en sê dankie, dit was aangrypend dat ‘n klomp amateurs dit so goed kon regkry, insluitend klank, beligting en spesiale effekte. Met hierdie klompie sou ons amper rolprente kon aanpak, soos daardie gemeente in Atlanta wat Fireproof en Flywheel en Facing the Giants vir die wêreld gemaak het (ja, kyk weer- dis ‘n gemeenteprojek, dit kom nie uit Hollywood uit nie!)

Maar vir my was die aangrypendste getuienis, wat dit alles die moeite werd gemaak het, net hierdie getuienis. In ons dorp is ‘n skool vir gestremde kinders en jong volwassenes. Soos in erg gestremd verstandelik. Hulle is een van ons gemeente se gunsteling plekke waar ons betrokke is. En so het ons die draaiboek geskryf dat waar Jesus die kindertjies seën, dat hulle op die verhoog kom staan, en die akteur dan sy hande op hulle skouers sit, terwyl hulle sing: “Weet jy, dat Jesus jou liefhet, weet jy dat Hy baie van jou hou, sommer net soos jy is, want jy is kosbaar, en baie spesiaal vir Hom!”

Gisteraand, voor die vertoning, kom een van die meisies se ma na my toe. Sy  vertel vir my dat haar dogter het Woensdagmiddag ervaar dat Jesus self sy hand op haar kom sit het, en vir haar gesê het dat sy kosbaar en baie spesiaal vir Hom is. Ons praat hier van ‘n jong dame in haar twintigs, wat baie, baie erg verstandelik gestremd is. Sy het gister die hele dag by die skool net daaroor gepraat, en dit met almal gedeel.  En as dit die boodskap is wat hierdie Passiespele vir haar gegee het, dan was dit al die ure se oefen werd!  Maar ons hoor dit uit ons hele gemeenskap- mense het beleef: Hulle is kosbaar, en baie spesiaal vir Jesus. En ons is dankbaar, ons bereik wat ons so graag wou vertel!