Die nuwe pad Vaalwater toe…

Een van my goeie vriende raas nou met my en vra waar het my blog heen verdwyn… so hier is bietjie weer ‘n update…

Ons het gisteraand van die see af teruggekom. En vanoggend was ek nog op verlof terwyl my jongkollega en baie ander vriende op kansels reg oor Suid Afrika en die wêreld heen verskyn het. Maar ek- ek het bietjie laat geslaap… en toe ek wakker word hier net voor kerktyd, toe is dit ‘n pragtige sonnige dag, met die mooiste blou lug. Die kleur van die blou lug het my herinner aan die pragtige blou kleur van my nuwe ou BMW motorfiets…

Vir twee jaar lank was die pad tussen Nylstroom en Vaalwater ‘n baie groot ergenis vir al die Bosveldinwoners na Ellisras se kant toe. Die pad is heeltemal oorgebou om die groot lading verkeer te dra wat materiaal na die nuwe Medupi kragstasie toe vervoer. Die 60 km het in ‘n nagmerrie van 2 ure ontaard, met ses padverleggings wat enige tyd ‘n 30 minute wag kon oplewer. Die afgelope twee jaar het ek net daar gesit en mor oor die ongerief en die ure van my lewe wat nutteloos verspeel word…

Maar na al die lang wag is die pad byna klaar. Die pad is ook oopgestel vir verkeer oor die Kersseisoen. Ek en ‘n vriend het daardie nuwe pad met ons motorfietse gaan aandurf.  Dis so bitterlik lekker om op ‘n splinternuwe pad sonder enige pothole te ry! Op die motorfiets kon ‘n mens ook weer die vars lug van die Bosveld inasem, en die natuur geniet. Vir die motorfietsryers,  dis regtig ‘n pad wat ek nou kan aanbeveel as ‘n baie lekker rit!

As jy uit Nylstroom uit wegtrek, is daar eers die bultjie uit die dorp uit, verby die Gholflandgoed, en dan die aftreeoord wat entoesiasties Luilekkerland genoem is. Oppas maar daar net voor jy uit die dorp uitry, wees maar versigtig by die groot boom net voor die riviertjie, die geliefde verkeersmense rus graag daar met  allerhande apparate… Die spoedgrens is amptelik 80 tot verby Weesgerus, die Polisieoord. Nog so twee kilometer en jy kom in ‘n heerlike opwaartse S-draai. Baie pret met die nuwe teer, maar wees maar ook versigtig, in hierdie S-draai is al baie mense deur die Jordaan, omdat taxis en lorries en ander bejaardes die draaie onderskat en oor die middel jaag. Deur die S draai is daar ‘n lekker lang geleidelike opdraande, let op vir die swart rooibokke op regterhand, en ook swart blesbokke, die goed gaan nogal groot pryse op die veilings haal deesdae.

Nog ‘n slap draaitjie na regs, dan  lekker lang geleidelike af en op. Nou nader jy een van die mooi valleie in die Waterberge. So teen 35 km uit die dorp uit is die Geluksfontein Bokmelkplaas op regterkant. Dis een van die plekke waar jy vir iets soos R10 ‘n hele bord vol proestukkies kaas kan kry- bekroonde Bokmelkkaas. Hulle kaaskoek is vir my baie lekker. En hulle was op ‘n stadium besig om damme vir forelle aan te lê vir “catch & release”- ek was lanklaas daar, weet nie hoe ver die planne gevorder het nie.

Nog so entjie aan dan is daar weerskante van die pad groot perskeboorde. Die berge hier is baie mooi, ek wens iemand wil daar ‘n plek oopmaak waar ons kan tent opslaan! Die nuwe padoppervlakte maak dit ‘n baie lekker rit hier deur. So op 45 km kry jy die Swaershoek berge op linkerkant, een van die plekke waar Eugene Marais legendariese werk gedoen het oor die bestudering van bobbejane se gedrag. My vriend het hier ‘n episode gesien wat ek gemis het om een of ander onverklaarbare rede. Iemand het ‘n baba bobbejaantjie vroeg vanoggend daar doodgery. Die trop bobbejane was baie verbouereerd, en het oor die pad gekrioel, om daardie baba van die pad af te kry.  Hulle gee regtig vir hulle kleintjies om, soms soveel beter as mense!  Maar ek het dit nie gesien nie, want ek is op ‘n BMW, en my vriend op ‘n Truimph, hy was ver agter…

Daar is ‘n baie gevaarlike draai na regs soos jy die berge nader. Baie mense het hom ook al onderskat en die lewe verlaat, wees versigtig. Die plek word Sandrivierspoort genoem, moenie dat dit die poorte na die hemel te gou vir jou laat oopgaan nie. Dan begin jy klim, ‘n lang opdraende, wat effens afdraande word. Dan is daar ‘n baie steil opdraande, wat genadiglik nou dubbelbaan weerskante toe is. In die verlede het ons lelik met ons karre en bakkies agter lorries vasgehaak hier, dis ‘n reuse verbetering. Bo-op die pad draai die pad weer na links, darem nie te skerp nie. Nou is dit nog so 7 km tot in Vaalwater. Die sinkplaat padstalletjie was toe vir die duur van die padbou, ek sien die bordjie sê hulle het 15 Desember weer oopgemaak. Daar is nogal baie padstalle langs die pad. So hou die pad reguit maar op en af aan tot in Vaalwater. Die oomblik as jy in die dorp inry word die pad weer baie sleg, soos hy eens was, vol lelike slaggate. MEt die baie reën die afgelope ruk is daar ook baie sand oor die pad. Daar is verskeie plekke om iets te eet in Vaalwater, maar ons keuse vanoggend was die Big 5 Restaurant op regterkant in die dorp se deurpad.

Ons het goeie diens daar gekry vanoggend. Ek het ‘n omelet met kaas, bacon en mushrooms gehad, wat saam met roosterbrood of chips bedien word, en ‘n glas vrugtesap vir R48. My vriend het die maalvleis op mieliepap met ‘n eier geëet, vir dieselfde prys.

Dit was nou ‘n heerlike oggend uit op die motorfiets! Jammer, my selfoon het pap geword, en ek het nie my ander kameratjie saamgery nie. Fotos sou nou so mooi wees, maar ek wou ook nie elke paar meter stop nie, net ry en geniet!

Poison Rally 2012 fotos

Ek is veilig terug by die huis, ek het niks verder aan die brand gesteek nie en nie in die tronk beland nie…

Dag twee van die rally het rustig vir my verloop. Ek het eers ‘n ontbytjie gaan eet by die Spur, en toe uitgery na Bossiespruit toe, waar ek as dienspligkapelaan ‘n jaar van my lewe deurgebring het.

Die res van Saterdag het ek maar mooi motorfietse gekyk, en die mense se vreemde doen en lates op ‘n afstand gesit en kyk.

So dis hoe ‘n mens in die kinderpoel speel?

Party ouens maak mooi met motorfietse…

Ander nie so mooi nie, maar geniet hulle steeds!

Ja, dis waarvoor ek rallys bywoon- Its all about the bike… (nie soos Lance nie…)

Hierdie Captain Morgan fiets het ‘n hele paar pryse by die Concourse gewen:

Dan is daar ook die ouens wat baie ernstig is oor motorfietsry! Hierdie ou Honda Goldwing is dalk nie meer so mooi nie, maar volgens sy eienaar het hy al oor die 1230000 km gedoen- een punt twee miljoen kilometer!

 

Ek het net baie hartseer dinge ook gesien. Manne wat uitpass daar in die kosarea, in die bloedige son. Ek dink dit kan lewensgevaarlik wees, weens ontwatering.  Ek het na familierusies geluister in die bure se tent, want dit was maar so 4 meter van myne af. Ek het gehoor hoe mense met mekaar praat na ‘n paar doppe, en ek dink nie daardie verhouding het eers ‘n medium termyn kans op oorlewing nie. Hoe kan mense mekaar so slegsê- weer woorde gehoor wat ek laas by Yskor se nagskof gehoor het as die hoogoond moeilik raak…

Hierdie keer wil ek graag dankie sê vir Danville se CMA- die koffie was lekker en die diens was uitstekend, baie dankie vir julle ouens se manier van operate!

Dankie vir die Alstom manne wat my genooi het vir ‘n dop en ‘n burger gisteraand, en die saamry vanoggend, ek was nogal eensaam op die rally tot julle my ingetrek het!  Maar ek dink ernstig ek gaan nie weer alleen na ‘n rally toe ry nie, as daar nie volgende keer ‘n paar vriende saamgaan nie, gaan ek ook nie. Ek is net nie so ekstrovert om vinnig nuwe pelle te maak nie!

Ek is jammer oor die twee manne wat reeds oorlede is teen Saterdagaand, en in Johannesburg vanoggend onder die een brug het dit na nog ‘n ernstige motorfietsongeluk gelyk.  Jammer vir al die families betrokke oor hierdie stuk seer!

Baie dankbaar om weer veilig by die huis te wees!

Poıson Rally 2012 dag 1

Ek en my De Graaff vrıend was gısteroggend alreeds om 06h00 by sy wınkel. Ons moes nog dıe Topbox brackets versterk. Ek het so net na 8 ın dıe pad geval, en eers my skoonma gaan skrıkmaak waar sy vır haar gemeente pannekoek gebak het. Daarna op dıe Vıljoenskroon pad na Kroonstad gery.

Met dıe ınry het ek al dadelık gesıen: Kroonstad se burgemeester kan lekker lıeg. Dıe dude het vır ons verlede jaar verseker ons gaan hıerdıe jaar dıe paaıe nıe herken nıe, so mooı gaan hulle reggemaak wees. Hoe weet ‘n mens ‘n polıtıkus praat str*nt? Sy lıppe beweeg. Gıster het hulle so drıe pıenk sandgrafıes vol teer probeer ın een pothool gooı voor dıe ıngang van Kroonpark. Net om seker weer vanaand vır ons te vertel hulle het darem IETS probeer doen… Dıe pothole ın Kroonstad ıs lewensgevaarlık vır motorfıetse…

Ek was half 11 reeds op dıe terreın. En al klaar ıs staanplek ‘n probleem. Ek staan tussen dıe duwelltjıes drıe dagreıse van dıe naaste poepketel af. Toe ek daar aankom: nog ‘n lıgte rampıe. Ek ıs nog nıe gewoond aan dıe Boxer enjın nıe. En soos al dıe vorıge jare trek ek dadelık dıe veılıgheıdsbaadjıe uıt en hang dıt oor dıe “handlebar”. Soos met ou Huısbesoek. Reg bo-op dıe warm uıtlaatpyp! Nou ıs my baadjıe se zıp fubar. En dıe ou wat ons badges opwerk het net voor ek daar aangekom het sy laaste lang zıp op ıemand anders se baadjıe vasgewerk…

Daar ıs weer baıe mooı motorfıetse, ek sal fotos oplaaı as ek by dıe huıs kom. Daar ıs weer jong meısıes met mın kleertjıes wat shooters ın ınspuıtıngs verkoop (Jâgermeıster). Ek raak oud- dıe kınders lyk so mınderjarıg!

Lıttle Annıe het weer gısteraand gedans. Haar routıne het ın 2 jaar nıks verander nıe… Daar was ‘n ou wat net met sy mond ‘n hele dısko namaak dat jy nıe dıe verskıl kan hoor nıe- Boomboxıng ıs dıe verskynsel se naam glo. Daar was ‘n man enm ‘n vrou wat met vuur gespeel het op dıe verhoog, hulle was ınteressant maar het 20 mınute te lank met dıeselfde truuks aangehou.

Na 2 vroeë oggende en laat aande was ek ernstıg moeg. Ek het net na 10 gaan stort en ‘n slaappıl gedrınk. Dıe slaappıl was nıe genoeg om dıe ıdıote wat hulle motorfıetse vır ure aaneen ın dıe rooı Rev heeltemal uıt te sny nıe, veral nıe dıe een 10 meter van my tent af nıe. Hoe hou dıe enjıns dıt? En wanneer mag ‘n valveslap leı tot ‘n faceslap?

Dıe moeê en grumpy Donkıe uıt Kroonstad Spur- Vıva Unreal breakfast!

Aan die brand!

Ek is vanoggend sesuur by die huis weg, en het nou in Klerksdorp aangekom. Maar nie heeltemal veilig nie…

Ek het sulke tjiep tjiep panniersakke wat my al jare irriteer. Met groot gesukkel is hulle op die fiets vasgemaak.

Vanoggend op die bult net voor Petroport vrek die motorfiets se enjin net. Geen petrolliggie het aangekom nie… ‘N BMW kar vol swartmense stop by my. Oh-oh groot probleme, dink ek… Die een kom dringend na my toe aangestorm- vandag speel ek seker harp, dink ek. “Weet jy dat jy aan die brand is?” Vra hy benoud en wys my. Die linkerkantste paniersak het in die ry afgewikkel tot hy aan die uiaatpyp raak. Hy smeul nie net nie, hy BRAND! Vlamme! Ek maak so vinnig as wat ek kan los, en kyk… Al my netjiese nuwe golfhemde en kortbroeke is aan die brand! Alles in daardie panniersak is deur die jordaan. Ek het niks om dit mee te blus nie, los dit net daar langs die pad. Maak die res so op “n manier vas.

Raai wat? Toe alles weer veilig vas is, staart die BMW met die eerste druk van die knoppie. Ek stop by Petroport- daar is nog 3 liter petrol in gewees.

As ek aanhou ry het, het alles en dalk selfs ek aan die brand geraak. Hoe, vra ek, verklaar jy dit? Maar ekke weet…

Die vreugde in ons lewens

In ons Pastorie is die een vreugde wat die meeste van ons deel:

Elkeen het sy eie plek en sy eie doel, elkeen voel soos ‘n kind in die huis. Gister het iemand ‘n aanbod op Huisbesoek gemaak (middel) maar ek weet nog nie hoe ek dit oor my hart gaan kry nie, eers as geldsake BAIE druk sal dit seker op die tafel kom.  Maar nou ja, seun se scooter voor is altyd onderhandelbaar, hy wil so graag ‘n motorfiets motorfiets hê.

Ek is sover baie gelukkig met my nuwe ou BMW. Ek was Donderdag stad toe vir die legitimasie van die teologiese studente. Dis die geleentheid waar hulle na 6 jaar se studie uiteindelik klaar maak, en die kerk sê hulle mag nou maar dominees word.

Die motorfiets ry soos ‘n droom op die oop pad, maar ek dink ek moet nog die Boxer enjin gewoond raak, met al sy unieke klanke. Wanneer is dit normaal, en wanneer raas die kleppe?  Die ander aspek wat ek baie tevrede mee is, is brandstofverbruik. Ek het plek plek 140 gery, en baie in die stad rondgery. Toe ek brandstof ingooi om terug huis toe te gaan, was die verbruik 11.78 liter vir 240 km.   Daarmee kan ek saamleef!  Die fiets voel stamperig met ‘n passasier op, ek het nog nie na die skokbreker stellings gekyk nie, hoop nie hulle is klaar nie, want dis glo baie duur om te vervang.

Die afgelope twee dae was ongelooflik warm op die motorfiets, en vandag dreig die reën. Ek bly lus vir die oop pad!

Drome en Nagmerries…

Kom ons begin eers met die positiewe- een van my groot drome in die lewe het hierdie week waar geword. Baie gaan lag daarvoor, en op litnet sou ‘n sekere “dame” nou weer baie te sê gehad het daaroor. Dominees wat die gemeente se geld so mors en al derglike dinge…

Ek het uiteindelik vir my ‘n BMW motorfiets aangeskaf. Ek droom al jare en jare en jare daaroor. Myne is nou wel ‘n ou een- 2000 model, maar dis al wat ek wou gehad het- ‘n BMW met ‘n Boxer enjin waarmee ek lang pad kan ry.

So lyk die nuwe Duitse Madchen in my lewe: ‘n R 850 R

Ek sien baie uit na vanjaar se Poison Rally, dat ek en sy die pad kan vat!

Maar saam met elke droom kry ek ongelukkig ‘n nagmerrie by. Hoekom moet die lewe altyd so uitwerk? Maandag koop ek die Motorfiets. Woensdag probeer skelms my dogter se kar in Brooklyn steel. Gelukkig het hulle dit nie reggekry nie. Maar hulle het die deurslot gebreek. En die hele ignition gebreek. En die paneelkassie. In elke nagmerrie is daar seker ook hoop- ek is so dankbaar vir Plaasjapie wat al die pad soontoe gery het om my te help terwyl ek nie kon stad toe ry nie- ek moes ‘n kerkraadsvergadering lei.

Die bevinding is: daar is meer as net ‘n “universal ignition” nodig- en die betrokke Toyota part is R2800…  Ek het die kar vanoggend hier gekry, nou sal ek in die week moet kyk hoe op aarde maak ‘n mens hom reg…

Vrydag is ek en Pastoriemoeder deur stad toe om die motorfiets te gaan haal. Vir die eerste keer in jare kry ons kans om te gaan fliek sonder die kinders. En ons het die fliek baie geniet- Hope Springs of so iets- van Meryl Streep en Tommy Lee Jones as ou getroudes met ‘n vervelige huwelik. Die twee is darem net uitstekende akteurs, en ons het die fliek baie geniet.

Maar in die fliek kry ons ‘n BBM van ons oudste seun (16) af. Hy was by ‘n vriend se 16e verjaardagpartytjie by ‘n skool se lapa.  Een van die 19 jariges het ook daar aangekom. Hy het in die swembad ingeduik, in die vlak kant. Hy het sy nek gebreek op die swembad se bodem, en verdrink voor hulle oë.  Hulle het eers gedink hy maak ‘n grap, en toe ingeduik om hom uit te haal.  Hulle het noodhulp probeer, en die ambulans was redelik vinnig op die toneel.  Maar die nuus het later deurgekom dat die jong man oorlede is.  Wat ‘n aaklige ervaring vir die seun se ouers, en vir ons gemeenskap!  Dis so sleg as jongmense so skielik doodgaan!

Die lewe is tans so baie op en af, dat ek sukkel om al die varkies op hok te kry.  Ek sal maar more die nuwe motorfiets gaan ry, en kyk of ek hom deur die toets kan kry sonder te veel trane. Daarna gaan ek net ry en ry en ry tot die son sak in die weste…

Waarom is my kop so groot?

So maak ek toe vanoggend die tweede troosdiens in twee dae klaar. Toe is ek ook sommer klaar. Miskien was ek dalk nie so eerlik gister toe ek gesê het sulke dienste is so maklik nie… die een ding wat ons in enige hulpverlenings beroep leer, is om empatie te hê met mense. Maar nie om hulle las op ons eie skouers te pak en vanaand daarmee te gaan slaap nie… Ek kry dit nie altyd reg nie. Mense se seer raak my maar altyd, diep.

Van Standerd 8 af was daar een manier wat my koppie weer laat ophou raas het. Adrenalien. Soos in Motorfiets gaan ry. Vrydag is mos eintlik my afdag, behalwe wannneer dit nie my afdag kan wees nie- soos in ‘n troosdiens, sien? Soms sê ons ons wens mense wil net ‘n maand voor die tyd aansoek by die kerkkantoor doen om hemel toe te gaan, dan kan ons dit beter skeduleer op ons dagboeke…

My een goeie vriend, ook my Diensverhoudingsbestuurder, is op verlof. En hy ry ‘n baie mooi nuwe Truimph 8oocc dueler. Dis sy laaste werksdag af- en hy sê vroeër in die week ons moet gaan ry. Kollega het onlangs ook ‘n 8oo cc gekoop- ‘n antieke Suzuki, ek dink ‘n SV. Hy wil ook saamgaan.

Die troosdiens begin 11 uur, ek hou nooit sommer langer as 1/2 uur aan nie, mense kan mos maar net soveel hanteer op so ‘n hartseer dag. Ek gaan drink ook tee saam met die familie, en is net voor 12 tuis. Wat ‘n kontras! Een oomblik by ‘n troosdiens in ‘n baadjie en das. Die volgende oomblik in my denim, veiligheidskoene, Poison Rally T-Hemp, Motorfietsbaadjie… Van Dominee na Biker in 10 minute…

Nou is daar ‘n probleem. Ek het my motorfietshelm nodig om te gaan ry. En daardie dekselse 16 jarige seun van my het MY heml gevat om skool toe te ry. In my huis is daar omtrent 7 verskillende helms. Myne is die enigste een wat nog ‘n “visor” ophet. En boetman kry koud in die oggend op pad skool toe. Toe vat hy maar myne.

Dis waar die groot kop inkom. Nee, ek dink regtig nie ek is beter as ander mense nie. Nee, ek het niks om oor snobisties te wees nie, behalwe dalk my pragtige nuwe amper 5 jaar oue Corolla. Maar Steve Hofmeyr het lank gelede al gesê manne wat wit Corolla’s ry is vervelig … ek sal my vrou nog eendag daaroor moet vra as sy in ‘n goeie bui is…

Nee, ek het fisies ‘n groot kop. En lekker bak ore soos radarskottels op Mariepskop. En dit maak dat ek ‘n XXL helm nodig het om al daardie verstand, of Torcelli se lugleegte, veilig op ‘n motorfiets wettig te mag vervoer. Byna niemand wat ek ken, besit XXL helms nie. My liewe seuns kan almal in ‘n Medium inpas. Die Hoërskool is ‘n totale afstand van 720 meter ver. Oopgesig helms sal jou nie in die Bosveld hipotermie gee in 720 meter nie.

Dis toe die probleem vanoggend in die pastorie. Pa wil dringend saam met sy vriende gaan bike ry. Boeta het die helm. Pa is die duiwel in, en dreig met gesinsgeweld. Uiteindelik het die groen monster op die erf opgedaag, Pa sy helm gegryp met ‘n beduiwelde gesinsuitdrukking…

Maar weet julle, selfs as die ou 650 cc’tjie opstaart, dan begin die lewe baie beter voel! Daardie gevoel van die wegtrek, die eerste draai. Die wonderlike gevoel om uit die dorp se grense uit te ry. Daar is sulke pragtige bome in ons gebied. Die mooiste maroelabome. Wilde olyfbome. En soveel ander wat jare gaan vat om te leer. Langs die pad speel rooibokke. Die pad kronkel so lekker deur die rante na die buurdorp toe. In my truspieëltjie die ligte van die twee 800 cc’s- my vriend op die Truimph is maar baie versigtig! En kollega se Suzi kan seker nie… 🙂

Ons het die wonderlikste ritjie gehad tot by die Dokter in die buurdorp. Daar het ons van oom Charles se lang glase koeldrank geneem, en ‘n bordjie tjips. Daarna die pad terug huis toe. By die huis het ek aangekom, verfris, vervars, en gereed vir my middagslapie…

Nou hoekom het ek tyd om sulke nonsens te skryf? Want my vrou het my alweer verlaat… Ousus is terug in Gomorra, ouboet werk by die restaurant, en die jongste twee lê en slaap hier voor die televisie… Ek kyk ‘n fliek wat opgeneem is, Vince Vaugh is irriterend maar Jennifer Connely is altyd pragtig…
Ek voel eensaam sonder my vrou, die bed is koud, en die ysbere is baie…

Gelukkig het sy net saam met haar suster na haar ma se huis toe gegaan, om weer totsiens te sê vir haar Ierse sussie… Sy is Sondag weer terug…
So… eensaam en verveeld… jy seker ook as jy so ver gelees het!

Nommer Drie…

en Nommer 4…

Hiep Hiep Hoera, die Bikerskerk is nou hier…

‘n Klompie van my goeie vriende is baie  opgewonde.  Dit gons al die hele week op facebook daaroor: Uiteindelik word daar vir ons dorp ‘n Bikerskerk geplant.  Sondagoggend tienuur by die vakansie-oord. Daar kom sommer ‘n pastoor, seker van die stad af. En ‘n “band” kom ook vir die “launch”… Nou gaan ons kerk wees- dit staan mos elke maand in die Bike SA tydskrif: “Jesus died for Bikers too…”

foto: http://www.signsfunny.com/tag/biker-humor/  Onseker of die broer op pad Bikers Church toe is…

Ek is ook sommer uitgenooi op facebook- ek moes net reply of ek kom of nie. Ag, ek wou so graag, broers! Dink net aan al die moontlikhede- ek hoef nooit weer huisbesoek te gaan doen nie! Ek chat sommer met die gemeente op die “breakfast run” net voordat ons ons “bikes” gaan “bless”. “Boetas”- dit gaan sommer “kief” wees, net ons en ons “boneys” vir Jesus! Niks meer bekommernis oor oumense wat versorg wil word nie. Niks meer bekommernis oor die kinderhuis wat so baie geld nodig het om aan die gang te bly nie. Niks meer van daardie nonsens van kos vir die “bikeloses” nie… Nee, dis net ek en my bike en Jesus…Fantasties!

Maar… daar is ‘n ou probleempie. My vrou is nie regtig in murg en been ‘n “Biker” nie. Sy sou baie meer tuis wees vir die kerk van mense wat van boeke lees hou. Ek sou ook met daardie crowd kon meng. “Jesus died for readers too…:” So nou moet ek Sondag biker kerk toe gaan, sy moet boekekringkerk toe gaan. Maar dis ook nie so eenvoudig nie. Ek het ‘n dubbelkajuit bakkie… En die bakkieryers in ons gemeenskap is ook nice ouens… “Jesus died for Hilux owners too…” Ek sou graag soms by hulle kerk wou wees.  Maar dan is ek eintlik verskriklik baie lief vir my wit Corolla. Ek het twee, Varsity Vixen ry die ou een…  ‘n Kerk vir Corolla eienaars sou ook baie nice wees… “Jesus died for Jap car owners too…” Dalk elke derde Sondag eerder by hulle kerk inval.

Maar daar is nog  ‘n probleem. Ek ken ‘n paar ouens wat vlieg. Hulle hou daarvan om met ligte vliegtuie rond te speel. EK ken een ou met ‘n microlight. Baie nice ou.  Ek het al ‘n helikopter pilot ontmoet. Hoe? Hy het my sommer self gesê. Ek het darem ‘n paar Raybans soos syne. Ek glo “Jesus died for pilots too…”  Maar ek het nie geld om te vlieg nie.  Maar ek sou darem baie daarvan hou om soms saam met die pilote te aanbid… Nou kan ek nie. Dis ‘n eksklusiewe kerk daardie… Ek voel nie welkom daar nie…

En dit, liewe vriende, is my punt. ‘n Bikers kerk maak nie vir my sin nie. Jesus het een kerk, een liggaam met baie lede. Ek sou baie, baie meer daarvan gehou het as my goeie vriende in hulle leathers kerk toe gekom het, en na kerk hulle eie ding gaan doen het. Hulle kon selfs ‘n bike verwante omgeegroep in die gemeente gestig het. Ek sou graag deel daarvan wou wees. Maar ek het Sondae behoefte om saam met my biker vriende, en my leeskring vriende, en my bakkievriende, en my Corollacvriende, en my vlieëniervriende, almal saam as een liggaam ons Here Jesus te aanbid. En by mekaar te leer. En saam te vier dat ons so verskillend mag wees en dink, en nog steeds aan mekaar behoort.

Want, liewe biker vriende- baie van my vriende het nie bikes nie. ‘n Biker kerk is eksklusief.

En ‘n ware kerk bestaan juis nie net vir homself nie, maar ter wille van die ander. Die oumense wat versorg moet word. Die kinders wat bygestaan moet word om veilig groot te word. Die versorging van die armes, die weduwees en die wese…  Al daardie minder lekker dinge wat die Biker kerk se mense nie wil by uitkom nie- “We burn rubber, not souls…”

Daar is al klaar te veel kerke in die wêreld. Daar moes net een gewees het. Almal in verhouding met mekaar.Met verskillende kerkplantings as ons byeenkoms te groot raak vir die lokaal waar ons Sondag bymekaar kom om die Here te dien.

So askies dat ek nie so opgewonde soos julle oor die stigting van die Bikers kerk  is nie. Ek kan  net nie aan ‘n Biker kerk behoort, ten koste van al die ander verhoudings waarin ek staan met nie-bikers nie. Ek het ook ander mense as Bikers in my lewe nodig om gebalanseerd te wees.

Harrebeespoortdam is ‘n lekker dam… ok die vissies wat heeldag byt…

Die hoëdrukstelsel oor die Atlantiese oseaan het ‘n koue front diep oor Suidelike Afrika ingestoot. Baie koue lug van die Suidpool af het ‘n wit, vlokkieagtige neerslag op die berge gedeponeer, van Worcester se berg af, deur Matroosberg, die Karoo, Bloemfontein en die Drakensberge. Daar was in Sutherland selfs ryp tussen man en vrou gewees, so koud is dit. Behalwe dat die weer die Castle Light na bewering die regte temperatuur maak, is daardie koue selfs in die Bosveld teenwoordig, hier waar ons gewoonlik net winter op ‘n Dinsdag en ‘n Woensdag in Julie het. Selfs hier, waar dit in menseheugenis nog nooit gesneeu het nie. is dit leeukoud.

Vanoggend sewe uur sou enige normale mens sy wekker met die kerkskoen doodgegooi het, omgedraai het en nog so uurtjie in die vere gebly het. Die Weerburo het dan juis gewaarsku: Weghol ysbere kan voorkom oor die hele land…

Maar hier by ons is daar ‘n gebrek aan normale mense. So lui die wekkertjie toe half sewe. My neus wat bo die duvet uitsteek, is yskoud. Maar daar is ‘n afspraak wat nagekom moet word. Sewe uur ontmoet ek: my haarkapper, Die gimnasiumeienaar en sy meisie (‘n bloubul en junior Springbok se ma…), die polisieman en sy vrou- superfikse fietsryers, die man wat die privaat toetsterrein in ons dorp besit en sy vrou, die bestuurder van Beares en sy vrou, en die dominee wat nie vandag preek nie (dis nou ekself…) voor die Wimpy. Dank Vader dis nie met trapfietse nie! O nee, dis tyd vir ‘n breakfast run. Hartebeespoortdam is ‘n lekker dam…

Die wekker gaan op die goddelose uur af, en ek sleep my moë karkas uit die bed uit. Denkende aan Lodie de Jager wat nie vir sneeu en ysbere en reën terugdeins om motorfiets te ry nie. As Naboom dit kan doen, dan kan ons ook… Respek, Lodie!

Ek trek so in die donker aan. My denim. My Poison Rally T-Hemp. My Protea span sweetpakbroek. My Argus Langmou T- hemp. My reënbroek. My Motorfietsbaadjie, met die “lining” ingezip. My “Colors”- onderbaadjie… Timberland stapkouse, ekstra dik. My Hitek Workboots, met die staalpunte. My Springbokserp styf om die nek. My handskoene en helmet in die hand, sluip ek in die duisternis in.  Ou Huisbesoek vat met die eerste druk van die knoppie- die Italianers kan darem maar goeie bikes bou!

Ek kry die groepie by die Wimpy. Hy is nog nie oop nie, die res van die dorp is goeie mense wat nog lekker in die kooi verkeer… Ons skiet deur- stop by Warmbad se Wimpy. Hulle is nog beter mense- daar is nie een van hulle wat uit die kooi gevang word op so oggend nie. Nie een Biker van Warmbad wil saamkom nie- sissies… Behalwe daar is darem goeie mense wat nou al werk in die Wimpy, wat vir ons lekker wegneemkoffie maak. En dit is al klaar nodig, my hande vries in die handskoene, en die bootse se staalpunte is ook naby 0 grade Kelvin…

Ons ry op die ou R101 deur Pretoria toe- die goeie mense van Hammanskraal is ook nog almal in die kooi. Ysbere word oral tussen die sinkhuisies gewaar…  Na ‘n ewigheid in die vrieskas draai ons by Lavenderweg op die pad wat teruggaan N4 tolpad toe, rigting Rustenburg. Ons tref ‘n tolhek, en ervaar weer die Bikers se wrewel- op my motorfiets betaal ek dieselfde as wanneer ek met my 1.6 ton Mazda Drifter en ‘n VOL karavaan daar sou deurgaan! Highway robbery! Wanneer gaan ons eendag saamstaan en al die tolhuisies afbrand?

Ses motorfietse van onse dorpie kom daar verby Ta’ Malie se winkel, onderdeur die Arc de Triomph, oor die damwal… ons stop in die draai. Want hier is iets interessant om te sien by die uitkykpunt. Die Ural groep met die “sidecars” staan daar, seker omtrent tien van hulle… Dapper mense wat ook ysbere trotseer. Maar nog voor ek die handskoene kan uitpluk en die swartbessie kan op kamera kry, ry hulle weer. Dit lyk ook op ‘n vreemde manier lekker, hierdie “reversed engineered” Stalin geboude,  by die Swede gesteelde, met hulle sykarretjies 1941 BMW motorfietse… (dis nou die Ural se hele geskiedenis in een sin…)

Ons ry aan, ons gaan brêkfis by die Wimpy in Hartebeespoortdam. Behalwe nou vir ooglopende produkplasing in hierdie sepie moet ek vermeld dat ons nie eers ‘n enkele koppie koffie gratis gekry het vir al hierdie advertensiegeleentheid nie!!! Die plek is aansienlik leër as normaalweg… iets met ysbere te doen…  Ons gaan sit buite in die baie flou sonnetjie. Dis baie, baie koud so naby die water, in die berg se skaduwee…  Hier hoor ons ‘n groot hartseer by ons buurmanne met die groot GS’e, een van hulle vriende het vanoggend agter in ‘n kar vasgery. Hy is deur die Jordaan… baie jammer aan sy familie, dit bly altyd ‘n groot skok in die bikergemeenskap!

Ontbyt kom,. WImpy se MEga Koffie bly nie lank warm buite nie… Maar die Dagwood maak op daarvoor, al het ek en ‘n ysbeer op ‘n stadium gestoei vir die stuk met die bacon en eier op. Ek het gewen- “survival of the fittest”!

Na ontbyt het ons veder gery. Om die dam, natuurlik. Daar by Pelindaba het een of ander klassieke Amerikaanse motorklub van voor af verby gekom. Daar was nou mooi karre in daardie stoet! Muscle cars, hotrods… natuurlik kon ek nie in die ry ‘n foto neem nie!

Verby Roos se oord, agter kosmos verby, nee, ons het nie daar gaan uithang saam met die 2000 ander ouens wat daar brekfis nie. Ons het deurgegaan na die Upperdeck toe. Daar was toe tog ‘n hele klomp bikers wat nie bang was vir ysbere nie. Daar was die mooiste motorfietse, almal mooi gepoleer en blink. Tot een gesuipte tappit begin het om sy agterwiel te spin op die grondpad, en almal se motorfietse met rooi West transvaalse stof te bedek. Dis vir my ‘n wonderwerk dat die broer nie vanaand in die ICU slaap nie…

By die Upperdeck het ek net ‘n Milo gedrink, ek belowe. Het ek al genoem dat die ysbere vandag lastig was? Daar was baie van hulle wat tussen die houtstalletjies rondgesluip het. Natuurlik kon ek nie ‘n Castle Draught vandag drink nie. Want hulle val reg deur op so ‘n koue dag. Jy koop hom nie. Jy huur hom net…  Weet jy wat se gesukkel is dit by die krip om jou besigheid te doen, so met die koue en die drie broeke en ander fisiologiese anatomiese verskynsels saam? Leeukoud. Jy wil nie bier drink en sewe keer krip toe gaan nie.

Na die Upperdeck het ons maar die pad Noorde toe aangepak, hopende om ‘n lekker middagslapie en ander Sondagmiddag ervarings tuis op die hals te gaan haal. Maar ek het tot nou geslaap, in Nadal en Jocovich se 3e stel… Nou is my keel nogal seer, en my kop ook, ek wonder hoekom?  Maar Lodie sou nie moan nie, so ek gaan ook nie!

Dit was nou ‘n baie lekker dag! Baie dankie vir my haarkapper en ander vriende wat my saamgeneem het…

Huisbesoek het hom mooi gedra vandag,…

Gesien by die stalletjies by Upperdeck…

Vandag se Motorfietse in ons groep:

Aprilia Pegaso 650

BMW K 75 R

Honda CBR (was dit ‘n 1000 of 600?)

Honda moerse groot toerfiets- wat is sy naampie Japie? Honda st 1300 Pan European tourer

Suzuki V Strom 650

Yamaha FZR 1000 Toerfiets…?

Die bikers in ons groep het hulle ook mooi gedra vandag oom Ouderling!