O Bliksem…

Die mens het darem geweldige vrees vir die natuurkragte. Daar waar ek in Noord-Natal grootgeword het, is een van die gebiede in die wêreld wat die hoogste weerlig tot grond slaansyfers het. Ek onthou die donderstorms drie uur in die oggend as kind, met die weerlig wat rondom die huis slaan en die reuk van swael.  Ek het maar ‘n heilige respek vir die donders en bliksems.

Ek het ook groot respek vir die oumense. Maar magtag, soms kan hulle lekker lieg met hulle spreekwoorde! Soos hierdie ene: Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie! Twak man!

Ek het die twyfelagtige eer te beurt geval- die afgelope drie jaar het ek nou drie rekenaars deur weerlig verloor in my studeerkamer.

Die eerste keer was dit ‘n ouerige rekenaar. Nie te veel trane gestort nie. Die tweede ene was ‘n jaar oud. Ek het gedog dit gaan nie weer gebeur nie. Die derde ene was die beste een wat ek nog ooit gekoop het, en die duurste- dit was die desktop vir my dogter vir universiteit, met groot RAM en ‘n stewige grafiese kaart. Voor sy drie maande later my hart gebreek het en gesê het nou het sy ‘n laptop nodig, nadat sy aan die begin AANGEDRING het op ‘n desktop… Rooikop vroumense…

Ek het hierdie rekenaar soos ‘n babatjie probeer oppas. Die wolke is nog ver weg dan word alles al uitgeplug. Ek het ook ‘n UPS  (Uninterrupted Power Supply vir my ma se onthalwe as sy dalk hier lees…) gekoop en ingesit, want ek dog dié goed keer weerlig ook. Selfs die telefoonkabel hardloop deur die UPS.  Altyd uitgeplug as daar lyk na weerlig.

So vertrek ons op vakansie in Desember. En alles werk nog fine.  Dit is verseker uitgeplug. Ons kom terug. Skielik wil die monitor nie aankom nie. Vat hom in, hy is in sy laaste dae onder waarborg.  Na twee weke kom die uitslag met ‘n foto- die LAN kabel het ‘n spike gevat- weerligskade. Nog ‘n rekenaar deur die Jordaan.

Nou is daar nog ‘n nuwe ene op pad met komplimente van my versekering.  Ek het maar ‘n Wifi kaart laat inbou in hierdie een (snaaks dat die modem nog heeltemal reg is…)

Maar ek wil graag weet- wat is die beste maniere om die donders en bliksems uit rekenaar nommer 4 uit te hou? Want hierdie is nou nie meer lekker nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

In die wêreld maar nie van die wêreld nie…

O, vandag gaan ek dit weer van alle kante af kry…  Maar ek het ‘n ding op die hart…

Daar is sekere gelowiges wat sê ons moet niks met hierdie wêreld te doen hê nie. Die wat ten minste eerlik is daaroor, gaan woon in ‘n klooster in ‘n afgeleë woestyn, sewentig dagreise met ‘n ou donkie (nie ek nie, ek is nog ‘n jong donkie!) van die naaste rol toiletpapier af. “There’s a friendly Spar wherever you are… ” behalwe naby hierdie kloosters.  Die mense praat gewoonlik nie met mekaar daar nie- daar is “a vow of silence” in plek.  Hulle slaap in grotte, op matrasse wat hulle geweef het van hulle eie baardhare.  Hulle eet net groente wat hulle self geplant en bemes het. Hulle drink net fonteinwater.  Hierdie mense weet nie iets van die huidige Euro krisis nie. Hulle weet niks van die PIGS se gulsigheid wat alles veroorsaak het nie (Portugal, Italy, Greece, Spain!)  Hulle weet nie dat Sirië een van Turkye se vliegtuie afgeskiet het nie.  Hulle weet nie van die spanning tussen Noord en Suid Sudan nie, dalk het hulle onlangs verneem van die Spanning tussen Noord en Suid Korea. Miskien dalk ook ietsie gehoor van die Ongelukkige Voorval in Viëtnam…  Hulle is gelukkig in hulle eie grot, en die enigste vermaak wat hulle het, is om Klaagliedere op perkamentrolle oor te skryf met die hand. Nou- as dit hulle gelukkig maak, wie is ek om dit van hulle af weg te neem?

Ek is nie so nie. Ek is te nuuskierig. Ek wil baie, baie leesstof elke dag hê. Ek wil my koerant lees op die Internet. Ek wil kyk op BBC se webwerf wat in die wêreld aangaan.

Ek wil graag met my vriende in gesprek wees- dit was die wonderlikste ding toe ek faceboek gekry het. Die Internet is vir my ‘n stukkie hemel op aarde- ek is verslaaf aan Interkonnektiwiteit!  Soveel groter was my vreugde toe ek verlede jaar ‘n Blackberry Torch kry. Dadelik kon ek sien as iemand iets vir my epos- of op my blog kommentaar lewer. Dadelik kon ek sien as enige van my 369 vriende iets interessant op facebook publiseer. Ek kon met soveel vriende BBM, of Whatsapp. Dit was so baie, baie lekker om te weet wat in my mense se lewens , en die groter wêreld waarin ons lewe, aangaan.

En toe pak die Toorts op. as jy hom oopskuif, gaan hy dood.  Net die “touchscreen” het die afgelope ruk gewerk. En met my dik vingertjies kry ek nie mooi netjies foutloos getik nie, soos my vriende op facebook sou opmerk.  Maandagoggend het ek my foon in Menlyn gaan ingee om herstel te word. Vodacom het mos so pragtige advertensie, waar Josh Strauss sy foon invat om herstel te word, en dan is dit in die bobbejaanmannetjie se pens…  Selfs dit is vir Vodacom glo geen probleem nie…

Tot ek daar opdaag. En wil hoor van die “loanphone”, want ek betaal ‘n helse klomp geld vir my BBM Talk 24o per maand. Die dametjie gaan haal die leenfoontjie vir my- ‘n simpel, simpel, simpel Vodaphone uit die ark uit. Raai wat doen hy alles? Hy kan bel.  En? Niks en nie. Hy kan bel.

Skielik kan ek nie meer my eposse dadelik lees nie. Ek kan nie facebook nie. Ek kan nie BBM of Whatsapp nie. Ek weet nou niks van niemand af nie. Ek kan niemand uit die moeilikheid uit help nie, behalwe as hulle my direk bel…

Na die klooster in die woestyn, waar jy jou eie groente bemes, is hierdie die tweede manier om totaal van die wêreld vervreemd te word! Kry ‘n Vodaphone leenfoon by Vodacom…  Hierdie foon het nog vir Paulus op Speeddial in Efese!

Ek is woes gefrustreerd! En buite bereik! Dit gaan vir 40 jaar so aanhou- so lank soos wat die parmantige Israeliete gevat het om deur die woestyn te kom. Dalk oordryf ek soms so bietjie, maar dit voel so! 7-14 werksdae- julle gaan vir my kom peanuts voer by Weskoppies teen volgende Vrydag!

So ja, ek is nog in hierdie wêreld. Maar ek voel weggeraap…

Die jagtog…

Ek weet, ek weet, dis ‘n baie sensitiewe saak in ons samelewing. Ek verstaan dit eintlik glad nie, want ons is volgens alle misdaadstatistieke in elk geval die mees geweldadige nasie op die derde planeet rondom Sol. Volgens die Hitchhikers Guide to the Universe kan die Vogons dalk so bietjie erger wees as Suid- Afrikaners, synde dat hulle eendag ons planeet gaan sloop om ‘n intersterlike hoofweg te bou, maar dit lê nog in die toekoms. Ek gaan dit in elk geval waag en weer skryf oor my laaste jagtog.

Nou kyk, jag is ‘n ding waarvoor jy deeglik moet beplan.

In die natuur het die prooi meestal al die sensoriese voordele bo die Regoplopende Aap met Probleme (Ramp). Hulle sien meestal beter. Sommiges hoor beter, omtrent almal ruik beter, ek weet nou nie of hulle beter kan proe nie, ons het immers Masterchef uitgevind… En die meeste teel ook beter as ons… maar dis ‘n ander storie, nie vir sensitiewe kykers nie, netnou rate hulle my blog as “adult content”- o nee wag, dis blogger…

Om te gaan jag moet jy baie goed voorberei. Dis verkieslik om vir ‘n paar dae nie meer te bad, te skeer of tande te borsel nie. Die prooi kan jou mos ruik, sien. Kleredrag is uiters belangrik. Camo’s werk eintlik glad nie, om een of ander rede kan hulle die kleur blou nie sien nie. So kry vir jou ‘n Johnson’s overall by die Koöperasie, die soort wat mekeniks geniet, die een met die broek en die baadjie wat jou bierpens so mooi laat uithang. Skoene is baie belangrik, anders hoor hulle jou ver aankom. Ek vind dat die wit gumboots wat in melkerye en slaghuise gebruik word, se sole die minste geraas maak, dis juis rubbersole om nie te gly in die bloed nie…  Omdat jag gewoonlik in gevaarlike terrein plaasvind, is dit ook wenslik om ‘n hardehoed te dra, die soort wat op die boupersele gebruik word, is perfek. Onthou net om ‘n blou ene te koop, dan kan jy hom ook dra by die Bulle en die Titans se wedstryde.  En die prooi kan jou nie sien nie, sien?

Wanneer jy op die jagtog vertrek, is daar ‘n paar goeters wat die jag aansienlik vergemaklik.  ‘n Man kan dors word langs die pad. Dis hoekom jy by jou plaaslike sportwinkel twee fietsrywaterbottels moet koop, kompleet met die brackets waarin dit kom.  Die fiets is opsioneel ekstra, maar watter aap gaan jag nou met ‘n fiets? En as jy met ‘n fiets wil gaan jag, het jy ‘n fietsrybroek nodig wat keer dat jy nie deurskuur “chafe” nie.  Kan jy dink wat gaan ander jagters sê as jy met ‘n fietsrybroek opdaag by die jagveld? Los die fiets, in hemelsnaam! MAar die waterbottels en die brackets is baie belangrik. Hierdie twee brackets pop rivet jy bo-op die blou hardehoed vas. Luister nou mooi, want hierdie moet ek fluister. Gaan vanaand na jou buurman se tuin toe. Sny so 2 stukke van ongeveer 1 meter elk uit sy tuinslang uit. Maar sny dit in die middel uit, want die kante het dalk net in hondebolle gelê. Die middel is gewoonlik veilig en higiënies.  Ek hoef dit seker nie hardop te sê nie: moenie dat hy jou sien nie!  Anders gaan hy dalk net biltong verwag. Moenie dat hy jou sien nie, dis veiliger…

Jy neem nou die twee waterbottels, en die boor wat jy twee jaar gelede by die ander buurman geleen het vir die middag, en dan boor jy ‘n 12 mm gaatjie in elke fietsrywaterbottel. Dis nou nadat jy die oorspronklike tepel uit hom uitgetrek het, jy vergroot basies net die gat. Hoekom soveel moeite? As jy jag moet jou hande los wees, domkop! Wapenbeheer! Jy druk nou die een kant van die tuinslang in tot onder. Dan vul jy die linkerkantste een met Klipdrift. Die regterkantste een met Coke. EN dan neem jy silikon seëlaar en seël die tuinslang mooi vas in die gat in die waterbottel.  As jy nou fensie wil wees, dan kry jy by die tuinwinkel een van daardie fittings wat een tuinslang in twee laat verdeel. Dit werk nou net andersom- twee tuinslange word een- sit nog so klein stukkie tuinslang aan die een kant- as jy daar suig, gaan jy dan brêndie en Coke kry, jy hoef dit nie eers te gaan skink nie. Plaas dit alles op jou hardehoed.

Melkstewels, Johnsons oorpak, hardehoed met brêndie en Coke- nou is jy geklee vir die jag. Amper vergeet ek- los maar die onderbroek uit- hy kan jou dalk ook net deurskuur, en as ‘n man jag, moet daar so min as moontlik irritasies wees wat jou verhinder om by jou einddoel seëvierend te arriveer. Maar dis net kleredrag. Nou het jy bykomstighede nodig: jy moet ‘n skerp mes saamneem. Elke jagter weet hoekom, ter wille van sensitiewe lesers sal ek nie uitbrei nie. Maak hom met sy skede vas aan jou belt. Dan ‘n flits- ‘n mynwerkerslamp op jou hardehoed hou ook jou hande los as dit ‘n nagjag is, soos hierdie een wat ek probeer uitkom by om die storie van te vertel. ‘n Lamp is baie belangrik, want hulle sien baie beter as jy in die donker. In jou gatsak moet jy ‘n halwe rol toiletpapier sit, Haal net die rolletjie uit, dan druk hy plat. Hoekom? Ag kom nou! Wil jy eerder ‘n doringtak gebruik?  Ek beveel ook daardie pienk pilletjies van my vrou aan om saam te neem- daardie wat sy drink as ek haar so opstress. Hulle werk soos betablokkers, en maak dat jy nie so bewe as jy aanlê nie. Dit help baie om ‘n “steady hand” te hê as jy jag. En as jy van nature senuweeagtig raak as jy jag, is pienk pilletjies noodsaaklik. Gaan sien jou apteker of die kinders by die skool se vriendelike drugdealer.

Wat is daar nog? Wapens! O hemel tog, jy moenie wapens vergeet nie. Behalwe as jy nou regtig die prooi kaalhande wil aanpak, maar sedert die eerste mens die eerste boomtak afgebreek het, doen ons dit nie meer so nie. Jou keuse van wapems  hang natuurlik baie af van die prooi wat jy moet gaan aanpak. Gaan na die winkels toe wat hierdie goeters verkoop, hulle sal jou baie beter as ek kan inlig oor wat die beste stopkrag gaan hê vir jou prooi.

Nou uiteindelik: die JAgtog. Skies ek het so gedraai om by die punt uit te kom, ek was net bang iemand gaan probeer dit tuis herhaal sonder om deeglik voorbereid te wees. Ek sal so sleg voel as jy seerkry omdat jy nie reg voorbereid was nie.

Dit was gisteraand 11 uur. Ek het eers Hemelvaart meditatiewe nagmaal gehou van 18h00- 21h00. Dit was pragtig- die rustige musiek, die mooi aanbieding op Powerpoint, en al die mense wat… ekskuus- die Jagtog.  Sorry! Ek het seker nog steeds ADHD. My graad 2 juffrou het altyd gesê…

Die jagtog. Gisteraand was ek uiteindelik aangetrek vir die jag. Ek het presies geweet watter prooi vir my wag. Ek het die nodige wapentuig gaan aankoop, en die toepaslike klere aangetrek, Ek het vir dae lank nie geskeer of tande geborsel nie- is dit hoekom almal by die nagmaal my so skeef aangekyk het?  Maar ek wou nie hê hulle moet my ruik nie. Ek het die jagveld saggies bekruip, in pikdonkerte- ek wou nie hê hulle moet my sien nie. Die wit gumboots se rooi rubbersole was geruisloos, hulle het my nie gehoor nie. Hulle het my verseker ook nie geproe nie.  Dit was mens teen dier, die oudste stryd , sintuig teen sintuig, instink teen instink. Saggies, o so saggies het ek nader gekruip, wapen gereed, tot ek in trefafstand was.

O ja, op hierdie punt moet ek net ietsie sê oor snellerbeheer. Jy moet nooit ‘n sneller trek nie, dan is jy dadelik van teiken af. Jy moet stadig, egalig druk toepas met die voorvinger.  Wanneer die wapen afgaan, moet dit jou eintlik verbaas. Asemhaling op hierdie punt is krities belangrik. Ek vind dit help om diep asem in te trek, ‘n oomblik vas te hou, en dan stadig uit te blaas. Halfpad deur die uitblaas behoort jou vinger instinktief die sneller te aktiveer om sy werk te doen.

Daar was ek toe, na ‘n baie sagte, netjiese benadering tot die jagterrein. Ek het windaf bekruip, dat hulle my nie hoor nie, tot ek in trefafstand was. Toe het ek die mynlampie vinnig aangeskakel, aangelê, en sewe van hulle uitgehaal!

En dit, liewe vriende, is die storie van die sewe kakkerlakke wat ek gisteraand in die kombuis uitgehaal het met die blikkie Doom. ..

Resep vir kakkerlakbiltong, vir as die buurman jou gevang het: Ekskuus dis in Engels…

Ingredients needed:

  • Cockroaches- as much as needed
  • Rock Salt
  • Coarse Ground Black Pepper
  • Coarse Ground Coriander
  • Vinegar (preferably Apple-Cider vinegar)

First, be sure to sterilize all your hooks, knives, and working surfaces by washing well in hot water and soap.

Get some half-inch thick strips of Cockroach. Make sure it’s cut with the grain. The pieces should be about 6 inches long. Liberally sprinkle rock-salt on each side of the pieces of meat and let them stand for an hour. The longer you let it stand the saltier it will become.

After the hour, scrape off all the excess salt with a knife (don’t soak it in water!). Then get some vinegar – preferably apple-cider vinegar, but any vinegar will do. Put some vinegar in a bowl and brush (do not dip) the strips of meat with the vinegar – just so that the meat is covered in the vinegar. Hold the biltong up so that the excess vinegar drips off.

Then sprinkle ground pepper and ground coriander over the meat on all sides.

If you want that special tasting biltong which you remember from back home, then you may like to try the special spice mixtures used by South African butchers which is available from our online store (UK only) at http://www.biltongbox.com/shop/. These spice mixtures give excellent and consistant results with no salting necessary – just sprinkle the spice on, and hang.

Once you have done this, the meat is ready to dry. There are several methods of drying. One is to hang it up on a line in a cool place and have a fan blow on it. This method is a bit difficult because if the air is humid the meat can spoil. The method I use is a home-made ‘Biltong Box’. This is basically a sealed wooden box (you can use cardboard if you like) with holes in it and a 60w lightbulb inside. Just hang the meat at the top of the box, and leave the lightbulb on at the bottom. The heat from the lightbulb helps dry the meat (even in humid weather) in about 3-4 days. Remember, the box must be closed on all 6 sides except for a few holes (as per the diagram below). The whole theory behind this method is that hot dry air rises thus drying the biltong. The holes are quite important as they promote good air circulation in the box.

Ter wille van deursigtigheid moet ek net noem dat daar ongemerk produkplasing plaasgevind het in hierdie blog. Dit is geborg deur onder andere Klipdrift, die Coca Cola Botteling Company, Johnsons Workwear, Doom, daardie ouens wat wit gumboots met rooi rubbersole maak (hulle borgskap wys nog nie op my bankrekening nie, daarom word hulle naam weerhou)  en Biltongbox.

Ek gee graag ook erkenning aan die Biltongbox vir hierdie uitstekende resep, gaan probeer dit gerus tuis. Indien kakkerlak nie genoeg is nie, kan in ekstreme gevalle bees of wildsbok probeer word as alternatief.

Die wraak van die Vark

Gisteraand was nou ‘n vrye aand op die Lentekonferensie. Eers het ons by oom Gert se gat ‘n Zamalek gaan drink soos goeie studente mos maar maak.

Daarna moes ons self sorg vir aandete. In voortgaande studentetradisie gaan eet ek en kollega by Aandklas. Eerstens het die jong mede-eienaar amper op sy rug geval toe twee sulke “bejaarde persone” sy establishment instap. Ons het besluit op ‘n Spare Rib, aangesien ek al voorheen goeie ervarings met varke gehad het in Aandklas. Helaas is Spare Ribs besig om uit te fasseer van die menu af. Ons het ‘n hele ruk gewag, maar toe die ribbetjies aankom, was dit rou. Ek doen dit nie graag nie, maar rou vark is gevaarlik. Ons het dit teruggestuur om verder gaar te word.

Die jong eienaar het baie sleg daaroor gevoel, en vir ons ‘n klein peppermelt steak gestuur saam met die nou gaar ribbetjie. Hy het ook ‘n hele rukkie kom sit en gesels met die ou ooms… Baie gawe jong man, mag sy besigheid baie geslaagd wees! Ja, hy en sy vennote het ook ‘n tak in Skelmbos, en daar raas dit waarskynlik net so baie! Ek geniet dit egter baie so tussen studente.

Ons het daarna in Hatfield gaan fliek. Cowboys and Aliens was ons keuse vir die aand. Met james Bond en Indiana Jones in die hoofrolle, en Spielberg in die seilstoeltjie kan dit mos nie flop nie… Maar ek dink dis omtrent net Spielberg sou hierdie script laat werk! Dis absoluut ‘n ware verhaal, deeglik nagevors en ingebed in ‘n wilde weste konteks in die laat 1800’s. Die Aliens abduct ‘n paar mense, en steel die wêreld se goud. En dan skop James Bond en Indiana Jones mekaar se gatte, en dan saam die Aliens s’n. Besondere diepte, goeie karakterontwikkeling, en eindig met ‘n glimmer van hoop vir die tragiese held wat al sy girls langs die pad verloor.

Ek het lekker geëet en gefliek. Toe na Moeder se huis om fris en vars te wees vir Dag 3.
En nou die punt van die storie- daardie vark het wraak kom neem! Ek weet nie of dit die ouderdom is nie, maar ek moet nie meer vark in die aand eet nie. Ek slaap daarna baie sleg, met verskriklike nagmerries.

Party mense sê drome het groot betekenis. Maar ek weet nie wat sê gisteraand se droom dan vir my nie! Ek droom ek en Lance Armstrong is saam in sy vliegtuig, maar nie ‘n Learjet nie, nee, so kis ou Cessna 172. En Lance is die vlieënier, maar hy het glad nie skill nie, hy is dangerous! En ek het baie onveilig saam met hom gevoel- tot ek wakker skrik…

Wat maak ‘n mens van so ‘n droom? Ek kom net agter ek moenie meer nie…
Nou sit ek in die laaste lesing terwyl die Bokke opdraf teen Namibië! Wou net ten slotte sê Elize Morkel het my weggeblaas gister- uitstekend!

Nou ja, gaan geniet jou dag voluit, en pas op vir die varke!

Op hierdie oomblik…

  1.  Sit daar ‘n klomp mense op die gras by die Blue Peter, en kyk hoe die son oor Robbeneiland sak, met ‘n Peroni Draught in die hande, en ek is nie daar nie…
  2.  Is daar mense wat kyk na die Grand Canyon, en ek is nie daar nie…
  3.  Surf daar ‘n beeldskone rooikop in die water by Maui, en ek is nie daar nie…
  4.  IS daar mense op die ferry by Istanbul, wat vanaand by Doy Doy’s agter die Blou Moskee gaan Beyti Kebabs eet, en ek is nie daar nie…
  5.  Stop die rooi Ferrari buite die Casino in Monaco, en die blondine met die lewenslange bene klim grasieus uit, en ek is nie daar nie…
  6.  Is ‘n paartjie op pad vir ‘n romantiese langnaweek in die Laeveld, en dis nie ek nie…
  7.  Sit die mense in die munisipale Refugio bo-op o Cebreiro, sommiges het by Meson Carolo gaan Pelgrims Menu eet, en ek is nie daar nie…
  8. Is daar mense wat in die movies sit, en ‘n fliek kyk wat hulle nog altyd wou kyk, en ek is nie daar nie…
  9.  Is ‘n jong man besig om ‘n jonge dame witwarm te soen langs die Seine rivier langs die Notre Dame Katedraal op die Ile de City, en dit is nie ek nie…
  10.  Is daar mense wat so pas kreef by die Muisbosskerm bestel het, terwyl die son net soos op Bloubergstrand sak, en ek is nie daar nie…
  11. Is ‘n kerkraad in die Bosveld besig om te besin oor die een dominee wat bedank het, en die ander een wat wil aftree, en Goddank, dis my kollega en nie ek nie, wat dit moet help uitsorteer vanaand…
  12.  Skyn die son helder op die Noordpool, en niemand is daar nie…
  13.  Loer mense onder Gadaffi se bed in Tripoli, want hulle wil hom ophang en dan partytjie hou, en ek is nie daar nie…
  14.  Is daar jagters in die veld, wat die kampvuur aangepak het, en nou ‘n brandewyntjie inskink want die Koedoebul hang agter in die vleiskamer, en ek is nie daar nie…
  15.  Is daar lewe op ‘n ander planeet in ‘n paralelle heelal, en die quantum- ekke daardiekant  weet ook nie meer hoe om sy vrou te verlei nie, en ek ook nie…
  16.  Is daar mense wat êrens besig is om liefde te maak, en dit is nie ek nie…
  17.  Slaan ‘n man die vrou van sy lewe deur die gesig met sy vuis, en gelukkig is ek nie daar nie…
  18. Is daar ‘n vroutjie in Pretoria Oos Hospitaal wat kreun om ‘n baba in die wêreld in te druk, en dank Vader, dis nie myne nie…
  19. Is daar iemand wat by die lykshuis ingestoot word, en dis nie ek nie…
  20.  Sit iemand en nonsens skryf op sy blog, want hy wag vir Australian Masterchef om op te kom,  en het niks anders om vandag te sê nie want hy is te donners moeg… dit is ek…