Vanaand wil ek nou eers weer ietsie van my hart afkry, in Afrikaans, onder ons mense wat verstaan…
Dit is skemer. By my palisade hek voor in die tuin het ek ‘n koeiklok opgehang. Gewoonlik as daardie klok lui, is daar… moeilikheid in Kanaän. Daardie klok lui gewoonlik Vrydagaande, maar dan hoor ek hom nie by my braaiplek nie. Njannies Koepêla.
Vandag het ek so ‘n klompie besoeke afgelê. Ietsie is besig om te broei in my liggaam. Ek voel pap en moeg. Sal maar nie al die simptome beskryf nie, daar mag dalk net sensitiewe kykers wees onder ons…
In elk geval, die klok word meteens woes heen en weer gepluk. Dit klink soos wanneer ‘n hondsdol hyena ‘n kalf aan die agterpoot beet het, en die kalf woes spartel en spook…
Ek slaan my oë op na die voorhekkie toe, terwyl die son se laaste strale saggies speel oor die winterblare, en die koue nader sluip. My moed sak in my skoene… dit is weer… ‘n boemelaar…

Foto geleen by toquoteamockingbird.wordpress.com
Daar is iets geheimsinnigs aan die N1 roete, van Messina tot by Kaapstad. Ek hoor dit by al my predikant en pastoor maatjies langs die pad. Die manne is weer aan die trêwwel. Dis koud in die aande.
Vanaand s’n stel hom plegtig voor, met ‘n handdruk. Soos al die ander sê hy dadelik: Dominee, ek is nie ‘n boemelaar nie… Hoe het hy geweet ek is ‘n dominee… o ja- rocket science, ek bly op die kerkterrein…
Dan volg Die Storie. En Die Storie het ek al hoeveel keer in al sy gedaantes gehoor…
Hierdie hartseer individu was êrens naby Messina in ‘n motorongeluk gewees. Sy kar is afgeskryf, en sy dogtertjie is dood in die ongeluk. Toe los sy meisie hom. Toe haaik hy maar Suidwaarts. In Pietersburg is hy aangeval deur Zimbabwiers, hulle het hom met ‘n baksteen oor die kop geslaan en met ‘n mes in sy arm gesteek. Dit het hom vyf dae in die hospitaal besorg. En nou het hy sy werk in Upington verloor, want hy is al ‘n week laat om aan te meld daar…
Maar Dominee, het jy nie vir my iets om te eet nie… Weet jy broer, vanaand is daar op my spyskaart bruinbrood en weense worsies. Dis wat ons ook gehad het. Payday is nog ver, en ons was self die slagoffers van misdaad (my dogter se kar wat gesmash en grab is)… Ek kan net vir jou gee wat ons ook het. Brood en weense worsies.
Dominee, maar dit is baie koud, het jy nie vir my ‘n kombers nie… Nee, almal is uitgedeel wat ek hier gehad het, daar is net dié oor wat op my kinders se bed is. As ek vir jou gee, slaap my kind koud vanaand.
Dominee, het jy nie dalk vir my ‘n baadjie nie…
En so word die eise al hoe groter en groter…
Dominee, kan jy nie dalk help met geld tot in Upington nie…
Ek het vir die broer van die langpad kos gegee vanaand. Dieselfde as wat ek geëet het. Ek het vanaand niks meer om vir hom te gee nie.
Maar ek sit nou en wonder oor ‘n paar dinge soos altyd. Jesus het in Matteus 25 gesê dit wat ons vir die minstes gedoen het, het ons vir Hom gedoen. Hy was honger, en ons het Hom nie kos gegee nie, Hy was naak en ons het Hom nie klere gegee nie… Sommiges het al engele gehuisves deurdat hulle gasvry was teenoor die vreemdeling in hulle poorte…
Maar die broers van die langpad weet dit ook… Ons kerk is van die hoofpad af. Hy is nie opsigtelik van die paaie deur ons dorp nie. Hy stap langs drie kerke langs die pad verby na my huis toe.
Ek het regtig nie meer geld oor tot betaaldag nie. Dis nie eers einde van die maand Salticrax hier in ons huis nie. Ek het regtig nie meer ou klere oor om weg te gee nie. Ek het niks meer ekstra komberse oor nie. En daar kom letterlik tientalle van hierdie soort van my naaste na my huis toe…
Die broer is baie ontevrede by my huis weg. Hy sê smalend mag die Here my en my gemeente seën… Hy dink hy moet homself nou maar gaan ophang, want hy het nie meer ‘n mammie en ‘n pappie nie, sy kindjie is dood, sy beursie is weg, sy ID is weg, hy het sy werk verloor, alles wat hy besit is in die geel Shoprite sakkie by hom, en niemand gee meer om nie…
Ek kan ook vir julle vertel van die florerende besigheid by die taxi rank in komberse en tweedehandse baadjies. en die ridders van die langpad wat baie graag by Tamsen se Bottelstoor opdaag…
Maar… Koos Kombuis was ook ‘n boemelaar…