Groete aan Mannetjies Roux…

So ry ek en my oudste seun toe mos op ons Ultimate Pa- Seun Road trip af Kaap toe verlede week. Die een doel was om Argus #20 te gaan klaar maak. Maar nog veel belangriker was die gesinstyd in hierdie reis. My seun is klaar met skool, en as alles goed gaan bestuur hy oor ‘n maand stropers in Amerika.

En so gesels ons op die lange pad af Kaap toe oor al die mooi dinge langs die pad. Ek deel maar vaderlik vir hom die geskiedenis van die plekke langs die roete, soos die Groot Gat, en Magersfontein o Magersfontein.

En soos die dorpe een na die ander op die N12 verby skuif, begin ons gesels oor die een groot passie in sy lewe- Rugby. Ek hou die horlosie so dop, en dit lyk so: ons gaan Victoria Wes betyds haal. Ek vertel hom van Mannetjies Roux. En daardie drie… en hoe my pa na bewering op laerskool ook ‘n wedstryd teen Mannetjies ROux gespeel het. Ek vertel hom van die museum in Victoria Wes, en al die Springbok klere en fotos uit vergange se dae wat daar teen die muur hang. Ons trotseer ook maar die dapper krygers in blou agter die kameras om betyds in Vic-Wes uit te kom…

En toe, so uit vergange se dae… het die museum ook…

20150302_155743

… deur die Jordaan gegaan…

Ek hoop dit gaan nog goed met Mannetjies Roux! Ek sien hy is net ‘n jaar jonger as my pa gewees. Sou so graag hom in die museum wou raakloop, soos amper vyftien jaar gelede toe ek sy hand daar kon skud… Ek sou graag my seun aan hierdie nederige legende wou voorstel.

Maar niemand sê dit so mooi soos Laurika nie…

Jammer, Victor!

Ek het vandag twee meter van jou af gestaan in The Grove. Ek het jou in jou oë gekyk, en jy in myne. En ek het gemaak of ek jou glad nie herken nie. Jammer daaroor!

Jy sien, jy was saam met jou vrou en dogters in die mall. Julle is ‘n pragtige gesin, en jy wou so graag tyd saam met hulle spandeer. Ek kan dink na Saterdag se fiasko daar op Nuweland het ‘n man nodig om bietjie te ontspan saam met jou geliefdes. Daardie 0 moes maar seer gewees het, né! Dit was vir my. Ek sou nogal graag by jou wou hoor wat daar fout gegaan het. En wat jy so driftig vir Kryk Joebêr by geleentheid gesê het, dit het gelyk of jy hom gaan doodkyk op ‘n stadium.

Daar by die Grove het ‘n jong man daar by Wakaberry jou gestop vir ‘n foto saam met hom. Jou vrou en dogters het aangestap, en jy het vir hom gesê: “Net vinnig, hoor!”  Beleefd, maar haastig om by jou gesin te kom. Ek het dit gesien, en het gewens die ander kon ook net die trek in jou oë sien.

So dis hoekom ek jou geignoreer het. Ek wou jou so graag tyd saam met daardie pragtige dogters gun, om soos ‘n gewone pa net al jou aandag aan hulle te gee.

My vriendin Son sou dalk wou gehad het ek moet jou vra wanneer jy aftree. Maar goeie mens soos wat sy is, sy bly maar ‘n Stormer.  Ek dink sy hou ook baie van jou, maar daar neffens Skelmbos mag ‘n mens dit nooit erken nie.  Ek dink sy is bang jy hou te lank aan, en kry beserings wat jou gaan pla as jy eendag oud is.

Maar ouderdom maak nie vir ons Bulle saak as iemand goed genoeg is nie. Miskien het Son ‘n punt beet, hoor. ek het ‘n oom in die gemeente gehad wat vir WP en Suid Wes as slot uitgedraf het. Hy het in sy oudag groot kniemoeilikheid opgetel, en later ‘n been verloor nadat ‘n knievervanging skeef geloop het. Moenie so lank aanhou dat jy ook eendag so sukkel nie.  Jy wil ook eendag met jou kleinkinders op die strand rondbaljaar, gesond en gelukkig.

So Victor, regtig jammer dat ek jou geïgnoreer het. Jy het dit nodig gehad vandag. Eendag, onder ander omstandighede, sou ek daarvan hou om jou vir ‘n moutsappie of koffie te nooi. 

Pas daardie pragtige vrou en kinders mooi op met jou tyd, aandag en liefde- hulle is meer werd as rugby, en al ons fêns. Maar dankie dat jy so mooi met mense werk. My Stormer pelle sal seker nie saamstem nie, maar wat weet hulle tog nou van rugby op ‘n goeie dag?

Groete van jou fên:
Die Donkie

Ps. Om verstaanbare redes is daar nou nie ‘n foto van my en my drie seuns saam met jou nie. Ons wou, maar ons het nie…

Wanneer die grootste vyand jyself is…

Ek het so baie uitgesien na hierdie jaar se Wimbledon vroue eindstryd. Ek het ‘n nuwe heldin gekry. Sabine Lisicki het my so baie beïndruk gedurende die toernooi. Sy het dan immers vir Serena Williams uitgeskakel- ek het gedink dit gaan nog ‘n dekade neem voor iemand Serena sou wen!  Sy het so ‘n pragtige afslaan, en kan sulke uitstekende balle plaas in die hoekies van die baan.

Teenoor haar het Marion Bertoli te staan gekom. En Bertoli het al ‘n eindstryd beleef en verloor. Al was sy 15e gekeur en Lisicki 23e in die wêreld, het Bertoli ‘n relatief maklike pad na die eindstryd toe gehad.Lisicki het ‘n paar reuse wedstryde gespeel. In die vergelyking van hulle vorige wedstryde het Lisicki 3 wedstryde gewen, en Bertoli 1.

Daarom was ek so gereed vir die eindstryd vanmiddag! Die biltong was gekerf, die tjippies was reg. Hier kom nou ‘n tenniswedstryd wat Djokovic en Del Potro se wedstryd van gisteraand gaan ore aansit… toe nou nie.

Die oomblik was te groot vir Lisicki. Ek was nog so opgewonde toe sy sommer in die heel eerste spel Bertoli se afslaan breek: hier kom ‘n ding. En toe word dit 6-1 vir Bertoli.  Daar was ‘n lang badkamerpouse. Toe Lisicki uitkom, het dit aanvanklik nie beter gegaan nie- gou gou was dit 4-1. Eers toe dit by Kampioenskap punt kom, het my nuwe heldin bietjie wakker geskrik en begin speel soos wat sy kan. En teruggeveg tot by 5-4. Maar die momentum vandag was die hele wedstryd lank aan Bertoli se kant gewees. Sy het verdien om te wen.

Vir Lisicki was die oomblik vandag te groot, in haar heel eerste Grand Slam finaal. Maar ek dink sy gaan leer uit die proses uit. Ek vermoed ons gaan haar weer sien in die toekoms.

Sport leer ons mos net ‘n paar van die lewe se groot lesse.

http://www.facebook.com

Vandag het ek net weer gedink:

  • Talent alleen is nie genoeg nie- ek dink nie daar is enige iets met Lisicki se talent fout nie.
  •  Selfvertroue kan ‘n reuse verskil maak- ek het al soveel keer gesien dat minder talentvolle mense, wat in hulleself glo, baie meer bereik as mense wat op papier veronderstel is om beter te wees.
  • Dit lyk of daar sommige dae in ‘n mens se lewe is wat niks wil reg loop nie, al het jy hoe goed voorberei. Dis maar die lewe- hoe spel ‘n mens C’est la Vie?
  • Elke mens het seker maar daardie dae wat jy jou alie in die openbaar sien, en werklik verneder voel. Lyk my dit gebeur met alle mense- Bertoli was ook daar ‘n paar jaar gelede…
  •  Sommige mense lyk darem nog steeds baie mooi al huil hulle snot en trane…
  •  Dis nie die verloor wat jou gaan breek nie, dis jou gesindheid wanneer jy verloor, wat gaan bepaal hoe die toekoms uitdraai. Ek hoop my nuwe heldin sit vanaand met ‘n notaboeke en maak aantekeninge, en vat die lesse saam vorentoe. Want sy kan wen!  Sy moet dit self begin glo.
  •  Soms gaan jy bo uitkom en wen ook, en jou drome waar maak. Bertoli sê sy droom al vandat sy 6 jaar oud is oor die oomblik om daardie trofee oor haar kop te kan oplig. Sy sê sy het vir jare haar afslane geoefen, en vandag het alles bymekaar gekom.  Harde werk vergroot die kans van sukses vir enige droom.

Ek voel baie teleurgesteld dat ek nie goeie tennis gesien het vanmiddag nie.  Maar ek hoop ek leer ook so paar lessies hieruit vir die toekoms. Ek dink daar is so baie waarheid daarin dat ‘n mens dikwels jou eie grootste hindernis in die pad van sukses kan wees. Ek gaan nog so bietjie oor hierdie sake dink en reflekteer. En dalk nog so stukkie biltong probeer voor die Bulle en die Sharks mekaar aandurf- hoop nie ek gaan weer huil nie!

Ek wonder maar net: hoe kry ‘n mens daardie selfvertroue om jou heel beste te lewer? Enige idees?

Loftus o Loftus!

Eendag lank lank gelede, seker so verlede Woensdag, kom die Skoolhoof met ‘n fantastiese gedagte. Die saak staan so: met sy invloed by die provinsie se rugby is daar sekere kaartjies op Loftus aan hom toegeken. Toevallig geld dit ook vir die Toets saterdag. Sou ek dalk belang stel om saam met hulle die Toets by te woon? My vrou en sy vrou is vriendinne, sy kan saamkom dan gaan eet ons uit na die tyd. O ja, en daar is ook drie kaartjies vir die seuns, hulle sit net elders…

Gemengde gevoelens… Daardie laaste All Black wedstryd wat Dean Greyling en Morné Steyn so vuisgeslaan het vir Man of the Match spook nog in my gedagtes… Maar dalk net… Ons sê Ja, Groot Asseblief!

Ons moes nou wel drie dagreise te kameel ver van Loftus af stop, en ver loop. Op soek na Hek 1 kry ons toe ‘n lekker verrassing. Hier stop ‘n mooi bus voor ons, en hier pop die Aussies span uit, twee meter voor ons… Ons wag toe ook maar vir die Bokke. Wat maak die ander Pieter de Villiers (Frankryk stut) in die Bokbus?

Wel ons het ons sitplekke gevind, op die doodlyn aan die noordekant van die veld. My middelste het die kamera gegryp en die opdraf gaan afneem.

Die volkslied was aangrypend, veral die trane in die oë vam die nuwelinge. Wat se ou heks kla so daaroor in die briewekolom van Beeld? Dit was baie mooi!

Habana was duidelik weer sy ou self op Loftus- pragtige driekuns. Dit lyk wel nie of die Bokke meer mag oorskop nie, maar as hulle so drieë druk dan vergewe ek hulle.

Die wedstryd het so ongelooflik vinnig verby gegaan. Die atmosfeer met die ver terugstap kar toe was fantasties!

Na die tyd het ons toe op facebook vriende se aanbeveling by Crawdaddy’s in Brooklyn gaan eet. Die res se kos was fantasties- my hoender was gebrand en droog…

Maar dit was ‘n UITSTEKENDE dag in die eensame Donkie se lewe!

Baie Dankie Londen 2012!!!

Ek het die Olimpiese Spele baie geniet. Ons het nuwe helde gevind- Cameron van den Burgh, Chad le Clos, ons roeiers, Burrie Stander, en vele vele meer van ander lande wat ons geïnspireer het.

Sommiges het groot terugslae gehad, maar teruggekom om klaar te maak. Soos Fabian Cancelara.

Ander was sommer windgat omdat hulle so goed is- soos Usain Bolt. Ander het met hulle medemenslikheid my hart aangeraak, soos Kirani James wat in die uitdun al sy nommer met Oscar Pistorius geruil het uit respek.

Oscar Pistorius staan vir my kop en skouers uit as my held vir die Olimpiese Spele 2012- hy het my geïnspireer met sy moed en sportmanskap.

En nou is dit verby…

Dit was vir my so aangrypend- die woorde van Jacques Rogge- “We call on the youth of the World, to gather in four years time in Rio de Janeiro, to compete in the 31 st modern Olympic Games… ”

Ja, ek weet dis tradisie om te nooi. Maar daar lê ook ‘n uitdaging in. Daar lê 4 jaar voor waarin jy die beste kan probeer word in jou sportdissipline, en dan gaan meeding teen die beste van die bestes…

Ek voel so geïnspireerd ek wil sommer ‘n haelgeweer gaan koop en begin kleiduiwe skiet… of ‘n boog of ‘n perd. Die hardloop en fietsry en swem sal nou nie werk nie… ouderdom en liggaamsbou…

Maar baie dankie. Al het die Engelse my weer verdomp tot 01h10 besig gehou vanoggend. Hoekom het al my musiekhelde so oud geword?

Die vlam is nou dood. Maar in my hartjie smeul ‘n vonkie…

Eretoekenning: Cameron van den Burgh

Hiermee ken die Donkieskrywersgilde van Suid Afrika, Afrika, Aarde en Sterrestelsel graag ‘n eretoekenning aan:

Cameron van der Burgh toe.

Wêreldrekord en Olimpiese Goue medalje in die 100 meter Borsslag in ‘n tyd van 58. 46 sekondes!

Niemand het vir Suid-Afrika ‘n goue medalje voorspel in die pers nie. Dankie dat jy jou nie aan hulle gesteur het nie!

South Africa's Cameron Van Der Burgh swims to place first in the men's 100m breaststroke semi-final 1 at the London 2012 Olympic Games at the Aquatics Centre

Foto en Artikel: http://www.timeslive.co.za/sport/article5904080.ece

Selfs sy Semi- finaal was al hoogs prysenswaardig, en ons haal ons Times korrespondent aan: “Van der Burgh had qualified for the final in emphatic style on Saturday when he won his semi-final by breaking the previous South African, African and Olympic records with a time of 58.95.”

So ‘n prestasie verdien sy eie inskrywing! Baie, baie geluk Cameron!

 

Fietsry Glorie en ander sportstories…

Ek lê nou in aanddiens tyd hier voor my televisie, met die laptop oop op die koffietafel. Ek het vir ‘n slag weer ‘n Migraine. Dit voel asof sewe mynwerkers met jackhammers in my skedel inboor. Die Myprodol wat my geliefde vir my gevoer het, laat alles so dof en ver voel.

Son sê so wreed op facebook dis van al die Olimpiese spele kyk…  Dalk is sy reg- wyse vrou daardie!

So ek wil nie baie hmm en haaa vandag nie. Ek wou net sê:

Padfietsry is my sport, al lyk ek soos die heel laaste ou in die wêreld wat dit moet waag. Dis die Argus se skuld, sien?! Daar is net niks lekkerder as dit nie! Die fietsry, en die kuier by wonderlike Kaapse pelle (wat ongelukkig almal vir die Stormers skree… maar wie het nou nie foute in die lewe nie?)

Ek wil net graag vir Alexander Vinikourov van Kazhakstan geluk wens met sy goue medalje gister. Ek het eerlik gedink Mark CAvendish gaan dit doen, op papier was hy die gunsteling. Vinikourov is afgskryf as te oud, en aan die einde van sy loopbaan.  Boonop was sy Tour de France nou nie opspraakwekkend nie. Maar op die dag wat dit saakmaak, het Alexander gewys wat nog in hom steek. Daar is net niks soos ‘n groot droom, gemeng met talent, fiksheid en vasberadenheid om jou heel beste te lewer nie. Baie, baie respek Alexander! En Fabian Cancelara. daardie val in die draai, waaroor jy so gehuil het op die eindstreep- dis nou waarlik ‘n hartebreker! Een sekonde se konsentrasie verloor en siedaar! Jammer ouboet!  Die skuif wat Vinokourov gemaak het om verby Uran Rigoberto van Columbië te kom toe hy anderkant toe gekyk het in die pylvlak, was briljant! Baie netjiese taktiese wen. Rigoberto het silwer gekry, en Kristof Alexander van Noorweë die brons. Die wentyd was 5 h 45 min 57 sekondes – baie goed gedoen!

Vanmiddag se vroue padwedren was net so skouspelagtig, indien nie beter as die mans s’n nie. Die vrou kry mos maar altyd die “raw deal” in die lewe- vandag het dit honne en katte en tannie Bets met knopkieries gereën- uiterste moeilike omstandighede om warm te bly, en om regop te bly in die draaie.

Die Nederlander Marianne Vos was die gunsteling, en sy het ook gewen. Baie goed gedoen op die nat pad!

Silwer medalje is die eerste vir Brittanje vir hierdie spele-  Lizzie Armitstead, en brons gewen deur Rusland se Olga Zabelinskaya.

Ek het ook nou gelê en hokkie kyk. Die Argentiniërs is darem besig om onse Protea alies lelik te skop- 5-1 ten tye van publikasie…

Ek wou net sê: Ek dink Suid Afrika se vroue atlete kry nie naastenby die erkenning van die manssportsoorte nie. Kyk watter staatmaker is Pietie Coetzee vir ons land se hokkie, al van 1995 af op die toneel om ons land te verteenwoordig. En ek was nie eers presies seker hoe sy lyk nie. As hierdie hokkiedames byvoorbeeld dieselfde salarispakkette sou kry as die Blou Bulle, of dalk die Springbokke- hoe sou die span dan daar uitsien?  Hierdie is Pietie se 3e Olimpiese spele, sy was ook in 2000 en 2004 in die span. 200 doele in meer as 200 internasionale wedstryde- dit wil gedoen wees!

Pietie Coetzee, ek salueer jou! .

Maar die mooiste Olimpiese sport bly maar:

Ek wonder hoekom?

Dis Arc de Triomphe tyd op die Tour de France!

Dis weer tyd vir my jaarlikse geloofsworsteling. Gaan ek soos ‘n goeie gelowige vanaand se aanddiens bywoon in die gemeente? Of gaan ek aan die versoeking toegee, en enduit die Tour de France geniet, tot die laaste televisieonderhoud met die helde uitgesaai is? Soms is dit net voor die kerkdiens, net-net klaar, meestal nog nie…

Vanjaar se Tour was wel effens voorspelbaar- ek het aan die begin gesê ek stem saam met die kommentators dat dit Bradley Wiggins se jaar vir die geel trui is. Ek het wel gedink Cadel Evans gaan tweede wees, maar dit was nou nie bedoel om te wees nie. Maar wat ‘n verrassing was Christopher Froome van die Sky span nie gewees nie! Gebore in Kenya, grootgeword in Suid-Afrika, nou ‘n Britse burger. Hou hom dop vir ‘n toekomstige wenner!

Die gentlemen’s agreement van die Tour de France is: die Tour is gisteraand reeds gewen.  Bradley Wiggins moet net half nugter en regop oor die wenstreep op sy fiets bly.  Op hierdie oomblik is hulle 69 km van die eindstreep af. Daar word nie vandag teen mekaar gejaag nie. Tot by die laaste 8 laps van die Tour de France op die Champs Ellysee.  Dan is dit volspoed al die pad- dit is ‘n saak van eer om die laaste stuk so in die openbaar te wen. Ek raai: Hou vir Mark Cavendish vanmiddag daar dop!  Bradley Wiggins sal waarskynlik bietjie veiliger speel en nie te hard druk nie. Niemand wil egter vandag daar val nie- die Olimpiese spele is binne ‘n week vir hulle- en dit bly die enkele eer wat dalk net groter as ‘n Tour Wen kan wees… Nah… ek dink die Tour is die toppunt- dis darem net soveel meer werk as een glorieryke daggie in Londen!

Wat die Tour so goed maak, is ook die televisiedekking. Het jy al mooi geluister na die kommentaar van Phil Liggitt en Paul Sherwen? Om so interessant te bly praat vir ure aanmekaar! Die twee manne doen ‘n uitstekende werk om die Tour te verduidelik en ons op hoogte te hou. Ek geniet dit so dat hulle hul huiswerk so goed doen, en vir ons al die besienswaardighede langs die pad so mooi beskryf, met geskiedkundige detail en interessante koeitjies en kalfies oor elkeen…

Wie is dié manne? Paul Sherwen het sewe keer die Tour  gery. Nooit gewen nie. Hy woon in Kampala, Uganda, waar hy ‘n aandeel in ‘n goudmyn het.

Paul Sherwen
Foto- Wikipidea

Phil Liggitt  is nou al 69 jaar oud!  Hy was ‘n amateur fietsryer, maar het eerder gekies om professioneel in die uitsaaiwese in te gaan.  Dis so lekker dat sy stem elke jaar ook op die Argus se kommentaar gehoor kan word.  Hoekom praat hy elke keer van die Suid Afrikaanse vlag? Want hy is die meeste van die tyd hier! Hy het ‘n huis in die Suid-Kaap en ‘n wildsplaas op die grens van die Kruger Wildtuin. Dankie Wikipidea, ek het dit ook nie geweet nie!

Phil Liggitt-
Foto- Wikipidea

Hierdie twee kommentators maak die Tour soveel interessanter- baie dankie vir hulle!

Om die liefde vir die Tour de France te verstaan- gaan lees gerus Lance Armstrong se boeke: It’s not about the bike, en Every Second count.

Daar is agter die skerms sulke wonderlike tradisies  en gentlemen’s agreements. Ja, dis ‘n harde wedren. Spanwerk is uiters belangrik.  Maar waar dit jou nie benadeel nie, help jy ander in nood. “Give an inch, gain a friend…”

Daar is gewoonlik baie respek tussen die ryers, en as iemand selfsugtig is, is daar maniere om hom weer terug te bring aarde toe.

Die manne kom nou in Parys al hoe nader aan die 8 Champs rondtes- en dan gaan ek nie hier sit en tik nie, dit gaan al my aandag trek!

Daar is die bordjie- D1- Paris Centre…  Daar is die Eiffel Toring nou!

So van my kant af: baie geluk Bradley Wiggins- uitstekende wedren!
Baie geluk Chris Froome- dit was ‘n wonderlike ry, en ek het respek oor hoe jy Bradley ondersteun het in die berge, selfs die skofoorwinning  wat jy opgeoffer het om ‘n goeie spanmaat te wees.

Dalk die laaste woordjie- hierdie ene was nie so opwindende Tour soos voriges nie- dalk net te voorspelbaar? Ek mis die vuurwerke van Andy Schleck en Alberto Contador- soos daardie roemryke dag teen die Col de Tourmalet uit!

Ek wens die manne wil nou ophou met die “doping”- niemand wen op die lang termyn daarmee nie.

Dankie vir elke Sportman en -vrou wat deur harde werk en toewyding my inspireer met hulle deelname in hulle dissipline van sport!

49.7 km oor- daar gaan hulle verby die goue standbeeld van Jeanne de Arc- hier kom dit nou!  Champs Ellysee! Team Sky neem die voortou, en gee vir George Hincapie die voorpunt- dit is sy laaste Tour van 16!  Hier kom die vuurwerke nou!

Vive la Tour!

Die Sport rusbank-aartappel

Dit is darem net so ‘n opwindende  tyd om lief vir sport te wees.

Die Tour de France begin vandag!  Die kommentators sê deur die bank dis Bradley Wiggens se beurt, maar dalk ook Cadel Evans se jaar vir die geel trui. Hier kom weer ‘n klomp laat aande om al die hooftepunte te volg! Ek kyk nou na die hoogtepunte en laagtepunte van verlede jaar se Tour. Hulle wys ook daardie valle, en my keel trek sommer toe- been there, done that, weet hoe voel die roasties!

Dis heerlike Wimbledon, en ek is so dankbaar dis in die vakansietyd. Maar hier in ons huis bring Wimbledon ook sy kwota hartseer. My naamgenoot, wat nou nie eintik in rugby uitblink nie, (nes sy pa) het tennis ontdek. Elke dag kommandeer hy sy broers op, en verdwyn hulle na die Hoërskool se tennisbaan toe. Dit was vir hom uiters, uiters traumaties toe Rafael Nadal uitgeskakel is in die tweede rondte. So van Nadal gepraat, ek moet bieg dat dit die een ou is wat vir my die mooiste in sy loopbaan ontwikkel het.  Toe hy nog 17 was, was hy darem uiters windgat.  Maar die man het wonderlik karakter ontwikkel. Hy was uiters professioneel in sy nederlaag, en het nog tyd gemaak om handtekeninge uit te deel langs die baan toe hy afstap. Maar wat ‘n vertoning deur nommer 100- Rosol!! Dis hoekom sport kyk so opwindend is- om so iemand te sien, wat geen kans gegun is nie, wat diep grawe en sy beste uithaal, en vir die wêreld wys hy kan.Maar Nadal gaan terugkom, lees gerus hierdie mooi artikel daaroor!

Gisteraand se wedstryd  waarin Federer gewen het teen Bennetau, was net so aangrypende episode. Federer het van 2-0 agterstand teruggekom om die volgende drie stelle te wen, met naelbytende “tiebreakers” tussenin.  Wat ‘n wedstryd!  Wat ‘n kampioen!

So val groot helde, ou helde keer terug, nuwe helde word gebore.

Die Springbokke se rugby teen Engeland! Die Junior Bokkie se oorwinning oor New Zealand!  Die Monaco en Valencia Grand Prix! Soveel opwinding, dat ek soos ‘n aartappelmoer begin knoppe groei hier op die rusbank…  Dis seker hoekom ek nie genoeg tyd gemaak het om die Dordtse Leerreëls  mooi met julle te deel nie.

En daar is nog soveel meer op pad. Ek hou asem op vir die Proteas teen Engeland…

Ek kan ook nie meer wag vir die Olimpiese Spele nie! Om weer vir Helena Isinbayeva te sien paalspring!  Die vroue strandvolleyball- die mees aanskoulike Olimpiese gebeurtenis! My vrou gaan nou weer al die atletiekbyeenkomste voorkeur gee, en die “remote control” vir my wegsteek! Ek sien gister ook so insetsel van uitsonderlike oomblikke in die Olimpiese geskiedenis. Sportmanne en vroue wat beseer is tydens hulle item, en moedig aanhou tot by die wenstreep om klaar te maak, al speel tyd en posisie geen rol meer nie.  Atlete wat hammies geskeur het, en aanhou hobbel tot hulle heel laaste oor die wenstreep gaan. Die duiker wat sy kop oopgestamp het teen die duikplank, verwoed bloei, en gaan om steke te kry. Hy kom dan terug en wen goud!  Of daardie Eric the Eel ou van ‘n  Afrikaland wat skaars kon swem, maar sy item klaargemaak het!

Daar is iets onbeskryflik mooi aan goeie, gesonde sportmangees. Om jare te fokus om die goue medalje te probeer verower. Om jouself te dissiplineer deur reg te eet, in wind en weer aan te hou oefen, om daardie ekstra sessie te gaan insit terwyl jou teenstanders nog slaap. Om op te offer vir jou droom, en jou alles te gee om daar uit te kom- dit is sulke wonderlike metafore vir die lewe self!  Paulus het mos baie van sport gehou en gereeld oor hierdie onderwerp van sport belangrike lewensbeginsels deurgegee. “Ek maak my los van wat agter is, ek strek my uit na wat voor is, ek span my in om die wenstreep te bereik… “

Dis ook wat ek verlede jaar op die Camino beleef het. Om jou droom te bereik, moet jy soms losmaak vir wat jou terughou in die lewe. Uitgediende opinies. Negatiewe gedagtes en gewoontes. Soms selfs toksiese verhoudings met vriende en ander- wat jou droom steel. Wat jou verhinder om die potensiaal uit te leef waarvoor jy gebore is.

Om jou droom uit te leef, is dit nodig om darem te begin deur ‘n droom te hê. So baie mense bestaan maar net, maar leef nie voluit vir iets nie. Ek vind dat dit ook in my lewe op die o0mblik ‘n gevaar kan wees- ‘n mens kan so besig wees om te probeer oorleef, dat ek nie altyd LEWE nie. Dit raak weer tyd om te gaan stil word, en weer my lewensdroom mooi te gaan definieer.

Om daardie droom te leef, beteken om daarop te fokus, daaroor op te lees, prentjies te teken daarvan, positiewe inligting in te win daaroor. Om jou gedagtes te voed met gesonde inligting, dalk is my een vriend in die gemeente tog maar reg met sy : “What you believe, you can achieve…”  As ‘n mens nie droom nie, dan mik jy vir niks. En dan bereik jy ook nie veel nie. Die sportmetafore werk so lekker vir groot lewenswaarhede.

My droom was nog altyd om in alles wat ek doen, dit voluit vir die Here te doen. Om in my roeping die beste toegerus te wees wat ek kan wees, en soveel as moontlik van myself te gee in diens van die Here in my gemeente. Om ‘n goeie man vir my vrou, en pa vir my kinders te wees, in die sin dat elkeen van hulle ook hulle potensiaal in die lewe voluit kan uitleef. Dat ek ‘n hulp in plaas van ‘n hindernis sal wees.  My droom in my sport is nog steeds ‘n sub 4 Argus, maar ek kry nooit dit reg om vir beter as sub 5 te oefen nie. Dalk moet ek ernstiger raak oor hierdie een. Ek probeer ‘n lojale vriend wees . Ek probeer, waar dit moontlik is, om ‘n positewe verskil in mense se lewens te maak.

Maar in dit alles voel dit vir my: Erens mis ek nog iets. Dit voel nooit meer of ek op die podium staan, en die beste gedoen het wat ek kon nie. Ek wen nie goue medaljes in die lewe nie, maar ek maak die wedrenne klaar… Is dit genoeg?

Die pennie drop erens dat dit ‘n klassieke midlife crisis se simptome is. Ek is meer as halfpad deur die lewenswedloop: doen ek regtig waarvoor ek gemaak is, goed genoeg? Wat kan ek beter doen? Wat kan ek anders doen?

Dit lyk my sport laat my te veel dink…  ‘n Goeie begin sou wees om weer aan die oefen te kom, ek het my fiets se voorwiel op die Argus afgehaal, en nog nooit weer teruggesit nie…