‘n Wonderlike laaste dag van Verlof…

Vandag is my laaste dag van 10 dae se verlof. Ek het dit by die huis deurgebring, en my maar verbeel ek is wel op Morgan Baai.

Die een probleem met ons werk is dat ‘n mens nooit afskakel by die huis as ons op verlof is nie. Die huisfoon lui, en ‘n mens weet nooit of dit vir die kinders is, of dalk ‘n krisis in die gemeente nie. Die kinders gaan nie die geleentheid mis om iets lekkers te doen saam met vriende nie, daarom antwoord hulle altyd die telefoon. En so nou en dan kom dit deur: Is jou pa tuis?

So was ek betrokke by ‘n troosdiens Donderdag, wel vir iemand vir wie ek die wêreld se respek gehad het. Maar daarna voel ‘n mens nie meer op vakansie nie. Ek het ook navraag gehad oor iemand wat graag iemand anders wil aanspreek  oor sy meisie by hom ingetrek het, en ek dringend daar moet optree. Dit neuk ‘n  vakansiegevoel nog baie meer op!

So, al bly ek reg langs die kerk, het ek vanoggend besluit: Aangesien ek nog op verlof is, gaan ek kerk bank. Dit is ‘n pragtige oggend, en ek gaan my motorfiets vir ‘n Breakfast Run neem.  En dit het ek toe gedoen. Terwyl die goeie mense die kerk volgemaak het, het ek in my denim en T Hemp en leathers die pad gevat, na die Maxi’s op ons buurdorp toe, vir ‘n heerlike omelet. Op pad soontoe het ek vir myv ‘n Rapport gekoop, om die nuutste nuus oor die Modimolle Monster te lees. En vir balans, om te fokus op die verhewe dinge in die lewe, het ek vir my ‘n Bike Sa gekoop.

Die rit na die buurdorp toe was heerlik. Die lug was so effens koel na gister se bewolktheid.  Die veld was pragtig, en die kronkelpaaie en my Mitchelin Anakees verstaan mekaar mooi.

Maxi’s het my teleur gestel. Die koffie was vanoggend vrek sleg.  En die omelet se kaas was nie eers gesmelt nie. Ek het maar daar gesit en die Rapport klaar gelees. Dalk, sê Rapport, sal die wêreld nie heeltemal op 21 Desember 2012 tot ‘n einde kom nie. Miskien het die Maja’s net uit klip uit gehardloop!  As hierdie die laaste jaar is in onse lewens, dan wil ek dit graag voluit lewe. Die lewe is in elk geval te kort vir slegte koffie, is die een slagspreuk by Mugg & Beane. Daarom het ek so vinnig as moontlik oorgeskuif na Greenfields op die Waterfront vir beter koffie. Daar het ek die Bike Sa deurgelees.

Ek wil net eers hierdie met my motorfiets vriende deel- net buite Maxi’s het hierdie pragtige ou BMW R 100 GS gestaan, in perfekte toestand. Hierdie fiets was al tot in Tanzanië volgens die inskripsie op sy fairing.  Dit is ‘n pragtige, baie skaars ou fiets, en sy eienaar kyk baie duidelik mooi na hom…

Op pad terug het ek die wet lelik oortree, ek bely, ek is baie jammer. Tussen Warmbad en Nylstroom, of Bela Bela en Modimolle vir die meer polities korrekte name, is een van die lekkerste kronkelpaaie. Maar om een of ander rede het die slim verkeersmense gedink die meeste van die 27 km moet teen 60 km per uur afgelê word. Belaglik! Ek het plek plek 140 km/u in ‘n 60 s0ne gery, en voel glad nie skuldig nie, al is dit ‘n toesluitbare misdaad. Maar dit was soveel pret- die draaie, die pragtige veld, die bokke langs die pad. En om die karavaners verby te steek wat wel 60 km/u ry…

In ons dorp was daar die hele dag ‘n kragonderbreking. My vrou het vir ons die heerlikste hoendergereg op gas voorberei.  Daarna het ons sonder ‘n waaier in ons baie warm huis ‘n middagslapie geneem.

Die krag het netnou aangekom, en nou kan ek weer met julle gesels.

Ek is so effens meer getraumatiseerd as wat ek graag  in die openbaar sal erken. Dis my dogter se laaste naweek in die ouerhuis as ‘n permanente inwoner van ons huisgesin. Volgende Saterdag vat ons haar Gomorrah toe om te gaan studeer, en daarna is sy net ‘n gas in die huis wanneer sy kom kuier. Dis nogal baie skrikwekkend vir my!  Ek hou my braaf, maar hier binne pla die gedagte my baie! Sy word nou groot, en ek word nou oud!  Dié van julle wat lankal hier verby is, sal vir my lag… maar dis nou baie erg vir my. En ek weet nie hoe om dit te sê nie, nou maak ek soms onvanpaste grappies daaroor…

In elk geval, my verlof is nou verby. More begin ek weer amptelik te werk. En ek is nogal skielik bang daarvoor… ek weet nie of ek al geestelik gereed is vir nog ‘n siklus op die mallemeule nie…

Dink maar aan my, dis nogal regtig rowwe tye vir my!

Vir my dogter, op jou 18e verjaardag vandag…

Liewe A***

Vandag, presies 18 jaar gelede, het twee baie jong mense met ‘n geleende ou Mercedes na ‘n Provinsiale Hospitaal in die Vrystaat toe gery.   In ‘n sekere sin was dit baie spannende tye in ons lewens. My pa is dood twee maande voor jou geboorte, en jy sou sy eerste kleinkind gewees het. Hy het so uitgesien na jou koms. Net twee weke voor hom is my oom oorlede, wat my mentor in die lewe was, en vir my gewys het hoe lyk Jesus se liefde baie prakties.  Jou ma het ‘n goeie werk gehad, maar ek was op daardie stadium ‘n Proponent, wat vir ‘n beroep gewag het.  Geld was maar skaars. Dit was soms baie rof op ons in hierdie dae met al die onsekerhede van hierdie tyd. Ek hoop nie daardie spanninge het jou lewe negatief beïnvloed voor jy nog hier aangekom het nie.

Want ek wil weer vir jou vandag sê: Jou koms in ons huis was so ongelooflik welkom!  Ek het jou ma baie lief, en jy is uit ons liefde vir mekaar gebore.  Ons was baie opgewonde vandat ons gehoor het jy is op pad, en ons het so uitgesien na jou koms! Jy was vir ons die simbool van HOOP, van ‘n nuwe toekoms wat binnekort sou aanbreek.

Die dag van jou geboorte was redelik rof op ons, veral op jou ma en jou. Dit was ‘n yskoue Vrystaatse wintersdag toe ons kraamsaal toe gery het. Ma se dokter was al klaar in die buiteland, want jy was ‘n week laat…  Die sustertjie aan diens in die Provinsiale hospitaal het maar pas klaar gestudeer. Jy was haar eerste bevalling in haar professionele loopbaan.  En sy was baie senuweeagtig, het selfs gesukkel om ‘n drup in jou ma se are te kry. Dit het ons ook nou nie baie gerus gemaak nie…  Die dokter se vennoot het uiteindelik opgedaag, en toe is jy gebore. Met ‘n tangverlossing. Dit was vir my verskriklik.  Ek weet nie hoeveel ‘n baba kan onthou van ‘n geboorte nie, maar ek kan glo dit het ‘n invloed op ‘n mens. Dit was vir my baie wonderlik om by jou geboorte te wees, en saam met die dokter die eerste mens te wees wat jou gesiggie gesien. Ek wou die dokter amper bliksem, want dit het gelyk of hy jou koppie gaan afbreek met daardie tang van hom.

Ek was al lief vir jou die dag toe die swangerskaptoets twee strepies vir positief gewys het. Daardie liefde het nog baie dieper geword die oomblik toe ek vir die eerste keer in jou oë kyk.

Ek weet regtig nie of die geboorte ‘n invloed het nie, of dit krampe was of wat nie, maar jy was ‘n koliekbaba.  Dit was vir ons ‘n groot aanpassing.  Ons het so dom gevoel.  Ek het so magteloos gevoel as ‘n mens jou vashou, en nie weet wat dit is wat jou seermaak nie.

Op ‘n manier het ons dit saam oorleef. En jy het deel van ons lewe geword, soos dit hoort- dit is wat ons nog altyd wou hê.

Daar was baie kere wat ek dalk oorbeskermend teenoor jou opgetree het.  As ek ‘n kans sou gehad het om dit oor te doen, sou ek seker steeds dieselfde opgetree het. Ek hoor al hoe meer van my vriendinne se gru-stories hoe hulle seergekry het op plekke waar hulle veilig moes gewees het.  Ek sou nog altyd, en sal vir die res van my lewe, my lewe enige dag met blydskap gee om jou te beskerm van alles en almal wat jou wil seermaak.

Ek het saam met jou deur die seer van die laerskool geworstel. Ek het baie dae skuldig gevoel. Want daardie sukkel wat jy ervaar het om vriende te maak, dink ek kom dalk geneties van my af- ek het net so gesukkel op skool om met ander mense te connect.  Jy was baie selfbewus, en daarvoor  het ek dalk vir jou die verkeerde voorbeeld gestel.

Jy het baie keer op skool uit gevoel.  Ek wil vir jou sê dis omdat jy ‘n baie unieke mens is.  Jy is nie soos almal  anders nie. En dit is ‘n baie beter ding as wat jy nou sal verstaan. Jy is een van die beste kunstenaars wat ek ken.  Jy is baie meer kreatief as ek en jou ma saam.  Jou brein dink op ‘n ander manier as baie mense s’n, en dit is verseker nie verkeerd nie, dis ‘n gawe!  Jy het ‘n melankoliese temperament, en is geneigd tot depressie, soos ek en ‘n paar ander van ons familie.  Baie van die groot kunstenaars in die geskiedenis, en party van die sterkste leiers, het ook daarmee geworstel. Dit kan ook een van die groot dryfvere in jou lewe word, wat jou tot nog meer sal inspireer.

Ek was so bly dat jy jouself begin vind het in die Hoërskool. Jy het op sportgebied, met jou plek in die eerstespan, baie verder gevorder in spansport as wat ek ooit kon.  Jou kultuurbydraes by die skool in drama, kuns was uitstekend. Jou verkiesing op die VLR was vir my die erkenning van ‘n potensiële leier in die lewe wat jy self nog sal ontdek. En die feit dat jy jouself in jou kamer kon vind- ‘n wonder!

Jou verjaardag vandag was vir my aan die een kant ‘n skok. Die skok is dat ek maar net weer besef dat ek besig is om ouer te word. Maar hierdie skrywe gaan oor jou. Ons besef dat jy nou wettiglik volwasse is.  Ek het die afgelope ruk probeer om jou al meer en meer ruimte te gee om jou eie keuses te maak, en meer en meer verantwoordelikheid vir jou eie lewe te vat. En jy het my nie teleur gestel nie. Maar ons kom nader aan daardie punt wat jy jou eie lewe gaan leef, en ek net daar gaan wees om vir jou ondersteuning te gee.  Ek gun dit vir jou met my hele hart, dit was so lekker in my eie lewe toe ek daar gekom het.

Jy het soveel wonderlike talente gekry om die lewensreis mee aan te pak.  Ek weet jy gaan ‘n sukses van jou lewe maak, want jy het nog altyd hard geveg vir wat jy graag wil bereik. En nou lê die toekoms blink voor jou. Ek bid saam met jou vir die universiteitskeuring wat jy nodig het. Ek bid saam met jou dat jou loopbaankeuse, en jou koshuiskeuse vir volgende jaar mooi in plek sal val.

Ek weet jy is ‘n fantastiese mens, al glo jy dit as tiener nog nie self nie. Ek weet jy gaan ver kom, al sien jy nog nie die pad nie. Maar die een ding wat ek vir jou wil sê: solank ek lewe, sal ek daar wees vir jou. Ek sal jou altyd liefhê, ongeag die dinge wat ons vanweë die generation gap soms vir mekaar in warm oomblikke sê. Jy sal altyd by my welkom wees, maak nie saak wat die probleem is wat jou vreugde steel nie.

Ek sien uit na die toekomspad wat jy volgende jaar begin stap. So nou en dan bid ek vir jou huweliksmaat, wie en waar hy ook al mag wees.  Ek bid vir iemand wat jou gaan leer ken vir wie jy regtig is, en al die mooi in jou gaan geniet. Ek bid vir jou vir iemand wat jou so gelukkig gaan maak, soos wat ek nou al 21 jaar die grootste geluk saam met jou moedertjie beleef.  Kry vir jou iemand wat jou altyd respekteer, iemand wat jou ook sal dien, iemand wat vir die lang reis bereid sal wees om saam met jou die lewenspad te stap, deur dik en dun.  As hy ooit sy hand teen jou lig, gaan ek en jou broers hom bliksem! (Dit het jou broer al tien jaar terug vir jou gesê- ons staan daarby!)

My kind, jy is gemaak om met arendsvlerke te vlieg (Jes 40:31) Jy is meer as ‘n oorwinnaar (Rom 8:37)  en jou ouers sal altyd in jou glo. Dankie dat jy ons dogter is, en ek is verskriklik, baie, baie lief vir jou!

Vir altyd!

Jou Pappa

Vir die ander lesers wat dalk omgekrap is oor twee woorde:

Bliksem is nie ‘n vloekwoord nie- dit beteken weerligstraal, en die vrees vir daardie natuurverskynsel het dit onaanvaarbaar gemaak om die naam daarvan uit te spreek, net soos donder…  Vrees vir Thor, die god van die donder, het dit ‘n vloekwoord in party kulture gemaak.  As ek sê ek gaan jou bliksem, beteken dit dat ek jou skielik, onverwags so hard gaan tref dat jou ore gaan tuit en jou lewe nooit weer dieselfde daarna gaan wees nie…